Jeremia 22 – Ek gaan julle vernietig en wegvoer in ballingskap
Jeremia is steeds besig in hierdie drie hoofstukke (hfst. 21-23) met ’n boodskap van God se oordeel oor die leiers. In hoofstuk 21 het dit gegaan veral oor koning Sedekia. In hoofstuk 22 kom sy voorgangers aan die orde: Sallum (Joahas), die koninginmoeder (Sebida – die gedeelte kan ook as ’n boodskap aan Jerusalem geïnterpreteer word), Jojakim, en Jojagin. Hulle het gesamentlik die onbenydenswaardige nalatenskap dat hulle die volk in ballingskap inbestuur het met hulle ongehoorsaamheid en onbeholpenheid.
In hoofstuk 23 sal daar ook ’n belofte van ’n regverdige koning wees, waarna Jeremia die profete en priesters sal aanspreek wat die verkeerde koers inslaan en hulle mag misbruik.
22:1-11 – Teen die koning van Juda (waarskynlik Sallum/Joahas)
Volgens 2 Kronieke 36 het die burgers van die land vir Joahas koning gemaak – die 21ste koning van Juda – om sy pa Josia op te volg en dit op die jeugdige ouderdom van 23. Interessant genoeg was hy die 4de oudste van Josia se kinders met Joganan, Jojakim en Sedekia ouer as hy (1 Kron. 3:15). Die twee laasgenoemde seuns sou ook met verloop van tyd konings word. Ons lees niks verder van Joganan nie.
Joahas het egter nie veel tyd vir regeer gehad nie en word na net 3 maande deur die koning van Egipte, Neko, afgesit en na Egipte weggevoer, waarskynlik as straf vir die koppige dwaasheid van Josia wat in die konflik met Neko gesterf het. Die Kronis gee geen beoordeling van sy regering nie, hoewel Konings vermeld dat hy die Here nie gedien het nie en in Egipte gesterf het (2 Kon. 23:30-34), soos Jeremia ook hier voorspel.
Die woord van die Here aan die koning van Juda – ek aanvaar dat dit Sallum is weens die verwysing in vers 11 na hom – word in die paleis van die koning aan hom gerig. Dit handel oor die eis van die Here dat hy die reg moet handhaaf en regverdig moet wees – d.w.s. dat hy die reëls van die reg (Tora) moet nakom en sorg dat dit toegepas word, sowel as dat hy regverdig in sy persoon moet leef.
Dit word uitgespel in terme van mense wat beroof word deur uitbuiters, die vreemdelinge, die weeskinders en die weduwees. Hulle reg moet nie vertrap word nie, want dit kom neer op geweld. Onskuldige mense moenie om die lewe gebring word nie.
Die woord van die Here is baie duidelik. As hulle luister na Sy woord en stiptelik daarvolgens lewe, sal die konings van Juda hulle bevestig word in hulle koningskap. As hulle nie daarna luister nie, sal die paleis ’n puinhoop word.
Daaraan word ’n poëtiese woord oor die paleis in Juda gekoppel waarin die Here sy argwaan oor hulle laat blyk. Hulle is vir hom kosbaar (Gilead [onthou die balsem], Libanonkruin [vgl. die verwysing na sederbalke in vers 7]), maar Hy sal hulle vernietig en soos ’n woestyn maak waar niemand kan woon nie. Dit sal tot verbasing lei onder die nasies, maar ook tot ’n besef dat dit alles ’n gevolg van hulle verbreking van die verbond was.
Die Here verbied die volk om te huil oor die koning wat dood is (Josia), maar wel te huil oor hom wat in ballingskap is (Sallum/Joahas), want hy sal nie terugkom na sy geboorteland nie. Dit word opgevolg met ’n direkte boodskap oor koning Sallum dat hy nooit hierheen sal terugkom nie en sal sterf in ballingskap.
22:13-19 – Teen koning Jojakim
Eljakim, Joahas se ouer broer, seun van Josia, word op 25 jarige ouderdom as koning aangestel deur die Egiptiese koning, Neko. Sy naam word na Jojakim verander om duidelik aan die volk te kommunikeer dat Juda nou onderdanig is aan Egipte.
Hoewel hy 11 jaar in Jerusalem regeer, staan sy regering ook in die teken van die afvalligheid van sy voorsate. Die Kronis gee nie enige detail nie, maar verkwalik Jojakim vir die “afskuwelike dinge” wat hy sou gedoen het. Konings wyt die opeenvolgende konflikte wat Juda beleef aan die sonde van Manasse wat nog ’n groot invloed in die land gehad het, veral weens die onskuldige bloed wat in die land vergiet is (2 Kon. 24:4).
Jeremia brei hier daarop uit en wys dat Jojakim kwistig daaraan meegedoen het: hy het sy huis met onreg gebou, sy mense sonder betaling laat werk, nie die saak van die swakke en arme behartig (soos sy pa Josia) nie, homself verryk ten koste van ander en (soos sy grootjie Manasse) mense onskuldig laat doodmaak. Daardeur het hy die oordeel van die Here oor hom laat kom.
Die Here se oordeel oor Jojakim is angswekkend: “Hy sal soos ’n donkie begrawe word: hy sal van hier weggesleep word en buite die poorte van Jerusalem weggegooi word.” (vers 19).
Die Kronis vertel vir ons dat Jojakim met bronskettings geboei is om na Babel weggevoer te word, hoewel geleerdes verskil oor die uitkoms hiervan. Die Hebreeus kan verstaan word asof Jojakim geboei is om weggevoer te word, maar dat die uitkoms daarvan oopgelaat word: “geboei met bronskettings om na Babel toe te vat …” Dit kan dus beteken dat hy nooit daar uitgekom het nie.
Hoe dit ook al sy, dit gebeur in 597 v.C. en Jerusalem word vir die eerste keer ingeneem deur koning Nebukadnesar van Babel – volgens Konings, weens Jojakim se opstand teen Nebukadnesar na ’n tydperk van 3 jaar se onderdanigheid (2 Kon. 24:1). Die tempel word geplunder en Jojakim se regering op 36 jarige ouderdom beëindig – regeringstyd 11 jaar.
Terloops: Daniël word in die 3de jaar van Jojakim (ongeveer 606 v.C.) na Babel weggevoer in een van Nebukadnesar se eerste veldtogte teen Juda (Dan 1:1). Dit was een van die Here se voorsienings wat waarskynlik die Jode se lot in ballingskap versag het, aangesien Daniël uiteindelik vir jare in diens van die koning van Babel was. Dit moes ook ’n impak gehad het op Jojakim se seun, Jojagin, wat uiteindelik in ballingskap begenadig is, soos ons 2 Konings 25 lees.
22:20-23 – Teen die koninginmoeder (waarskynlik Sebida)
Dit is ’n vrou wat hier aangespreek word, wat óf met die stad Jerusalem óf met die koningmoeder verbind kan word. Laasgenoemde lyk vir my meer waarskynlik in ’n gedeelte waar die konings aangespreek word, soos dit trouens in die volgende deel teen Jojagin gedoen sal word. Sy ma, Negusta, word saam met hom daar aangespreek.
Die Here motiveer hier sy oordeel oor die stad met verwysing na die lang tyd wat Hy gegee het waarin sy (en Juda) na Hom kon geluister het, maar dit nie gedoen het nie: “Ek sal nie luister nie.” Hy spot met haar helpers, vra trouens dat sy nog meer sal inroep, want dit sal niks help nie. Hulle sal saam met haar in ballingskap weggevoer word.
Die beskrywing van haar paleis as ’n “nes” wat van Libanonhout gemaak is, is veral treffend. Dit sal haar egter nie beskerm as die ongeluk haar tref soos barensnood nie.
22:24-30 – Teen koning Jojagin
Jojakim se seun, Jojagin, word op die jong ouderdom van 18 jaar koning. Hy regeer net 3 maande lank voor Nebukadnesar hulle weer inval, met die wisseling van die jaar d.w.s. 596 v.C., waarskynlik nog in dieselfde veldtog waarin sy pa se regering beëindig is.
Die Kronis brei nie uit oor sy regering nie, dit was ná alles baie kort. Hy noem net dat Jojagin gedoen het wat verkeerd is in die oë van die Here. ’n Mens kry die indruk dat die tydsgewrig van afvalligheid van die Here eerder ’n rol gespeel het in die Kronis se oordeel, as dat dit spesifiek aan Jojagin se eie regeringstyl gewyt sou kon word. Konings skets vir ons byvoorbeeld ’n bietjie meer positiewe prentjie van dié koning en noem dat Jojagin homself oorgegee het aan Nebukadnesar en weggevoer is (presies soos Jeremia eintlik voorgestel het dat hulle moes doen).
Hierdie keer was die wegvoering saam met bykans die hele Jerusalem: die koninginmoeder, die vrouens van die koning, sy offisiere, die amptenare, die soldate, die vakmanne en die smede, trouens al die belangrikste mense van Jerusalem (2 Kon. 24:14-16). Ook die profeet Esegiël (Eseg. 1:1 – hy begin sy gesigte sien in die 5de jaar van die ballingskap van koning Jojagin) was onder dié mense. Net die armstes van die landsbevolking is agtergelaat. Ek skryf verder oor Jojagin in Jer. 24.
Die Here sê hier oor Jojagin dat selfs al was hy so kosbaar soos ’n seëlring aan sy regterhand, sou hy hom daar afruk. Hy sal hom uitlewer aan koning Nebukadnesar en hom en sy ma (Negusta) in ballingskap laat wegvoer. Hy noem Jojagin ’n weggooiding, ’n gebreekte kleipot, ’n man sonder troonopvolger, ’n man wat nooit in sy lewe iets sal bereik nie, want hy sal nooit regeer nie en ook nie iemand van sy nageslag nie. Dié oordeel word wel in Jeremia 24 versag, maar die impak van die oordeel van hoofstuk 22 sou bly staan.
Boodskap
Jeremia 22 som God se boodskap van oordeel oor die leiers, die konings, kortliks op. In wese gaan dit oor hulle selfverryking, hulle gebrek aan regverdigheid en hulle onvermoë om na die Here te luister. Ons sien dit vandag nog in baie leiers se lewens.
Tags: Jeremia
Trackback from your site.
Chris van Wyk
| #
Hi Heinrich, die term apokaliptiek is afgelei van ‘n Griekse woord wat “openbaring” beteken. Dit verwys na literatuur wat geskryf is oor die toekomstige oordeel aan die einde van die tyd. Dit word gekenmerk deur simboliek en hemelse agente wat optree. Apokaliptiese geskrifte verwag dat God die ou onvolmaakte orde sal vernietig en die wêreld na sy oorspronkilke paradys-agtige toestand sal herstel. Dit is Bybelse boeke soos Daniël (hfst 7-12) en Openbaring, asook Bybelgedeeltes soos Jesaja 24-27 en Matteus 24-25.
Heinrich Du Preez
| #
Hi
Ek wil graag weet wat beteken apokapliptiese boeke
Chris van Wyk
| #
Hi Kobie,
Jesus leer dat oud en nuut uit die Skrif belangrik is in die koninkryk van die hemele
Matteus is die enigste wat hierdie gelykenis van Jesus vertel (Matt 13:51-52).
Nuwe en ou skatte
51 “Verstaan julle al hierdie dinge?” “Ja,” het hulle geantwoord. 52 En Hy het vir hulle gesê: “Daarom is elke skrifkenner wat ‘n leerling in die koninkryk van die hemele geword het, soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy skatkamer haal.” (Bybel 2020-vertaling).
Daarom rond Jesus ‘n gesprek af wat Hy oor sy geestelike familie gehad het (“Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder.” – Matt 12:50). Hy het in die loop van die gesprek sewe gelykenisse oor die koninkryk van die hemele vertel, die gelykenisse van die saaier, onkruid, mosterdsaad, suurdeeg, verborge skat, pêrel en treknet.
Jesus het hierdie gelykenisse vertel, sodat dié wat ore het om te hoor, kan hoor (Matt 13:9-17). Die ongemaklike waarheid was dat daar talle Jode was wat juis nie wou hoor nie, en daarom was die gelykenisse vir hulle onverstaanbaar. Die gelykenisse was net verstaanbaar vir dié wat ore gekry het van sy Vader om te hoor (Matt 13:11), dié wat bereid was om te doen wat God vra (Matt 12:50).
Jesus vra dan die disspels of hulle regtig verstaan wat Hy deur die gelykenisse geleer het. Hy moet seker maak dat hulle verstaan voor Hy verder die evangelie met hulle deel.
Op hulle positiewe antwoord vertel Jesus dan ‘n verdere gelykenis, die gelykenis van die huiseienaar en sy voorraadkamer, om hulle te bevestig in hulle verstaan van die evangelie. Hulle is soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy voorraadkamer haal.
Dit is trouens ‘n beskrywing van wat met elke skrifkenner gebeur wat tot insig kom. Wanneer hy of sy deel word van Jesus se familie, omdat hulle bereid is om die wil van God te doen, word hulle leerlinge in die koninkryk van die hemele. En kry hulle die voorreg om kreatief te werk met beide die nuwe – Jesus se lering – en die oue – die Skrif van die OT. Saam vorm dit die Woord van God.
Boodskap en betekenis
Hierdie gelykenis is ‘n absoluut fundamentele uitspraak oor die relevansie van beide die Skrif – die Ou Testament – en die boodskap van Jesus – die uiteindelike Nuwe Testament. Elkeen wat ‘n leerling word in die koninkryk van die hemele sal nuut kyk na die openbaring van God, sê Jesus.
Aan die een kant sal hulle ‘n nuwe perspektief op die waarde van die oue kry – die OT. Aan die ander kant sal hulle insig kry in die waarde van die nuwe – die NT. Trouens, deur die bril van die openbaring van Jesus – die NT – sal hulle juis die oue nuut kan waardeer – die OT.
Charles Quarles gebruik hierdie gelykenis van Jesus as die invalshoek van sy teologie van Matteus – A Theology of Matthew: Jesus Revealed as Deliverer, King, and Incarnate Creator. Hy sê dat daar ‘n goeie saak uit te maak is daarvoor dat Matteus die gelykenis ook outobiografies verstaan het. Dit is nie net waar van elke skrifkenner nie, maar ook van Matteus wat ‘n kenner van die OT was.
Daarvan getuig die talle aanhalings wat hy uit die OT maak. Onder andere is daar 19 profesieë uit die OT wat Matteus op Jesus van toepassing maak as getuienis dat dit in Hom vervul is.
Vir jou verstaan van die oue en die nuwe en die blywende waarde van albei sal dit die moeite werd wees om die verwysings in hierdie lys na te gaan en te oordink.
Matteus stel Jesus aan ons voor as die vervulling van die volgende OT profesieë:
1. Matteus 1:22-23 sê Jesaja 7:14 is vervul in Jesus dat die Messias uit ‘n maagd gebore sou word.
2. Matteus 2:6 sê Miga 5:2 is vervul in Jesus dat die Messias in Bethlehem gebore sal word.
3. Matteus 2:15 sê Hosea 11:1 is vervul in Jesus dat die Messias uit Egipte geroep sal word.
4. Matteus 2:18 sê Jeremia 31:15 is vervul in Jesus dat ‘n kindermoord in sy tyd sou plaasvind.
5. Matteus 3:3 sê Jesaja 40:3 is vervul in Jesus dat ‘n profeet in die woestyn die koms van die Here sou voorberei.
6. Matteus 4:14-16 sê Jesaja 9:1-2 is vervul in Jesus dat die Messias na die nasies van Galilea sou kom.
7. Matteus 8:17 sê Jesaja 53: 4 is vervul in Jesus dat die Messias ons siektes en swakhede sou dra as ‘n offerlam.
8. Matteus 10: 35-36 sê Miga 7:6 is vervul in Jesus dat die Messias familielede teen mekaar sou draai.
9. Matteus 11: 5 en 15:31 sê Jesaja 26:19; 29:18; 35:5; 42:18; en 61:1 is vervul in Jesus dat die Messias blindes sal laat sien, lammes sal laat loop, die dowes laat hoor, dooies sal opwek en die evangelie aan die armes sal verkondig.
10. Matteus 11:10 sê Eksodus 23:20 en Maleagi 3:1 is vervul in Jesus dat ‘n boodskapper die koms van die Messias sou voorafgaan.
11. Matteus 12:18-21 sê Jesaja 42:1-4 is vervul in Jesus dat die Messias nie luid of pretensieus sou wees nie.
12. Matteus 13:14-15 sê Jesaja 6: 9-10 is vervul in Jesus dat die Messias se leer misverstaan sou word.
13. Matteus 13:35 sê Psalm 78:2 is vervul in Jesus dat die Messias met gelykenisse die mense sal leer.
14. Matteus 15: 8-9 sê Jesaja 29:13 is vervul in Jesus dat God se volk teen hom sou rebelleer en valse dinge oor Hom sal versprei.
15. Matteus 17: 10-13 sê Maleagi 4:5 is vervul in Jesus dat die koms van die Messias voorafgegaan sal word deur die koms van ‘n Elia-figuur.
16. Matteus 21:5 sê Jesaja 62:11 en Sagaria 9: 9 is vervul in Jesus wat die Messias se oorwinning in Jerusalem voorspel.
17. Matteus 26:31 sê Sagaria 13:7 is vervul in Jesus dat die Messias se dissipels hom sou verlaat.
18. Matteus 27: 9 sê Sagaria 11:13 is vervul in Jesus dat die Messias vir dertig silwerstukke verraai sou word.
19. Matteus 27:35,43,46 sê Psalm 22:1-2, 6-8,18 is vervul in Jesus dat mense vir die Messias se klere sou loot en Hom bespot en dat die Vader hom sou verlaat tydens sy lyding vir die kwaad.
Chris van Wyk
| #
Hi Pieter (ek sal nog antwoord oor die doop – net vasgedraai), ek gaan daaroor skryf in my Prontuit die Waarheid reeks vanaf die begin van Julie af.
Pieter
| #
Middag Chris
Jy het nie ‘n skrywe oor Lent wat meer die laaste 40 dae van Jesus na die kruis verduidelik.
Groete
Pieter
Kobie Marais
| #
Verduidelik asb vir my Matteus 13vers 52
Chris van Wyk
| #
Dankie, Jan. Eintlik verstommend hoe diep die Noag-verhaal ingebed is in die hele Bybel. Dit het selfs ‘n invloed op die “sinode”-sitting in Jerusalem (Hand 15) gehad en op ons siening van die doop (1 Pet 3). Noag is nie ‘n liggewig nie. Ons ignoreer hom tot ons skade.
Jan Louw
| #
Baie waardevol. Dankie Chris
Chris van Wyk
| #
Hi Denver, jy kan dit kry by https://bybelskool.com/matteus/
Denver
| #
Ek soek graag meer inligting oor Matteus