Skip to main content

Jeremia 22 – Ek gaan julle vernietig en wegvoer in ballingskap

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnJeremia is steeds besig in hierdie drie hoofstukke (hfst. 21-23) met ’n boodskap van God se oordeel oor die leiers.  In hoofstuk 21 het dit gegaan veral oor koning Sedekia.  In hoofstuk 22 kom sy voorgangers aan die orde: Sallum (Joahas), die koninginmoeder (Sebida – die gedeelte kan ook as ’n boodskap aan Jerusalem geïnterpreteer word), Jojakim, en Jojagin.  Hulle het gesamentlik die onbenydenswaardige nalatenskap dat hulle die volk in ballingskap inbestuur het met hulle ongehoorsaamheid en onbeholpenheid.

In hoofstuk 23 sal daar ook ’n belofte van ’n regverdige koning wees, waarna Jeremia die profete en priesters sal aanspreek wat die verkeerde koers inslaan en hulle mag misbruik. 

22:1-11 – Teen die koning van Juda (waarskynlik Sallum/Joahas)

Volgens 2 Kronieke 36 het die burgers van die land vir Joahas koning gemaak –  die 21ste koning van Juda – om sy pa Josia op te volg en dit op die jeugdige ouderdom van 23.  Interessant genoeg was hy die 4de oudste van Josia se kinders met Joganan, Jojakim en Sedekia ouer as hy (1 Kron. 3:15).  Die twee laasgenoemde seuns sou ook met verloop van tyd konings word.  Ons lees niks verder van Joganan nie.

Joahas het egter nie veel tyd vir regeer gehad nie en word na net 3 maande deur die koning van Egipte, Neko, afgesit en na Egipte weggevoer, waarskynlik as straf vir die koppige dwaasheid van Josia wat in die konflik met Neko gesterf het.  Die Kronis gee geen beoordeling van sy regering nie, hoewel Konings vermeld dat hy die Here nie gedien het nie en in Egipte gesterf het (2 Kon. 23:30-34), soos Jeremia ook hier voorspel.

Die woord van die Here aan die koning van Juda – ek aanvaar dat dit Sallum is weens die verwysing in vers 11 na hom – word in die paleis van die koning aan hom gerig.  Dit handel oor die eis van die Here dat hy die reg moet handhaaf en regverdig moet wees – d.w.s. dat hy die reëls van die reg (Tora) moet nakom en sorg dat dit toegepas word, sowel as dat hy regverdig in sy persoon moet leef.

Dit word uitgespel in terme van mense wat beroof word deur uitbuiters, die vreemdelinge, die weeskinders en die weduwees.  Hulle reg moet nie vertrap word nie, want dit kom neer op geweld.  Onskuldige mense moenie om die lewe gebring word nie.

Die woord van die Here is baie duidelik.  As hulle luister na Sy woord en stiptelik daarvolgens lewe, sal die konings van Juda hulle bevestig word in hulle koningskap.  As hulle nie daarna luister nie, sal die paleis ’n puinhoop word.

Daaraan word ’n poëtiese woord oor die paleis in Juda gekoppel waarin die Here sy argwaan oor hulle laat blyk.  Hulle is vir hom kosbaar (Gilead [onthou die balsem], Libanonkruin [vgl. die verwysing na sederbalke in vers 7]), maar Hy sal hulle vernietig en soos ’n woestyn maak waar niemand kan woon nie.  Dit sal tot verbasing lei onder die nasies, maar ook tot ’n besef dat dit alles ’n gevolg van hulle verbreking van die verbond was.

Die Here verbied die volk om te huil oor die koning wat dood is (Josia), maar wel te huil oor hom wat in ballingskap is (Sallum/Joahas), want hy sal nie terugkom na sy geboorteland nie.  Dit word opgevolg met ’n direkte boodskap oor koning Sallum dat hy nooit hierheen sal terugkom nie en sal sterf in ballingskap.

22:13-19 – Teen koning Jojakim

Eljakim, Joahas se ouer broer, seun van Josia, word op 25 jarige ouderdom as koning aangestel deur die Egiptiese koning, Neko.  Sy naam word na Jojakim verander om duidelik aan die volk te kommunikeer dat Juda nou onderdanig is aan Egipte.

Hoewel hy 11 jaar in Jerusalem regeer, staan sy regering ook in die teken van die afvalligheid van sy voorsate.  Die Kronis gee nie enige detail nie, maar verkwalik Jojakim vir die “afskuwelike dinge” wat hy sou gedoen het.  Konings wyt die opeenvolgende konflikte wat Juda beleef aan die sonde van Manasse wat nog ’n groot invloed in die land gehad het, veral weens die onskuldige bloed wat in die land vergiet is (2 Kon. 24:4).

Jeremia brei hier daarop uit en wys dat Jojakim kwistig daaraan meegedoen het: hy het sy huis met onreg gebou, sy mense sonder betaling laat werk, nie die saak van die swakke en arme behartig (soos sy pa Josia) nie, homself verryk ten koste van ander en (soos sy grootjie Manasse) mense onskuldig laat doodmaak.  Daardeur het hy die oordeel van die Here oor hom laat kom.

Die Here se oordeel oor Jojakim is angswekkend: “Hy sal soos ’n donkie begrawe word: hy sal van hier weggesleep word en buite die poorte van Jerusalem weggegooi word.”  (vers 19).

Die Kronis vertel vir ons dat Jojakim met bronskettings geboei is om na Babel weggevoer te word, hoewel geleerdes verskil oor die uitkoms hiervan.  Die Hebreeus kan verstaan word asof Jojakim geboei is om weggevoer te word, maar dat die uitkoms daarvan oopgelaat word: “geboei met bronskettings om na Babel toe te vat …”  Dit kan dus beteken dat hy nooit daar uitgekom het nie.

Hoe dit ook al sy, dit gebeur in 597 v.C. en Jerusalem word vir die eerste keer ingeneem deur koning Nebukadnesar van Babel – volgens Konings, weens Jojakim se opstand teen Nebukadnesar na ’n tydperk van 3 jaar se onderdanigheid (2 Kon. 24:1).  Die tempel word geplunder en Jojakim se regering op 36 jarige ouderdom beëindig – regeringstyd 11 jaar.

Terloops: Daniël word in die 3de jaar van Jojakim (ongeveer 606 v.C.) na Babel weggevoer in een van Nebukadnesar se eerste veldtogte teen Juda (Dan 1:1).  Dit was een van die Here se voorsienings wat waarskynlik die Jode se lot in ballingskap versag het, aangesien Daniël uiteindelik vir jare in diens van die koning van Babel was.  Dit moes ook ’n impak gehad het op Jojakim se seun, Jojagin, wat uiteindelik in ballingskap begenadig is, soos ons 2 Konings 25 lees.

22:20-23 – Teen die koninginmoeder (waarskynlik Sebida)

Dit is ’n vrou wat hier aangespreek word, wat óf met die stad Jerusalem óf met die koningmoeder verbind kan word. Laasgenoemde lyk vir my meer waarskynlik in ’n gedeelte waar die konings aangespreek word, soos dit trouens in die volgende deel teen Jojagin gedoen sal word.  Sy ma, Negusta, word saam met hom daar aangespreek.

Die Here motiveer hier sy oordeel oor die stad met verwysing na die lang tyd wat Hy gegee het waarin sy (en Juda) na Hom kon geluister het, maar dit nie gedoen het nie: “Ek sal nie luister nie.”  Hy spot met haar helpers, vra trouens dat sy nog meer sal inroep, want dit sal niks help nie.  Hulle sal saam met haar in ballingskap weggevoer word.

Die beskrywing van haar paleis as ’n “nes” wat van Libanonhout gemaak is, is veral treffend.  Dit sal haar egter nie beskerm as die ongeluk haar tref soos barensnood nie.

22:24-30 – Teen koning Jojagin

Jojakim se seun, Jojagin, word op die jong ouderdom van 18 jaar koning.  Hy regeer net 3 maande lank voor Nebukadnesar hulle weer inval, met die wisseling van die jaar d.w.s. 596 v.C., waarskynlik nog in dieselfde veldtog waarin sy pa se regering beëindig is.

Die Kronis brei nie uit oor sy regering nie, dit was ná alles baie kort.  Hy noem net dat Jojagin gedoen het wat verkeerd is in die oë van die Here.  ’n Mens kry die indruk dat die tydsgewrig van afvalligheid van die Here eerder ’n rol gespeel het in die Kronis se oordeel, as dat dit spesifiek aan Jojagin se eie regeringstyl gewyt sou kon word.  Konings skets vir ons byvoorbeeld ’n bietjie meer positiewe prentjie van dié koning en noem dat Jojagin homself oorgegee het aan Nebukadnesar en weggevoer is (presies soos Jeremia eintlik voorgestel het dat hulle moes doen).

Hierdie keer was die wegvoering saam met bykans die hele Jerusalem: die koninginmoeder, die vrouens van die koning, sy offisiere, die amptenare, die soldate, die vakmanne en die smede, trouens al die belangrikste mense van Jerusalem (2 Kon. 24:14-16).  Ook die profeet Esegiël  (Eseg. 1:1 – hy begin sy gesigte sien in die 5de jaar van die ballingskap van koning Jojagin) was onder dié mense.  Net die armstes van die landsbevolking is agtergelaat.  Ek skryf verder oor Jojagin in Jer. 24.

Die Here sê hier oor Jojagin dat selfs al was hy so kosbaar soos ’n seëlring aan sy regterhand, sou hy hom daar afruk.  Hy sal hom uitlewer aan koning Nebukadnesar en hom en sy ma (Negusta) in ballingskap laat wegvoer.  Hy noem Jojagin ’n weggooiding, ’n gebreekte kleipot, ’n man sonder troonopvolger, ’n man wat nooit in sy lewe iets sal bereik nie, want hy sal nooit regeer nie en ook nie iemand van sy nageslag nie.  Dié oordeel word wel in Jeremia 24 versag, maar die impak van die oordeel van hoofstuk 22 sou bly staan.

Boodskap

Jeremia 22 som God se boodskap van oordeel oor die leiers, die konings, kortliks op.  In wese gaan dit oor hulle selfverryking, hulle gebrek aan regverdigheid en hulle onvermoë om na die Here te luister.  Ons sien dit vandag nog in baie leiers se lewens.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…