Skip to main content

Oor ons gedagtes en gevoelens – Jeremia 17:9-10

http://www.kbgraceforward.com/ 2015/12/deceitful-heart.html

 

The human mind is more deceitful than anything else. It is incurably bad. Who can understand it?” I, the Lord, probe into people’s minds. I examine people’s hearts. I deal with each person according to how he has behaved. I give them what they deserve based on what they have done.” (Jer 17:9-10 – NET Bible)

Jeremia maak hier uitsprake oor die menslike kondisie. Hy gebruik die Hebreeuse woord lēḇ (hart) van die mens in sy figuurlike betekenis in vers 9. Daarom word hart daar met “mind” vertaal. ’n Mens kan dit ook vertaal met “character, disposition, inclination, loyalty, concern”.

In die eerste plek, sê Jeremia dus, is ons gedagtes “meer bedrieglik as enigiets anders“, “deceitful” soos dit in Engels weergegee word. Die woord ʿāqōḇ word in die Hebreeus gebruik. Die prentjie wat hierdie woord na vore roep, is dié van ongelyke, stamperige grond wat ‘n mens telkens onkant vang en laat struikel. Jy kan dus nie staatmaak op die integriteit van ander of selfs jou eie gedagtes nie.

In die tweede plek, sê Jeremia, is ons gedagtes “ongeneeslik sleg“, “incurably bad“. Die woord ānǔš word in Hebreeus gebruik. Die prentjie wat die woord oproep, is dat ons gedagtes aan ‘n ernstige ongeneeslike siekte lei, soos dit van Dawid se kind by Batseba gesê word (2 Sam 12:15). Sommige vertaal die woord daarom as “disastrous”! Ons gedagtes is “rampspoedig”!

Daarom, sê Jeremia, kan geen mens ons gedagtes volledig verstaan nie. Dit is bedrieglik en ongeneeslik sleg, rampspoedig.

Continue reading

Jeremia 52 – Die lot van Sedekia en Jojagin met die wegvoering in ballingskap

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnHierdie hoofstuk is oorgeneem uit 2 Konings 24:18–25:30 (vgl. ook 2 Kronieke 36:11-21) en vertel die verhaal van Jer. 39 met ’n bietjie meer detail.  Interessant genoeg kom die profeet Jeremia as sodanig nie in dié hoofstuk voor nie, hoewel die ander detail wel ooreenstem.

Die presiese rede daarvoor is onbekend, hoewel só ’n oorname nie vreemd in die OT is nie.  ’n Mens vind immers dieselfde tipe oorname van verhale in Konings en Jesaja – vgl. 2 Kon. 18-20 en Jesaja 36-39.

Moontlik het die plundering van die tempel – wat in die boodskap aan Babel in hoofstuk 50-51 as die hoofrede vir die Here se gramskap teen hulle uitgespel word – sowel as die hoopvolle karakter van Jer. 52:31-34 oor die begenadiging van Jojagin in die ballingskap die redakteur geïnspireer om die detail uit Konings hier in te sluit.  Die boek van Jeremia word dus só op ’n verklarende en hoopvolle noot afgesluit.

Continue reading

Jeremia 50-51 – ’n Boodskap aan Babel

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnDie langste van die oordeelsboodskappe aan die nasies word gelewer aan die adres van die wêreldmag van Babel en die Galdeërs.  Dit is waarskynlik in die vierde jaar van Sedekia, 594 v.C., voorgelees in die grondgebied van Babel deur Seraja in opdrag van Jeremia, toe Sedekia-hulle daar besoek afgelê het.  Hierdie profesie word dus in dieselfde jaar as die hoopvolle brief aan die ballinge in Babel – hoofstuk 29 – daarheen geneem.

Die boekrol met die profesie op is boonop met ’n simboliese gebaar in die Eufraat gegooi as bewys van die finaliteit van God se besluit. In hierdie uitgebreide profesie word die val van Babel verbind aan die terugkoms van die Israeliete en Judeërs in verbondstaal wat sterk herinner aan die Boek van Vertroosting in Jeremia 30-33 wat waarskynlik in die tiende regeringsjaar van Sedekia, 587 v.C., gefinaliseer is.

  • Aan die eenkant beloof die Here dat die pyn en leed wat die Galdeërs aan al die volke van die wêreld aangedoen het, aan homself en sy mense uitgedeel sal word: “Daar wag groot ontnugtering vir julle stad, vir Babel, daar wag vernedering vir die volk waaruit julle kom: hy gaan die minste word van die nasies … In my toorn maak Ek hom onbewoonbaar.” (50:12)
  • Aan die ander kant beloof die Here dat Hy Hom oor die ballinge van sy volk sal ontferm en sal terugbring na hulle land waar hulle hul weer aan Hom sal verbind: “Kom ons bind ons aan die Here in ’n blywende verbond wat nie vergeet sal word nie.” Dit is die hoop vir die volk, al sal dit “huil-huil” gebeur. (50:5)

Geleerdes se indeling van die onderskeie afdelings in dié boodskap aan Babel verskil redelik baie.  Sommige vind soveel as vyftig losstaande profesieë (Robinson), maar die indeling wat vir my die meeste sin maak is dié van Keown (Word kommentaar) wat gebaseer is op werk van Carrol en veral Aitken.  Hulle deel die profesieë in ses bewegings in, hoewel elke geleerde natuurlik sy eie nuanses en afbakenings het.  Ek skoei my indeling daarop.  Dit gee ook ’n handige opsomming van die boodskap van die twee hoofstukke se profesieë:

  • 50:1-3 – Babel se verwoesting word aangekondig aan die nasies
  • 50:4-20 – Eerste beweging: Daar wag groot ontnugtering op Babel
  • 50:21-32 – Tweede beweging: Babel was hooghartig teenoor die Here
  • 50:33-46 – Derde beweging: Niemand sal weer in Babel wil woon nie
  • 51:1-33 – Vierde beweging: Ek laat ’n ramp losbreek oor Babel
  • 51:34-44 – Vyfde beweging: God sal vir Sion se reg opkom
  • 51:45-53 – Sesde beweging: Moenie moed verloor nie, Ek sal met Babel afreken
  • 51:54-58 – Die Here is ’n God wat vergeld, en Hy sal voluit straf
  • 51:59-64 – Seraja lees die boodskap in Babel en gooi dit simbolies in die Eufraat

Continue reading

Onlangse kommentaar