Jeremia 18 – Maak julle lewe en julle dade reg
Die volgende drie hoofstukke het met mekaar verband. Hoofstuk 18 en 19 werk met twee verwante metafore van klei – die pottebakker wat die klei kan vorm soos hy dit goed dink en ’n gekoopte kleipot wat maklik gebreek kan word deur sy eienaar – wat albei God se soewereine mag oor die volk illustreer. Hoofstuk 18 en 20 bevat die laaste drie “Konfessies” van Jeremia – 18:18-23; 20:7-10; 20:14-18. Al drie hoofstukke word ook opgebou as ’n voortgaande en wederkerige gesprek tussen God, Jeremia en die volk.
Hoofstuk 18 bestaan uit drie dele:
- Die metafoor van die pottebakker wat die klei kan vorm soos Hy dit wil – 18:1-12
- God se klag oor die volk wat Hom vergeet het – 18:13-17
- Jeremia wat bid dat sy vyande tot ’n val sal kom omdat hulle nie op sy woord reageer nie – Jer. 18:18-23
18:1-12 – Die pottebakker kan die klei vorm soos Hy dit wil
Die volgende woord van die Here kom tot Jeremia in die pottebakker se huis waar die Here sy boodskap aan hom bekend maak deur iets wat op die skyf van die pottebakkerswiel misluk en toe iets anders van gemaak is soos die pottebakker dit wou hê.
Dit is presies wat die Here ook met nasies en koninkryke maak. Die mislukking van die nasie of koninkryk lê in hulle boosheid, en die sukses in hulle gehoorsaamheid. Straf en seën is voorwaardelik aan hulle verhouding met die Here verbonde.
Die Here gee daarom opdrag aan Jeremia om die volk voor te berei vir die ramp wat oor hulle sal kom. Hy sou graag wou hê dat hulle hulle van hul verkeerde lewe bekeer, dat hulle hul lewe en hulle dade sal regmaak, maar hulle wil nie, selfs sien hulle die gevolge van hulle dade raak: “Dit help nie. Ons wil lewe soos ons wil, elkeen wil sy eie koppige, slegte lewe lei.”
18:13-17 – God kla oor die volk wat Hom vergeet het
Die volk se afvalligheid is egter nie net vir hulleself ‘n probleem nie. Dit is, anders as met die pottebakker, vir die Here eintlik onverstaanbaar sleg, dat die volk Hom vergeet en op die ompaaie en ongebaande weë van afgodediens – “gode wat nie bestaan nie”! – begin loop het. Dit gebeur nie in die natuur dat sulke afstootlike dinge gebeur nie. Hoekom dan tussen God en sy mense?!
Dit is waarom die Here nie anders kan as om die volk te verlaat en uit sy land te verwerp nie. Soos die volk vir God nie wou erken nie, so sal Hy dit nie meer met hulle doen nie. Hy sal sy “rug na hulle toe draai en hulle nie raaksien nie”.
Jer. 18:18-23 – Jeremia bid dat sy vyande tot ’n val sal kom omdat hulle nie op sy woord reageer nie
Jeremia bid dan in sy vyfde “Konfessie” dat sy vyande tot ’n val sal kom omdat hulle nie op sy woord reageer nie. Dit in reaksie op die skinderveldtog van sommige van die Jode teen Jeremia wat sê: “Daar sal altyd priesters wees om ons die wil van die Here te leer en wyse manne wat vir ons raad kan gee en profete by wie ons die boodskappe van die Here kan hoor.”
Hy vra dat die Here hom sal help en nie sal toelaat dat goed met kwaad vergeld word nie. Hy bid dat die gat wat hulle vir hom grawe eerder hulleself tot ’n val sal bring. Hy doen dit onder andere omdat hy juis vir hulle ingetree het voor die Here, maar hulle dit nie na waarde geskat het nie, trouens nie na die boodskap van die Here soos hy dit vir hulle gebring het, geluister het nie.
Daarom vervloek hy hulle en vra dat die Here hulle nie sal vergewe nie en dat hulle sondes nie ongestraf sal bly nie. Hy sê selfs: “Tree teen hulle op terwyl U nog toornig is,” so ontsteld is hy oor die verwerping wat hy van hulle ervaar.
Boodskap
Die Here se soewereiniteit staan uit in dié hoofstuk. Hy kan met nasies en koninkryke maak soos Hy wil, hoewel dit uiteraard regverdig en billik is. Dit wentel om hulle verhouding met Hom al dan nie. Dit is ook waarop Jeremia staatmaak in sy gebed, dat die Here nie goed met kwaad sal laat vergeld nie. Hoofstuk 19 is ’n deel van God se antwoord aan Jeremia – dat hy Israel soos ’n kleipot sal breek – maar ook net ’n gedeelte. Ná die oordeel sal daar weer ’n tyd kom van genesing, en uiteindelik sal die gebed om vergelding vervang word deur die gebed van Jesus om vergifnis: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” (Luk. 23:34) Dit is in dié tradisie waarin ons staan.