Skip to main content

Jeremia 21 – Ek het besluit om hierdie stad nie te spaar nie

Inleiding op hfst. 21-23

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnJeremia is nog steeds besig met sy boodskap aan Juda en Jerusalem (hfst. 2-33) wat in vier dele versamel is.

  1. In die eerste deel (hfst. 2-23) het dit gehandel oor die onafwendbare oordeel oor die volk waarin hy tot dusver gefokus het daarop dat hulle God vergeet het as motivering vir die dreigende ballingskap en waarbinne sy sewe “Konfessies” ook opgeneem is (hfst. 2-20).
  2. In die tweede deel (hfst. 21-23) gaan hy nou skerper fokus op God se oordeel op die leiers: die konings, profete en priesters wat darem ook ’n belofte van ’n regverdige koning in hfst. 23 sal insluit.
  3. Daarna sal Jeremia uitwei oor die ballingskap (hfst. 24-29) en
  4. die toekomstige herstel (hfst. 30-33).

Hy begin hierdie tweede deel met ’n boodskap aan die koning wat ook ’n boodskap aan die volk insluit (21:1-10) waarin Jeremia ons vertel van die aanvang van die beleg deur Nebukadnesar, met koning Sedekia wat ’n halfhartige poging aangewend het om die Here via Jeremia te probeer raadpleeg (waarskynlik in 588 v.C.).  Dit was in die tyd van Jeremia se inperking in die binneplaas van die paleiswag.

Daarna som Jeremia in ’n opeenstapeling van kort profesieë (21:11-23:40) – wat uiteraard oor meer as ’n dekade gelewer is – sy vorige boodskap aan die konings, profete en priesters op, sommige daarvan verbind aan spesifieke konings:

  • Sallum – vierde seun van Josia, soos Jojakim en Sedekia – hy het die naam Joahas aangeneem, maar net drie maande regeer (609 v.C.);
  • Jojakim – tweede seun van Josia (609-598 v.C.) wat eintlik Eljakim geheet het, maar dié naam Jojakim van die Egiptiese koning afgekry het,
  • die koninginmoeder – dit is waarskynlik Sebida, moeder van Jojakim (2 Kon. 23), omdat dit onwaarskynlik is dat Jojagin se ma, Negusta, tyd gehad het om ’n groot invloed te kry, gegewe dat Jojagin so kort regeer het, en
  • Jojagin – seun van Jojakim wat ook net drie maande regeer het, in ballingskap weggevoer is, saam met sy ma, maar later begenadig is (597 v.C.).

Ander verwysings na die konings is in die algemeen (koningshuis van Juda, huis van Dawid).  Sedekia (derde seun van Josia en laaste koning van Juda – 597-586 v.C.) word nie in die kort profesieë genoem nie, maar natuurlik wel in die verhaal waarmee die gedeelte begin. Hy word ook moontlik veronderstel in die eerste profesie (21:8-10).

21:1-7 – Ek lewer julle oor in die mag van koning Nebukadnesar

Die woord van die Here kom met die aanvang van die beleg deur Nebukadnesar na Jeremia om vir koning Sedekia te antwoord om God se wil vir Jerusalem te aanvaar.  Dit was in antwoord op die halfhartige poging wat Sedekia aangewend het om die Here via Jeremia te probeer raadpleeg (waarskynlik in 588 v.C.).  Dit was ook in die tyd van Jeremia se inperking in die binneplaas van die paleiswag (Jer. 37).

Sedekia stuur vir Pasgur, moontlik sy kleinseun, omdat hy hier as die seun van Malkija aan ons bekend gestel word.  Malkija was ook die naam van koning Sedekia se seun (Jer. 38:6).  Dit is dus duidelik nie dieselfde persoon as die Pasgur wat in hfst. 19-20 genoem word nie, wat as die seun van Immer aan ons bekend gestel is.  Hierdie Pasgur, seun van Malkija, het Jeremia strykdeur sterk teengestaan en sou later saamspan teen hom en hom in die put van sy pa laat gooi om hom uit die weg te ruim (Jer. 38), hoewel Jeremia tog uiteindelik uit dié benarde situasie gered is.

Ook die priester Sefanja gaan saam met die versoek dat Jeremia die Here sal raadpleeg vir ’n wonderwerk.  Sefanja het, anders as Pasgur, duidelik ’n meer gematigde houding teenoor Jeremia gehad.  Hy lees op ’n punt vir hom briewe wat van die ballinge af teruggestuur is (Jer. 29:29) en reageer nie op die negatiewe inhoud daarin nie en vra weer op ’n keer, in opdrag van Sedekia, dat Jeremia vir hulle sal bid (Jer. 37:3) hoewel dit nie tot enige uitkoms gelei het nie.  Sefanja is in ballingskap weggevoer en deur koning Nebukadnesar doodgemaak in Ribla, in Hamat, ’n tragiese einde (Jer. 5224-27).

Jeremia het egter ’n deurpriemende boodskap aan Sedekia dat hulle nederlaag onafwendbaar is.  Met ’n treffende metafoor dat die Jode se wapens in die hand van die Here TEEN hulle sal veg binne die stad, word die verwerping van die Here en die oordeel oor die stad bevestig.  Dit is die Here self wat teen hulle sal veg met sy groot mag en krag: “in groot toorn, gramskap en woede.”  Ná die pes, swaard en hongersnood sal hulle oorgelewer word in die mag van Nebukadnesar wat hulle sal: “afmaai sonder om te verskoon, sonder om jammer te kry, sonder genade.”

21:8-10 – Wie in hierdie stad bly, sal sterf – wie uitgaan en na die Galdeërs oorloop, sal lewe

In ’n verdere boodskap aan die volk (en dus vir Sedekia ook) raai Jeremia hulle aan om eerder met Nebukadnesar saam te werk, raad wat hulle natuurlik egter nie gevolg het nie.  Die keuse wat die Here hulle gee, waarin daar tog ’n sprankie hoop is, word in die wind geslaan.  Wie in die stad bly, sal sterf.  Wie egter uitgaan en na die Galdeërs oorloop, sal lewe, “al sal hy net met sy lewe daarvan afkom.”  Die besluit van die Here staan egter vas.  Die oordeel is finaal.

21:11-12 Sorg dat daar reg geskied

In hierdie woord wat aan die koningshuis van Juda, die huis van Dawid, gerig word, word die plig van die koning om te sorg dat daar: “elke dag reg geskied,” na te kom.  Die koning moet teen rowers en uitbuiters optree.  Anders sal die Here dié sonde nie ongestraf laat  bly nie.

21:13-14 – Ek gaan jou straf, Jerusalem

In hierdie woord wat aan die stad, Jerusalem, as sodanig gerig word, word die gewaande onaantasbaarheid van die stad as ’n wanopvatting aan die kaak gestel.  Die paleis en alles rondom sal verbrand word as straf van die Here.

Boodskap

Die intriges tussen Jeremia en die koningshuis val my op in dié gedeelte.  Aan die een kant is daar die versoek vir gebed en ’n wonder ingrype van die Here.  En Jeremia word daarvoor geraadpleeg.  Aan die ander kant is daar die halsstarrige hardkoppigheid wat hulle die antwoord wat die Here gee in die wind laat slaan.  Soos ons later sal sien, word Jeremia ook aktief oor dié woord vervolg.

Sedekia kom oor as ’n weifelende twyfelende kansvatter, soos nog duideliker later aan sal blyk.  Pasgur openbaar hom as ’n verbete arrogante teenstander wat uiteindelik geen genade met Jeremia het nie.  Sefanja kom ’n mens agter het baie meer deernis met Jeremia, maar kry dit ook nie reg om die boodskap van die Here te omarm en daarvolgens te begin lewe nie.

Al drie van hulle mis dus die kans wat die Here hulle gee om tot inkeer te kom, waarin ’n stukkie genade aan hulle belowe word, dat hulle met hul lewe sal afkom.  Presies wat Jeremia al gebid het bied die Here aan (Vgl. Jer.10:17-25 – Jeremia se intersessie gebed: “Straf ons nie in u toorn nie”). Maar hulle weier dit.  Hoe jammer.  Hoe ontsettend jammer.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms