Jeremia 21 – Ek het besluit om hierdie stad nie te spaar nie

Inleiding op hfst. 21-23

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnJeremia is nog steeds besig met sy boodskap aan Juda en Jerusalem (hfst. 2-33) wat in vier dele versamel is.

  1. In die eerste deel (hfst. 2-23) het dit gehandel oor die onafwendbare oordeel oor die volk waarin hy tot dusver gefokus het daarop dat hulle God vergeet het as motivering vir die dreigende ballingskap en waarbinne sy sewe “Konfessies” ook opgeneem is (hfst. 2-20).
  2. In die tweede deel (hfst. 21-23) gaan hy nou skerper fokus op God se oordeel op die leiers: die konings, profete en priesters wat darem ook ’n belofte van ’n regverdige koning in hfst. 23 sal insluit.
  3. Daarna sal Jeremia uitwei oor die ballingskap (hfst. 24-29) en
  4. die toekomstige herstel (hfst. 30-33).

Hy begin hierdie tweede deel met ’n boodskap aan die koning wat ook ’n boodskap aan die volk insluit (21:1-10) waarin Jeremia ons vertel van die aanvang van die beleg deur Nebukadnesar, met koning Sedekia wat ’n halfhartige poging aangewend het om die Here via Jeremia te probeer raadpleeg (waarskynlik in 588 v.C.).  Dit was in die tyd van Jeremia se inperking in die binneplaas van die paleiswag.

Daarna som Jeremia in ’n opeenstapeling van kort profesieë (21:11-23:40) – wat uiteraard oor meer as ’n dekade gelewer is – sy vorige boodskap aan die konings, profete en priesters op, sommige daarvan verbind aan spesifieke konings:

  • Sallum – vierde seun van Josia, soos Jojakim en Sedekia – hy het die naam Joahas aangeneem, maar net drie maande regeer (609 v.C.);
  • Jojakim – tweede seun van Josia (609-598 v.C.) wat eintlik Eljakim geheet het, maar dié naam Jojakim van die Egiptiese koning afgekry het,
  • die koninginmoeder – dit is waarskynlik Sebida, moeder van Jojakim (2 Kon. 23), omdat dit onwaarskynlik is dat Jojagin se ma, Negusta, tyd gehad het om ’n groot invloed te kry, gegewe dat Jojagin so kort regeer het, en
  • Jojagin – seun van Jojakim wat ook net drie maande regeer het, in ballingskap weggevoer is, saam met sy ma, maar later begenadig is (597 v.C.).

Ander verwysings na die konings is in die algemeen (koningshuis van Juda, huis van Dawid).  Sedekia (derde seun van Josia en laaste koning van Juda – 597-586 v.C.) word nie in die kort profesieë genoem nie, maar natuurlik wel in die verhaal waarmee die gedeelte begin. Hy word ook moontlik veronderstel in die eerste profesie (21:8-10).

21:1-7 – Ek lewer julle oor in die mag van koning Nebukadnesar

Die woord van die Here kom met die aanvang van die beleg deur Nebukadnesar na Jeremia om vir koning Sedekia te antwoord om God se wil vir Jerusalem te aanvaar.  Dit was in antwoord op die halfhartige poging wat Sedekia aangewend het om die Here via Jeremia te probeer raadpleeg (waarskynlik in 588 v.C.).  Dit was ook in die tyd van Jeremia se inperking in die binneplaas van die paleiswag (Jer. 37).

Sedekia stuur vir Pasgur, moontlik sy kleinseun, omdat hy hier as die seun van Malkija aan ons bekend gestel word.  Malkija was ook die naam van koning Sedekia se seun (Jer. 38:6).  Dit is dus duidelik nie dieselfde persoon as die Pasgur wat in hfst. 19-20 genoem word nie, wat as die seun van Immer aan ons bekend gestel is.  Hierdie Pasgur, seun van Malkija, het Jeremia strykdeur sterk teengestaan en sou later saamspan teen hom en hom in die put van sy pa laat gooi om hom uit die weg te ruim (Jer. 38), hoewel Jeremia tog uiteindelik uit dié benarde situasie gered is.

Ook die priester Sefanja gaan saam met die versoek dat Jeremia die Here sal raadpleeg vir ’n wonderwerk.  Sefanja het, anders as Pasgur, duidelik ’n meer gematigde houding teenoor Jeremia gehad.  Hy lees op ’n punt vir hom briewe wat van die ballinge af teruggestuur is (Jer. 29:29) en reageer nie op die negatiewe inhoud daarin nie en vra weer op ’n keer, in opdrag van Sedekia, dat Jeremia vir hulle sal bid (Jer. 37:3) hoewel dit nie tot enige uitkoms gelei het nie.  Sefanja is in ballingskap weggevoer en deur koning Nebukadnesar doodgemaak in Ribla, in Hamat, ’n tragiese einde (Jer. 5224-27).

Jeremia het egter ’n deurpriemende boodskap aan Sedekia dat hulle nederlaag onafwendbaar is.  Met ’n treffende metafoor dat die Jode se wapens in die hand van die Here TEEN hulle sal veg binne die stad, word die verwerping van die Here en die oordeel oor die stad bevestig.  Dit is die Here self wat teen hulle sal veg met sy groot mag en krag: “in groot toorn, gramskap en woede.”  Ná die pes, swaard en hongersnood sal hulle oorgelewer word in die mag van Nebukadnesar wat hulle sal: “afmaai sonder om te verskoon, sonder om jammer te kry, sonder genade.”

21:8-10 – Wie in hierdie stad bly, sal sterf – wie uitgaan en na die Galdeërs oorloop, sal lewe

In ’n verdere boodskap aan die volk (en dus vir Sedekia ook) raai Jeremia hulle aan om eerder met Nebukadnesar saam te werk, raad wat hulle natuurlik egter nie gevolg het nie.  Die keuse wat die Here hulle gee, waarin daar tog ’n sprankie hoop is, word in die wind geslaan.  Wie in die stad bly, sal sterf.  Wie egter uitgaan en na die Galdeërs oorloop, sal lewe, “al sal hy net met sy lewe daarvan afkom.”  Die besluit van die Here staan egter vas.  Die oordeel is finaal.

21:11-12 Sorg dat daar reg geskied

In hierdie woord wat aan die koningshuis van Juda, die huis van Dawid, gerig word, word die plig van die koning om te sorg dat daar: “elke dag reg geskied,” na te kom.  Die koning moet teen rowers en uitbuiters optree.  Anders sal die Here dié sonde nie ongestraf laat  bly nie.

21:13-14 – Ek gaan jou straf, Jerusalem

In hierdie woord wat aan die stad, Jerusalem, as sodanig gerig word, word die gewaande onaantasbaarheid van die stad as ’n wanopvatting aan die kaak gestel.  Die paleis en alles rondom sal verbrand word as straf van die Here.

Boodskap

Die intriges tussen Jeremia en die koningshuis val my op in dié gedeelte.  Aan die een kant is daar die versoek vir gebed en ’n wonder ingrype van die Here.  En Jeremia word daarvoor geraadpleeg.  Aan die ander kant is daar die halsstarrige hardkoppigheid wat hulle die antwoord wat die Here gee in die wind laat slaan.  Soos ons later sal sien, word Jeremia ook aktief oor dié woord vervolg.

Sedekia kom oor as ’n weifelende twyfelende kansvatter, soos nog duideliker later aan sal blyk.  Pasgur openbaar hom as ’n verbete arrogante teenstander wat uiteindelik geen genade met Jeremia het nie.  Sefanja kom ’n mens agter het baie meer deernis met Jeremia, maar kry dit ook nie reg om die boodskap van die Here te omarm en daarvolgens te begin lewe nie.

Al drie van hulle mis dus die kans wat die Here hulle gee om tot inkeer te kom, waarin ’n stukkie genade aan hulle belowe word, dat hulle met hul lewe sal afkom.  Presies wat Jeremia al gebid het bied die Here aan (Vgl. Jer.10:17-25 – Jeremia se intersessie gebed: “Straf ons nie in u toorn nie”). Maar hulle weier dit.  Hoe jammer.  Hoe ontsettend jammer.

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: