Skip to main content

Psalm 44:1-9

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 44 is ’n roerende maskîl van die geloofsgemeenskap na ’n vernietigende nederlaag teen hulle vyande wat hulle verstrooid gelaat het onder die nasies (vers 12) en verbysterd onder die minagting van hulle vyande (vers 14).  In hierdie geval dui die “gedig” (soos die NLV die Hebreeuse woord vertaaL) op ’n liturgie vir verskillende “stemme” wat hulle ontsteltenis afwisselend voor die Here uitspreek. Dit sien ons in die gebed van die voorganger, waarskynlik die koning, in die eerste persoon (“ek” en “my” in vers 5, 6, 16-17) en die gebed van die Koragitiete namens die gemeenskap, in die derde persoon (“ons” in die res van die Psalm). Die Psalm is verder opgebou uit drie dele: 1) ’n Terugblik na die verlede (vers 1-9), 2) ’n evaluering van hulle huidige nood (vers 10-23) en 3) ’n gebed om hulp en verandering vir die toekoms (vers 24-27). Ons bid vandag die eerste deel (afgesluit met die Sela), en môre die laaste twee gedeeltes.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: Van die Koragiete. ’n Gedig. Met ons eie ore het ons gehoor, o God, ons voorouers het ons vertel van alles wat U voorheen gedoen het in die dae lank gelede. U self het die heidense nasies uitgedryf deur u mag en die land aan ons voorouers gegee. U het hulle vyande vernietig, en ons voorouers vrygemaak. Hulle het nie die land met hulle swaarde verower, of die oorwinning deur eie krag behaal nie. Dit was deur u krag, deur u teenwoordigheid en u goedheid, omdat U hulle liefhet. U is my Koning en my God. U bepaal oorwinnings vir Jakob. Ons kan deur u krag ons vyande verslaan en ons aanvallers in u Naam vertrap. Ek steun nie op my boog of op my swaard om my te red nie. Want U gee die oorwinning oor ons vyande; U bring vernedering oor dié wat ons haat. O God, ons prys U die hele dag en loof u Naam voortdurend. Sela” NLV

Boodskap en betekenis

In die eerste gedeelte bring die Psalm die glorieryke verlede van God se groot dade vir sy volk in herinnering.  Die koning bely dat hierdie oorwinning nie deur die volk se eie mag behaal is nie, maar deur God se krag, mag en teenwoordigheid.  Met verlangende verwondering spel hy God se motivering vir hulp uit. Dit was: “omdat U hulle liefhet.” God se hulp in die verlede word dus met lofprysing in herinnering geroep as basis vir die gebed om uitkoms na die nederlaag teen hulle vyande: “Ons kan deur u krag ons vyande verslaan en ons aanvallers in u Naam vertrap.”

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 44:10-27

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Saam, onder begeleiding van die Koragiete, rou die geloofsgemeenskap in die res van die Psalm oor die skande van hulle huidige nood, veral omdat hulle die ervaring het dat hulle deur God verstoot is, en bely dat dit ten diepste die rede is waarom hulle die onderspit gedelf het in die oorlog teen hulle vyande. Wat die ontsetting van hulle ervaring so onverstaanbaar maak, is dat dit gebeur het terwyl hulle God nie vergeet het nie, nie aan die verbond ontrou was nie, nie afvallig geword het nie en nie van sy pad afgewyk het nie.  Hiermee word die worsteling van ‘n Job geëggo in dié ervaring en lyding van die geloofsgemeenskap. Desnieteenstaande verenig hulle steeds in ’n verdere smeekgebed om hulp en pleit by die Here, die Verbondsgod, om hulle “nie vir altyd” te verstoot nie en nie sy rug op hulle te draai en Hom nie aan hulle ellende te steur nie  Uitkoms is immers net moontlik van God self, selfs al kan hulle die ellende waarin hulle tans verkeer nie verklaar nie. Om die waarheid te sê, die verklaring vir hulle ellende is vir hulle minder belangrik as die verlossing daarvan en daarvoor bid hulle eendragtig saam.

Bid die Psalm

“Maar nou het U ons weggestoot in skande. U trek nie saam met ons leërs na die geveg toe nie. U laat ons vlug voor ons vyande; dié wat ons haat, plunder na hartelus. U lewer ons uit soos slagskape; U het ons onder die nasies verstrooi. U volk het U verkoop vir niks en self het U nie daarby gebaat nie. U het ons ’n veragting gemaak by die bure, ’n bespotting en beskimping vir almal om ons. U het ons ’n spotnaam onder die nasies gemaak, almal skud maar net die kop daaroor. My skande is dag na dag voor my; oor my gesig is skaamte geskryf. Al wat ek hoor, is die lasteraar en die kwaadspreker. Al wat ek sien, is die vyand en die wreker. Dit het gebeur hoewel ons U nie vergeet het nie, en nie aan u verbond ontrou was nie. Ons het U nie verlaat nie, en nie van u paaie afgedwaal nie. Maar in die woestyn het U ons verpletter; donkerte en dood het U oor ons gebring. As ons opgehou het om ons God te dien of by vreemde gode hulp gaan vra het, sou God dit nie weet nie? Hy ken immers die geheime van die hart. Om u ontwil word ons elke dag doodgemaak, word ons behandel soos skape wat geslag moet word. Word wakker! Waarom slaap U, Here? Staan op! Moenie ons vir altyd verstoot nie! Hoekom kyk U anderpad? Hoekom kyk U verby ons ellende en verdrukking? Ons lê verneder in die stof, met die gesig in die grond. Staan op! Kom en help ons! Red ons ter wille van u troue liefde.” NLV

Boodskap en betekenis

Dit is interessant hoe God se universele naam (Elôhîm) deurgaans gebruik word in die Psalm om daarmee sy soewereine mag oor alles en almal wat leef en beef te bevestig, maar dat die dieptepunt van die gebed om hulp in vers 24-27 aan die Here (Jahwe) gerig word, die persoonsnaam van God.  Daarmee word aan die een kant die Here (Jahwe) se persoonlike verbintenis aan die volk van Jakob uitgedruk, maar aan die ander kant ook die geloofsgemeenskap se verbintenis aan God (Elôhîm) bevestig. Die Psalm is werklik ’n diep besinning oor God se misterieuse weë. Tog nooi dit ons steeds uit om te volhard in die vashou aan God ten spyte van die onbegrip vir sy oënskynlike afwesigheid. Geen wonder nie dat Paulus hierdie Psalm gebruik om God se betrokkenheid in lyding in Romeine 8 uit te druk.  Hy vind in hierdie Psalm die bevestiging dat niks ons van die liefde van God kan skei nie, selfs al gebeur dit dat ons ter wille van Christus deur die dood bedreig word en ons soos slagskape behandel word.  In Romeine 8:36 haal Paulus Psalm 44:23 aan om sy punt te staaf.  Lees dit gerus hier in sy volle konteks: ”35Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36Daar staan immers geskrywe: ‘Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.’  37Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” (1983-vertaling) Oorwinning lê nie in die afwesigheid van lyding nie, en bestaan nie net in die ervarings van voorspoed en sukses nie. Oorwinning lê in die ervaring van die liefde van Christus Jesus, ons Here. Niks kan ons daarvan skei nie, en dít is die tipe oorwinning waarvan Paulus praat. Met hierdie perspektief van Paulus op die Psalm kan ek met meer oorgawe my rus vind in die gedagte dat ons in alles oorwinnaars is, al bly sommige goed ‘n misterie en onverklaarbaar. En ek kan met meer oorgawe bely dat alles ten goede meewerk vir dié wat God liefhet (Rom. 8:26).

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 45:1-8

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Na die worsteling en smeekgebede van Psalm 42-44 bring Psalm 45 ’n verandering in atmosfeer en fokus. Een van die Koragiete dra die gedig voor aan die koning en verheerlik in die eerste deel daarvan die koning se heldhaftige oorwinnings wat geregtigheid laat geskied.  Let op dat sy skoonheid en wysheid aan God se seën toegeskryf word.  Sy opdrag as koning word verbind aan die stryd vir die waarheid en vir die reg van die hulpelose, soos Spreuke dit ook meermale vermeld.  Sy invloed word vergelyk met dié van ’n verhewe wese waarmee goddelike eienskappe aan hom toegeskryf word.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: Op die wysie van “Lelies”. Van die Koragiete. ’n Gedig. ’n Lied van die liefde. Mooi dinge roer my hart. My gedig dra ek voor aan die koning. My tong is soos die pen van ’n vaardige skrywer. U is die aantreklikste van alle mense. Minsame woorde vloei uit u mond. Daarom het God u vir altyd geseën. Magtige krygsman, maak u swaard aan u sy vas! Glansryk en koninklik is u! Geklee in majesteit, trek tog uit na die oorwinning. Ter wille van waarheid, sagmoedigheid en reg, laat u regterhand skrikwekkende dade verrig! U skerp pyle laat volke voor u val. Dit deurboor die hart van u vyand. God vestig u troon vir altyd. Opregtheid is die septer waarmee u regeer. U het geregtigheid lief, en haat die kwaad. Daarom het God, u God, u bo u tydgenote met vreugde-olie gesalf.” NLV

Boodskap en betekenis

Hierdie Psalm het in die NT ’n Messiaanse interpretasie gekry soos ons dit lees in Hebreërs 1:8-9 waar uit Psalm 45:7-8 aangehaal word en op Christus van toepassing gemaak is: “8Maar van die Seun sê Hy: “U troon, o God, staan vir ewig vas, met u koninklike septer laat U reg geskied. 9U het die reg lief en U haat die onreg. Daarom het God, u God, U onder groot vreugde tot Koning gesalf bo u tydgenote.” (1983-vertaling) Jy kan die Psalm dus as ’n gebed vir die Here Jesus as jou Koning gebruik, soos dit in Hebreërs geïnterpreteer is.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 45:9-18

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

In die tweede deel van die Psalm besing die Koragiete die lof van die koningin wat die koning met haar skoonheid bekoor (vers 9-16).  Let op die beskrywing van sintuiglike plesier: haar klere ruik lekker, daar is vrolike musiek wat haar hart bly maak, sy is versier met goud van Ofir (dit is moeilik om dié plek te identifiseer, maar interessant genoeg is daar ‘n tradisie wat Ofir met Suid-Afrika identifiseer). Sy word aangeraai om haar volledig vir die koning te gee om aan hom te behoort en afskeid te neem van haar volk en familie, iets wat natuurlik nie sonder pyn kon geskied nie, ten spyte van die uitbundige vreugde van die seremonie. Die Psalm sluit af met ’n gebed vir die bevestiging van sy koninkryk tot roem onder die volke vir altyd (vers 17-18).

Bid die Psalm

“U klere is gegeur met mirre, aalwyn en kaneel. Uit paleise verfraai met ivoor, maak snaarinstrumente u bly. Voor u is prinsesse met juwele versier; regs staan die koningin, met Ofirgoud versier. Luister, o dogter, luister wat ek sê. Vergeet van jou mense en jou familie. Jou skoonheid betower die koning; hy is jou heer, hom moet jy eer. Die dogter van Tirus sal kom met geskenke, rykes sal kom om jou guns te wen. Binne wag die bruid in prag getooi, geklee in ’n rok met goud versier. Sy gaan na die koning in haar pragtige kleed. Haar vriendinne, almal jong meisies, begelei haar na u toe. Met vreugde en gejuig word hulle begelei wanneer hulle ingaan in die koning se paleis. U seuns sal regeer in die plek van hulle voorvaders. U sal hulle heersers maak oor die hele wêreld. Ek sal u naam bekendmaak deur die geslagte heen. Daarom sal volke u vir altyd prys.” NLV

Boodskap en betekenis

Ons het reeds gister van die Messiaanse interpretasie kennis geneem soos die Psalm in Hebreërs geïnterpreteer is. Die Psalm is deur die eeue egter ook op verskeie ander betekenisvlakke gebruik. Omdat die lof van die koningin, wat die koning met haar skoonheid bekoor, hier besing word, is die Psalm as “’n Lied van die liefde” gebruik, soos dit in die titel beskryf word. Die Psalm is daarom ingespan by gewone huwelike waar oor die bruid en bruidegom in koninklike terme gesing is. Jy kan dus die inhoud van hierdie Psalm dus ook gebruik as ‘n gebed vir jou eggenoot, of selfs in ‘n gesamentlike gebed. Daar is ook raakpunte tussen hierdie Psalm en Paulus se beskrywing van die verhouding tussen Christus en die kerk (Ef. 5:21-33). Jy kan die Psalm dus ook as ‘n gebed vir die kerk se verhouding met Jesus gebruik.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 46

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die verwysing na “jongvroue” is ‘n vertaling van die term alamot (“sopraanstemme” 1933-vertaling), maar dit is waarskynlik ‘n musiekterm waarvan ons nie mooi die betekenis uit die Skrif kan aflei nie (vgl. 1 Kron. 15:20). Dit is weereens ‘n Psalm van die Koragiete wat in drie dele gedig is (vgl. die Selas wat help om die verdeling raak te sien). Die agtergrond vir dié eerste deel van die Psalm word nie aan ‘n presiese natuurlike gebeurtenis verbind word nie, hoewel dit duidelik ‘n aardskuddende ervaring was. Om die waarheid te sê, die omvang daarvan word met ‘n kosmiese katastrofe vergelyk waarin die grond en die berge padgee en in die druisende skuimende see gestort word. Dit kan daarom ook ’n metafoor wees vir die persoonlike worsteling met nood en lyding. Die Psalm is egter ook nie net ‘n viering van God se verlossing uit haglike omstandighede nie, maar ook ‘n viering van sy vaste teenwoordigheid in die Godstad en heilige woning, waarmee sy keuse vir Sion bevestig word, soos ook met die volgende 2 Psalms die geval is. Nasies kan dus raas en koninkryke wankel in die loop van die geskiedenis, maar God bly vir die Godsvolk ‘n beskutting.  Hy is immers ook die God van die geskiedenis. Die laaste deel van die Psalm praat van die omvattende vrede wat God op die aarde tot stand gaan bring, wat weereens lyk na ‘n “einde van die wêreld” ervaring waarvan onder andere die profete (bv. Jes. 2:4) ook skrywe.  Dit is met dié toekomsvisie wat die Psalmis dan in vers 11 verklaar: “Wees stil en weet Ek is God! Ek sal vereer word deur die nasies, verhewe wees oor die hele aarde.”  Want God is ook die God van die toekoms.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: ’n Psalm van die Koragiete. Op die wysie van “Jongvroue”. ’n Lied. God is ons toevlug en ons krag; in nood is Hy gereed om te help. Daarom sal ons nie bang wees nie, al bewe die aarde, al verskuif die berge diep in die see; al bruis en skuim die waters, al skud die berge as die waters styg! Sela Die strome van die rivier bring vreugde in die Godstad, in die heilige woning van die Allerhoogste. God self woon daar; dit sal nie beweeg nie. As die dag breek, sal God kom help. Die nasies rumoer en koninkryke wankel. God praat, en die aarde versmelt. Die Here, die Almagtige, is by ons; ons skuilplek is die God van Jakob. Sela Kom, aanskou die werke van die Here, wat verwoesting bring op die aarde en oorloë beëindig oor die hele aarde. Hy verbreek die boog en vernietig die spies. Die skilde verbrand Hy met vuur. “Wees stil en weet Ek is God! Ek sal vereer word deur die nasies, verhewe wees oor die hele aarde.” Die Here, die Almagtige, is by ons. Ons skuilplek is die God van Jakob. Sela” NLV

Boodskap en betekenis

Hierdie Psalm is ‘n kleinood in die nadenke van die geloofsgemeenskap oor die teenwoordigheid van God in ons nood. Dit geld vir die ervaring van die kragte van die natuur hetsy werklik of as metafoor vir ons worstelstryd met allerlei.  Hy is altyd bereid om te help, omdat Hy die Skeppergod is wat alles gemaak het. Dit geld ook die aanslae van nasies teenoor mekaar regdeur die geskiedenis waarin die belydenis van God se teenwoordigheid telkens rus bring midde-in die nood.  God is dus ook die God wat die geskiedenis in sy hand hou. Dié nadenke sluit ook telkens die vasgryp aan die (eskatologiese) droom dat God uiteindelik sy vredesryk volledig tot vervulling sal bring op die aarde. God is ook die God van die toekomstige herskepte wêreld. Maarten Luther het daarom dié Psalm as inspirasie gebruik om sy aangrypende lied te skryf: “’n Vaste burg is onse God.” Die Liedboek van die NG Kerk het ‘n verwerking in Liedboek 476 daarvan, en die bekende melodie word ook vir Psalm 27 en Liedboek 477: “Hou Christus self sy kerk in stand”, gebruik. Hierdie Psalm bemoedig ons dus met die krag van God wat sorg dat niks uit hulle plek skuif nie. Hy is ’n toevlug wat skuiling bied in selfs die ergste storms. “Wees stil, en weet, Ek is God!” Hoog bó die aarde. Hoog bó die nasies. Dié God is met jou. Verlustig jou in die vrede en vreugde wat hierdie God vandag vir jou bring.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Onlangse kommentaar