Psalm 40:1-11
Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.
Ons Vader
“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)
Teks en konteks
In Psalms 38 en 39 het Dawid biddend gewag (Ps. 38:15; 39:7) in ‘n krisis van sonde (Ps. 38:3; 39:8) en openbare kwaadwilligheid (Ps. 38:16; 39:8). Die wagtyd daarvoor is nou verby en hy bely met Psalm 40 dat sy vertroue in God bevestig is. Dawid fokus daarom hier op drie goed: 1) Hy onthou sy ervaring van redding en getuig daarvan in die geloofsgemeenskap met die beeld om vanuit die modder op ’n vaste rots geplaas te word (vers 2-6); 2) Hy wy hom toe aan God en verbind hom persoonlik daaraan om God se wil te doen (vers 7-11); 3) Hy smeek opnuut vir redding uit ‘n volgende vasgevalde situasie (vers 12-18) wat ons môre gaan lees.
Bid die Psalm
“Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm. Ek het met hunkering op die Here gewag. Hy het na my afgebuig en my geroep gehoor, en my opgetel uit die afgrond van die dood, uit die modder en die slym. Hy het my voete op ’n rots laat staan en my op vaste grond laat loop. Hy het my ’n nuwe lied gegee, ’n lofsang om ons God te prys. Baie sal met eerbied toekyk. Hulle sal op die Here vertrou. Geseënd is die mens wat op die Here vertrou, wat hom nie wend na hooghartiges, of vertrou op vals gode nie. Here my God, U het baie wonders gedoen. U planne vir ons kan met niks vergelyk word nie. As ek van al u wonderdade wil vertel, is dit te veel om op te noem. Slagoffers of graanoffers wil U nie hê nie. U het my in staat gestel om te luister. Brandoffers of sonde-offers het U nie nodig nie. Toe sê ek: “Kyk, ek kom! In die boekrol is dit oor my geskryf. Dis my begeerte om u wil te doen, my God, want u voorskrifte is in my hart.” Ek het in die groot vergadering geregtigheid verkondig. Ek was nie bang om reguit te praat nie. Here, U weet dit tog. U geregtigheid het ek nie vir myself gehou nie; ek het vertel van u trou en van u reddende mag. In die groot vergadering het ek nie geswyg oor u goedheid en getrouheid nie.” NLV
Boodskap en betekenis
Die Psalm (môre se gedeelte ingesluit) kan ’n mens as die struktuur van jou eie gebedsworsteling in jou unieke situasie gebruik. Dit is: om 1) God se reddingsdade in die verlede in herinnering te roep, om 2) jouself opnuut aan God toe te wy in gehoorsaamheid en getuienis, en 3) jou behoefte in elke detail aan Hom bekend te maak en jou verwagting te stel in sy ontfermende karakter. Die Hebreërskrywer lê die woorde van Psalm 40:7-9 in Hebreërs 10:5-7 in Jesus se mond waar ons by Hom kan leer om dit die fokus van ons geloofslewe te maak: “Dis my begeerte om u wil te doen, my God, want u voorskrifte is in my hart.”
Lofprysing
“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)
Onlangse kommentaar