Skip to main content

Psalm 147

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 147 raai die geloofsgemeenskap ook aan om op die Here te vertrou, soos Psalm 146, maar begrond dit nie net in God se kongruente karakter nie, maar veral in sy vreugdevolle versorging wat Hy ten toonstel in die natuur sowel as in die geskiedenis van sy mense: ”Die Here vind vreugde in hulle wat vir Hom ontsag het, wat hulle hoop vestig op sy troue liefde.” Die Psalm kan in drie verdeel word op grond van die opdrag om die Here se lof te besing in vers 1, 7 en 12. In al drie dele word op verskillende maniere die geweldige grootheid van God besing wat in sy kreatiewe krag in die kosmos ten toon gestel word, sowel as die grenslose genot van God wat in sy vreugdevolle versorging van alles wat leef en beef – kraaie en kinders – ten toon gestel word. God is groot in sy almag, maar ook vol van genade in sy nabyheid.

Bid die Psalm

“Prys die Here! Want dis goed om ons God te prys. Dis ’n vreugde en ’n genot om Hom te prys. Die Here herbou Jerusalem en versamel bannelinge van Israel. Hy genees die gebroke hart, en verbind hulle wonde. Hy tel die sterre en noem hulle almal by die naam. Groot en magtig is ons Here. Sy kennis ken geen grense nie. Die Here ondersteun onderdruktes, maar goddeloses gooi Hy neer op die grond. Sing ’n danklied aan die Here; sing lofliedere vir ons God met begeleiding van die harp. Hy oordek die hemel met wolke, Hy verskaf reën vir die aarde en laat gras groei op die berghellings. Hy voed die wilde diere, en die jong kraaie wat skree vir kos. Die krag van ’n oorlogsperd beïndruk Hom nie; met die ratsheid van ’n krygsman neem Hy nie genoeë nie. Die Here verheug Hom in hulle wat Hom dien, in dié wat hulle hoop vestig op sy troue liefde. Prys die Here, Jerusalem! Prys jou God, Sion! Want die sluitbalke van jou poorte het Hy versterk, en jou kinders geseën. Hy gee vrede oor jou grondgebied, versadig jou met die beste graan. Hy stuur sy bevele na die aarde, sy woorde word vinnig versprei. Hy stuur die sneeu, wit soos wol; Hy strooi ryp uit soos as, laat haelstene val soos broodkrummels. Wie kan standhou teen sy koue? Dan, op sy bevel, smelt alles weer. Hy laat sy winde waai, en die water loop. Hy maak sy woord bekend aan Jakob, aan Israel sy voorskrifte en gebooie. Vir geen ander nasie het Hy dit gedoen nie; sy bepalings ken hulle nie. Prys die Here!” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalmis sien God se grootheid raak in sy herbouing van Jerusalem waar die verstrooides vanuit die ballingskap weer ‘n tuiste gevind het. Hulle gebroke harte is genees en hulle wonde is verbind. Die Here het die verdruktes weer opgehelp en bevestig. Die verwysing na die sterre wat die Here name kan gee, word hier eintlik as ‘n metafoor gebruik om sy Herderskap te beklemtoon. Die Here se geweldige grootheid word nie net gedemonstreer in die feit dat die sterre soos sy skape is wat Hy versorg nie, maar ook in die feit dat Hy sy mense soos sy skape terugbring uit die verstrooiing en bó die goddelose mense verhef en bevestig. Hoekom sou God dit doen? Die Psalmis begrond dit in God se grenslose genot in sy skepping en sy skepsels. Hy sorg vir hulle almal, omdat Hy in hulle ‘n intense vreugde vind – kraaie en kinders. Hy verheug Hom in die wolke en die reën, in die gras op die berge sowel as in die diere en die jong kraaie wat krys, en veral in dié wat vir Hom ontsag het en op Hom hoop. Hy is doodgewoon lief vir almal en wil aan hulle sy genade in oorvloed uitstort en hulle versorg. Weereens keer die Psalmis terug na die herbouing en beveiliging van Jerusalem en loof die Here vir die seën wat dit vir die kinders in die families en vir die families binne die gemeenskap gebring het. Hulle kan nou veilig woon en die voorsiening wat God gee in die natuur geniet. Let op hoe God se woord as effektief beide in die natuur as in die geloofsgemeenskap geteken word. God stuur sy woorde uit en dit bring reën sowel as insig. Dit versorg die gemeenskap beide met kos om te eet sowel as met woorde om geestelik van te leef en hulle gemeenskapslewe op te begrond.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 148

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 148 brei die oproep tot lof uit tot die hele heelal – die hemel en die aarde, die skepsels en die skeppings. Die redes vir die lof lê in God se betroubare bevestiging van alles wat leef. Dié lof word in die eerste plek gevra – vers 1-6 – van alles wat in die hemel gemaak is. Dit sluit die lewende skepsels in: engele en hemelse magte. Dit sluit ook die gepersonifieerde skeppings in: son, maan, sterre, selfs die water wat uit die hemelkoepel op die aarde reën verskaf. Die Psalmis gee drie redes waarom alles in die hemel God moet loof:

  1. God het hulle gemaak,
  2. God het hulle vir altyd gevestig,
  3. God het ‘n vaste orde bepaal wat nie verby sal gaan nie (NAV: “waarbuite hulle nie kan beweeg nie”).

Dié lof word in die tweede plek gevra – vers 7-14 – van alles wat op die aarde gemaak is. Dit sluit die lewende skepsels in – beide die diere as die mense: seemonsters, wilde diere, vee, kruipende diere, voëls, konings, aanvoerders, regeerders, al die volke, jongmense en oumense. Dit sluit ook die gepersonifieerde skeppings in: vuur, hael, sneeu, newels (miswolke), stormwind, berge, heuwels, vrugtebome, seders, en selfs die diep waters (oseane).

Bid die Psalm

“Prys die Here! Prys die Here vanuit die hemel! Prys Hom in die hoë hemele! Prys Hom, al sy engele, prys Hom, al die hemelse wesens! Prys Hom, son en maan, prys Hom, alle skitterende sterre! Prys Hom, hoogste hemel, en waters bokant die uitspansel! Laat hulle die Naam van die Here prys, want Hy het beveel, en dit alles het ontstaan. Hy het hulle gevestig vir altyd. Hy het grense bepaal, en sal dit nooit herroep nie. Prys die Here vanuit die aarde: seemonsters en die diepwaters, weerlig en hael, sneeu en miswolke, stormwind wat Hom gehoorsaam, berge en alle heuwels, vrugtebome en alle seders, wilde diere en al die lewende hawe, kruipende diere en voëls, konings van die aarde en alle volke, heersers en regters van die aarde, jong manne en meisies, grysaards saam met kinders. Laat hulle die Naam van die Here loof. Want net sy Naam is verhewe. Sy majesteit is bo die aarde en hemel. Hy het sy volk sterk gemaak. Dít is die lof van al sy troue dienaars, die volk Israel, wat na aan Hom is. Prys die Here!” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalmis gee drie redes waarom alles op die aarde God moet loof:

  1. God se Naam alleen is hoog verhewe,
  2. God se luisterrykheid strek oor die hele aarde en hemel,
  3. God het sy volk sterk gemaak as getuienis aan almal wat Hom getrou volg. God wys dus sy sorg in dié wat: “na aan Hom is”.

Die hele skepping het hulle bestaan aan God te danke. Daar is niks uitgesluit wat nie God as Skepper moet loof nie. Die hele skepping is vir hulle voortgaande bestaan van God afhanklik. Daar is niks uitgesluit wat nie God se betroubare bevestiging nodig het nie. Daarom moet die hele skepping God loof. Dit is die bepaalde bestemming van alles wat leef en beef, veral van dié wat “na aan Hom is”. Halleluja!

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?

Woensdag hierdie week op die 9de September kom ons aan die einde van ’n besondere reis.

Sedert 22 Desember 2025 het ons saam deur die Psalms gebid. Dag vir dag het ons probeer om nie net die Psalms te lees en beter te verstaan nie, maar dit ook ons eie gebede te maak.

Ek wil graag by jou hoor: Het “Bid die Psalms” vir jou ’n verskil gemaak?

Dit sal vir my baie waardevol wees as jy net kortliks in die kommentaar hieronder op een of meer van die volgende vrae reageer:

  1. Het “Bid die Psalms” jou gebedslewe gehelp? Indien wel, hoe?
  2. Het dit jou verhouding met die Here of jou geestelike lewe op enige manier verdiep?
  3. Het dit jou gehelp om jou stiltetyd meer gereeld of meer sinvol te maak?

Jy hoef nie op al drie vrae te antwoord nie. Selfs net ’n sin of twee sal waardevol wees.

As jy iets uit hierdie reis deur die Psalms kan uitlig wat vir jou besonder betekenisvol was, sal ek ook baie graag daarvan wil hoor.

Baie dankie aan elkeen wat hierdie reis meegemaak het. Vir my was dit ’n voorreg om dag vir dag saam met julle die Psalms te lees, te oordink en te bid.

My gebed is dat die Psalms nie nou bloot aan die einde van ’n leesplan sal kom nie, maar steeds deel van ons gebede en ons daaglikse wandel met die Here sal bly.

Deel gerus jou ervaring hieronder in die kommentaar. Ek sal dit baie waardeer.

Ek sien ook uit na die reis met Matteus wat Donderdag begin. As jy die bydraes elke week in jou Inbox wil ontvang, kan jy hier inskryf: Skryf in op Bybelskool.com. As jy dit eerder per WhatsApp wil ontvang, kan jy hier aansluit: Sluit by die WhatsApp-leesplan aan.

Psalm 149

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 149 roep die hele geloofsgemeenskap op om God te loof in hulle byeenkomste. Die redes vir die lof lê in God se goedgesindheid aan sy getroue volgelinge veral in die beskerming teen nasies wat hulle probeer verdruk: “want die Here is sy volk goedgesind; Hy vereer verdruktes met oorwinning.” (vers 4). Let op hoe dié beskrywing van God aan die een kant tot lofprysing aanleiding gee in die byeenkomste van die geloofsgemeenskap: nuwe liedere wat gesing word, koordanse op die maat van tamboeryne en liere wat uitgevoer word. Hulle moet oor God se goedgesindheid van die verlede jubel selfs in die nag wanneer hulle gaan slaap. God se goedgesindheid is ‘n eer wat Hy hulle verleen en wat in sy volle konsekwensies beleef en besing moet word. Aan die ander kant gee dié beskrywing van God aanleiding tot ‘n gebed om vergelding, sowel as ‘n gereedheid om op te tree wanneer die Here hulle oproep tot die oorwinning oor hulle vyande in die toekoms. Daar moet dus nie net: “verheerliking van God uit hulle kele” kom nie, maar ook ‘n gereedmaak met ‘n: “tweesnydende swaard in hulle hande” om die Here te volg in sy vergelding oor die nasies, in die straf wat Hy onder die volke sal uitdeel, in die kettings en ysterboeie wat die lot van konings en hooggeplaastes sal wees as God die vonnis oor hulle voltrek: “Dit sal vir al sy getroue volgelinge ‘n glansryke oorwinning wees.” Die Here is dus nie net sy volk goedgesind in terme van sy nabyheid in die verlede nie. Hy belowe ook dat Hy hulle in die toekoms sal vergeld onder die nasies. Hy is magtig om op te tree en dinge reg te stel. Daarvoor moet hulle Hom nie net loof nie, maar gereed wees om Hom na te volg.

Bid die Psalm

“Loof die Here! Sing vir die Here ’n nuwe lied. Sing sy lof in die vergadering van sy getroue dienaars. Laat Israel hom verheug in sy Skepper, laat die inwoners van Sion jubel oor hulle Koning. Laat hulle sy Naam met koordanse loof, begelei deur tamboeryn en harp vir Hom lofliedere sing. Want die Here verbly Hom in sy volk; met sy redding hef Hy die hulpeloses op. Sy troue dienaars juig oor hierdie eer; hulle jubel op hulle beddens. Mag hulle God loof met hulle lippe, met ’n tweesnydende swaard in hulle hande om wraak uit te oefen op die nasies en straf oor die volke, om hulle konings vas te maak met boeie en hulle leiers met ysterkettings, om die oordeel te voltrek wat reeds vasgestel is. Dit is die roem van sy troue dienaars. Prys die Here!” NLV

Boodskap en betekenis

Dis duidelik dat die Psalm van ‘n toekomstige oorlog praat wat eintlik alle oorloë tot ‘n einde kan bring, iets wat God se koningskap oor die hele wêreld sal bewerk. Ons sien dié verwagting op verskeie plekke in die Psalms – Psalm 2; Psalm 18; Psalm 47, hoewel dié Psalm ook van die vereniging van die nasies onder God se heerskappy praat; Psalm 75; Psalm 95 (God is immers koning oor die wêreld sowel as in die geloofsgemeenskap); Psalm 97; Psalm 98 (God kom om oor die hele aarde te heers); Psalm 100 (Alles wat leef moet die Here loof) en nog vele meer. Paulus het hierdie gedagtes meer volledig uitgewerk in terme van die eskatologiese verwagting wat ook die geloofsgemeenskap van die NT kan hê dat God vergelding sal bring en sy mense in heerlikheid by Hom sal versamel: “God is tog regverdig: die mense onder wie julle nou so ly, sal Hy as straf ook laat ly; en aan julle lyding, en ons s’n, sal Hy ’n einde maak wanneer die Here Jesus met sy magtige engele in ’n vuurvlam uit die hemel verskyn.” (2 Tess. 1:6-8). Maar, dit sluit in ons bedeling nie die bereidheid vir die fisiese swaard in nie, wel die volgende: “mag Hy deur sy krag julle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome maak.” (vgl. verder by 2 Tess. 1). Deel van ons geestelike oorlogvoering in die proses sluit wel die swaard van die Woord in (Ef. 6:10-20), maar kyk ook wat Johannes hieroor skryf in Openb. 18, 19, en 20 oor die voltrekking van God se oordeel wat gelukkig eindig in die visie op die nuwe hemel en aarde wat ‘n heeltemal nuwe bestel bring.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 150

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 150 roep alles wat asem het op om God te loof: “na die omvang van sy grootheid.” Dit is die laaste van die Psalms wat ingesluit is in die kanon en sluit die vyfde Psalmboek met lof af. Waar elkeen van die ander vier Psalmboeke egter afgesluit is met ‘n vers van lof (Ps. 41:14; 72:18-19; 89:53 en 106:48), word die hele Psalmboek hiermee met ‘n volle loflied afgesluit. Die Psalm bevat tien reëls wat op dieselfde patroon die lof van God besing, amper soos ‘n Tien Gebooie van lof, wat afsluit met ‘n elfde oproep: “Alles wat asem het, moet die Here loof”.

Bid die Psalm

“Loof die Here! Loof God in sy heiligdom! Loof Hom onder sy magtige uitspansel! Loof Hom vir sy magtige dade. Loof Hom vir sy eindelose grootheid. Loof Hom met die ramshoring. Loof Hom met lier en harp! Loof Hom met tamboeryn en koordanse. Loof Hom met snaarinstrumente en fluite! Loof Hom met die klank van simbale. Loof Hom met galmende simbale. Laat alles wat lewe, die Here loof! Loof die Here!” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalm is eintlik baie eenvoudig saamgestel. Die eerste twee verse verklaar dat God oral geloof moet word, in die heiligdom op aarde sowel as in die hemel. Twee redes word gegee:

  1. God se kragtige dade waarmee die geskiedenis waarskynlik betrek word.
  2. God se omvangryke grootheid waarmee die skepping waarskynlik betrek word.

Die laaste vier verse dien as aanmoediging om jou eie stem by dié van die Psalm te voeg en die Here ook waar jy is, te loof met wat ook al tot jou beskikking is. Tien opsies word gegee: ramshorings, harpe, liere, tamboeryne, koordanse, snaarinstrumente, fluite, simbale (2 keer genoem, wat ‘n mens by tien uitbring!), of jou eie stem. Die punt is natuurlik nie dat dié lys van instrumente jou moet beperk nie. Dit moet jou juis vrystel om jou eie stem van lof te vind voor die Here. En sy kragtige dade sowel as sy omvangryke grootheid moet in jou lof ‘n getuienis aan hierdie wêreld word: “Alles wat asem het, moet inderdaad die Here oral loof!”

Dit is die doel van jou bestaan en die hart van jou bestemming as mens.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Dankie vir die saamreis met die Psalms! Môre val ons weg aan die Evangelie van Matteus. Geniet dit!

Onlangse kommentaar