Skip to main content

Tag: Wie is God?

Sal God sonde en afgodery ongestraf laat bly? – Die belydenisskrifte

1. Lees die aanhalings uit die Heidelbergse Kategismus 10-13. Wat leer jy van waarom God sonde en afgodery nie ongestraf laat bly nie? Wat beteken dit vir jou? Wat vra dit van jou?

Heidelbergse Kategismus 10-13

10 Vraag: Wil God hierdie ongehoorsaamheid en afval ongestraf laat bly?

Antwoord: Nee, glad nie; inteendeel, sy toorn is verskriklik (a) sowel oor die erfsonde as oor die sonde wat ons self doen: Hy wil dit in die tyd en in die ewigheid met ‘n regverdige oordeel straf (b). Hy het immers gesê: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie (c).

(a) Gen 2:17; Rom 5:12. (b) Ps 50:21; 5:6; Nah 1:2; Eks 20:5; 34:7; Rom 1:18; Ef 5:6. (c) Deut 27:26; Gal 3:10.

11 Vraag: Is God dan nie ook barmhartig nie?

Antwoord: God is wel barmhartig (a); maar Hy is ook regverdig (b). Daarom eis sy geregtigheid dat die sonde wat teen die allerhoogste majesteit van God gedoen is; ook met die swaarste straf gestraf moet word – dit is met die ewige straf aan liggaam en siel.

(a) Eks 34:6, 7; 20:6. (b) Ps 7:10; Eks 20:5; 23:7; 34:7; Ps 5:5, 6; Nah 1:2, 3.

12 Vraag: Aangesien ons volgens die regverdige oordeel van God die tydelike en ewige straf verdien het, hoe kan ons van hierdie straf bevry en weer in genade aangeneem word?

Antwoord: God wil dat daar aan sy geregtigheid voldoen word (a). Daarom moet ons òf deur onsself òf deur ‘n ander ten volle betaal (b).

(a) Gen 2:27; Eks 23:7; Eseg 18:4; Matt 5:26; 2 Tess 1:6; Luk 16:2. (b) Rom 8:4.

13 Vraag: Kan ons deur onsself betaal?

Antwoord: Nee, glad nie; ons maak juis ons skuld elke dag nog groter (a).

(a) Job 9:2; 15:15, 16; 4:18, 19; Ps 130:3; Matt 6:12; 18:25; 16:26.

2. Loof die Here in gebed vir die spesifieke wysheid en insig wat die geloofsbelydenisse jou gee oor die redes waarom Hy afgodery en sonde nie ongestraf laat bly nie.

Sal God sonde en afgodery ongestraf laat bly? – Romeine 1:18-20

Van sy hemelse woonplek af maak God sy straf bekend oor die mense wat goddeloosheid en ongeregtigheid bedryf en so die waarheid onderdruk. In hulle harte het hulle immers ’n duidelike besef van God, want God het dit aan hulle bekendgemaak. Want hulle kan sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en sy Goddelikheid, reeds van die skepping van die wêreld af duidelik uit sy handewerk waarneem. Daarom kan hulle hulleself nie verontskuldig nie. (NLV)

1. Dit is nie net die OT wat van God se straf praat nie. Dit is ook die NT. Paulus praat hier van God se algemene openbaring wat genoeg van sy ewige krag en Goddelikheid aan alle mense bekend maak sodat hulle nie hulleself kan verontskuldig nie. Hoe dink jy daaroor?

2. Paulus praat van hierdie straf in die konteks van die besondere openbaring van Jesus Christus. God spreek alle mense vry enkel en alleen omdat hulle glo (Rom 1:16-17). Hoe help dit jou om vers 18-20 te verstaan?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die regverdigheid van God om nie net mense te straf sonder om Homself aan hulle te openbaar nie. Loof Hom ook vir sy genade vir elkeen wat glo. Ook vir jou.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Romeine 1 sowel as my bydrae daaroor: Romeine 1 – God spreek mense vry enkel en alleen omdat hulle glo.

Sal God sonde en afgodery ongestraf laat bly? – Deuteronomium 6:14-15

Jy mag geeneen van die gode van die naburige nasies aanbid nie, want die Here jou God wat naby jou is, is ’n God wat onverdeelde lojaliteit vereis. As jy ander gode aanbid, sal sy woede teen jou opvlam en Hy sal jou van die aarde af wegvee. (NLV)

1. ‘n Mens kan maklik mislei word as God jou beskerm het in ‘n sekere situasie dat dit vir altyd geld ongeag hoe jy lewe. Dit is waarteen Moses die volk waarsku net voor die tweede generasie die land sou inneem. Beskerming en gehoorsaamheid gaan saam. Hoe voel jy daaroor? 

2. Hoe laat die feit dat Moses hier van God se woede oor afgodery praat jou voel? Dink jy die straf pas by die oortreding?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner daaraan dat God onverdeelde lojaliteit vereis. God moet regtig bó alles gedien word. Niks kan sy plek inneem in jou lewe nie.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Deuteronomium 6 sowel as my bydrae daaroor: Deuteronomium 6 – Die liefde vir die Here bepaal jou hele lewe.

Sal God sonde en afgodery ongestraf laat bly? – Eksodus 15:6-7

U regterhand, Here, is sterk. U regterhand, Here, verbrysel die vyand. U is geweldig hoog. U verpletter hulle wat U probeer teenstaan. U woede bars los, U verwoes hulle soos vuur wat gras verbrand. (NLV)

1. Eksodus 15 is ‘n loflied van Israel met die tog deur die Rietsee waarin hulle beskerm is en droogvoets kon deurloop en die Egiptenare verpletter is in die see. Hoe laat dit jou dink oor God? 

2. Hierdie getuienis oor God wat sy vyande verpletter is bedoel om vertroue by sy volk in te boesem. Hulle kan op Hom staatmaak in elke situasie. Hoe laat dit jou voel oor God?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner daaraan dat jy God kan vertrou om jou te beskerm en ook op te tree teen jou vyande.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Eksodus 15 en my bydrae daaroor: Eksodus 15 – Die Here is die Bewerker van wonderdade wat sy volk beskerm en sy vyande verpletter.

Sal God sonde en afgodery ongestraf laat bly? – Efesiërs 5:5-6

Hiervan kan julle seker wees: niemand wat seksuele sondes en immorele dade doen, en niemand wat gierig lewe – so iemand dien immers ’n afgod – sal ’n erfdeel ontvang in die koninkryk van Christus en van God nie. Moenie om die bos gelei word deur mense wat verskonings soek vir hierdie sondes nie. Die feit is: omdat mense deur sulke dinge aan God ongehoorsaam is, word hulle deur sy straf getref. (NLV)

1. Paulus is baie oortuig van die feit dat seksuele sondes, immorele dade, en gierigheid jou diskwalifiseer van die koninkryk van Christus en van God. Hy verbind dit selfs aan afgodery. Hoekom dink jy is Paulus so oortuig daarvan? Is God se straf in Christus dan nie opgehef nie?

2. Paulus se appèl op ‘n heilige lewe is in die konteks gebaseer op wat God reeds vir hulle gedoen het. Paulus sê nie vir hulle: kry julle lewens reg sodat julle deel van die koninkryk kan word nie.  Hy sê: julle is deel van die koninkryk. Tree dan op as mense van wie dit waar is.  Hoe verander dit jou denke oor hierdie verse?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die feit dat die Here van jou ‘n heilige lewe verwag. Dit is waarvoor Hy jou genadig was en gered het.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Efesiërs 5 en my bydrae daaroor:Efesiërs 4:17-5:20 – Die Heilige Gees vervul ons om heilig en in liefde te leef.

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…