Skip to main content

Tag: Wie is God?

Wat is sonde? – Jakobus 1:12-15

Gelukkig is die mens wat in beproewing volhard! As die toets sy geloof as eg bewys, sal hy die lewe as oorwinningskroon ontvang. God het hierdie lewe belowe aan hulle wat Hom liefhet. Wanneer iemand iets verkeerds wil doen, moet hy nie sê: “God verlei my” nie. Ons weet mos God kan nie verlei word om verkeerd te doen nie, en Hý verlei ook niemand nie. Ons eie sondige begeertes beproef ons, sleep ons saam en verlei ons. As ons sondige begeertes eers bevrug geraak het, is sonde die babatjie wat gebore word. En as hierdie babatjie kans kry om volwasse te word, gee dit geboorte aan die dood. (NLV)

1. Hierdie beskrywing van Jakobus wys presies uit hoe verleiding tot sonde werk. Hoe ervaar jy dit? Stem jy met hom saam?

2. Wat is die evangelie vir jou in die gedeelte? Dink oor die belofte in die eerste vers oor volharding, geloof en liefde wat tot ‘n oorwinningskroon lei. Hoe motiveer dit jou?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die oorwinningskroon wat daar is vir dié wat in geloof en die liefde vir God volhard.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Jakobus 1 en my bydrae daaroor:Jakobus 1:1-18 – Volhard in beproewing.

Wat is sonde? – 1 Johannes 3:5-10

Julle weet tog dat Hy verskyn het om die sonde weg te neem en dat daar geen sonde in Hom is nie. Elkeen wat in ’n hegte verhouding met Hom leef, hou nie aan sonde doen nie. Elkeen wat aanhou sonde doen, het Hom nie gesien nie en het ook nie ’n begrip van Hom nie. Kinders, moenie dat iemand julle hieroor mislei nie: Elkeen wat reg leef, is regverdig, net soos Hy regverdig is. Elkeen wat aanhou sonde doen, is familie van die duiwel omdat die duiwel van die heel begin af sonde gedoen het. Juis daarvoor het die Seun van God verskyn: om die dade van die duiwel te vernietig. Elkeen wat deur God verwek is, hou nie aan sonde doen nie omdat God se saad in hulle bly. Hulle kan ook nie aanhou sonde doen nie omdat hulle deur God verwek is. Op hierdie manier is dit duidelik wie die kinders van God en wie die kinders van die duiwel is. Almal wat nie reg optree nie en ook nie hulle medegelowiges liefhet nie, is nie uit God nie. (NLV)

1. Johannes lê die hoofboodskap van Jesus uit as ‘n verskyning om “sonde weg te neem”. Dit het die effek op elkeen wat in ‘n hegte verhouding met Hom leef dat hulle nie kan aanhou sonde doen nie. Hoe ervaar jy dit? Van jouself? Van ander? 

2. Johannes lê sterk klem op die feit dat daar ‘n onderskeid is tussen die familie van die duiwel en die familie van God? Lees deeglik wat hulle onderskei. Waar bevind jy jou?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner daaraan dat jy familie van God is deur in ‘n hegte verhouding met Jesus te leef, sodat jy nie aanhou sonde doen nie.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van 1 Johannes 3 sowel as my bydrae daaroor: 1 Johannes 2:28-3:24 – Kinders van God doen wat reg is en het mekaar lief.

Wat is sonde? – 1 Korintiërs 6:9-11

Besef julle dan nie dat mense wat ’n sondige lewe lei, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie. Mense wat ’n onsedelike lewe lei, afgodsdienaars, egbrekers, manlike prostitute en die mans wat met hulle omgaan, diewe, gierigaards, drinkers, kwaadpraters, swendelaars – nie een van hierdie mense sal deel kry aan die koninkryk van God nie. Daar was ’n tyd toe party van julle presies so was, maar nou is julle sonde afgewas en God het julle aan Homself toegewy. Julle is vrygespreekte mense op grond van wat die Here Jesus Christus en die Heilige Gees van God vir julle gedoen het. (NLV)

1. Daar is mense wat glad nie rekening hou met hierdie helder boodskap nie. Hoe dink jy oor die skerp taal wat hier gebruik word: “geen deel aan die koninkryk van God …”; “nie een van hierdie mense sal deel kry …” Is die toegangsvereiste vir die koninkryk so absoluut as wat Paulus dit hier stel?

2.Die evangelie in die gedeelte is dat daar ‘n uitweg in Jesus Christus is. Dié wat hulle sondes laat afwas en hulle aan God toewy, is vrygespreekte mense, maar nie saak hoe sondig of afvallig hulle was nie. Is dit al vir jou ‘n werklikheid?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner daaraan om as vrygespreekte mens te leef en al die sondes wat hier genoem word, te vermy.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van 1 Korintiërs 6 en my bydrae daaroor:1 Korintiërs 6 – Vermy onreg en onsedelikheid.

Wat is sonde? – Matteus 13:40-43

Net soos die onkruid bymekaargemaak word en verbrand word, so sal dit ook wees by die voleinding van die wêreld. Ek, die Seun van die Mens, sal my engele uitstuur. Hulle sal alles wat sonde veroorsaak en almal wat God se wet oortree uit my koninkryk verwyder en hulle in die brandende oond gooi. Daardie mense sal bitterlik huil en van selfverwyt op hulle tande kners. Dan sal dié wat reg voor God gelewe het, soos die son skitter in die koninkryk van hulle Vader. (NLV)

1. Wat tref jou in die teks van Jesus se hantering van alles (en almal) wat sonde veroorsaak en ook van dié wat self God se wet oortree, by die voleindig van die wêreld? Hoe verander dit jou denke oor sonde en die wet?

2. Dink na oor die hoopvolle uitnodiging in die teks dat dié wat reg voor God lewe in sy koninkryk sal skitter soos die son. Dink ook na oor die feit dat Jesus God “hulle Vader” noem. Is dit al vir jou ‘n werklikheid?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan Jesus se oordeel en genade.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Matteus 13 en my bydrae daaroor:Matteus 13 – Jesus ontmagtig die skare en bemagtig die dissipels met gelykenisse.

Vraag 15: Wat is sonde?

1. Wat is sonde? Hoekom dink jy so? Watter rol speel jou mening daaroor? Ander se mening? God s’n?

2. Lees my antwoord op die vraag en oordink dit.

Sonde is om God se wet te oortree en te lewe in sy wêreld asof Hy nie bestaan nie. Sonde laat almal rebelleer teen God se regverdige wet. Dit veroorsaak die dood en disintegrasie van die hele skepping. Weens die skuld van sonde val almal daarom onder die toorn en straf van God, nou en vir ewig, behalwe dié wat deur ’n Verlosser vrygespreek word.

3.Dit het mode geword om sonde te definieer as iets wat jouself of ander tekort doen, beskadig of seermaak. Net die horisontale dimensie word beklemtoon, sonder om aandag te gee aan die vertikale dimensie, dws hoe God daaroor dink of hoe die Bybel daaroor skrywe. Hoe dink jy daaroor?

4. Lees die verhaal van Kain en Abel in Genesis 4:1-15. Wat tref jou?

5. Lees my opsomming van die boodskap daarvan en oordink dit.

Abel was ’n veeboer en Kain ’n landbouer. Hulle het offers aan die Here gebring. Die Here het Abel en sy offer aanvaar, maar nie dié van Kain nie. Daaroor was Kain baie kwaad en neerslagtig. Die Here waarsku Kain. As hy weier om reg te doen, sal die sonde hom oorweldig. Dit is presies wat gebeur het. Kain het sy broer Abel aangeval en doodgeslaan. Die Here vra toe vir Kain wat hy nou aangevang het. Hy probeer nog maak asof hy van niks weet nie. Die Here weet egter alles. Daarom straf die Here Kain vir sy sonde.

6. Kain se probleem was nie in die eerste plek die offer nie. Sy probleem was dat hy God se waarskuwing nie gehoorsaam het nie. Sy ongehoorsaamheid lei daartoe dat hy sy broer doodslaan. Daarmee oortree hy dus nie net ‘n sosiale wet nie, maar ‘n geestelike wet. Hoe verander dit jou denke daaroor?

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…