Josua 16-17 – Josef kry hulle erfdeel met besondere vermelding van Selofgad se dogters
Ná die uitdeling van die land aan Juda kom die twee stamme van Josef, Efraim en Manasse, aan die beurt. Hulle kry ‘n groot deel van die noorde van die land met die suidelike grens van hulle meer bergagtige gebied wat van die Jordaan regdeur die gebied van Jerigo tot aan die see loop met die belangrike historiese plek Bet-El ingesluit, dié plek waar Jakob God ontmoet het en ‘n heiligdom vir Hom gebou het (Gen 28).
Let op dat die stamgebied van Efraim nou eerste beskryf word (Jos 16:5-10), in die orde soos Jakob aanvanklik sy seën bedoel het. Maar, die skrywer is ook nie onduidelik daaroor dat die Efraimiete nie die Kanaäniete verdryf het wat in Geser gewoon het nie (die plek waarheen Isak op ‘n keer weens hongersnood uitgewyk het). Met die gevolg dat die Kanaäniete nou nog tussen die Efraimiete woon.
Die feit dat hulle gedwing is om dwangarbeid te doen, is ‘n skrale troos. Nie net sou hulle teenwoordigheid uiteindelik tot die val van die noordelike stamme bydra weens hulle afgodsdiens en onsedelikheid nie, maar die dwangarbeid sou tot ‘n opstand in Salomo se tyd lei wat die ryk in twee sou laat skeur met Jerobeam in beheer van die tienstammeryk in die noorde (1 Kon 11 en 12).
Onlangse kommentaar