Skip to main content

Tag: Josua

Josua 5:13-6:27 – Die Here self voer die oorlog teen Jerigo

Die ontblote swaard van die vors van die weermag van die Here – Jos 5:13-15

Die laaste versterking vir die stryd in Kanaän is dan ook die belangrikste. Die Here self verskyn aan Josua met ‘n ontblote swaard om hom te versterk vir die stryd wat voorlê. Die Here word hier as die “vors van die weermag (leëraanvoerder) van die Here” – śǎr-ṣeḇāʾ-yehwāh – geteken. Dit was ‘n voorreg wat Bileam (Num 22:22-23) vroeër en ook Dawid (1 Kron 21:16) later gehad het.

Hierdie “vors” is waarskynlik dieselfde as die “vors van die vorste” (śǎr-śārîm) wat ons in Daniël aantref en in die konteks met die Here geïdentifiseer word (Dan 8:25). Daniël onderskei hierdie “vors” van die drie ander vorste wat hy noem (Dan 10:20; 12:1), dié van Persië, Griekeland en Israel (Migael). Dit is waarskynlik hierdie vors, of beter gestel Vors, wat met hierdie man in Josua verbind moet word.

Let veral op dat Josua vir dié man vra aan wie se kant hy is, en dié man “Nee” antwoord. Hy is nie daar om kant te kies nie, maar om die Here se wil uit te voer.  Daarom is hy daar, as die een wat die oorlog gaan voer op grond van God se eie besluit.

Continue reading

Josua 3:1 – 5:1 – God lei Israel met ‘n wonder deur die Jordaan

Die volgende fase van Josua se veldtog breek aan met die vertrek die môre vroeg van Sittim af.  Hulle het tot by die Jordaan getrek en daar oorgebly in voorbereiding vir die Intog in Kanaän.  Dit was ‘n groot groep, want dit het drie dae geneem om almal daar te kry.

Die Leviete kry die opdrag om met die ark van die verbond – ‘n simbool van God wat die stryd voer –  omtrent ‘n kilometer voor die Israeliete uit te trek, sodat die Here so self die pad kon aanwys. Só was dit ook die geval met hulle reis deur die woestyn waar die Here op dié manier vir hulle oorbly plekke aangewys het (Num 10:33).

Trouens, die Here het hulle gestraf as hulle dit gewaag het om sonder sy leiding te beweeg (Num 14:44). Hierdie begeleiding van die Here deur die ark sou egter nooit ‘n magiese of outomatiese karakter aanneem nie, soos die Israeliete in die tyd van Samuel sou uitvind.  Daar is hulle verslaan ten spyte van die ark se teenwoordigheid, want hulle het die Here nie geraadpleeg nie (1 Sam 4). Gehoorsaamheid aan die Here bly die vereiste wat Hy stel vir elkeen wat Hom wil volg.

Continue reading

Josua 2 – Ragab se ontsag vir Jahwe spaar die verkenners se lewe

Josua stuur van Sittim af twee verkenners om die land te gaan deurkyk.  Hy stel veral belang in Jerigo wat net anderkant die Jordaan en net noord van die Dooie See was.  Sittim was die plek waar die Israeliete moeilikheid met die Moabitiese vrouens onder Bileam se leiding opgetel het totdat Pinehas ‘n einde aan die afvalligheid gebring het (Num 25).

Die twee verkenners gaan tuis in die huis van die prostituut Ragab wat ‘n huis in die muur van Jerigo gehad het. In die Hebreeus is dit duidelik dat hulle daar, dws in die huis, geslaap het, en nie by haar nie (anders as in Rigt 16:1 met Simson in Gasa waar hy by haar, die prostituut, geslaap het).

Hulle teenwoordigheid gaan egter nie ongesiens verby nie, en die koning eis dat hulle uitgelewer word.  Hy was baie bewus van die gevaar wat die Israeliete net anderkant die Jordaan vir hom ingehou het.

Sy besluit om hulle weg te steek en die koning en sy manne om die bos te lei. Dit wil voorkom asof sy hulle eers êrens in die huis versteek het, en daarna op die dak laat klim het en onder oopgespreide vlasstoppels (gebruik om op te slaap en as voer) laat wegkruip het.

Continue reading

Josua 1 – Wees sterk, wees vasberade, veral in die uitvoering van die wetboek

Josua 1:1-9 – Wees sterk, wees vasberade

Dit is meteens, reg aan die begin van die boek, duidelik dat die Here ‘n uiters geslaagde leierskapsverandering te weeg gebring het. Die Here kommandeer Josua op ná Moses se dood en beveel hom om gereed te maak en deur die Jordaan die land Kanaän binne te trek, hy en die hele volk.  Die belofte van die land gaan nou in vervulling gaan deur hulle gehoorsaamheid aan God se opdrag.

Die Here gee Josua twee bykomende beloftes, die beloftes van oorwinning en God se teenwoordigheid: “Solank jy lewe, sal niemand bestand wees teen jou nie.” En: “Soos Ek by Moses was, so sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie.

Josua kan die uitdaging van die Intog aanpak in volle versekering dat God met hom sal wees. En hierdie belofte word uitgebrei dat dit die roeping wat God vir hom het, insluit. “Jy moet hierdie volk die land in besit laat neem – Wees daarom sterk, want Ek is by jou.”

Die Here beklemtoon daarmee die werklikheid van die belofte. Hy het die land aan hulle gegee, soos Hy aan Abraham (Gen 12:1-7) en Moses (Deut 4:1-5) belowe het. Trouens, ‘n mens kan “dit gee Ek aan julle” as verlede tyd vertaal “dit het Ek aan julle gegee”.

Maar dit bly steeds ook iets wat hulle in besit moet neem. Dit is “elke plek waarop julle voetsool trap” wat aan hulle gegee is en word.

Continue reading

Josua in die res van die Bybel

Josua in die res van die OT

Na Josua as persoon word net drie keer in die res van die OT terugverwys.

1.  Die eerste is in Rigters 1-2 (x7) waar telkens terugverwys word na die Intog en Vestiging in Kanaän onder sy leiding. Dit skakel die twee boeke Josua en Rigters daarmee ook aan mekaar.

2.  Die tweede keer is in 1 Koning 16:34 waar van die vervulling van sy vloek in Jos 6:26 vertel word. Josua het plegtig verklaar dat die Here die man sal straf wat dié stad, Jerigo, probeer herbou: “Dit sal hom sy oudste seun kos as hy die fondament lê en sy jongste as hy die poortdeure hang.

Dit het ses eeue later gebeur toe Giël van Bet-El die stad Jerigo opgebou het. “Toe hy die fondamente daarvan gelê het, het sy oudste seun Abiram gesterf, en toe hy die poortdeure gehang het, het sy jongste, Segub, gesterf. Dit was in ooreenstemming met die vervloeking wat die Here deur Josua seun van Nun uitgespreek het.

Interessant genoeg is daar later ná die ballingskap mense van Jerigo wat teruggekom het en bv Nehemia gehelp het met die herbou van die mure van Jerusalem (Esra 2:24; Neh. 3:2; 7:36).  Die feit dat Jerigo herbou is, het dus nie net negatiewe gevolge gehad nie.  Daar was ook Jode van Ai wat ná die ballingskap weer teruggekeer het na die land van belofte (Esra 2:28; Neh 7:32).

3.  Die derde keer is in ‘n geslagregister in 1 Kronieke 7:27 waar sy naam gelys word.

Josua in die NT

Josua word net 2 keer in die NT genoem. Stefanus herroep Josua se leiding met die Intog in sy toespraak voor die Joodse Raad (Hand. 7:45) en die Hebreërskrywer gebruik die Intog onder leiding van Josua as ‘n aanduiding van die onvolledige rus wat dit vir die volk van God gegee het. Die volle rus het eers in Jesus aangebreek.

Daar is egter meer verbande met die boodskap van die NT as ‘n mens in gedagte hou dat Jesus eintlik ‘n Verlosser is soos Josua.  Dit sien ‘n mens op die volgende plekke in die NT:

  1. Deurdat Maria die opdrag kry om haar seun Jesus te noem (Matt 1:21), trek die NT alreeds ‘n sterk verband met Josua van die OT. Jesus is die Griekse vorm van die Hebreeuse naam Josua. Soos Josua die volk die beloofde land moes binnelei, só kan dieselfde van Jesus gesê word. Die beloofde land waarheen Jesus egter gelowiges lei, is die koninkryk van God wat uiteindelik ‘n nuwe hemel en aarde insluit.
  2. Jesus eindig sy aardse lewe op ‘n berg (Matt 28), soos Moses dit ook gedoen het (Deut 34). Soos Moses vir Josua in opdrag van die Here gestuur het om die beloofde land binne te trek (Deut 31:32), só stuur Jesus die dissipels die wye wêreld in om die boodskap van die koninkryk aan al die nasies te gaan verkondig (Matt. 28:18-20). Soos Moses beklemtoon het dat Josua en die volk alles moet doen wat die Here hulle deur sy bediening beveel het (Deut 31:12), só doen Jesus dit ook (Matt. 28:20).
  3. Soos Josua rus vir die volk gebring het in die beloofde land (Jos 11:23; 21:44), só doen Jesus dit ook (Hebr. 4:1-11; 12:1-2).

Die boek Josua (en die persoon van Josua) vorm dus ‘n integrale deel van die verhale wat deur die NT as aansporing (en soms ook as waarskuwing) vir gelowiges aangehaal word.  Ons moet dit dus só lees, as voorbeeld verhale in ons verhouding met die Here Jesus en mekaar op ons reis na die ewige bestemming wat God vir ons belowe het (1 Kor. 10; Rom 15; Hebr 4).

Indeling van die boek

Ons gaan die boek hoofstuk vir hoofstuk lees in sy 4 hoofdele:

  1. Israel trek die land Kanaän binne (1:1-5:12)
  2. Israel neem die land in besit (5:13-12:24)
  3. Die land word verdeel onder die 12 stamme (13:1-21:45)
  4. Die volk hernuwe hulle verbond met die Here (22-24)

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlDankie! Waardeer.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlDankie Chris, jou uiteensetting is baie goed en help om die tye waarin ons leef beter te hanteer. Volharding en gebed.
  • Chris van Wyk on DaniëlEk is bly die pennie het vir jou gedrop. Dit is só 'n kosbare boek.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlChris, dankie vir jou studie leiding. Ek het, of die Here se redding vir my het gekom in Mei 1973. Baie geleer uit die Heilige Skrif, maar Daniël vermy, behalwe die maklike begin dele. Vir die eerste keer maak Daniel 8 ev baie sin met jou studiegids. Baie, baie dankie. Dolf
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Dankie vir die verduideliking.
  • Chris van Wyk on Openbaring 21Nee, dit is ook nie wat die teks sê nie. Dit gaan oor mense wat towerspreuke en dwelms gebruik om met geeste kontak te maak en nie dit aflê en tot bekering kom nie.
  • Chris van Wyk on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefEk hoop jy geniet dit, Elsie.
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Sekerlik kan die afleiding tog nie gemaak word dat dwelmverslaafdes nie hemel toe gaan nie?!
  • Elsie on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefDankie sien uit na die saamreis om te lees, te leer en te leef
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My voorreg.
  • Doreen Snyders on Openbaring 22Net om baie baie dankie te sê vir die wonderlike voorreg om elke dag se reis mee te maak . Dit is só insiggewend en besonders. Ek besef dit verg baie tyd en toewyding en waardeer dit opreg . Sien uit na die volgende aflewerings. Met dank. Doreen Snyders.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22Ek is dankbaar.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My vreugde.
  • Albertus Van Schalkwyk on Openbaring 22Dankie Chris, ek het teen die einde van die Ou Testament eers ingeval, maar dit was (is) voorwaar sielsvereikend en het die Woord soos nooit tevore vir my oopgemaak. Bybel lees in die konteks van die tydlyn om die Drie-enige God waarlik te leer ken. Weer dankie!
  • runawayjoyous2427b27b07 on Openbaring 22Dankie Dr. Chris, vir die voorreg om saam met jou en ander gelowiges deur die Woord van God te stap. Ek het redelik laat (by Handelinge) van Bybelskool gehoor, en het begin om dit saans en soggens te lees. Ek leer so baie. Erna.