Skip to main content

Tag: Johannes

WEEK 4: Johannes 13:1-17:26

Ons het nou klaargemaak met die eerste deel van die Johannes evangelie.  Die fokus was op die publieke bediening van Jesus waarin Hy sewe wondertekens gedoen het wat onomwonde sy ware identiteit as die Seun van God openbaar het, en dit binne die konteks van die Joodse feeste.

Ons begin vandag die tweede deel van die Johannes evangelie lees waar die fokus gaan val op die persoonlike bediening van Jesus aan sy dissipels wat uitmond in sy verheerliking deur sy lyding, kruisdood en opstanding as publieke getuienis aan die wêreld binne die konteks van Jesus se bywoning van sy laaste Paasfees.

Ons lees in die volgende 5 dae:

  • Johannes 13:1–30 – Jesus wat die voete van sy dissipels was en wys hoe ware gemeenskap werk, en tegelykertyd vir Judas as Sy verraaier uitwys;
  • Johannes 13:31–14:31 – Jesus wat sy dissipels verder en baie persoonlik onderrig dat Hy die weg, die waarheid en die lewe is;
  • Johannes 15:1–26 – Jesus wat hulle innooi in ’n diep gemeenskap met Hom as die ware wynstok;
  • Johannes 16:1-33 – Jesus wat die werk van die Heilige Gees as voortsetting van sy eie bediening verkondig;
  • Johannes 17:1–26 – Jesus se gebed vir sy dissipels om in ’n diep eenheid met God en met mekaar te leef.

Johannes 11:55–12:50 – Die koringkorrel moet sterf om vrug te dra

RUS

  • Ek is by my ma se huis en geniet die stilte van die oggend – laat my my kinderjare herleef.
  • Ek eer die Here vir die goeie herinneringe wat ek het – dit is die plek waar ek Hom leer ken het en waar Hy my geroep het.

HOOR

  • Ek lees die bekende verhaal van Jesus se Intog in Jerusalem.
  • Die volgende aspekte tref my:

Eers net ’n oorsig:  Let op hoe die gedeelte ’n geheel vorm.  Dit word in 6 episodes vertel:

  1. die pelgrimstog na Jerusalem vir die Paasfees vir die reiniging – 11:55-57;
  2. die verhaal van Jesus se salwing met die oog op sy begrafnis deur die nardussalf van Maria – 12:1-8;
  3. die verskillende reaksies op Jesus – die toeloop van die skare en die gramskap van die Joodse Raad – 12:9-11;
  4. die intog in Jerusalem onder die toejuiging as Koning van Israel – 12:12-19;
  5. die Griekse reaksie wat Jesus laat besef dat sy uur gekom het – 12:20-35;
  6. die opsomming van Jesus se bediening wat deur beide geloof en ongeloof begroet word en ewige konsekwensies het – 12:37-50.

11:55-57: Die verhaal van die Intog begin met die plattelanders wat vir die Paasfees optrek na Jerusalem vir die reiniging, by die poel van Siloam, en waarskynlik ook by Betesda.  Die eerste ding wat hulle in Jerusalem daarna doen is om vir Jesus te soek.  Hulle wil sien wat gaan gebeur in die konflik met die Joodse Raad.  Dit verklaar heel moontlik waarom daar so ’n groot groep was wat Jesus ontmoet en in Jerusalem in begelei het.

Continue reading

Johannes 11:1–54 – Ek is die opstanding en die lewe

RUS

  • Ek het behoefte aan tot rus kom in my gemoed en bring my begeertes na die Here sodat Hy vrede in my hart en gedagtes kan bring.

HOOR

  • Ek lees hierdie pragtige Skrifgedeelte, terwyl ek self ook nadink oor die verlies van my pa die afgelope naweek.  Die volgende aspekte in die verhaal van Lasarus tref my:
Johannes vertel vir ons hier ’n diep menslike drama, ’n paar tonele gelaai met intense emosies.

11:1-16: Jesus ontvang berig dat Lasarus, broer van sy goeie vriende, Maria (die een wat Jesus se voete gesalf het, soos ons verder aan sal hoor in hoofstuk 12 – dit is waarskynlik nie dieselfde persoon as die vrou in Luk. 7:37–38 nie) en Marta, siek is, vriende vir wie Hy liefgehad het.  Let op dat sy heel eerste reaksie eintlik die uitkoms van die verhaal antisipeer: hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie, maar God se wonderbaarlike mag openbaar (vers 4).

Daarom vertoef Jesus nog twee dae voordat Hy en sy dissipels na Betanië, die dorpie net langs Jerusalem, vertrek.  Nie omdat Hy traag was nie, maar omdat Hy oortuig was van God se mag, en dit tot versterking van die dissipels se geloof wou ten toon stel (vers 15).

Continue reading

Johannes 10:1–42 – Die Goeie Herder se skape ken sy stem

RUS

  • Ek luister na die reën wat daarbuite val en raak bewus van God se grootheid.

HOOR

  • Ek lees Johannes 10 en dink na oor die volgende aspekte van die verhaal wat my tref:
Die eerste deel van hierdie hoofstuk sit die gesprek voort met die Jode na sy genesing van die blinde man, en skets Jesus as die Goeie Herder, hoewel selfs die meesleurende boodskap hiervan hulle nie sovêr kry om in Hom te glo nie.  Die tweede deel van die hoofstuk vind plaas tydens die fees van die tempelwyding[1] waar Jesus die rede vir hulle ongeloof uitspel – dat hulle nie van sy skape is nie – hoewel daar tog steeds mense is wat ten spyte van die teenstand in Hom begin glo.  Hoofstuk 11 sal Jesus se Goeie Herderskap bewys, met Lasarus wat uit die dood opgewek word.

10:1-21: Jesus gebruik in vers 1-6 die beeld van die herder om sy eienaarskap, versorging en begeleiding van sy mense te beklemtoon.  Die Jode verstaan egter nie wat Hy vir hulle daarmee wil sê nie – waarmee veral die leiers onder hulle, hulle valse herderskap bewys.  Hulle ken nie vir God nie en werk nie vanuit ’n verhouding met Hom nie.

Continue reading

Johannes 9:1–41 – Jesus maak ook my oë oop om Hom as Here raak te sien

RUS

  • Die Here seën my op die oomblik met insigte en moontlikhede in terme van ons gemeente.  Ek dank die Here vir sy voorsiening en sorg.

HOOR

  • Ek lees die verhaal van die blinde man – het onlangs ook daaroor gepreek.
  • Die volgende aspekte tref my:
Onthou dat Jesus reeds in hoofstuk 8 gepraat het oor die feit dat Hy die lig vir die wêreld is.  Hier word die tema van lig voortgesit, in terme van die lig wat Jesus bring in die lewens van mense, fisies deur blindheid te genees, maar ook geestelik deur die blinde man te laat raaksien dat Hy inderdaad die Seun van die mens is, en die man in Hom kan begin glo.

Soos egter regdeur die evangelie die geval is, is daar ook die mense wat ten spyte van alles kies om in die duisternis te bly, en nie te sien nie.

Continue reading

Onlangse kommentaar