Skip to main content

Tag: gebed

Jesaja 64 – Bid dat God nou ‘n verskil maak

Tweede deel van die gebed

64:1-5a – Jesaja bid namens die volk dat God weer groot wonders sal doen soos vroeër, berge wat skud, vuur wat brand, dat veral die nasies kan weet, God kom dié te hulp wat onthou hoe Hy wil hê hulle moet lewe.  Jesaja maak dus staat daarop dat God nie net transendent is en afsydig sal bly nie, maar immanent sal word – “die hemel oopskeur” – en ‘n verskil in hulle tyd sal maak.

64:5b-7 – Maar, die probleem, erken Jesaja, is dat die volk juis dit nie gedoen het nie – om God te vertrou en te doen wat Hy wil nie.  Daarmee bely hy uiteindelik namens die volk hulle skuld en erken hy dat hulle regverdiglik deur God gestraf is.  En gee Jesaja vir ons insig waarom gebede soms nie beantwoord word nie, al het ‘n mens beloftes waarop jy kan staatmaak.  Sonde en ongeloof dwarsboom meesal God se ingrype, hoewel Hy nooit aan bande gelê kan word om nie soms in elk geval in te gryp en verandering te bring, as dit in Sy plan pas nie.

64:8-12 – Saam met dié erkenning van God se “onskuld”, herinner Jesaja vir God, dat Hy hulle Vader is (histories gesproke), en hulle Skepper (algemeen gesproke), en bid Hy ernstig dat God nie sal aanhou om kwaad te wees vir hulle nie en hulle sondes teen hulle sal hou nie.  Hy vra dat God tog sal ingryp en die stad en tempel weer herstel.  Hy beroep hom dus op God se genade.  Terloops: dit is duidelik dat die gebed die tyd van die ballingskap veronderstel.

Die idee van God as Vader is iets wat nie baie in die Ou Testament voorkom nie, moontlik omdat sommige godsdienste ‘n verwantskap tussen gode en mense getrek het, wat juis anders was in die OT visie op God.  God is Skepper, die Gans Andere, en ons skepsels, die maaksels van Sy hande.  In die NT het die konsep van God as Vader veral in Jesus se verhouding met die Vader na vore gekom as beskrywing van die intimiteit van dié verhouding.  En so, veral met die gebed wat Jesus ons geleer het – die Ons Vader – het die benaming van God (Vader) gemeengoed in die Christelike gemeenskap geword (vgl Rom 8:15).  Onthou net dat dit steeds metafore vir God is, en nie werklike beskrywings nie – en dat Hy in Jesaja ook as moeder (Jes 66:13 – vgl ook Ps 131) en as kind (Jes 9:5) geteken word, afhangende van die konteks en die punt wat die Bybelskrywers probeer oordra.

Die volgende twee hoofstukke, hoofstuk 65-66, gee ‘n antwoord op dié gebed van Jesaja, en gee vir ons ook ‘n kykie in hoe gebedsverhoring werk. Jy is welkom om solank die artikel van Neels Jackson op Facebook oor die onderwerp te lees.

Jesaja 63 – Selfs in oordeel kan jy jou op God beroep

Jesaja 63 en 64 vorm ‘n eenheid en is opgebou uit twee dele:

  1. Jesaja 63 se eerste perikoop drup van die bloed.  God se oordeel oor die nasies word in grafiese detail beskrywe – 63:1-6.
  2. Dit word opgevolg met ‘n gebed van Jesaja namens Israel vir hulle verlossing – 63:7-64:12.

63:1-6: Die Here self kom van Edom en hulle hoofstad Bosra af nadat Hy die volke getrap het in Sy toorn om sy volk te red.  Niemand het Hom bygestaan nie, net sy woede was by Hom.  Die geweld van die oorwinning het sy klere rooi gekleur – ironies genoeg presies wat die naam Edom beteken.  Waarskynlik staan Edom hier ook as simbool van die wêreld wat in opstand teen God is (vgl hfst 36 – vgl ook Open 14:17-20 waar dié beeldspraak verder geneem word). Dit beteken dat dit ook ‘n boodskap het vir die wyse waarop God uiteindelik die wêreld gaan hanteer aan die einde van die tyd.

63:7-64:12 – Die gebed het twee dele: 63:7-19 en 64:1-12 (daaroor môre).

Daar is ooreenstemming: die twee dele van die gebed begin bv. elkeen met ‘n terugdink na die Uittog uit Egipte en eindig met ‘n belydenis van God se Vaderskap.

Daar is egter ook verskille: in die eerste deel van die gebed verkwalik Jesaja nog God vir die situasie waarin hulle hul bevind – selfs hulle hardkoppigheid word aan God se werk toegeskryf (vgl Jes 6).  In die tweede deel van die gebed kom hy namens hulle egter tot skuldbelydenis – hy bely dat hulle almal deur hulle eie sondes weggewaai is.  En die gebed eindig met ‘n roerende uitroep dat God tog sal ingryp en die stad en tempel weer sal herstel.

Eerste deel van die gebed

63:7-10 – Jesaja gee hier ‘n oorsig oor God se troue liefde soos geïllustreer is met die Uittog uit Egipte. Let op hoe hoog die verwagting was: hulle is “kinders wat nie ontrou sal word nie,” en hoe volledig God vir hulle gesorg het: “Hy self was die engel (vgl Eks 23:20) wat hulle gered het … Hy het hulle altyd gedra.”  Die volk het egter in opstand teen Hom gekom sodat Hy noodgedwonge hulle vyand geword het.

Dit laat ‘n mens besef hoe ernstig boos sonde en opstand teen die Here is.  Tog sien ‘n mens steeds hoe volledig God Homself kan gee vir mense wat hulle oë op Hom rig.  Dit motiveer juis vir Jesaja om namens die volk by Hom om hulp en verlossing aan te klop, al het hulle ernstig drooggemaak.  Terloops, hierdie is slegs een van twee plekke in die OT waar van die Heilige Gees gepraat word (die ander plek is in Ps 51:13).  Die onderskeid van die engel (God self), die Heilige Gees, en verder aan die Vader, dui nog nie op die Drie-eenheid as sodanig nie, maar dui wel op ‘n sekere onderskeid in God.  Dit is ‘n merkwaardige insig wat bygedra het tot die ontwikkeling van die leerstuk van die Triniteit.

63:11-15 – Hy herinner die Here aan die volk wat in hulle nood aan God se groot dade in die verlede gedink het en na Hom gevra het, en inderdaad nou weer ernstig vra dat Hy hulle weer sal raaksien soos in die verlede.

63:16-19 – Hy bely namens die volk dat God hulle Vader is, maar pak die skuld vir hulle hardkoppigheid eintlik op God self (Jes 6).  Hy vra dat God die situasie tog sal verander.  Terloops – die “kort tydjie” is waarskynlik ‘n poëtiese manier waarop Jesaja sy ervaring uitdruk dat die tyd tussen die Intog en die ballingskap vir sy gevoel net te kort was.

TERLOOPS: Somerstranders het my gevra wat ek dink van Willie Esterhuyse se nuwe boek: Die God van Genesis.  Ek het nog nie tyd gekry om dit te lees nie, maar hier is Mike Smuts se weergawe van sy lees daarvan, vir die van julle wat belangstel.  Ek sal ook nog kommentaar lewer op Willie se boek oor die Gode van Egipte …

Jesaja 62 – God se beloftes word in vervulling gebid

Dit bly een van die wonderlikste eienskappe van God, dat Hy iets so nuut kan maak, dat dit is asof daar nooit iets verkeerds was in die eerste plek nie.  En die rede daarvoor lê opgesluit in sy liefde vir mense, meer spesifiek in hierdie gedeelte, vir die mense van Jerusalem en Sion.

Jesaja 62 volg die wonderlike boodskap van die oorwinning van die dienaar van die Here in Jesaja 61 op en lewer ‘n sterk appèl aan die volk om die belofte van oorwinning vir hulleself toe te eien en hulle lewens daarvolgens in te rig:

  • 62:1-5 – Jesaja (God?)  jubel oor die redding van Jerusalem en maak dit aan almal bekend.
  • 62:6-9 – Hy roep die wagters op die mure op om saam te werk en die Here aan sy beloftes te herinner in hulle voorbidding.
  • 62:10-12 – Hy roep die mense in die stad op om dié boodskap aan die hele wêreld bekend te maak en gereed te maak om die terugkerendes te ontvang.

62:1-5 – Baie geleerdes het voorgestel dat die spreker God sou wees, onder andere omdat die profeet in elk geval ‘n spreekbuis van God is.  In die lig van die dinge wat dié spreker vra, veral ten opsigte van die gebedsversoek in die tweede perikoop, dink ek tog dat dit beter in die konteks inpas as die spreker Jesaja sou wees. Let op hoe die jubeling oor die redding van Jerusalem aan almal  bekend gemaak word, voordat dit inderdaad ‘n werklikheid word.  Dit is in die uitspreek van die toekoms, wat die toekoms ‘n werklikheid raak.  Dit is hoe God in die eerste plek geskep het.  Hierdie profesie het dieselfde mag, omdat dit op God se beloftes geskoei is.

God se liefde vir sy mense is die rede vir sy redding.  Hy maak alles nuut, sy verhouding met hulle inkluis.  En weereens is die boodskap ook bedoel vir die nasies.

62:6-9 – Soos ‘n mens kan jubel oor die oorwinning wat kom, en daarmee letterlik die toekoms in aanskyn roep, só moet ‘n mens ook bid dat dit inderdaad sal kom.  Daarom word die wagters op die mure op geroep om saam te werk en die Here aan sy beloftes te herinner in hulle voorbidding.  Die beklemtoning van gebed wys onteenseglik op die belangrike rol wat gebed speel in die verandering wat God belowe.  Laat my dink aan Jakobus 4 wat sê dat ons nie het nie, omdat ons nie bid nie!  En Luk 11:5–10 wat beklemtoon dat ons met volharding moet bid.

62:10-12 – Hy roep die mense in die stad op om dié boodskap aan die hele wêreld bekend te maak en gereed te maak om die terugkerendes te ontvang.  Hulle word dus tot geloof en vertroue op geroep, wat hulle moet illustreer in die werklikheid van hulle voorbereiding.  Let op dat God saam met sy mense die stad tegemoet loop.

Markus 10:46-11:25 – ‘n huis van gebed vir die nasies

Markus

Jesus se reis na Jerusalem neem Hom deur Jerigo waar Hy die blinde bedelaar, Bartimeus genees.  Dit tref my met hoeveel oorgawe Bartimeus na Jesus roep, hoe hy Hom as die Seun van Dawid, die Messias, eien, en nie afgesit word deur die mense wat hom wil stilmaak nie.  “Hou moed!” is die skare, wat nou saam met Jesus reis, heel moontlik op pad na die Paasfees, se raad toe Jesus van hom begin notisie neem, en Jesus sluit dan ook aan by die man se vertroue (Jes 35:5; 42:7) in Hom: “Jou geloof het jou gered.”

Let op hoe Jesus hierdie versoek van die blinde man toestaan, terwyl Hy nie Johannes en Jakobus se versoek toestaan om op die trone langs Jesus in die oordeelsdag te sit nie.  Die man se versoek is gebaseer op die Messiaanse belofte van Jesaja, terwyl die twee dissipels se versoek gebaseer is op hulle eie behoefte aan status en voorrang in die koninkryk.  Die motivering en grond vir hulle versoek verskil dus radikaal en bepaal die uitkoms daarvan.  Jesus gee die een en weier die ander.

Dit tref my ook hoe Bartimeus onmiddellik ‘n volgeling van Jesus word.  Daarby het hierdie laaste wonder van Jesus, wat Markus vertel, simboliese betekenis: Jesus het gekom om die volk van hulle blindheid te verlos – Hy illustreer dit met die genesing van Bartimeus – maar soos ons sal sien, weier hulle om tot insig te kom.

Met die Intog in Jerusalem val dit my op hoe Jesus ‘n donkie opkommandeer, met die belofte om dit terug te stuur.  Met die begeleidende lofprysing van die skare, onder andere uit Psalm 118, kom Jesus Jerusalem binne en gaan eerste van alles na die tempel toe waar Hy alles daar bekyk.  Dit laat ‘n mens in afwagting vir die tempelreiniging wat gaan kom.

Die verhaal van die tempelreiniging is ingebed in die vreemde storie van die vyeboom (interessant, Betfage beteken letterlik “huis van vye”) wat Jesus vervloek omdat dit nie vrugte dra nie, al is dit nie vyetyd nie.  Die vervloeking vind plaas net voor die tempelreiniging en die uitwerking daarvan word daarna sigbaar.

Ter agtergrond – vyebome dra twee keer ‘n jaar vrugte, in die herfs en in die lente, en moes in hierdie tyd (vroeë lente) eintlik klein voorvye saam met die blare gedra het.  Die afwesigheid van voorvye tussen die blare was ‘n teken dat die boom nie dié seisoen vye sou dra nie.  Lees Miga 7:1 wat op soortgelyke wyse van hierdie verwagting van voorvye praat.

Jesus verklaar sy reiniging van die tempel met ‘n beroep daarop dat God se huis nie ‘n rowersnes (Jer 7:11) mag wees nie, maar ‘n huis van gebed vir die nasies (Jes 56:7 – vgl ook Salomo se gebed by die inwyding van die tempel in 1 Kon 8:22 vv: ook die vreemdelinge uit die nasies kon tot die God van hierdie tempel bid en op Sy voorsiening staatmaak!).

Gekoppel aan die verhaal van die vyeboom kan ‘n mens die afleiding maak dat soos die vyeboom die belofte van vrugte gehad het, maar niks gedra het nie, die tempel die belofte van ‘n gebedshuis gehad het, maar niks daarvan geproduseer het nie.  Die tempel dra nie die geestelike vrug wat ‘n mens met reg kan verwag nie.  Uiteraard was hierdie verdoemende uitspraak en optrede van Jesus ‘n soort van laaste strooi vir die priesterhoofde en skrifgeleerdes om te begin beplan aan Jesus se dood.

Die storie van die vyeboom se verdroging gee aanleiding tot ‘n verdere lering van Jesus oor geloof, waarin Hy uitspel dat vir die ware geloof alles moontlik is.  Dit sal vrug dra, anders as die vyeboom (of die tempeldiens in Jerusalem).  Dit het effek op die natuur (bome en berge) sowel as op die verhouding tussen mense (vergifnis).  Daarom roep Jesus hulle op tot onwrikbare geloof en vertroue in God uitgedruk in gebed: “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.”  Vergelyk Jesaja 65:24 wat God se gewilligheid om te antwoord só uitspel: “Voor hulle nog roep, sal Ek antwoord, terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor.”

Wat ek hieruit leer – binne die raamwerk van die versoek van Johannes en Jakobus wat geweier is, en die versoek van Bartimeus wat beantwoord is – is dat gebedsverhoring wel geen perke het nie, maar afhanklik is van God se beloftes en bedoeling.  In gebed kan ek deel hê aan God se berg-bewegende handelinge.

Jesus bly hierdie laaste week van sy lewe in Betanië (volgens sommige “huis van ellende”, volgens ander “huis van dadels”) vanwaar Hy elke dag die tempel besoek totdat die laaste uur vir Hom aanbreek.

Matteus, Lukas en Johannes

Matteus vertel, soos in die geval met die besetene(s) van Gadara, van twee blindes op die pad uit Jerigo, anders as Markus.  Lukas neem Markus se verhaal net so oor, maar vertel dit in sy eie woorde, met veral ‘n lofprysing aan God wat die genesende uitkoms begelei.

Al vier evangelies vertel van die Intog in Jerusalem.  Matteus voeg detail by, dat die donkie eintlik ‘n merrie en vul was, waarmee Sag 9:9 in vervulling gegaan het, en laat ander detail weg, soos die feit dat Jesus ‘n draai by die tempel maak, hoewel hy wel sê dat die hele stad in beroering gekom het oor hierdie profeet van Nasaret in Galilea.  Lukas noem die skare wat Jesus in die stad in begelei interessant genoeg: “juigende volgelinge” en kontrasteer dit met die Fariseërs tussen hulle wat die volgelinge wil stilhê.  Jesus se antwoord aan hulle is betekenisvol: “As hulle stilbly, sal die klippe uitroep.”

Johannes se verhaal van die Intog in Jerusalem stem ook tot ‘n groot mate met die ander evangelies se gegewens ooreen, met ekstra detail, soos dat dit palmtakke was wat op die grond gegooi is, en fokus ook op die onbegrip van die dissipels wat eers na die verheerliking, Jesus se dood en opstanding, in volle begrip oorgegaan het.  Johannes vertel ook van die impak wat die opwekking van Lasarus gehad het op die tipe gesprekke wat mense oor Jesus gehad het.  Dit het egter ook ‘n negatiewe gevolg gehad, deurdat die Fariseërs begin agterkom het, dat hulle invloed taan: “Die hele wêreld gaan agter hom aan!”

Lukas vertel nie die verhaal van die vyeboom nie, terwyl Matteus dit as een verhaal vertel: Jesus het die boom vervloek en dit het onmiddellik verdroog, waarna Jesus sy lering oor die geloof gee.

Al vier evangelies het ook die verhaal van die reiniging van die tempel.  Lukas vertel dit met min detail, maar Matteus voeg detail by, bv. soos dat blindes en kreupeles deur Jesus in die tempel gesond gemaak is, en dat daar kinders in die tempel was wat Hom as die Seun van Dawid (vgl die blinde Bartimeus) geprys het.  Tegelykertyd is daar egter ook die teenstand van die priesterhoofde en skrifgeleerdes wat weereens wil hê dat Hy die mense moet stilmaak in hulle lofprysing oor Hom.

Johannes plaas die verhaal egter in ‘n heeltemal ander konteks aan die begin van Jesus se bediening met ‘n Paasfees in Jerusalem, net na die water-in-wyn-wonder in Kana.  Dit is ook Johannes se evangelie wat ons die detail van die sweep van toutjies te danke het en die  verdere lering dat Jesus die tempel gereinig het om te sorg dat Sy Vader se huis nie ‘n besigheidsplek word nie.  Die dissipels skryf sy optrede aan die liefde vir Sy Vader se huis toe (Ps 69).  Die Jode (baie keer die benaming vir Fariseërs in sy evangelie) vra dan ‘n wonderteken, waarop hy in verskuilde taal na sy dood verwys.  Hulle interpreteer sy uitspraak letterlik as dat Hy die tempel wil afbreek.  Na sy dood en opstanding het dié woorde sy dissipels in hulle geloof versterk.

Kan God van gedagte verander?

Die vraag is by die Bybelskool gevra, Kan God van gedagte verander?

Die kort antwoord is die volgende, soos een kommentaar (Klein) skryf hieroor:

Daar is ‘n paradoks tussen God se vryheid, om van gedagte te kan verander, en God se betroubaarheid, om nie van gedagte te kan verander nie.  Albei is tegelykertyd waar: God verander nie sy gedagte nie, en tog doen Hy dit!

Ek wil twee aspekte in my langer antwoord uitlig:

1)  God verander nooit in sy wese of karakter nie – Hy is onveranderlik in terme van bv. sy liefde en trou.

Vergelyk bv. Hosea 11:8: “Hoe kan Ek jou vernietig … Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk.”

2)  God kan wel van gedagte verander, omdat Hy in verhouding is met ons.

Dit sien ‘n mens bv. in die bekende Pottebakker verhaal in Jer 18.  Soos klei in die hande van die pottebakker is, so is ons in God se hand.  Wanneer Hy ‘n oordeel uitspreek en mense luister (is plooibaar soos klei), SIEN HY AF van die kwaad, en omgekeerd as Hy seën uitspreek en mense luister nie (is nie plooibaar soos klei nie), SIEN HY AF van die goeie wat Hy wou doen.

God verander dus van gedagte BINNE die verhouding met ons, soos ons ook onderling met mekaar werk, hoewel Hy nooit van karakter verander nie. 

Vincent Brümmer (What are we doing when we pray? On prayer and the nature of faith – 2008 – Andrew Murray pryswenner vanjaar) skryf hieroor en sê dat gebed eintlik die sleutel is om God se wese te verstaan (Ebeling se gedagtes).

“God gives us some things, not only as we wish, but because we wish.”

Dit beteken nie dat ons gebed God se arm draai nie, of dat dit outomaties gebeur nie, maar dat Hy in vryheid op ons versoeke reageer, omdat ons dit vra en Hy in verhouding is met ons.

Teenoor die statiese idee van God as onveranderlik, wys Vincent uit hoe gebed die verhouding tussen God en die bidder verander wat daardeur ‘n werklike veranderings effek op beide het.  (On)veranderlikheid is altyd ‘n dinamiese begrip omdat dit ‘n onvolledige konsep is – God is onveranderlik in sy goedheid en getrouheid, maar veranderlik ten opsigte van gebeurlikhede.  Anders sou hy nie ‘n persoon wees nie.

In ‘n besondere gedeelte in sy boek, Asking an omniscient God, sê hy die volgende:

Hy skiet die populêre gedagte van Boethius af dat God alwetend ten opsigte van die toekoms is, deur van buite ons realiteit, uit die ewigheid, na ons gebeure in tyd te kyk en dus te reageer op die gebeure soos dit gebeur, en dus nie voor die dinge gebeur nie. Dit maak nie logiese sin volgens Vincent nie, want ons ervaring van tyd sal dan ‘n illusie word.    Selfs die verlede, hede en toekoms sal dan van God se perspektief een punt in tyd word en ononderskeibaar.

Vincent stel eerder voor dat God se alwetendheid ten opsigte van die toekoms gesien moet word as dat Hy te alle tye van alle toekoms moontlikhede bewus is, en ook die relatiewe waarskynlikheid van elke gebeurlikheid ken.  Hy kan dus die toekoms antisipeer,

1) omdat Hy ons intensies ken, maar

2) ook sy eie bedoeling tot uitvoer kan bring.

Ten opsigte van die feit dat God ons behoeftes ken, kan ‘n mens aanvaar dat God baie van ons behoeftes vervul sonder dat ons vra, maar weens sy behoefte om met ons in ‘n verhouding te lewe, sommiges net gee omdat ons vra.  Anders sou ons óf oorweldig wees deur die vervulling van ons onuitgesproke behoeftes óf bederf deur te dink dat ons behoeftes outomaties, sonder ‘n verhouding, bevredig word.

Hy sê ook volgende ongelooflike ding:

God se goedheid is die onderbou van die bidder se vertroue om te vra!

Daarvoor het die bidder die gawe van enlightenment (om sy wil te ken), empowerment (om sy wil te kan doen) en taste for the good (om sy wil uit liefde te doen) nodig.  Hierdie trinitariese verklaring (enlightenment – Jesus; empowerment – Vader; motivation [soos hy dit verderaan noem] – Gees) is kenmerkend van sy teologie.

Vincent gebruik ook John Lucas (Freedom and Grace) se briljante voorbeeld as ‘n metafoor vir gebed as samewerking tussen ons en God, dié van Persiese tapytmakers.

In elke familie werk die pa aan die eenkant en die kinders aan die ander kant.  Die kinders faal baie keer daarin om presies te doen wat die pa sê, maar die pa is vaardig genoeg om sy patrone aan te pas om hulle foute te inkorporeer en in ‘n fassinerende, konstant-ontwikkelende ontwerp te verander.

God se werk moet dus nie as ‘n bloudruk verstaan word nie, maar eerder as ‘n goddelike projek wat God ontwikkel in gemeenskap met menslike deelnemers.  Dit het ‘n effek op hoe ons die eskatologie sien – in stede van ‘n vaste uitkoms, is die eschaton iets waaraan ons as medewerkers met God saamwerk.

Om terug te keer tot die vraag oor God se verandering van gedagte:

Numeri 23:19 sê wel van God die volgende: “God is nie ’n mens dat Hy sou lieg nie, ’n mens dat Hy van gedagte sou verander nie.”  Maar daar moet ons onthou dat dit uit die mond van Bileam kom, wat nie gesagvol oor God ‘n uitspraak kon lewer nie.  Daarby interpreteer Bileam dit self, deur daaraan by te voeg: “Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?”

Dit beteken dat al wat Bileam sê, is dat God se woorde en sy dade ooreenstem, Hy doen wat Hy sê.

Dieselfde geld die gedeelte in 1 Samuel 15:29, waar Samuel die oordeel oor Saul se koningskap uitspreek en dit verbind aan God wat nie van gedagte verander nie, maar doen wat Hy sê.  In 1 Samuel 13:15 sê Samuel immers dat God se plan eintlik was om Saul se koningskap vir altyd te bevestig het, maar omdat Saul nie gehoorsaam was nie, het Hy sy plan verander.  Die frase “nie van gedagte verander nie” bedoel dus eintlik net, dat God doen wat Hy sê.

Daarteenoor, moet ons ook sê, soos Jeremia die gesagvolle profeet van die Here, God reageer ook op hoe mense na Hom luister of nie, en verander sy optrede in reaksie daarop.

DUS: Albei stellings is tegelykertyd waar: God verander nie sy gedagte nie, en tog doen Hy dit!

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda