Skip to main content

Tag: Eksodus

Eksodus 21 – Sorg vir mense en hulle diere

Eksodus 21 tot 24 spel nou op grond van die Tien Gebooie die praktiese riglyne uit vir die toepassing daarvan in konkrete situasies.  Hierdie riglyne illustreer dus wat God se bedoeling met die Tien Gebooie is.  Dié riglyne raak ‘n hele aantal sosiaal-maatskaplike –, regs –, godsdienstig-seremoniële – en geestelike sake aan wat deel van die verbondsluiting tussen God en die volk uitmaak.

Daar is regdeur ‘n duidelike verband met al tien van die Tien Gebooie.  Dit is duidelik dat die konkretisering van die wette op ‘n diep deernis vir mense begrond is wat die geloofsgemeenskap oproep tot ‘n omvattende sorg vir mense en hulle diere, vir mense en hulle besittings, vir geregtigheid en geborgenheid in die geloofsgemeenskap met die hulp wat God self verleen deur sy engel.

Geen wonder dat Moses twee keer in die verbondsluiting van hfst. 24 beklemtoon dat die volk alles sal doen wat God hulle beveel het.  ‘n Gemeenskap wat dié dinge nakom, sou verseker ‘n gelukkige en florerende gemeenskap wees.

Ek som die vier hoofstukke só op:

SORG VIR MENSE EN HULLE DIERE – HFST. 21

  • Oor Hebreeuse slawe wat onder andere met die sewende gebod (egbreuk) verband hou – Eks. 21:2-11
  • Oor skade aan mense wat onder andere met die vyfde (ouers) en sesde gebod (moord) verband hou – Eks. 21:12-27
  • Oor skade wat diere aanrig wat onder andere met die sesde gebod (moord) verband hou – Eks. 21:28-36

SORG VIR MENSE EN HULLE BESITTINGS – HFST. 22

  • Oor skade aan besittings wat onder andere met die agste gebod (diefstal) verband hou – Eks. 22:1-15
  • Oor morele, burgerlike en seremoniële wette rondom mense wat met die eerste (afgode), tweede (afgodsbeelde), derde (Naam), sewende (egbreuk) en tiende gebod (begeerte) verband hou – Eks. 22:16-31

SORG VIR GEREGTIGHEID EN DIE GELOOFSGEMEENSKAP MET GOD SE HULP – HFST. 23

  • Oor geregtigheid wat veral verband hou met die negende gebod (valse getuienis) – Eks. 23:1-9
  • Oor die Sabbat en drie feeste – ongesuurde brood (lente), oes (somer), en insameling (herfs) – wat onder andere verband hou met die vierde gebod (Sabbatdag) – Eks. 23:10-19
  • Oor die engel van die Here wat voor hulle uit sal trek wat onder andere verband hou met die eerste (geen afgode) en tweede gebod (geen afgodsbeelde) – Eks. 23:20-33

ONS SAL ALLES DOEN WAT DIE HERE BEVEEL HET – HFST. 24

  • Oor die verbondsluiting self – Eks. 24

Ons lees dus vandag eers net hoofstuk 21.

Continue reading

Eksodus 20 – Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het

Eksodus 20 is waarskynlik die mees fundamentele openbaring van God se wil vir die lewe in die OT – Eks. 20:1-17.  Daarom word dit nie net hoorbaar vir die volk gegee nie, maar ook op kliptafels, en is dit ook duidelik dat die boek Levitikus se wette op die basiese uitgangspunte van Eksodus 20 geskoei is.

Twee verdere mededelings word in die hoofstuk gemaak.  Die eerste is die persoonlike karakter van die gawe van die wet.  Hulle kon God hoor – Eks. 20:18-21.  Die tweede is die onderstreping van die verbod op beelde, omdat dit die volk maklik kon verlei tot afgodery.  In die plek daarvan kon Israel altare bou om die Here te aanbid.  Dan sal die Here hulle seën – Eks. 20:22-26.  Ek sluit met ‘n paar verdere opmerkings oor die geldigheid van die wet in die NT.

Continue reading

Eksodus 19 – As julle My gehoorsaam, sal julle my eiendom wees, ’n koninkryk wat My as priesters dien

Dit is drie maande na die Uittog uit Egipte.  Die Israeliete het uiteindelik by die berg van God kom kamp opslaan, die plek waar hulle die volgende jaar sou deurbring om die wil van God vir die lewe uit sy hand te ontvang.  Die hart daarvan sou die Tien Gebooie wees soos op kliptafels vir hulle gegee is om in die Tabernakel te bewaar.  Die verdere detail van die wette sou in die sogenaamde verbondsboek, Eksodus 20-24 sowel as die hele boek Levitikus uitgespel word en later uitgebrei word met die verdere boeke van die Tora, die eerste vyf boeke van die OT, die Pentateug.

Continue reading

Eksodus neem stadiger as wat ek beplan het!

Die ontwikkeling van my bydraes oor Eksodus neem stadiger as wat ek beplan het.  My program die afgelope week was net te vol.  Die fout vir die stadige plasings lê dus by my.  Jammer!

Ek sal DV Eksodus 19 vandag klaar maak en môre stuur.  Die volgende twee weke het ek steeds ‘n baie vol program, onder andere drie belangrike vergaderings wat ek moet bywoon.  Die normale patroon van plasings sal dus eers hervat ná die volgende twee weke.  Ek beplan om so drie hoofstukke per week wel te stuur.  Ek hoop julle verstaan!

Eksodus 18 – Jetro mentor Moses en die Israelitiese leiers tot ‘n leierskapspan

Die Here het sy betroubaarheid tot dusver reeds onomwonde gewys deur drie sleutel optredes.  Sy verlossing van die Israeliete uit Egipte, sy voorsiening in die woestyn, en sy verdelging van Amalek in die oorlog.  ‘n God wat sulke dinge vir sy mense kan doen, kan staatmaak op hulle lojaliteit.  In voorbereiding vir die gawe van die wet as verbondsluiting met die volk op Sinai in hoofstuk 20 en verder, word in hoofstuk 18 aan die leierskapstruktuur aandag gegee en in hoofstuk 19 aan die voorbereiding van die volk.  Laasgenoemde is nodig om God se openbaring te kan ontvang en eersgenoemde sodat toerusting en begeleiding vir die volk in hulle gehoorsaamheid aan die wet gegee kan word.

Jetro speel in hoofstuk 18 ‘n belangrike rol.  Hy bring nie net vir Sippora na Moses met hulle twee seuns terug nie, maar begelei al die Israelitiese leiers in ‘n offermaaltyd tot eer van die Here as Bevryder – Eks. 18:1-12.  Daarna begelei hy ook vir Moses om ‘n groot deel van sy leierskapsfunksies aan sewentig leiers te delegeer, sodat hulle almal die verantwoordelikheid daarvoor kan deel – Eks. 18:13-23.  Die hoofstuk sluit af met Moses se uitvoering daarvan – Eks. 18:24-27.

Continue reading

Onlangse kommentaar