Eksodus 17 – Is die Here by ons of nie?
Hoofstuk 17 brei verder uit oor die interne uitdagings wat die volk regdeur die woestyn sou hê rondom water – 17:1-7. Dit sou die mees vanselfsprekende area van hulle lewens wees waarvoor hulle volledig van God afhanklik sou moes bly. Dit sou egter ook die een area wees waarin hulle die meeste ongeduld sou betoon, tot groot verlies vir Moses wat by een só ‘n geleentheid verlei word tot ongehoorsaamheid. Dit sou mettertyd ook duidelik word dat hulle worsteling met water eintlik die dieper vraag na God se teenwoordigheid moes beantwoord soos dit in vers 7 verwoord word: “Is die Here by ons of nie?”
Die eerste eksterne uitdaging in die woestyn het ook kort hierna opgedaag in die vorm van die geveg teen die Amalekiete – 17:8-16. Hier sou hulle moes leer om aan die een kant self verantwoordelikheid te neem en in opdrag van die Here deur sy leiers planne te maak en hulle in die geveg met hulle vyand te begewe, terwyl hulle steeds op die Here vertrou, gesimboliseer deur die kierie wat Moses met die hulp van Aäron en Hur sou regop hou. Dit berei ‘n mens ook voor vir die res van die strydverhale van die woestyn sowel as die latere Intog in Kanaän.
Onlangse kommentaar