Skip to main content

Tag: Eksodus

Eksodus 31 – Hulle moet alles maak net soos Ek jou beveel het

Die instruksies vir die bou van die tabernakel word afgesluit met die aanwys van die vakmanne wat die Here uitgekies het vir die werk – Eks. 31:1-11 – sowel as die herhaling van die opdrag tot die hou van die Sabbat – Eks. 31:12-18.  In die eerste geval word die werk van God se Gees direk betrek in die toerusting en bemagtiging van die vakmanne. In die tweede geval word God se keuse om op die sewende dag nie te werk nie, maar te rus, ‘n beginsel wat ook in die bou van die Tabernakel nagekom moes word.  Die “werk vir die Here” kon nooit as ‘n verskoning gebruik word om die ritme tussen werk en rus te ignoreer nie.  Dit was ook die dag waarop die Here juis by die tabernakel aanbid kon word.

Continue reading

Eksodus 30 – Elke deel van die tabernakel en elke priester word geheilig aan die Here

Die volgende instruksies wat die Here vir Moses op die berg gee, handel oor die kleinerige wierookaltaar in die Heilige deel van die Tabernakel reg voor die voorhangsel wat die Heilige van die Allerheiligste deel van die Tabernakel geskei het – Eks. 30:1-10.  Daarby kom instruksies oor die versoeningsoffer tydens ‘n sensus, wat twee keer op die reis deur die woestyn nodig was – Eks. 30:11-16. Die instruksies vir die bronswaskom waarin Aäron en sy seuns hulleself gereinig het vir hulle diens – Eks. 30:17-21 – sowel as die gewyde salfolie wat vir hulle salwing gebruik en die presiese bestanddele vir die wierook wat gebruik moes word, word ook vir Moses gegee – Eks 30:22-38.

Continue reading

Eksodus 29 – Afgesonder en bevestig as God se verteenwoordigers

Die instruksies rondom die kleredrag word opgevolg deur ‘n gedetailleerde beskrywing van hoe Aäron en sy seuns op rituele wyse afgesonder, gereinig, beklee, gesalf, en bevestig moet word in die blywende priesterlike amp deur middel van ‘n reeks rituele en offers.  Die uitvoering van al hierdie instruksies word in Levitikus 8:1-36 vertel.  Aäron se ampsklere moes ook ná sy dood gebruik word vir die bevestiging van een van sy seuns as Hoëpriester.

Hiermee is die gesag van die Here aan die priesters oorgedra en het hulle op ‘n besondere wyse nie net die ervaring van God se teenwoordigheid geniet nie, maar Hom ook verteenwoordig by die Godsvolk.  Voorwaar ‘n besondere voorreg, maar ook ‘n uitdagende verantwoordelikheid.

Continue reading

Eksodus 28 – Die priesters se klere dra die boodskap van gesag en toewyding

Volgende aan die beurt is die instruksies aan Moses om sy broer Aäron en sy seuns, Nadab, Abihu, Eleasar en Itamar aan te stel om die Here as priesters te dien.  God se roeping van dié familie moet dus bevestig word deur die formele aanstelling soos ons in Eksodus 39:1-31 sal lees.  Die instruksies fokus veral op die uiterlike reiniging en kleredrag wat in die diens van die Here nodig sou wees.

Die feit dat dieselfde tipe kosbare materiaal voorgeskryf word vir die klere as wat in die bou van die tabernakel gebruik sou word, dra die boodskap dat die priesters se hele lewe gestempel word deur die heiligheid wat aan God se woonplek op aarde verbind word.  Hulle gesag lê in God se roeping en in die toewyding aan sy instruksies vir die lewe.

Continue reading

Eksodus 27 – Die lig van God se teenwoordigheid brand voortdurend in die “tent van ontmoeting”

Die beskrywing van die brandofferaltaar volg hierna (uitvoering in Eks. 38:1-7), sowel as die instruksies vir die voorhof (uitvoering in Eks. 38:9-20) en die lampolie offer (uitvoering eers in Lev. 24:1-4).  Weereens word die draagbaarheid van die onderskeie elemente beklemtoon sowel as die presiese ooreenstemming met die voorbeeld wat God vir Moses op die berg wys.  Die dinamiek van God se teenwoordigheid wat te enige tyd met hulle weer “op pad” kan gaan, word daarmee beklemtoon.

Uiteraard was die brandofferaltaar bedoel vir die offers van die volk binne die voorhof waar hulle onder begeleiding van die priesters en Leviete toegelaat is.  Dit het die betekenis gedra dat die volk gedurig deur geheilig moes word om die pad met God te kan stap.  Sonder versoening deur die offers sou hulle sondeskuld ‘n net te groot verwydering tussen hulle en God gebring het.  Die voortdurende offers sou die lewe met God moontlik maak.

Continue reading

Onlangse kommentaar