Eksodus 2 – God het hulle gekreun gehoor en verstaan
Moses word gebore, maar word groot in die paleis – 2:1-10
Hoofstuk twee bring ‘n baba op die toneel, die mooie Moses, wat die balans van die geveg tussen farao en God beslissend na God se kant toe skuif. Soos God jare later dit met die geboorte van sy eie Seun sou doen, begin die verandering wat God bring nie deur mag en geweld nie, hoewel dit ook later ‘n rol gaan speel met die plae en ander Goddelike beskermingsmaatreëls. God begin sy proses van verandering deur die onopspraakwekkende geboorte van ‘n kind vir die Leviet Amram en die Levitiese Jogebed, Amram se tannie (Eks. 6:19).
Hoe subtiel is God se reaksie nie op farao se brutaliteit nie? Onder die neus van farao se volk word ‘n kind gebore wat die leier sal word van die onkeerbare trek uit Egipte na die land van belofte. Ironies genoeg word hy deur farao se dogter nog nader getrek, ná sy ma eers toegelaat is om hom te speen, sodat hy saam met farao se kinders grootword in die paleis.

Onlangse kommentaar