Skip to main content

Tag: Beloftes

Galasiërs 3:1-14 – Die mense wat glo, word saam met die gelowige Abraham geseën

9 Maart

Galasiërs 3:1-14 – Die mense wat glo, word saam met die gelowige Abraham geseën

1O, julle dwase Galasiërs, wie het julle getoor – julle voor wie se oë Jesus Christus voorheen as gekruisigde uitgebeeld is? 2Net dit wil ek van julle weet: Het julle die Gees ontvang op grond van die uitvoering van die wet, of op grond van julle geloof in wat julle gehoor het? 3Is julle so dwaas? Julle het met die Gees begin; wil julle nou met die vlees eindig? 4Het julle vergeefs soveel beleef? Indien wel, dan was dit inderdaad tevergeefs! 5Gee Hy dan vir julle die Gees, en verrig Hy kragtige dade onder julle, op grond van die uitvoering van die wet, of op grond van julle geloof in wat julle gehoor het? 6Soos van Abraham gesê is: “Abraham het God geglo, en God het sy geloof vir hom as regverdiging gereken.” 7Besef dan: Die mense wat uit die geloof is, dié is kinders van Abraham. 8En omdat die Skrif dit vooruit gesien het dat God die heidene op grond van geloof regverdig sou verklaar, het die Skrif die evangelie reeds vooraf aan Abraham verkondig: “In jou sal al die nasies geseën word.” 9Daarom word die mense wat glo, saam met die gelowige Abraham geseën. 10Trouens, diegene wat op die uitvoering van die wet staatmaak, val onder ‘n vloek, want daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat nie hou by alles wat in die Wet geskryf staan, en dit nie uitvoer nie.” 11En dat niemand op grond van die wet voor God geregverdig word nie, is duidelik, want: “Die regverdige op grond van geloof sal leef.” 12En die wet is nie gegrond op geloof nie; inteendeel: “Die mens wat hierdie dinge doen, sal hierdeur leef.” 13Christus het ons vrygekoop van die vervloeking van die wet deurdat Hy in ons plek ‘n vervloeking geword het, want daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang.” 14Die doel was dat die seën wat Abraham ontvang het in Christus Jesus, na die nasies sou gaan, en dat ons die Gees wat beloof is, deur die geloof sou ontvang.

Ek weet nie hoe gereeld jy terugdink aan jou eerste ervaring van geloof nie.  Maar, dit is wat Paulus hier met die Galasiërs doen. Hy laat hulle terugdink aan hoe hulle deel van die geloofsgemeenskap geword het. Hulle was immers heidene, nie wetsgehoorsame Jode nie.  Hulle het die boodskap van die Here Jesus Christus as gekruisigde en opgestane Here omarm, en die vergifnis en nuwe lewe wat Hy gee, omhels. Dit is geloof wat hulle deel gemaak het van die geloofsgemeenskap. Geloof het hulle kinders van Abraham en erfgename van die beloftes van God gemaak.

Paulus verduidelik dit met ’n verwysing na Abraham en die betekenis wat dit vir die gelowiges uit die heidennasies het om te glo soos Abraham (Gal 3:6-9), in dieselfde seën as Abraham te deel (Gal 3:14) en sy nakomelinge te wees. Dit doen hy om twee redes. 1) Omdat God se beloftes aan Abraham gemaak is en deur hom in geloof aanvaar is (Gen 15:6). Die vryspraak van hulle sonde is daarom ’n geloofswerklikheid. Elkeen wat glo soos Abraham deel in daardie beloftes en die verbond aan Abraham en is daarom in ‘n regte verhouding met God. 2) Omdat sy teenstanders – heel moontlik op grond van Abram se latere verhaal in Gen 17:13 – daarteenoor geleer het dat dit nie net om die geloof gaan nie, maar ook en veral oor die besnydenis; dat die besnydenis ’n “blywende verbond” is wat ook deur die heidene nagekom moet word. Dit is waarom Paulus Genesis 15:6 aanhaal, waar Abraham se geloof vóór sy besnydenis aangehaal word. Daardie verhaal oor geloof gaan volgens Paulus die verhaal van besnydenis vooraf en is daarom van meer deurslaggewende betekenis! Hy sal later in Romeine 4:13 vv verder daaroor skrywe (‘n teks wat ons later in die jaar sal hanteer). Paulus beklemtoon dus dat geloof ’n belangriker respons is as die nakoming van die besnydenis, geïllustreer in die lewe van Abraham: “dié wat glo, (is) kinders van Abraham” (Gal 3:6).

Jy kan self terugdink aan jou eerste ervaring van die Here Jesus Christus.  Ek kan jou wed dat dit nie was omdat jy die wet gehoorsaam het nie.  Dit sal eerder wees dat jy bewus geword het van jou sonde deurdat jy juis nie die wet kon hou nie, en genade en vergifnis nodig gehad het. En toe jy in geloof jou vertroue op die Here Jesus Christus geplaas het, toe het daar ‘n las van jou skouers afgeval; die wete dat Hy jou vergewe het; dat Hy nou in jou kom woon; dat Hy nou jou metgesel word; dat Hy van nou af jou Here en Leidsman sal wees. En dit is so belangrik om hieraan herinner te word, want anders eindig jy met die krag van jou menslike vlees, in ‘n vrugtelose poging om die wet na te kom, en ontbeer jy die krag van die Heilige Gees wat aan jou gegee is vanweë jou geloof en vertroue in die Here Jesus Christus.

Lees meer (Pinksterpreek van my): https://bybelskool.com/galasiers-3-ons-is-kinders-van-god-deur-geloof-sola-fide/

Habakuk 2:1-4 – Die regverdige sal deur sy betroubaarheid lewe

8 Maart

Habakuk 2:1-4 – Die regverdige sal deur sy betroubaarheid lewe

1Op my wagpos wil ek gaan staan; ek wil stelling inneem op die vestingmuur, op die uitkyk wees om agter te kom wat Hy vir my gaan sê en wat ek mense moet antwoord oor my verwyt. 2Die Here het my toe geantwoord; Hy het gesê: “Skryf die openbaring neer; skryf dit duidelik op kliptafels, sodat iemand dit maklik kan lees. 3Want die visioen wag nog vir die vasgestelde tyd; dit getuig van die einde en sal nie teleurstel nie. As dit talm, wag daarop, want dit kom vir seker, dit sal nie uitbly nie. 4Kyk, hy wat nie opreg is nie, kwyn weg – maar die regverdige – deur sy betroubaarheid sal hy lewe.

Die eerste twee hoofstukke van die boek Habakuk is ‘n roerende gesprek tussen Habakuk en God. Habakuk worstel met God se keuse van die Galdeërs as sy oordeelsinstrument. Dit maak in sy oë van geregtigheid ‘n grap. Habakuk kan nie begryp hoe die Here sulke onreg kan toelaat nie. Die Here reageer daarop deur Habakuk in te lig dat dinge nog erger gaan raak as wat Habakuk selfs dink! Maar, dat God uiteindelik die reg sal handhaaf met ‘n oordeel ook oor die Galdeërs. Dit is dan wat Habakuk in hoofstuk 2 tot bedaring kom. Hy besef die oordeel is nodig. Maar, hy besef ook dat daar lig aan die einde van die tonnel is. Daarom besluit hy om die Here te vertrou. Dat dit ook sy antwoord is aan die geloofsgemeenskap wat die hele tyd vir hom vra wanneer die oordeel weer opgelig sal word. Hy sal wag vir God se antwoord en die geloofsgemeenskap bemoedig om op God te vertrou.

Die oomblik as Habakuk by daardie punt uitkom, om geduldig te bly wag op die Here, reageer die Here soos van te vore teenoor Abram (Gen 15) en sê: “Die regverdige sal deur sy betroubaarheid lewe.” Dit is die regte ding om te doen in ‘n tyd van onreg en oordeel. Om te wag op die Here. En om betroubaar te bly – gelowig en gehoorsaam. In dié twee woorde van die Here lê miskien een van die belangrikste boodskappe vir gelowiges deur die eeue opgesluit. Geen wonder dat Paulus in sy briewe aan die Galasiërs en die Romeine so baie van hierdie boodskap maak (soos ons later ook sal lees). Ook die skrywer van Hebreërs maak in sy brief-boodskap baie van dié belangrike boodskap uit Habakuk (Hebr 10:37-38 – “Nog net ‘‘n kort, kort tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie talm nie. En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe; maar as hy terugdeins, het Ek niks aan hom meer nie.’”).

Dit is uiters interessant hoe die Hebreërskrywer die boodskap van Habakuk aan die wederkoms van die Here Jesus Christus koppel, dié dag wat God se geregtigheid in sy volheid sal aanbreek. En dat hy die hoop en vertroue uitspreek dat die geloofsgemeenskap dié boodskap ter harte sal neem: “Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe”! Trouens, die impak van Habakuk strek ook tot in die begronding van die Reformasie deur Maarten Luther wat in hierdie woorde ‘n genadige God ontdek het. Dit het die basis gevorm vir die formulering van die sola fide belydenis, een van die kosbaarste erfenisse uit daardie tyd.

Lees meer: https://bybelskool.com/habakuk-21-20-die-here-stel-habakuk-gerus-dat-hy-die-reg-sal-handhaaf-met-oordeel-ook-oor-die-galdeers/

Genesis 15:1-18 – Abram het die Here geglo. En Hy het dit vir hom as geregtigheid toegereken

7 Maart

Genesis 15:1-18 – Abram het die Here geglo. En Hy het dit vir hom as geregtigheid toegereken

1Ná verloop van tyd het die woord van die Here tot Abram gekom in ‘n visioen: “Moenie bang wees nie, Abram! Ek is ‘n skild vir jou. Jou loon is baie groot.” 2Maar Abram het gesê: “Here, my Heer, wat sal U vir my gee? Kinderloos gaan ek heen. Die erfgenaam van my huis is Eliëser van Damaskus.” 3Abram het ook gesê: “Kyk, vir my het U nie ‘n nageslag gegee nie. Kyk, ‘n seun uit my huishouding gaan my erfgenaam wees.” 4Maar kyk, die woord van die Here kom toe tot Abram: “So iemand sal nie jou erfgenaam wees nie, slegs een wat uit jou liggaam voortkom, hy sal jou erfgenaam wees.” 5Toe neem Hy Abram na buite en sê: “Kyk maar op na die hemel en tel die sterre – as jy in staat is om hulle te tel!” En Hy sê vir hom: “So sal jou nageslag wees.” 6Hy het die Here geglo. En Hy het dit vir hom as geregtigheid toegereken. 7Die Here het vir hom gesê: “Ek is die Here wat jou uit Ur van die Galdeërs uitgelei het om aan jou hierdie land te gee om dit in besit te neem.” 8Hy het gevra: “Here, my Heer, waaraan sal ek weet dat ek dit in besit sal neem?” 9Toe sê die Here vir hom: “Bring vir My ‘n drie jaar oud verskalf, ‘n drie jaar oud bok, ‘n drie jaar oud skaapram, ‘n tortelduif en ‘n jong duif.” 10Abram het dit alles vir Hom gebring en middeldeur gesny. Toe plaas hy die dele teenoor mekaar. Die voëls het hy egter nie deurgesny nie. 11Roofvoëls het op die dooie diere toegesak, maar Abram het hulle verwilder. 12Toe die son besig is om onder te gaan, het ‘n diep slaap Abram oorval. Meteens oorval skrik, ‘n groot duisternis, hom. 13Die Here sê toe vir Abram: “Weet baie goed dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land wat nie aan hulle behoort nie. Hulle sal daardie mense moet dien, en dié sal hulle verdruk, vierhonderd jaar lank. 14Maar ook die nasie vir wie hulle moet dien, gaan Ek oordeel. Daarna sal hulle uittrek met ‘n menigte besittings. 15Wat jou betref, jy sal in vrede na jou voorouers gaan en op ‘n hoë ouderdom begrawe word. 16Die vierde geslag sal hierheen terugkeer. Want die Amoriete se sondeskuld het nog nie sy volle maat bereik nie.” 17Toe die son ondergegaan het, en dit skemerdonker was – kyk, toe is daar die rook van ‘n oond en die vuur van ‘n fakkel wat tussen daardie stukke deurbeweeg. 18Op daardie dag het die Here met Abram ‘n verbond gesluit: “Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier – 19die gebied van die Keniete, Kenissiete, Kadmoniete, 20Hetiete, Feresiete, Refaïete, 21Amoriete, Kanaäniete, Girgasiete en Jebusiete.”

Die wyse waarop God met Abram in gesprek tree regdeur sy lewe, val ‘n mens op weens die wederkerigheid daarvan. Dit is telkens ‘n heen-en-weer gesprek en gebeur op diverse maniere. Hierdie is die vierde ontmoeting waarvan ons lees. Hierdie keer in ‘n visioen. Telkens is dit die Here wat die inisiatief neem en die aktiewe agent is in die gesprek. Maar, dit is ook opmerklik hoe toeganklik die Here is om die kommer en behoeftes van Abram te akkommodeer, meer nog, oorvloedig daarin te voorsien, selfs meer as wat Abram homself kan indink. Met hierdie verskyning stel die Here Abram gerus met die belofte van sy beskerming – onthou hy was net tevore in ‘n oorlog gewikkel (Gen 14) – en ‘n baie groot beloning. Dit verwys waarskynlik terug na sy weiering om deur die koning van Sodom beloon te word vir sy dapper oorwinning oor Kedorlaomer en die konings by hom. God sien Abram se afhanklikheid van Hom raak en belowe dat Hy hom sal beloon.

Abram se reaksie daarop is dat hy onseker is of dié beloning regtig kinders sal insluit, al het God dit al beloof. Hy begin dink dat hy kinderloos sal sterf en dat sy slaaf sy besittings sal erf. Hy herhaal dit twee keer om die kommer in sy hart te onderstreep. Abram vra ‘n kind van die Here. Die Here ruim egter enige onsekerheid uit die weg en belowe dat hy ‘n regtige kind as erfgenaam sal hê. Trouens, die Here neem hom buitentoe en gebruik die voorbeeld van die ontelbare sterre om hom ‘n idee te gee van hoé groot God se beloning in terme van ‘n nageslag sal wees. Dit ontlok by Abram ‘n fundamentele geloofsreaksie wat die basis word vir God se verhouding met die mens, soos ons dit op verskeie plekke in die OT sowel as die NT raak lees. Die skrywer sê vir ons: “Hy het die Here geglo. En Hy het dit vir hom as geregtigheid toegereken.”

Drie opmerkings hieroor. 1) Dat Abram: “die Here geglo” het, beteken waarskynlik in die konteks dat Hy die Here se belofte van ‘n nageslag as die waarheid aanvaar het. Hy het: “amen” gesê daarop. Hy het die Here as betroubaar geag om te doen wat Hy beloof. Daarmee help Abram ons verstaan wat geloof is. Dit is om God te vertrou. Dit is om op God staat te maak. Dit is om Hom te gehoorsaam, omdat sy woorde en beloftes as waar en eg beskou word. 2) In hierdie verband beteken: “as geregtigheid toegereken” waarskynlik iets soos: “as bewys van lojaliteit toegereken” (Wenham) of as: “evidence of steadfast commitment” (NET Bible), soos dieselfde frase in Ps 106:31, die enigste ander voorkoms van dié frase in die OT, gebruik word. Abram se geloof is deur God as geregtigheid gereken. Dit kon die Here sien in Abram se gehoorsaamheid aan die rol wat die Here hom op die wêreldverhoog gegee het (Gen 14 – later ook in terme van Sodom en Gomorra in Gen 19). Abram het dié rol met passie en vasberadenheid uitgevoer. En die Here ag dit as ‘n bewys van sy lojaliteit, van sy geloof. Daarom reken God dit vir hom as geregtigheid. 3) Paulus sal veel later hierdie tipe: “geregtigheid” met die vryspraak wat God gee vir dié wat in Hom glo, in verband bring, soos ons later die week sal lees (Rom 4:3). Paulus verbind dan dié geregtigheid aan die vergifnis van sonde wat gelowiges in die regte verhouding met God bring (Rom 4:6-8, waarin Paulus Ps 32:1-2 aanhaal wat ons ook binnekort sal lees). Dit is dus ‘n geweldige belangrike geestelike beginsel wat hier vir ons neergelê word. God verklaar ons in die regte verhouding met Hom die oomblik as ons God as betroubaar ag om te doen wat Hy beloof.

Lees meer: https://bybelskool.com/genesis-15-die-here-belowe-beskerming-en-beloning-in-n-verbond-met-abram/

Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie

6 Maart

Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie

5Moses skryf immers van die geregtigheid wat op grond van die wet verkry word: “Die mens wat hierdie dinge doen, sal hierdeur leef.” 6Maar die regverdiging deur die geloof word so verwoord: “Moenie in jou hart sê, ‘Wie sal na die hemel opgaan?’ ” – met die bedoeling om Christus af te bring – 7“of, ‘Wie sal na die onpeilbare diepte afdaal?’ ” – met die bedoeling om Christus uit die dood terug te bring nie. 8Nee, wat sê dit? “Hier by jou is die woord, in jou mond en in jou hart” – dit is die woord van geloof wat ons verkondig. 9Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word. 10Want met die hart glo ons, en word so regverdig verklaar; met die mond bely ons, en word so verlos. 11Die Skrif sê tog: “Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.” 12Dit maak inderdaad geen verskil of jy ‘n Jood of ‘n Griek is nie. Ons het almal dieselfde Here, en Hy deel sy rykdom uit aan almal wat Hom aanroep. 13Want “elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal verlos word.”

Na Paulus in Romeine 1-8 met soveel oorgawe oor die verlossing geskryf het wat vir alle mense geld, is dit heel natuurlik om te wonder oor die toekoms van die Jode. Paulus wy daarom in 3 hoofstukke uitvoerig daaroor uit. Paulus begin in hoofstuk 9 met die gedagte dat blote bloedverwantskap nie die deurslag gee in die geestelike lewe nie. Gelowiges is kinders van die belofte en nie blote vleeslike kinders wat in die gewone gang van die lewe gebore word nie. Trouens, God roep uit die Joodse volk sowel as uit ander nasies mense om sy kinders te wees. Want, God se genade kan nie deur wetsgehoorsaamheid verkry word nie. Daarvoor is mense net te sondig. God se genade kan net deur die geloof ontvang word. Dit geld die Jode sowel as die heidene.

Paulus motiveer hierdie boodskap uit die Skrif. Eerstens is dit die boodskap wat Moses vir die volk gebring het in die 15de eeu vC net voor hulle die Beloofde land ingeneem het. Die woorde van die wet en sy bepalinge wat hy in sy drie preke van die boek Deuteronomium aan hulle oorgedra het, is die woorde van geloof wat naby hulle is. God het elke detail daarvan vir hulle bekend gemaak. Trouens, sy oordrag aan hulle het die boodskap daarvan in hulle mond en in hulle hart geplaas (vgl Deut 30:12-14). Hulle kan hierdie woorde van God dus vertrou. Tweedens is dit die boodskap wat Jesaja in die 8ste eeu vC vir die volk gebring het, selfs met die dreigende ballingskap. Niemand wat God vertrou, sal ooit beskaam word nie (vgl Jes 28:16). Derdens is dit die boodskap wat Joël ook gebring het wat vir alle nasies geld. Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word, het hy reeds in die 6de eeu vC gesê (vgl Joël 2:32).

Let op hoe Paulus belydenis en geloof as twee kante van dieselfde munt skets. Dit is baie keer eers wanneer jy bely dat jou geloof tot sy reg kom. Of van die ander kant af gestel, dit is eers wanneer jy glo, dat jy die Here Jesus kan bely. Die verkiesing tot die ewige lewe vind dus plaas in Christus en in die geskiedenis. Dit wentel om vertroue in Hom. En dit is ‘n woord van geloof wat naby aan ons almal is in die vorm van die openbaring van God in Christus. Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie. Elkeen wat die Naam van die Here Jesus aanroep, sal gered word. Daarop kan ons staatmaak.

Lees meer ( ‘n vorige preek van my): https://ngkerksomerstrand.co.za/rom-108-13-die-bybel-is-n-stem-in-ons-hart-en-mond-son-24-jan-2010/

Lukas 4:1-13 – Deur die Heilige Gees en die Woord kan ons staande bly in versoeking

5 Maart

Lukas 4:1-13 – Deur die Heilige Gees en die Woord kan ons staande bly in versoeking

1Vol van die Heilige Gees, het Jesus van die Jordaan teruggekeer en is deur die Gees in die woestyn gelei, 2waar Hy veertig dae lank deur die Duiwel versoek is. Die hele tyd het Hy niks geëet nie, en aan die einde van die tyd was Hy honger. 3Die Duiwel het vir Hom gesê: “As u die Seun van God is, sê vir hierdie klip dit moet brood word.” 4Maar Jesus antwoord hom: “Daar staan geskryf, ‘Van brood alleen sal die mens nie leef nie.’ ” 5Hierop het die Duiwel Hom na ‘n hoë plek geneem, en in ‘n oogwink vir Hom al die koninkryke van die wêreld gewys, 6en die Duiwel sê vir Hom: “Ek sal u al hierdie mag gee en hulle prag, want dit is aan my gegee, en ek gee dit aan wie ek wil. 7As u my aanbid, sal dit alles u s’n wees.” 8Maar Jesus antwoord hom: “Daar staan geskryf, ‘Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.’ ” 9En die Duiwel het Hom na Jerusalem geneem, en Hom op die hoogste punt van die tempelgeboue laat staan. Toe sê hy vir Hom: “As u die Seun van God is, spring hier af! 10Daar staan immers geskryf, “ ‘Hy sal sy engele opdrag oor jou gee om jou te beskerm,’ 11en ook, “ ‘Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie dalk teen ‘n klip jou voet stamp nie.’ ” 12Maar Jesus antwoord hom: “Die Skrif sê ook, ‘Jy mag die Here jou God nie versoek nie.’ ” 13Die Duiwel het, nadat hy met al hierdie versoekings klaar was, vir ‘n tyd lank van Jesus weggebly.

Dit tref ‘n mens dat alles wat goed is, begin met die werk van die Heilige Gees in jou lewe. Dit was ook so met Jesus. “Vol van die Heilige Gees” het Jesus van die Jordaan af gekom, om sy bediening te begin. Voordat Jesus egter sy eerste preek kan lewer, of genesing kon doen, word Hy getoets soos dit die geval was met bykans alle diensknegte van die Here – Adam en Eva in die tuin van Eden, Noag vóór die sondvloed, Abraham en die ander aartsvaders in Kanaän, Josef in Egipte, Moses en Aäron in Egipte en die woestyn, die volk Israel met die Intog in die beloofde land, ensomeer. Standvastigheid in versoeking verseker volharding in roeping. Jesus word dus die woestyn ingelei om daar nie maar sommer net só ’n klein toetsie te ondergaan nie, maar deur die duiwel (diabolos) self versoek te word in ‘n situasie van onherbergsaamheid en fisiese uitdagings. Dit wil ook lyk asof Jesus self besluit om te vas – soos Matteus inderdaad dit vertel – hoewel daar in die woestyn ook nie veel voorsiening van kos, water en skuiling was nie. Let ook op dat die duiwel Hom veertig dae aaneen versoek het. Dit was ‘n uitmergelende tyd waarin daar talle uitdagings was, nie net die drie wat vir ons hier beskryf is nie.

Die drie versoekings waarvan Lukas ons vertel, is versoekings wat aansluit by Jesus se begeertes. Al Jesus se antwoorde kom uit die wet uit, uit die boek van Deuteronomium. Die eerste versoeking sluit aan by Jesus se honger. Hy het veertig dae nie geëet nie. Die vraag is of Hy sy mag gaan misbruik ter wille van sy eie behoeftes. Jesus antwoord die versoeking om brood van klippe te maak met die aanhaling uit Deuteronomium 8:3 dat die fokus op God se woorde belangriker is as die fokus op wonderbrood. Daarmee verklaar Hy dat sy fisiese begeertes ondergeskik is aan God se opdragte in sy Woord. Die tweede versoeking sluit aan by Jesus se roeping. Hy wil God gehoorsaam om God se koninkryk te vestig. Dit is sy roeping. Die vraag is of Hy ‘n kortpad daarheen sal neem deur die duiwel te aanbid in plaas daarvan om hom teë te staan. Jesus antwoord die versoeking om die duiwel te aanbid as kortpad na die koninkryk met die aanhaling uit Deuteronomium 6:13 dat ‘n mens God alleen mag aanbid en dien. Daarmee skaar Hy Hom volledig aan God se kant en verklaar Hy Homself bereid om God se pad met Hom te stap, al kos dit ook wat. Die derde versoeking sluit aan by die Skrif se gesag in Jesus se lewe. Hy word op die boonste deel van die tempel geplaas en herinner aan ‘n Skrifwoord, maar uit konteks uit. Die vraag is of Hy God se beloftes uit konteks gaan misbruik ter wille van eie voordeel of vertoon deur die effek wat dit op ander sou kon hê. Jesus antwoord die versoeking om God se beloftes in die Skrif te misbruik ter wille van voordeel of vertoon met ‘n aanhaling uit Deuteronomium 6:16 dat Hy God se naam alleen hoog wil hou. Hy gaan God nie uittart of versoek nie. Hy gaan nie die Skrif ontkrag deur dit buite konteks te gebruik nie. Want Hy weet hierdie pad is God se pad vir Hom. Uit Jesus se hantering van die Skrif sien ’n mens dat die fout nie lê in die ding wat jy van God vra nie, maar in die motivering daarvoor of die wyse waarop jy dit doen. Die duiwel haal ook uit die Skrif aan, maar met die verkeerde motivering en toepassing. Jesus se aanhalings is telkens binne konteks en met God se eer voorop. So sal Jakobus, Jesus se broer, dit ook later uitlê as ‘n riglyn vir ons eie gebede. Ons moet reg bid en waak daarteen om nie net te bid ter wille van ons eie selfsugtige begeertes nie (Jak 4:1-10). Ons kan nie God se beloftes uit konteks uit misbruik vir eie gewin nie, anders as wat die duiwel Jesus met Psalm 91 probeer versoek. Ons behoeftes is daarom altyd ondergeskik aan God se wil vir die lewe.

Hierdie verhaal leer ‘n mens dat die pad na effektiewe bediening wel kom uit die volheid van die Heilige Gees se vervulling, maar ook volgehou moet word deur die felheid van versoeking en die uitdaging van die boosheid wat so maklik vir die waarheid aangesien kan word. Hierdie verhaal leer ‘n mens ook dat gebed en die Woord van God die kern van ’n standvastige bediening en lewenstyl is. Die kontak met God bewaar ‘n mens van die versoekings, beide in ’n aanroep van Hom in nood, en in ’n luister na Sy Woord. ’n Mens sien hier dat die Woord reeds vir Jesus ’n huis was om in te woon – so gemaklik kon Hy die duiwel daaruit antwoord!

Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-41-13-jesus-deurstaan-die-toets/

Onlangse kommentaar