1 Korintiërs 10:1-13 – God sal saam met die versoeking ook uitkoms gee
1 Korintiërs 10:1-13 – God sal saam met die versoeking ook uitkoms gee
1Broers, ek wil nie hê julle moet hieroor onkundig wees nie: Ons voorouers was almal onder die wolk, en het almal deur die see gegaan, 2en in verbondenheid met Moses, is almal in die wolk en in die see gedoop, 3en almal het dieselfde geestelike kos geëet, 4en almal het dieselfde geestelike drank gedrink. Want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat hulle gevolg het – en die rots was Christus. 5Nogtans het God in die meeste van hulle nie ‘n behae gehad nie, want hulle liggame is in die woestyn verstrooi. 6Hierdie dinge het gebeur as ‘n voorbeeld vir ons, sodat ons nie na bose dinge sal hunker, soos hulle ook gehunker het nie. 7Moenie afgodedienaars wees, soos sommige van hulle nie; daar staan immers geskryf: “Die volk het gaan sit om te eet en te drink en opgestaan om te speel.” 8Laat ons dan nie onsedelik optree, soos sommige van hulle onsedelik opgetree het nie – daar het op een dag drie-en-twintigduisend gesterf.9Laat ons nie vir Christus beproef, soos sommige van hulle Hom beproef het nie – hulle is deur slange doodgemaak. 10En moenie mor, soos sommige van hulle gemor het nie – hulle is deur die vernietiger uitgedelg. 11Dit het met daardie mense as voorbeeld gebeur, en is as waarskuwing neergeskryf vir ons wat in die eindtyd verkeer. 12Daarom moet hy wat dink hy staan, oppas dat hy nie val nie! 13Geen versoeking het oor julle gekom, behalwe ‘n menslike een nie. God is egter getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle vermoë versoek word nie, maar sal saam met die versoeking ook uitkoms gee, sodat julle dit kan verduur.
’n Mens moet altyd in gedagte hou dat die brief aan Korintiërs is as ’n brief geskryf, sonder verse en sonder hoofstukke. Wat Paulus dus hier in hoofstuk 10 aan die orde stel, is integraal verbind aan dit wat Paulus in hoofstuk 9 gesê het, dat ‘n mens die Christelike wedloop so moet hardloop dat jy die wenpaal kan behaal. Paulus herinner daarom in hoofstuk 10 die Korintiërs aan die ervaring van die volk in Moses se tyd, dat hulle al die voorregte wat God gegee het in die woestyn kon geniet, maar tog nie die wenpaal, die intog in die beloofde land, bereik het nie. Die insluiting in die wolk (simbool van God se teenwoordigheid) en die tog deur die see (simbool van God se redding) by die Uittog uit Egipte laat Paulus aan die funksie van die doop dink – dit sluit in en beskerm. Net so laat die voorsiening van brood (manna was “kos uit die hemel” – Eks 16:4; Ps 78:24-25) en water (Eks 17:6; Num 20:7-11) in die woestyn Paulus dink aan die funksie van die brood en wyn van die Nagmaal – dit voed en les ons dors deur ons gemeenskap met God. Die rots was beide die simbool van God se voorsienigheid sowel as sy teenwoordigheid, iets wat met die werklikheid van Christus verbind word, lank voor Hy in die vlees gekom het – ’n misterieuse wonder.
Met dié voorbeeld spoor hy die Korintiërs aan om nie in onsedelikheid en afgodsdiens te verval nie, want dit bring hulle gemeenskap met God in gedrang, wat ten alle koste beskerm moet word. Hy verwys hier terug na 5 gevalle uit die geskiedenis van Israel in die woestyn tydens die Uittog, wat vir die Korintiërs as voorbeeld en waarskuwing moet dien: 1) Vers 6: sondige begeertes (Num 11:4–35 – waar die volk gestraf word by Kibrot-Taäwa weens hulle lus vir vleis wat hulle in opstand teen die Here laat kom – die Here stuur wel kwartels, maar straf hulle vir hulle gulsigheid – ’n oortreding van die tiende gebod); 2) Vers 7: afgodsdiens (Eks 32 – die bekende verhaal van die goue kalf waar die volk die goue kalf as God aanbid het en losbandig te kere gegaan het – net Moses se tussenkoms keer dat die hele volk uitgewis word – ’n oortreding van die eerste twee gebooie); 3) Vers 8: onsedelikheid (Num 25 – die verhaal van die Israelitiese mans wat met Moabitiese en Midianitiese vrouens seks gehad het as deel van die offers aan Baäl-Peor en deur die Here gestraf is – ’n oortreding van die sewende gebod. Terloops, Moab was een van die kinders van Lot by sy dogters [Gen 19:37]); 4) Vers 9: uittarting van God (Num 21:4–9 – die verhaal van die ongeduld van die volk teenoor die Here toe hulle by die Horberg verbygetrek het, en Hom verkwalik het vir die Uittog, en waar die Here giftige slange gestuur het om hulle te straf, maar daar redding was deur die koperslang wat Moses gemaak het); 5) Vers 10: verset teen gesag/God (Num 16 – die opstand van Korag, Datan en Abiram teen Moses en Aäron dat hulle gesag as leiers, maar hulle eintlik teen die Here en sy keuses verset, en die Here wat hulle uitwis deur die aarde wat hulle insluk). Paulus skets dus hier op ’n baie grafiese manier die versoekings van gulsigheid, onsedelikheid, afgodediens, ondankbaarheid (die uittarting van God deur nie met sy pad met jou tevrede te wees nie), en die verset teen gesag, want dit is eintlik ’n verset teen God self.
Maar daarmee saam skets Paulus die pad uit die versoekings. God sal nie toelaat dat ’n mens versoekings kry wat jy nie in staat is om te weerstaan nie, want Hy sal saam met die versoekings ook die uitkoms gee, sodat jy dit kan weerstaan. Waarvoor jy versigtig moet wees, is om jouself bloot te stel aan situasies waar die versoekings jou kan oorval, want “hy wat dink hy staan, moet oppas dat hy nie val nie!” Want, dit is wat ons leer uit Paulus se voorskrifte; dat dit gaan oor die beskerming van jou gemeenskap met God. Niks mag met God in jou lewe kompeteer nie, nie jou eie begeertes nie, nie jou gedrag nie, en ook nie jou (af)godsdiens nie. Dan sal jy ervaar dat, selfs waar jy steeds versoek word, God getrou is. “Hy sal nie toelaat dat jy bo jou vermoë versoek word nie, maar sal saam met die versoeking ook uitkoms gee, sodat jy dit kan verduur.”
Lees meer: https://bybelskool.com/1-korintiers-10-gemeenskap-met-god-moet-ten-alle-koste-beskerm-word/

Onlangse kommentaar