Jesaja 55:1-13 – My woord sal nie vrugteloos na My terugkeer nie, maar doen wat Ek wil hê
Jesaja 55:1-13 – My woord sal nie vrugteloos na My terugkeer nie, maar doen wat Ek wil hê
1“Kom, almal wat dors is, kom na die water! En wie geen geld het nie, kom koop en eet! Kom koop sonder geld, sonder koste, wyn en melk! 2Waarom weeg julle silwer af vir wat nie brood is nie, en bestee julle moeitevolle arbeid aan wat nie versadig nie? As julle aandagtig na My luister, sal julle eet wat goed is, sal julle julle aan ryk kos verlustig. 3Maak julle ore oop en kom na My toe; luister, sodat julle kan leef! Ek wil met julle ‘n ewige verbond sluit, getrou aan die bestendige liefde vir Dawid. 4Kyk, ‘n getuie vir die volke het Ek hom gemaak, ‘n leier, iemand wat bevel voer oor volke. 5Kyk, jy sal ‘n nasie roep wat jy nie ken nie; en ‘n nasie wat jou nie ken nie, sal na jou toe hardloop, ter wille van die Here, jou God, ter wille van die Heilige van Israel, omdat Hy jou verheerlik het.” 6Soek die Here terwyl Hy Hom laat vind, roep Hom aan terwyl Hy naby is. 7Die goddelose moet van sy pad afsien, en die boosdoener van sy planne. Hy moet na die Here terugkeer, sodat Hy hom genadig kan wees, en na sy God, want Hy vergeef oorvloediglik. 8“Ja, my planne is nie julle planne nie, en julle paaie is nie my paaie nie,” is die uitspraak van die Here. 9“Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my paaie hoër as julle paaie, en my planne as julle planne. 10Ja, soos reën en sneeu uit die hemel afkom en nie daarheen terugkeer nie, maar die aarde deurdrenk en plante laat voortbring, dit laat uitspruit, en so saad gee vir die saaier en voedsel vir dié wat eet, 11net so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: Dit sal nie vrugteloos na My terugkeer nie, maar doen wat Ek wil hê, en die doel bereik waarvoor Ek dit gestuur het. 12“Ja, met vreugde sal julle wegtrek, en in vrede gelei word. Die berge en heuwels sal voor julle in jubelkrete uitbreek, en al die bome van die veld sal hande klap. 13In die plek van doringstruike sal sipresse groei; in die plek van distels sal mirtebome opkom. Dit sal vir die Here tot roem wees; as ‘n ewige teken, sal dit nie afgekap word nie.”
Waar hoofstuk 54 die volk laat juig het oor die uitkoms wat God vir hulle gaan bewerk, nooi hoofstuk 55 hulle uit om nie net dit aan te hoor nie, maar inderdaad na God te kom, en na Hom te luister om die wonderlike uitkoms te kan beleef. Want dit is bedoel vir dorstiges en hongeriges. Met die pragtige beelde van gratis water, wyn, melk en brood (vers 1-2) word die genade van die Here gekontrasteer met die goddeloosheid om jou eie kop te volg (vers 7). Laat ‘n mens dink aan Jesus wat die lewende water gee vir die Samaritaanse vrou by die put wat ons later hierdie week sal lees (Joh 4).
Let op dat wat nodig is om God se aanbod te ontvang, is om na Hom te luister, na sy wil te vra (vers 3, 6) en jou verkeerde pad en planne te laat staan (vers 7). In kort, om jou te bekeer van jou verkeerde pad en God se pad te kies. Jy kan die genade nie bewerk of verdien nie. Maar, jy kan die genade ook nie ontvang sonder gehoorsaamheid nie. Dan sal jy soos die volk in ballingskap kan deel in die blywende hernuwing van die verbondsverhouding tussen Jahwe en sy volk wat gebaseer is op sy beloftes aan Dawid (vgl 2 Sam 7; Ps 89:33-35). Hierdie verbond is ‘n ewige verbond soos dié vroeër met Abraham waardeur die verbreking van die tydelike verbond met Moses (en die wet) opgehef word. Let ook op dat die nasies weereens ingesluit word in die uitnodiging (vers 5) en dat dit juis Israel is wat hulle moet nader roep na die Messias toe! Trouens, hulle sal dan “na jou toe (die Messias) hardloop.” Hierdie uitnodiging sal ‘n kragtige uitwerking onder die nasies hê – soos ons uit die NT weet, sowel as uit die verspreiding van die evangelie oor die ganse aarde – want God se uitnodiging is gebaseer op die feit dat sy woord skeppingskrag het, en dat dit dus nie onverrigter sake na Hom toe terugkeer nie (vers 11).
Vers 8-13 is ‘n duidelike openbaring van God se transendensie. Wie Hy is en wat Hy doen, is ver bó menslike begrip, buite die grense van tyd en ruimte. Maar let op dat dit juis hierdie transendente God is wat nie net betrokke raak by mense nie, maar op immanente wyse sy planne ten uitvoer bring. Die woord van God bevat werklike krag om sy wil te volbring. Soos dit was met die skepping van die heelal – deur God se woord alleen (Gen 1; vgl Ps 33:6, 9: “Hy het gepraat, en dit was so”) – só sal dit nou ook wees met die terugkeer uit ballingskap. Dit sal vir seker gebeur. God se woord keer immers nie vrugteloos na Hom toe terug nie en bereik altyd die doel waarvoor Hy dit gestuur het. En daardie doel sluit in dat die ballinge met vreugde uit Babel sal wegtrek, en in vrede na hulle tuiste gelei sal word. Geen wonder dat die skepping self nie anders kan as om God te loof vir die triomfantlike sukses van sy woord nie (vgl Luk 19:40: “As hulle stilbly, sal die klippe dit uitroep!”).
Lees meer: https://bybelskool.com/jesaja-55-kom-geniet-god-se-genade/

Onlangse kommentaar