Galasiërs 3:1-14 – Die mense wat glo, word saam met die gelowige Abraham geseën
Galasiërs 3:1-14 – Die mense wat glo, word saam met die gelowige Abraham geseën
1O, julle dwase Galasiërs, wie het julle getoor – julle voor wie se oë Jesus Christus voorheen as gekruisigde uitgebeeld is? 2Net dit wil ek van julle weet: Het julle die Gees ontvang op grond van die uitvoering van die wet, of op grond van julle geloof in wat julle gehoor het? 3Is julle so dwaas? Julle het met die Gees begin; wil julle nou met die vlees eindig? 4Het julle vergeefs soveel beleef? Indien wel, dan was dit inderdaad tevergeefs! 5Gee Hy dan vir julle die Gees, en verrig Hy kragtige dade onder julle, op grond van die uitvoering van die wet, of op grond van julle geloof in wat julle gehoor het? 6Soos van Abraham gesê is: “Abraham het God geglo, en God het sy geloof vir hom as regverdiging gereken.” 7Besef dan: Die mense wat uit die geloof is, dié is kinders van Abraham. 8En omdat die Skrif dit vooruit gesien het dat God die heidene op grond van geloof regverdig sou verklaar, het die Skrif die evangelie reeds vooraf aan Abraham verkondig: “In jou sal al die nasies geseën word.” 9Daarom word die mense wat glo, saam met die gelowige Abraham geseën. 10Trouens, diegene wat op die uitvoering van die wet staatmaak, val onder ‘n vloek, want daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat nie hou by alles wat in die Wet geskryf staan, en dit nie uitvoer nie.” 11En dat niemand op grond van die wet voor God geregverdig word nie, is duidelik, want: “Die regverdige op grond van geloof sal leef.” 12En die wet is nie gegrond op geloof nie; inteendeel: “Die mens wat hierdie dinge doen, sal hierdeur leef.” 13Christus het ons vrygekoop van die vervloeking van die wet deurdat Hy in ons plek ‘n vervloeking geword het, want daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang.” 14Die doel was dat die seën wat Abraham ontvang het in Christus Jesus, na die nasies sou gaan, en dat ons die Gees wat beloof is, deur die geloof sou ontvang.
Ek weet nie hoe gereeld jy terugdink aan jou eerste ervaring van geloof nie. Maar, dit is wat Paulus hier met die Galasiërs doen. Hy laat hulle terugdink aan hoe hulle deel van die geloofsgemeenskap geword het. Hulle was immers heidene, nie wetsgehoorsame Jode nie. Hulle het die boodskap van die Here Jesus Christus as gekruisigde en opgestane Here omarm, en die vergifnis en nuwe lewe wat Hy gee, omhels. Dit is geloof wat hulle deel gemaak het van die geloofsgemeenskap. Geloof het hulle kinders van Abraham en erfgename van die beloftes van God gemaak.
Paulus verduidelik dit met ’n verwysing na Abraham en die betekenis wat dit vir die gelowiges uit die heidennasies het om te glo soos Abraham (Gal 3:6-9), in dieselfde seën as Abraham te deel (Gal 3:14) en sy nakomelinge te wees. Dit doen hy om twee redes. 1) Omdat God se beloftes aan Abraham gemaak is en deur hom in geloof aanvaar is (Gen 15:6). Die vryspraak van hulle sonde is daarom ’n geloofswerklikheid. Elkeen wat glo soos Abraham deel in daardie beloftes en die verbond aan Abraham en is daarom in ‘n regte verhouding met God. 2) Omdat sy teenstanders – heel moontlik op grond van Abram se latere verhaal in Gen 17:13 – daarteenoor geleer het dat dit nie net om die geloof gaan nie, maar ook en veral oor die besnydenis; dat die besnydenis ’n “blywende verbond” is wat ook deur die heidene nagekom moet word. Dit is waarom Paulus Genesis 15:6 aanhaal, waar Abraham se geloof vóór sy besnydenis aangehaal word. Daardie verhaal oor geloof gaan volgens Paulus die verhaal van besnydenis vooraf en is daarom van meer deurslaggewende betekenis! Hy sal later in Romeine 4:13 vv verder daaroor skrywe (‘n teks wat ons later in die jaar sal hanteer). Paulus beklemtoon dus dat geloof ’n belangriker respons is as die nakoming van die besnydenis, geïllustreer in die lewe van Abraham: “dié wat glo, (is) kinders van Abraham” (Gal 3:6).
Jy kan self terugdink aan jou eerste ervaring van die Here Jesus Christus. Ek kan jou wed dat dit nie was omdat jy die wet gehoorsaam het nie. Dit sal eerder wees dat jy bewus geword het van jou sonde deurdat jy juis nie die wet kon hou nie, en genade en vergifnis nodig gehad het. En toe jy in geloof jou vertroue op die Here Jesus Christus geplaas het, toe het daar ‘n las van jou skouers afgeval; die wete dat Hy jou vergewe het; dat Hy nou in jou kom woon; dat Hy nou jou metgesel word; dat Hy van nou af jou Here en Leidsman sal wees. En dit is so belangrik om hieraan herinner te word, want anders eindig jy met die krag van jou menslike vlees, in ‘n vrugtelose poging om die wet na te kom, en ontbeer jy die krag van die Heilige Gees wat aan jou gegee is vanweë jou geloof en vertroue in die Here Jesus Christus.
Lees meer (Pinksterpreek van my): https://bybelskool.com/galasiers-3-ons-is-kinders-van-god-deur-geloof-sola-fide/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar