Skip to main content

Tag: Beloftes

Psalm 99 – Die Here self antwoord as ons Hom aanroep

22 Februarie

Psalm 99 – Die Here self antwoord as ons Hom aanroep

1Die Here regeer – laat die volke bewe! Hy troon oor gerubs – laat die wêreld sidder! 2Die Here in Sion is groot, verhewe is Hy bo al die volke. 3Laat hulle u groot en ontsagwekkende Naam prys – “Heilig is Hy!” – 4en die krag van die Koning, Hy wat die reg liefhet. Dit is U wat billikheid, reg en geregtigheid gevestig het in Jakob; U het dit gedoen. 5Verheerlik die Here ons God, buig in aanbidding voor die voetbank vir sy voete: “Heilig is Hy!” 6Moses en Aäron was onder sy priesters, Samuel onder dié wat sy Naam aangeroep het. Wanneer hulle die Here aangeroep het, het Hy self hulle geantwoord. 7Uit ‘n wolkkolom het Hy met hulle gepraat. Hulle het sy bepalings nagekom, ook die vaste voorskrifte wat Hy vir hulle gegee het. 8Here, ons God, U self het hulle geantwoord. U was vir hulle ‘n God wat vergewe, maar ook Een wat hulle dade vergeld. 9Verheerlik die Here, ons God, buig in aanbidding voor sy heilige berg, want heilig is die Here, ons God.

Psalm 99 is een van die prima aanbidding Psalms. Twee keer loop die beskrywing van God se wese en werk uit op ’n gelykluidende oproep om God te aanbid. 1) “Verheerlik die Here ons God, buig in aanbidding voor die voetbank vir sy voete: ‘Heilig is Hy!’” (vers 5). Die voetbank dui op die verbondsark as simbool van die Here. 2) “Verheerlik die Here, ons God, buig in aanbidding voor sy heilige berg, want heilig is die Here, ons God.” (vers 9). Die heilige berg dui op die tempelberg, Sion, as simbool van die Here. Dit is dan ook die indeling van die Psalm: vers 1–5 en vers 6–9. Inderdaad: “Heilig is Hy! Heilig is die Here, ons God.” Neem ’n paar oomblikke om jou in te leef in aanbidding voor dié heilige God.

Die Psalmis teken in die eerste deel ’n prentjie van God wat regeer vanaf die Allerheiligste deel van die tempel in Sion. Die Psalmis sê: “Hy troon oor gerubs.” Dit dui aan die eenkant op die twee gerubs (hemelse wesens soos die engele en die serafs) van goudbeslag wat op die deksel van die verbondsark in die Allerheiligste van die tabernakel, die tent van ontmoeting, aangebring is (vgl Eks 25:18). Dit is die plek vanwaar God met Moses gepraat het op hulle reis deur die woestyn (Num 7:89), en waar die hoëpriester een keer ’n jaar versoening vir die sondes van die volk gedoen het (Lev 16). Die beskrywing van die gerubs dui egter ook aan die ander kant op die werklikheid van God wat vanuit die hemel heers, wat Hy is koning oor die hele wêreld: “verhewe is Hy bo al die volke.” Die tempel en die verbondsark is dus simbole van die dieper werklikheid van God se wese en werk wat Homself oral laat geld. Hy is dus die Heilige Heerser, die magtige Koning (vers 4). Dit is Hy wat aanbid moet word: dat Hy die reg liefhet; dat Hy billikheid, reg en geregtigheid tot stand bring. En let op dat Hy nie net geregtigheid liefhet nie, maar inderdaad tot stand kan bring sodat dit gevestig kan word onder sy mense.

Die fokus van die Psalmis skuif na drie gebedshelde van weleer: Moses, Aäron en Samuel.  As aanmoediging om hulle voorbeeld na te volg. Hulle het God se Naam aangeroep en ervaar het dat Hy hulle geantwoord het. Wonderwerke vir en deur hulle gedoen het in antwoord op gebed. Dit is wel so dat God soms ook nee geantwoord het, soos wat ons onder andere by Moses (Eks 32) en Samuel (1 Sam 16) lees. Trouens, die Here waarsku op ‘n keer vir die profeet Jeremia in sy eie worsteling vir ‘n antwoord van die Here, dat selfs al was Moses en Samuel in gesprek met Hom oor die situasie van die volk net voor die ballingskap, sou Hy nie van sy plan afwyk om hulle te straf nie (Jer 15:1). God se besluit is immers soewerein. Die belofte van die Psalm is egter steeds dat God antwoord. Dit pas ons dus om Hom met ontsag te aanbid. En sy soewereiniteit te erken. Al is dit nie soos ons dit graag wil hê nie. Terselfdertyd nooi Hy ons egter uit om soos Moses, Aäron en Samuel met Hom in gesprek te tree oor alles in ons lewe. Hy sal duidelik antwoord. Daarop kan ons vertrou.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-99-kom-buig-in-aanbidding-voor-hom-heilig-is-hy/

Eksodus 34:1-7, 27-35 – Die Here vergewe sonde, maar laat beslis niks ongestraf nie

21 Februarie

Eksodus 34:1-7, 27-35 – Die Here vergewe sonde, maar laat beslis niks ongestraf nie

1Die Here het vir Moses gesê: “Kap vir jou twee kliptafels uit, soos die eerstes. Ek sal op die tafels die woorde skryf wat op die eerste tafels was, wat jy aan stukke gebreek het. 2Wees teen die oggend gereed. Klim dan die berg Sinai in die oggend uit, en staan gereed vir My daar op die kruin van die berg. 3Niemand mag saam met jou opklim nie. Ook mag niemand op die hele berg te sien wees nie. Selfs kleinvee of grootvee mag nie voor hierdie berg wei nie.” 4Nadat hy twee kliptafels soos die eerstes uitgekap het, het Moses vroeg die oggend opgestaan en teen die berg Sinai uitgeklim, net soos die Here hom beveel het. Hy het die twee kliptafels met hom saamgeneem.5Die Here het in die wolk neergedaal en daar by hom plek ingeneem en die Naam “die Here” uitgeroep.6Die Here het reg voor hom verbygegaan en uitgeroep: “Die Here, die Here, ‘n barmhartige en genadige God, geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid, 7wat troue liefde vir duisende bly handhaaf, wat skuld, oortreding en sonde vergewe, maar wat beslis niks ongestraf laat nie, wat vir die sondeskuld van ouers, kinders en kleinkinders laat boet, ook die derde en vierde geslag.” … 27Die Here het toe vir Moses gesê: “Skryf jy hierdie woorde neer, want in ooreenstemming met hierdie woorde het Ek met jou en met Israel ‘n verbond gesluit.” 28Hy was daar by die Here veertig dae en veertig nagte lank. Brood het hy nie geëet nie en water het hy nie gedrink nie. Hy het op die kliptafels die woorde van die verbond, die Tien Gebooie, geskryf. 29Toe Moses van die berg Sinai afkom – die twee kliptafels met die Getuienis was in Moses se hand toe hy van die berg afkom – het Moses nie geweet dat die vel van sy gesig stralend was omdat hy met God gepraat het nie. 30Toe Aäron en al die Israeliete Moses sien, was die vel van sy gesig stralend! Hulle was toe te bang om naby hom te kom. 31Maar Moses het na hulle geroep, en Aäron en al die leiers in die volksvergadering het teruggedraai na hom, en toe het Moses met hulle gepraat. 32Daarna het al die Israeliete ook nadergekom, en hy het hulle alles beveel wat die Here vir hom op die berg Sinai gesê het. 33Toe Moses klaar met hulle gepraat het, het hy ‘n sluier oor sy gesig getrek. 34Maar wanneer Moses in die Here se teenwoordigheid kom om met hom te praat, verwyder hy die sluier totdat hy weer uitkom. As hy dan uitkom en vir die Israeliete sê watter opdragte hy ontvang het, 35en die Israeliete Moses se gesig sien, dat die vel van sy gesig stralend is, trek hy weer die sluier oor sy gesig totdat hy ingaan om met die Here te praat.

Die Here voldoen hier aan Moses se versoek om sy heerlikheid van agter af ten toon te stel. Daarmee saam maak God ‘n verklaring oor Homself wat die onpeilbare diepte van sy wese na vore bring. God se barmhartigheid is al een keer genoem in die verbondsboek (Eks 22:27), maar hier word dit beslissend uitgebrei as ‘n beskrywing van sy wese saam met die ander aspekte wat hier genoem word. Dieselfde geld God se genade. Dit is al een keer genoem in die gesprek wat Josef met sy broer Benjamin gehad het (Gen 43:29). Die goue blom op Aäron se kop sou hierna ook God se genade en guns teenoor die volk uitbeeld (Eks 28:38). Maar, hier word genade nog helderder uitgespel as deel van God se manier van werk met sy mense, iets waarop Moses homself alreeds in sy vorige intrede vir die volk se afvalligheid beroep het (Eks 33:12-17). God se troue liefde en getrouheid (dit kan ook met “waarheid” vertaal word) was ook wel op verskillende maniere al in die verlede ten toon gestel (Gen 24:27; 33:5; 39:21; ook in die tweede gebod van die Tien Gebooie – Eks 20:6). Maar, hier word dit ook aan sy geduld (stadig om kwaad te word) gekoppel, iets wat nog nie voorheen van God gesê is nie. Dit word ook nog meer diepte gegee deur geduld aan God se barmhartigheid en genade te koppel. Vir die wat aan God gehoorsaam bly of word, is hierdie barmhartige en genadige beskrywing van God wonderlike goeie nuus. Hulle kan reken daarop dat die seën van God se genade deur “duisende” geslagte heen ervaar kan word. Dit is onomwonde sy belofte aan gelowiges en vorm die inhoud van die verbond wat God met sy volk hier sluit.

Maar, belangrik, die basiese struktuur van die tweede gebod word steeds gehandhaaf deurdat dit nie net die barmhartigheid, genade, geduld, troue liefde en getrouheid van die Here is wat geskets word nie. Die volle impak van hierdie veelkantige fasette van sy wese word nie net gesien in die vergifnis van ongeregtigheid, oortreding en sonde nie, maar ook in die feit dat Hy niks ongestraf laat bly nie. Dit is net so ‘n fundamentele beskrywing van God reg deur die Bybel (Num 14; Neh 9). Hierdie belydenis oor God het dus ‘n impak op die geslagte, positief en negatief. Vir die gehoorsames het dit ‘n voortdurende positiewe seënende impak op die nageslag in hulle geslagte. Die omgekeerde geld vir die ongehoorsames. Terloops, die negatiewe gevolge beteken natuurlik nie dat die kinders en kleinkinders boet vir hulle vaders en voorvaders se sonde nie, soos sommige verkeerdelik aflei uit hierdie belydenis. Die nageslag van die Israeliete het dit bv reggekry om ná veertig jaar met die Intog die barmhartigheid van die Here te ervaar, selfs al het hulle ouers die oordeel van die Here ervaar, omdat hulle op die Here vertrou het en in gehoorsaamheid gehandel het (vgl ook Esegiël 18). Waar die geslagte dus die sondes van hulle vaders bely en kies om die Here te dien, kom wat wil, sal verandering en seën intree.

Moses se gesig het in die teenwoordigheid van die Here begin blink van die heerlikheid van die Here waaraan hy blootgestel is. Dit het selfs gebeur ná hy van die berg af gekom het en in die tent van ontmoeting (later die tabernakel) met God gepraat het. Dit wys net hoe God se heerlikheid ‘n mens verander, soos Paulus ook later skryf in 2 Korintiërs 3, iets waaraan elke kind van God in die nuwe bedeling deel het, en waarop ons later in hierdie week fokus.

Lees meer: https://bybelskool.com/eksodus-34-ek-is-barmhartig-en-genadig-maar-ek-laat-niks-ongestraf-nie/

1 Korintiërs 15:35-50 – God sal ons opwek as onsterflike, heerlike en kragtige hemelse mense

20 Februarie

1 Korintiërs 15:35-50 – God sal ons opwek as onsterflike, heerlike en kragtige hemelse mense

35Iemand sal egter kan vra: “Hoe word die dooies opgewek, en met watter soort liggaam verskyn hulle?” 36Hoe dwaas! Wat jy saai, kom nie tot lewe nie, tensy dit eers sterf. 37En wat jy saai, saai jy nie in die vorm wat dit sal aanneem nie, maar as ‘n blote saadkorrel, of dit nou ‘n koringkorrel is, of een van die ander sade. 38Maar God sal, soos Hy beplan het, aan elkeen van die sade ‘n eie vorm gee. 39Nie alle lewende wesens is eenders nie. Daar is een fisiese vorm vir mense, ‘n ander vir diere, ‘n ander vir voëls, en nog ‘n ander vir visse. 40Daar is ook hemelliggame en aardse liggame, maar die glans van die hemelliggame is anders as dié van die aardse liggame. 41Die glans van die son is anders as die glans van die maan, en anders as die glans van die sterre. Een ster verskil immers van ‘n ander in glans. 42So sal dit ook wees met die opstanding van die dooies: Wat gesaai word in verganklikheid, word opgewek in onsterflikheid; 43wat gesaai word in oneer, word opgewek in heerlikheid; wat gesaai word in swakheid, word opgewek in krag. 44Wat gesaai word, is ‘n natuurlike menslike liggaam; wat opgewek word, is ‘n geestelike liggaam. As daar ‘n natuurlike menslike liggaam is, is daar ook ‘n geestelike liggaam. 45So staan daar immers geskryf: “Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende wese geword.” Die laaste Adam het egter ‘n lewendmakende Gees geword. 46Die geestelike liggaam is egter nie eerste nie, maar wel die natuurlike menslike liggaam; daarna kom die geestelike. 47Die eerste mens was uit die aarde, en stoflik; die tweede ‘n mens uit die hemel. 48Soos die aardse mens, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens, so ook die hemelse mense. 49Soos ons die beeld van die stoflike mens gedra het, so sal ons die beeld van die hemelse mens dra. 50Dit is wat ek bedoel, broers: dat mense van vlees en bloed nie die koninkryk van God kan beërf nie, en die verganklike beërf nie die onverganklike nie.

Ons moet onthou dat die Grieke nie in die opstanding van die liggaam geglo het nie, selfs al het hulle die idee gekoester dat die siel van die mens onsterflik is en na die dood sou kon voortbestaan. Daarom dat Paulus soveel klem lê op die voortbestaan van gelowiges in ’n liggaamlike staat, nie net ’n geestelike nie-liggaamlike staat nie. Let op hoe hy in vers 36-41 sy siening begrond deur 3 voorbeelde uit die natuur te gebruik, voordat hy in vers 42-43 sy gevolgtrekkings van die onsterflikheid, heerlikheid en krag van ons nuwe liggame maak en in vers 44-49 verder op die kontras tussen die aardse en die hemelse mens uitbrei. Hiermee bemoedig die Here self ons om al hierdie beloftes as ‘n lewende hoop te aanvaar. Hy is die Een wat “promises in performances” sal omskep (Herbert Lockyer, All the Promises of the Bible).

Paulus gebruik eerstens die voorbeeld van die saad wat in die grond val en sterf om in ’n ander gestalte, die koringplant, voort te leef (vers 36-38). Daarmee wys hy die onderskeid tussen die verganklike en die onverganklike liggaam aan sowel as die wesenlike kontinuïteit al is dit in ’n ander gestalte (vers 42). Tweedens skryf hy oor die verskil tussen die fisiese vorm (vlees) van mense, diere, voëls en visse (vers 39). Daarmee probeer hy die beperktheid van die aardse liggaam teenoor die heerlikheid van die hemelse liggaam aandui sowel as die herkenbaarheid van die onderskeie soorte wat ná die opstanding nog sodanig sal wees (vers 43a). In die derde plek beskryf hy die verskil tussen dowwer en helderder hemelliggame soos die maan en sterre versus die son, en selfs sterre onderling (vers 40-41). Daarmee probeer hy die swakker karakter van die aardse liggaam teenoor die krag van die hemelse liggaam uitdruk sowel as die herkenbaarheid van die onderskeie soorte wat ná die opstanding nog sodanig sal wees (vers 43b).

In sy uitbreiding in vers 44-49 kontrasteer hy die natuurlike karakter van ons liggame hier met die geestelike karakter van ons liggame na die opstanding. Dit is soos die verskil tussen die eerste mens, Adam … en die laaste Adam, die lewendmakende Gees, die hemelse mens, dit is Christus (vgl Rom 5-6). Die een se liggaam is uit die aarde, en is stoflik; die tweede se liggaam is uit die hemel, en is hemels. Die dooies sal dus as onverganklikes opgewek word, net soos dié wat dan nog lewe, in ’n oomblik ook met onverganklikheid beklee sal word. Dan is dit die einde van die dood, en daarmee die einde van die sonde, want die oorwinning van God oor die dood en die sonde sal dan vir ewig en onverganklik wees. Daarom kan ons saam met Paulus oorvloedig in die werk van die Here wees, omdat hierdie opstanding, hierdie onverganklikheid, ons belofte, ons hoop is.

Lees meer (my preek vanoggend by NGK Somerstrand): https://wp.me/p3yY2R-3in

1 Tessalonisense 5:12-24 – Hy wat julle roep, sal julle in elke opsig heilig maak

19 Februarie

1 Tessalonisense 5:12-24 – Hy wat julle roep, sal julle in elke opsig heilig maak

12Maar ons vra julle, broers, om respek te betoon aan diegene wat ywerig onder julle werk, en julle in die Naam van die Here voorgaan en teregwys, 13en om, op grond van hulle werk, in liefde en met die hoogste agting teenoor hulle op te tree. Leef in vrede met mekaar. 14En ons moedig julle aan, broers, om die leeglêers aan te spreek; bemoedig die moedeloses; ondersteun die swakkes; wees geduldig teenoor almal. 15Sorg dat niemand kwaad met kwaad vergeld nie, maar streef altyd na wat goed is vir mekaar en vir alle mense. 16Wees altyd bly; 17bid sonder ophou; 18wees in alle omstandighede dankbaar; want dit is God se wil vir julle in Christus Jesus. 19Moenie die Gees blus nie; 20moenie profesieë geringskat nie, 21maar ondersoek alle dinge; behou die goeie; 22vermy elke vorm van boosheid. 23En mag God self, die God van vrede, julle in elke opsig heilig maak; en mag julle volledig na gees, siel en liggaam, vlekkeloos bewaar word, tot ons Here Jesus Christus kom. 24Hy wat julle roep, is getrou en sal dit doen.

Paulus sluit sy eerste brief aan die Tessalonisense af met ‘n paar belangrike opdragte wat vir die gesondheid van die gemeenskap van die gelowiges lewensbelangrik was. Hy roep hulle op tot respek, liefde en agting veral vir dié wat in Naam van die Here voorgaan en verantwoordelik is vir die onderlinge vermaning. Hy roep hulle op om in vrede met mekaar te lewe en mekaar op talle wyses aan te spreek, te bemoedig, te ondersteun terwyl hulle geduldig bly met mekaar en sorg dat daar geen gees van vergelding onder hulle posvat nie (vgl Jesus in Matt 5:39-40; vgl Paulus in Rom 12:19).

God se wil vir hulle is daarom om met blydskap en gebed in alle omstandighede dankbaar en heilig te lewe. Dit sluit veral die huwelik in in ‘n omgewing waar daar ‘n gees van losbandigheid oorheers het. In die vorige hoofstuk het Paulus oor die huwelik die volgende gesê: “Want dit is God se wil dat julle heilig moet leef: dat julle julle sal weerhou van onsedelikheid, dat elkeen sal weet hoe om sy eie vrou op ‘n heilige en eerbare wyse te verkry, nie uit wellustige begeerte soos die heidene wat God nie ken nie, en dat hy nie sal oortree, en sy broer in dié saak bedrieg nie. Want, soos ons tevore vir julle gesê en nadruklik bevestig het: die Here vergeld al hierdie dinge.” (1 Tess 4:3-6; dit kom ooreen met die verbod op afgodery en immoraliteit by die eerste “sinode” in Jerusalem – Hand 15:20). Die Heilige Gees is dus besig om hulle op die pad van heiligmaking te begelei, en daarom moet hulle met onderskeiding al hoe meer dié dinge wat van Hom af kom, bevorder, en elke vorm van boosheid vermy.

Maar, Paulus weet dat dit net moontlik sal wees as God self in hulle werk om hulle in elke opsig heilig te maak. Daarom vra hy dit van die Here self, die God van vrede, die Een wat die regte pad aanwys om juis só vrede te bring, om hulle nie net heilig te maak nie, maar hulle volledig, na gees, siel en liggaam, vlekkeloos te bewaar vir die wederkoms van ons Here Jesus Christus. Gees en siel verwys hier na twee aspekte van ons innerlike lewe wat ‘n eenheid vorm. Daarom kan dit soms uitruilbaar gebruik word (vgl Gen 2:7; 1 Pet 3:4; Matt 20:28 met Matt 27:50; Hebr 12:23 met Openb 6:9). Let op die woorde volledig – dws in hulle hele menswees: innerlik en uiterlik – en vlekkeloos – dws onberispelik (2 Pet 3:14; Jud 24), sonder enige aanklag van watter aard ook al (1 Kor 1:8). Hy bemoedig die gemeente met die belofte dat God inderdaad presies dit sal doen. Hy is die Heiligmaker. Hy is die Bewaarder. Hy is die Getroue. Hy  het hulle geroep tot heiligheid. Hy sal dit ook laat gebeur. Daarop kan hulle staatmaak.

Lees meer: https://bybelskool.com/1-tessalonisense-5-onverwags-maar-nie-onverwag-nie/

Romeine 8:31-39 – God se liefde vir jou staan onwrikbaar vas

18 Februarie

Romeine 8:31-39 – God se liefde vir jou staan onwrikbaar vas

31Wat sal ons dan hiervan sê? As God vir ons is, wie kan teen ons wees? 32Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal oorgelewer het – hoe sal Hy nie ook saam met Hom alles aan ons skenk nie? 33Wie sal die uitverkorenes van God aankla? God is die Een wat vryspreek! 34Wie sal ons veroordeel? Dit is Christus Jesus wat gesterf het; meer nog – wat opgewek is, wat ook aan die regterhand van God sit en wat ook vir ons intree. 35Wat sal ons van die liefde van Christus skei? Swaarkry of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36Soos daar geskryf staan: “Ter wille van U word ons die hele tyd aan die dood uitgelewer, word ons as slagskape beskou.” 37Maar in dit alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het. 38Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, 39nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.

In die vorige gedeelte van Romeine 8 het ons geleer dat God weet dat ons uitgelewer voel aan die nietigheid en verganklikheid van hierdie wêreld. Dat Hy weet dat ons magteloos voel en buite beheer. Dat die Gees boonop ons versugtinge opneem in sy eie gebede tot die Vader om alles ten goede te laat meewerk. En dit gee alreeds vir ons ‘n stewige basis om te volhard, want: “As God vir ons is, wie kan teen ons wees?” Dit is Paulus se gevolgtrekking van dit alles. Maar, daar is meer. Paulus lê hierdie gevolgtrekking dat God vir ons is nog verder uit en beklemtoon nog ‘n aspek van sy betrokkenheid by ons. Dit is sy belofte dat sy liefde vir ons onwrikbaar vas staan.

Daarvoor gee Paulus vir ons twee onwrikbare historiese perspektiewe waarin ons God se liefde kan herken. In die eerste plek herinner hy ons aan Jesus se opstanding uit die dood. As Jesus in Getsemane worstel met die beker wat Hy moet drink, worstel Hy eintlik met die vraag of God enduit vir Hom ‘n Vader sal wees. Of God regtig lief is vir Hom. Of God die Vader Hom uit die dood uit sal opwek. Of Hy God daarvoor kan vertrou. Wanneer Jesus uiteindelik aan die kruis hang en die dood soos ‘n donker kombers oor Hom begin toesak soos die bloed uit sy liggaam vloei, en sy asem al hoe minder en minder word, het Hy net die belofte van God die Vader se liefde om aan vas te hou. En wat was Jesus se ervaring? Wel, op die derde dag is die steen voor die graf weggerol, het God die Vader vir Jesus in ‘n nuwe liggaam opgewek, en is Hy na veertig dae teruggeneem na sy ereposisie in die hemel, aan die regterhand van die Vader. Daarmee sê God vir jou vandag: “Wat sal jy dan hiervan sê? As Ek vir jou is, wie kan teen jou wees? Jy kan dit sien in my liefde vir my Seun. Jesus moes sterf, dit is waar. Ek het my eie Seun nie gespaar nie. Maar, dit was nie al nie. Ek het Hom ook opgewek uit die dood. Hy sit aan my regterhand. Vir altyd om vir jou in te tree. My liefde vir jou staan onwrikbaar vas.”

Maar daarmee is daar alreeds ook ‘n tweede historiese perspektief vir ons gegee. Jesus is opgewek, Jesus het opgevaar, Jesus het aan die regterhand van die Vader gaan sit. Om wat te doen? Om vir ons in te tree! Dit is nie net die historiese feit van die opstanding uit die graf wat ons van God se liefde oortuig nie. Dit is nie net die feit van die leë graf en die verskynings aan talle ooggetuies nie. Dit is veral die historiese feit dat Hy lewe, en dat Hy vir ons intree wat ons van God se liefde oortuig. Want, as Jesus se dood vir ons soveel beteken, hoeveel te meer sal sy lewe nie vir ons beteken nie! Dit is waarom Paulus kan skryf: “Wat sal ons van die liefde van Christus skei? Swaarkry of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?” Daar is niks van buite met jou kan gebeur wat die liefde van Christus kan uitwis nie. Dieselfde geld vir jou bediening en jou getuienis. Die werklikheid is dat almal wat gehoorsaam wil lewe, sal vervolg word. Paulus haal uit Psalm 44:23 aan: “Ter wille van U word ons die hele tyd aan die dood uitgelewer,  word ons soos slagskape behandel.” Maar sy gevolgtrekking is: “Maar in alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het.” God se liefde vir ons staan onwrikbaar vas. God se liefde vir ons laat ons onwrikbaar vas staan! Dit laat Paulus uitroep: “Ek is daarvan oortuig dat geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige gebeure, of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping ons kan skei van God se liefde wat daar in Christus Jesus ons Here is nie.” Niks kan jou van sy liefde skei nie. Niks nie. Sy liefde vir jou staan onwrikbaar vas.

Lees meer (‘n vorige preek): https://ngkerksomerstrand.co.za/god-se-liefde-staan-onwrikbaar-vas-romeine-831-39/

Onlangse kommentaar