Genesis 15:1-18 – Abram het die Here geglo. En Hy het dit vir hom as geregtigheid toegereken
Genesis 15:1-18 – Abram het die Here geglo. En Hy het dit vir hom as geregtigheid toegereken
1Ná verloop van tyd het die woord van die Here tot Abram gekom in ‘n visioen: “Moenie bang wees nie, Abram! Ek is ‘n skild vir jou. Jou loon is baie groot.” 2Maar Abram het gesê: “Here, my Heer, wat sal U vir my gee? Kinderloos gaan ek heen. Die erfgenaam van my huis is Eliëser van Damaskus.” 3Abram het ook gesê: “Kyk, vir my het U nie ‘n nageslag gegee nie. Kyk, ‘n seun uit my huishouding gaan my erfgenaam wees.” 4Maar kyk, die woord van die Here kom toe tot Abram: “So iemand sal nie jou erfgenaam wees nie, slegs een wat uit jou liggaam voortkom, hy sal jou erfgenaam wees.” 5Toe neem Hy Abram na buite en sê: “Kyk maar op na die hemel en tel die sterre – as jy in staat is om hulle te tel!” En Hy sê vir hom: “So sal jou nageslag wees.” 6Hy het die Here geglo. En Hy het dit vir hom as geregtigheid toegereken. 7Die Here het vir hom gesê: “Ek is die Here wat jou uit Ur van die Galdeërs uitgelei het om aan jou hierdie land te gee om dit in besit te neem.” 8Hy het gevra: “Here, my Heer, waaraan sal ek weet dat ek dit in besit sal neem?” 9Toe sê die Here vir hom: “Bring vir My ‘n drie jaar oud verskalf, ‘n drie jaar oud bok, ‘n drie jaar oud skaapram, ‘n tortelduif en ‘n jong duif.” 10Abram het dit alles vir Hom gebring en middeldeur gesny. Toe plaas hy die dele teenoor mekaar. Die voëls het hy egter nie deurgesny nie. 11Roofvoëls het op die dooie diere toegesak, maar Abram het hulle verwilder. 12Toe die son besig is om onder te gaan, het ‘n diep slaap Abram oorval. Meteens oorval skrik, ‘n groot duisternis, hom. 13Die Here sê toe vir Abram: “Weet baie goed dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land wat nie aan hulle behoort nie. Hulle sal daardie mense moet dien, en dié sal hulle verdruk, vierhonderd jaar lank. 14Maar ook die nasie vir wie hulle moet dien, gaan Ek oordeel. Daarna sal hulle uittrek met ‘n menigte besittings. 15Wat jou betref, jy sal in vrede na jou voorouers gaan en op ‘n hoë ouderdom begrawe word. 16Die vierde geslag sal hierheen terugkeer. Want die Amoriete se sondeskuld het nog nie sy volle maat bereik nie.” 17Toe die son ondergegaan het, en dit skemerdonker was – kyk, toe is daar die rook van ‘n oond en die vuur van ‘n fakkel wat tussen daardie stukke deurbeweeg. 18Op daardie dag het die Here met Abram ‘n verbond gesluit: “Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier – 19die gebied van die Keniete, Kenissiete, Kadmoniete, 20Hetiete, Feresiete, Refaïete, 21Amoriete, Kanaäniete, Girgasiete en Jebusiete.”
Die wyse waarop God met Abram in gesprek tree regdeur sy lewe, val ‘n mens op weens die wederkerigheid daarvan. Dit is telkens ‘n heen-en-weer gesprek en gebeur op diverse maniere. Hierdie is die vierde ontmoeting waarvan ons lees. Hierdie keer in ‘n visioen. Telkens is dit die Here wat die inisiatief neem en die aktiewe agent is in die gesprek. Maar, dit is ook opmerklik hoe toeganklik die Here is om die kommer en behoeftes van Abram te akkommodeer, meer nog, oorvloedig daarin te voorsien, selfs meer as wat Abram homself kan indink. Met hierdie verskyning stel die Here Abram gerus met die belofte van sy beskerming – onthou hy was net tevore in ‘n oorlog gewikkel (Gen 14) – en ‘n baie groot beloning. Dit verwys waarskynlik terug na sy weiering om deur die koning van Sodom beloon te word vir sy dapper oorwinning oor Kedorlaomer en die konings by hom. God sien Abram se afhanklikheid van Hom raak en belowe dat Hy hom sal beloon.
Abram se reaksie daarop is dat hy onseker is of dié beloning regtig kinders sal insluit, al het God dit al beloof. Hy begin dink dat hy kinderloos sal sterf en dat sy slaaf sy besittings sal erf. Hy herhaal dit twee keer om die kommer in sy hart te onderstreep. Abram vra ‘n kind van die Here. Die Here ruim egter enige onsekerheid uit die weg en belowe dat hy ‘n regtige kind as erfgenaam sal hê. Trouens, die Here neem hom buitentoe en gebruik die voorbeeld van die ontelbare sterre om hom ‘n idee te gee van hoé groot God se beloning in terme van ‘n nageslag sal wees. Dit ontlok by Abram ‘n fundamentele geloofsreaksie wat die basis word vir God se verhouding met die mens, soos ons dit op verskeie plekke in die OT sowel as die NT raak lees. Die skrywer sê vir ons: “Hy het die Here geglo. En Hy het dit vir hom as geregtigheid toegereken.”
Drie opmerkings hieroor. 1) Dat Abram: “die Here geglo” het, beteken waarskynlik in die konteks dat Hy die Here se belofte van ‘n nageslag as die waarheid aanvaar het. Hy het: “amen” gesê daarop. Hy het die Here as betroubaar geag om te doen wat Hy beloof. Daarmee help Abram ons verstaan wat geloof is. Dit is om God te vertrou. Dit is om op God staat te maak. Dit is om Hom te gehoorsaam, omdat sy woorde en beloftes as waar en eg beskou word. 2) In hierdie verband beteken: “as geregtigheid toegereken” waarskynlik iets soos: “as bewys van lojaliteit toegereken” (Wenham) of as: “evidence of steadfast commitment” (NET Bible), soos dieselfde frase in Ps 106:31, die enigste ander voorkoms van dié frase in die OT, gebruik word. Abram se geloof is deur God as geregtigheid gereken. Dit kon die Here sien in Abram se gehoorsaamheid aan die rol wat die Here hom op die wêreldverhoog gegee het (Gen 14 – later ook in terme van Sodom en Gomorra in Gen 19). Abram het dié rol met passie en vasberadenheid uitgevoer. En die Here ag dit as ‘n bewys van sy lojaliteit, van sy geloof. Daarom reken God dit vir hom as geregtigheid. 3) Paulus sal veel later hierdie tipe: “geregtigheid” met die vryspraak wat God gee vir dié wat in Hom glo, in verband bring, soos ons later die week sal lees (Rom 4:3). Paulus verbind dan dié geregtigheid aan die vergifnis van sonde wat gelowiges in die regte verhouding met God bring (Rom 4:6-8, waarin Paulus Ps 32:1-2 aanhaal wat ons ook binnekort sal lees). Dit is dus ‘n geweldige belangrike geestelike beginsel wat hier vir ons neergelê word. God verklaar ons in die regte verhouding met Hom die oomblik as ons God as betroubaar ag om te doen wat Hy beloof.
Lees meer: https://bybelskool.com/genesis-15-die-here-belowe-beskerming-en-beloning-in-n-verbond-met-abram/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar