Skip to main content

Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie

6 Maart

Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie

5Moses skryf immers van die geregtigheid wat op grond van die wet verkry word: “Die mens wat hierdie dinge doen, sal hierdeur leef.” 6Maar die regverdiging deur die geloof word so verwoord: “Moenie in jou hart sê, ‘Wie sal na die hemel opgaan?’ ” – met die bedoeling om Christus af te bring – 7“of, ‘Wie sal na die onpeilbare diepte afdaal?’ ” – met die bedoeling om Christus uit die dood terug te bring nie. 8Nee, wat sê dit? “Hier by jou is die woord, in jou mond en in jou hart” – dit is die woord van geloof wat ons verkondig. 9Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word. 10Want met die hart glo ons, en word so regverdig verklaar; met die mond bely ons, en word so verlos. 11Die Skrif sê tog: “Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.” 12Dit maak inderdaad geen verskil of jy ‘n Jood of ‘n Griek is nie. Ons het almal dieselfde Here, en Hy deel sy rykdom uit aan almal wat Hom aanroep. 13Want “elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal verlos word.”

Na Paulus in Romeine 1-8 met soveel oorgawe oor die verlossing geskryf het wat vir alle mense geld, is dit heel natuurlik om te wonder oor die toekoms van die Jode. Paulus wy daarom in 3 hoofstukke uitvoerig daaroor uit. Paulus begin in hoofstuk 9 met die gedagte dat blote bloedverwantskap nie die deurslag gee in die geestelike lewe nie. Gelowiges is kinders van die belofte en nie blote vleeslike kinders wat in die gewone gang van die lewe gebore word nie. Trouens, God roep uit die Joodse volk sowel as uit ander nasies mense om sy kinders te wees. Want, God se genade kan nie deur wetsgehoorsaamheid verkry word nie. Daarvoor is mense net te sondig. God se genade kan net deur die geloof ontvang word. Dit geld die Jode sowel as die heidene.

Paulus motiveer hierdie boodskap uit die Skrif. Eerstens is dit die boodskap wat Moses vir die volk gebring het in die 15de eeu vC net voor hulle die Beloofde land ingeneem het. Die woorde van die wet en sy bepalinge wat hy in sy drie preke van die boek Deuteronomium aan hulle oorgedra het, is die woorde van geloof wat naby hulle is. God het elke detail daarvan vir hulle bekend gemaak. Trouens, sy oordrag aan hulle het die boodskap daarvan in hulle mond en in hulle hart geplaas (vgl Deut 30:12-14). Hulle kan hierdie woorde van God dus vertrou. Tweedens is dit die boodskap wat Jesaja in die 8ste eeu vC vir die volk gebring het, selfs met die dreigende ballingskap. Niemand wat God vertrou, sal ooit beskaam word nie (vgl Jes 28:16). Derdens is dit die boodskap wat Joël ook gebring het wat vir alle nasies geld. Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word, het hy reeds in die 6de eeu vC gesê (vgl Joël 2:32).

Let op hoe Paulus belydenis en geloof as twee kante van dieselfde munt skets. Dit is baie keer eers wanneer jy bely dat jou geloof tot sy reg kom. Of van die ander kant af gestel, dit is eers wanneer jy glo, dat jy die Here Jesus kan bely. Die verkiesing tot die ewige lewe vind dus plaas in Christus en in die geskiedenis. Dit wentel om vertroue in Hom. En dit is ‘n woord van geloof wat naby aan ons almal is in die vorm van die openbaring van God in Christus. Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie. Elkeen wat die Naam van die Here Jesus aanroep, sal gered word. Daarop kan ons staatmaak.

Lees meer ( ‘n vorige preek van my): https://ngkerksomerstrand.co.za/rom-108-13-die-bybel-is-n-stem-in-ons-hart-en-mond-son-24-jan-2010/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar