Lukas 4:1-13 – Deur die Heilige Gees en die Woord kan ons staande bly in versoeking
Lukas 4:1-13 – Deur die Heilige Gees en die Woord kan ons staande bly in versoeking
1Vol van die Heilige Gees, het Jesus van die Jordaan teruggekeer en is deur die Gees in die woestyn gelei, 2waar Hy veertig dae lank deur die Duiwel versoek is. Die hele tyd het Hy niks geëet nie, en aan die einde van die tyd was Hy honger. 3Die Duiwel het vir Hom gesê: “As u die Seun van God is, sê vir hierdie klip dit moet brood word.” 4Maar Jesus antwoord hom: “Daar staan geskryf, ‘Van brood alleen sal die mens nie leef nie.’ ” 5Hierop het die Duiwel Hom na ‘n hoë plek geneem, en in ‘n oogwink vir Hom al die koninkryke van die wêreld gewys, 6en die Duiwel sê vir Hom: “Ek sal u al hierdie mag gee en hulle prag, want dit is aan my gegee, en ek gee dit aan wie ek wil. 7As u my aanbid, sal dit alles u s’n wees.” 8Maar Jesus antwoord hom: “Daar staan geskryf, ‘Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.’ ” 9En die Duiwel het Hom na Jerusalem geneem, en Hom op die hoogste punt van die tempelgeboue laat staan. Toe sê hy vir Hom: “As u die Seun van God is, spring hier af! 10Daar staan immers geskryf, “ ‘Hy sal sy engele opdrag oor jou gee om jou te beskerm,’ 11en ook, “ ‘Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie dalk teen ‘n klip jou voet stamp nie.’ ” 12Maar Jesus antwoord hom: “Die Skrif sê ook, ‘Jy mag die Here jou God nie versoek nie.’ ” 13Die Duiwel het, nadat hy met al hierdie versoekings klaar was, vir ‘n tyd lank van Jesus weggebly.
Dit tref ‘n mens dat alles wat goed is, begin met die werk van die Heilige Gees in jou lewe. Dit was ook so met Jesus. “Vol van die Heilige Gees” het Jesus van die Jordaan af gekom, om sy bediening te begin. Voordat Jesus egter sy eerste preek kan lewer, of genesing kon doen, word Hy getoets soos dit die geval was met bykans alle diensknegte van die Here – Adam en Eva in die tuin van Eden, Noag vóór die sondvloed, Abraham en die ander aartsvaders in Kanaän, Josef in Egipte, Moses en Aäron in Egipte en die woestyn, die volk Israel met die Intog in die beloofde land, ensomeer. Standvastigheid in versoeking verseker volharding in roeping. Jesus word dus die woestyn ingelei om daar nie maar sommer net só ’n klein toetsie te ondergaan nie, maar deur die duiwel (diabolos) self versoek te word in ‘n situasie van onherbergsaamheid en fisiese uitdagings. Dit wil ook lyk asof Jesus self besluit om te vas – soos Matteus inderdaad dit vertel – hoewel daar in die woestyn ook nie veel voorsiening van kos, water en skuiling was nie. Let ook op dat die duiwel Hom veertig dae aaneen versoek het. Dit was ‘n uitmergelende tyd waarin daar talle uitdagings was, nie net die drie wat vir ons hier beskryf is nie.
Die drie versoekings waarvan Lukas ons vertel, is versoekings wat aansluit by Jesus se begeertes. Al Jesus se antwoorde kom uit die wet uit, uit die boek van Deuteronomium. Die eerste versoeking sluit aan by Jesus se honger. Hy het veertig dae nie geëet nie. Die vraag is of Hy sy mag gaan misbruik ter wille van sy eie behoeftes. Jesus antwoord die versoeking om brood van klippe te maak met die aanhaling uit Deuteronomium 8:3 dat die fokus op God se woorde belangriker is as die fokus op wonderbrood. Daarmee verklaar Hy dat sy fisiese begeertes ondergeskik is aan God se opdragte in sy Woord. Die tweede versoeking sluit aan by Jesus se roeping. Hy wil God gehoorsaam om God se koninkryk te vestig. Dit is sy roeping. Die vraag is of Hy ‘n kortpad daarheen sal neem deur die duiwel te aanbid in plaas daarvan om hom teë te staan. Jesus antwoord die versoeking om die duiwel te aanbid as kortpad na die koninkryk met die aanhaling uit Deuteronomium 6:13 dat ‘n mens God alleen mag aanbid en dien. Daarmee skaar Hy Hom volledig aan God se kant en verklaar Hy Homself bereid om God se pad met Hom te stap, al kos dit ook wat. Die derde versoeking sluit aan by die Skrif se gesag in Jesus se lewe. Hy word op die boonste deel van die tempel geplaas en herinner aan ‘n Skrifwoord, maar uit konteks uit. Die vraag is of Hy God se beloftes uit konteks gaan misbruik ter wille van eie voordeel of vertoon deur die effek wat dit op ander sou kon hê. Jesus antwoord die versoeking om God se beloftes in die Skrif te misbruik ter wille van voordeel of vertoon met ‘n aanhaling uit Deuteronomium 6:16 dat Hy God se naam alleen hoog wil hou. Hy gaan God nie uittart of versoek nie. Hy gaan nie die Skrif ontkrag deur dit buite konteks te gebruik nie. Want Hy weet hierdie pad is God se pad vir Hom. Uit Jesus se hantering van die Skrif sien ’n mens dat die fout nie lê in die ding wat jy van God vra nie, maar in die motivering daarvoor of die wyse waarop jy dit doen. Die duiwel haal ook uit die Skrif aan, maar met die verkeerde motivering en toepassing. Jesus se aanhalings is telkens binne konteks en met God se eer voorop. So sal Jakobus, Jesus se broer, dit ook later uitlê as ‘n riglyn vir ons eie gebede. Ons moet reg bid en waak daarteen om nie net te bid ter wille van ons eie selfsugtige begeertes nie (Jak 4:1-10). Ons kan nie God se beloftes uit konteks uit misbruik vir eie gewin nie, anders as wat die duiwel Jesus met Psalm 91 probeer versoek. Ons behoeftes is daarom altyd ondergeskik aan God se wil vir die lewe.
Hierdie verhaal leer ‘n mens dat die pad na effektiewe bediening wel kom uit die volheid van die Heilige Gees se vervulling, maar ook volgehou moet word deur die felheid van versoeking en die uitdaging van die boosheid wat so maklik vir die waarheid aangesien kan word. Hierdie verhaal leer ‘n mens ook dat gebed en die Woord van God die kern van ’n standvastige bediening en lewenstyl is. Die kontak met God bewaar ‘n mens van die versoekings, beide in ’n aanroep van Hom in nood, en in ’n luister na Sy Woord. ’n Mens sien hier dat die Woord reeds vir Jesus ’n huis was om in te woon – so gemaklik kon Hy die duiwel daaruit antwoord!
Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-41-13-jesus-deurstaan-die-toets/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar