Skip to main content

Tag: Beloftes

1 Johannes 1:5-10 – As ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, en daarom sal Hy ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig

24 Maart

1 Johannes 1:5-10 – As ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, en daarom sal Hy ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig

5Dit is die boodskap wat ons van Hom gehoor het, en wat ons aan julle bekend maak: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie. 6As ons sê dat ons aan Hom verbonde is, en tog in die duisternis leef, lieg ons, en leef ons nie volgens die waarheid nie; 7maar as ons in die lig leef, soos wat Hy in die lig is, is ons aan mekaar verbonde, en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.8As ons sê dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself, en is die waarheid nie in ons nie. 9As ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, en daarom sal Hy ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig. 10As ons sê dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.

Die Heidelbergse Kategismus se tweede vraag lui soos volg: “Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?” Die antwoord is drie dinge (Matt 11:28-30; Ef 5:8): Ten eerste, hoe groot my sonde en ellende is (Joh 9:41; Matt 9:12; Rom 3:10;1 Joh 1:9;10); ten tweede; hoe ek van al my sonde en ellende verlos word (Joh 17:3; Hand 4:12 10:43) en ten derde hoe ek God vir so ‘n verlossing dankbaar moet wees (Ef 5:10; Ps 50:14; Matt 5:16; 1 Pet 2:12; Rom 6:13; 2 Tim 2:15). Die teks uit 1 Johannes 1:9-10 by die eerste punt begrond eintlik ook die tweede punt en bevat ‘n wonderlike belofte van vergifnis en reiniging.

Die hart van die boodskap van die vleesgeworde Seun van God is dat God lig is en dat daar in Hom geen duisternis is nie. Dit is tegelyk die inhoud van die boodskap aan die geloofsgemeenskap asook die maatstaf wat aangelê kan word om die valse profete se boodskap te beoordeel. Jy kan nie met God in gemeenskap leef en die duisternis lief hê nie, sê Johannes, anders bedrieg jy net jouself en ander. Maar, waar in verbondenheid met God en die geloofsgemeenskap geleef word, vergewe Jesus nie net van alle sonde nie, maar reinig Hy ons van alle kwaad (ongeregtigheid).

Daarmee verbind Johannes heiligheid direk aan God se genade wat binne die geloofsgemeenskap werk. Reinheid is nie iets wat ’n mens net êrens op jou eie beleef nie, maar iets wat binne die geloofsgemeenskap gestalte kry. Dit beteken dat ’n mens déél van die geloofsgemeenskap moet bly; dat jy nie jouself moet mislei deur aan ander te verkondig dat jy sondeloos is nie en eerder eerlik jou sondes erken sodat die reinigende werk van die Here Jesus binne die geloofsgemeenskap ons van alle kwaad kan suiwer.  Dit is die belofte van die Here: “Hy is getrou en regverdig” en sal “ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig”. Waar ons egter ons sonde ontken, mislei ons onsself en maak ons God self tot leuenaar en is sy Woord nie meer aktief aan die werk in ons nie.

Lees meer: https://bybelskool.com/1-johannes-1-die-vleesgeworde-seun-van-god-reinig-ons-van-elke-sonde/

Matteus 10:16-31 – Jesus belowe begeleiding en beskerming in vervolging

23 Maart

Matteus 10:16-31 – Jesus belowe begeleiding en beskerming in vervolging

16“Kyk, Ek stuur julle uit soos skape onder die wolwe. Wees dan behoedsaam soos slange en onskuldig soos duiwe. 17Maar wees op julle hoede vir die mense, want hulle sal julle oorlewer aan sanhedrins, en in hulle sinagoges sal hulle julle gesel. 18Voor prokurators en konings sal julle om my ontwil gesleep word, sodat julle voor hulle en voor die heidene kan getuig. 19En wanneer hulle julle oorlewer, moet julle julle nie bekommer oor hoe en wat julle moet sê nie, want wat julle moet sê, sal op daardie oomblik aan julle gegee word. 20Dit is immers nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat. 21“Broer sal broer oorlewer om doodgemaak te word, en ‘n vader sy kind. En kinders sal in opstand kom teen ouers en hulle doodmaak. 22En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot aan die einde, dié sal verlos word. 23Wanneer hulle julle in die een stad vervolg, vlug na ‘n ander. Amen, Ek sê vir julle: Julle sal nie al die stede van Israel kan besoek voordat die Seun van die Mens kom nie. 24“’n Leerling is nie verhewe bo die leermeester, of ‘n slaaf bo sy eienaar nie. 25Dit is voldoende vir die leerling om soos sy leermeester, en vir die slaaf om soos sy eienaar te word. As hulle die huisheer Beëlsebul genoem het, hoeveel te meer nie die huismense nie.” 26“Moet hulle daarom nie vrees nie; daar is immers niks bedek wat nie openbaar sal word nie, en niks verborge wat nie bekend sal word nie. 27Wat Ek vir julle in die donker sê, sê dit in die lig; en wat julle in die oor hoor, verkondig dit van die dakstoepe af. 28En moenie diegene vrees wat die liggaam kan doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Vrees eerder Hom wat beide die siel en die liggaam in Gehenna kan laat vergaan. 29“Word twee mossies nie vir ‘n assarius verkoop nie? En nie een van hulle sal op die grond val sonder julle Vader nie. 30En julle – selfs die hare op julle kop is almal getel. 31Moet dan nie bang wees nie – julle is meer werd as baie mossies.”

Die tweede deel van die Heidelbergse Kategismus se antwoord op die vraag na jou enigste troos in lewe en sterwe is: “Hy bewaar (Joh 6:39; 10:28; 2 Tess 3:3; 1 Pet 1:5) my op so ‘n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie (Matt 10:30; Luk 21:18.). Alles moet inderdaad tot my saligheid dien (Rom 8:28). Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe (2 Kor 1:22; 5:5; Ef 1:14; Rom 8:16) en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe (Rom 8:14;1 Joh 3:3).” Wat my tref van hierdie antwoord is die twee beloftes van beskerming en begeleiding, soos dit onder andere ook in Matteus 10:16-31 uitgespel word. Jesus gee hierdie beloftes omdat Hy baie bewus is van die feit dat Hy sy dissipels in ‘n baie ongelyke situasie instuur in die wêreld. Hulle sal soos skape onder die wolwe wees, uitgelewer aan die wreedheid van menslike roofdiere. Hy waarsku hulle dus aan die een kant om nie “skaapagtig” (naïef) te wees nie. Hulle moet behoedsaam (versigtig, onderskeidend) soos die slange (vgl Gen 3:1; 2 Kor 11:3), en tegelykertyd ook onskuldig (opreg, rein, eerlik, transparant, suiwer – vgl Rom 16:19) soos die duiwe wees, terwyl hulle getrou bly aan die waarheid, sonder om kompromie te tref. Dit sal vervolging insluit, want hulle getuienis moet ook aan heersers en konings gebring word, en dit is baie keer die enigste manier wat ‘n mens by hulle kan uitkom. Vervolging is dus baie keer soos ‘n deur wat juis vir verkondiging oopgemaak word.

Daarom gee Jesus dan aan die ander kant vir hulle die belofte van begeleiding deur die Heilige Gees. Trouens, die begeleiding van die Gees van hulle Vader – dieselfde Gees wat in Jesus aan die werk is – sal hulle selfs leer wat hulle moet sê IN die oomblik waarin daar van hulle getuienis gevra word. Jesus voeg hierby die belofte van beskerming. Maar, dit is nie ‘n beskerming van die dood nie, maar ‘n beskerming in die dood. Daarom waarsku Hy hulle om nie dié te vrees wat die liggaam kan doodmaak nie, maar die siel nie kan vernietig nie. Wie hulle eerder moet vrees is dié Een wat die mag het om die siel sowel as die liggaam in die hel (Gehenna) te vernietig, in die “poel van vuur” (Openb 20:10, 14-15; 21:8). Die dissipels moet dus vir niemand bang wees nie, want Jesus belowe dat God vir hulle sal sorg. Jesus gebruik die vergelyking met die prys van twee mossies. Hulle was maar een assarion werd, die loon vir ‘n halfuur se werk in daardie tyd. Die dissipels is egter baie meer werd as die mossies waarvoor God sorg. Nie een van hulle is vergete voor God nie. Jesus verseker hulle daarom dat selfs die hare van hulle hoof is almal getel. Só betrokke is God by die fyn detail van hulle lewe. Hulle hoef dus niks te vrees nie. Hulle is meer werd as baie mossies.

Nik Ripken praat na aanleiding van hierdie teks van die “insanity of obedience” wat Jesus van ons vra. Want dit is eintlik dwaas om skape tussen wolwe in te stuur. Hulle het geen natuurlike verdediging nie. Maar, dit is juis hierdie dwaasheid wat sin maak, gaan hy voort, omdat hierdie skape Jesus as die Goeie Herder en die Gees as die Trooster en Helper het. Want, die skape gaan nie alleen nie. God self begelei hulle. En dit dien tot ‘n getuienis aan mense wat andersins onbereikbaar is vir die evangelie. Almal moet immers hoor vóór die groot en deurlugtige dag kom waarin God die koningskap aan die Here Jesus gee en dit te laat gaan wees vir bekering en bevryding. Ons getuienistaak is immers die kern van ons roeping as dissipels. Trouens, jy kan dit nie ontwyk nie, want anders is jy dislojaal aan die Een wat jou roep. Daar is net Een aan wie ons lojaliteit verskuldig is, en dit is die Here en sy boodskap. Aan Hom moet ons getrou bevind word, selfs al beteken dit ons verloor ons lewe. Maar, net so belangrik as wat dit is om opnuut jou getuienistaak as roeping te aanvaar – kom wat wil – is die belofte van God se sorg, begeleiding en beskerming wanneer jy jou hart en siel daarin werp. Hy sal in die kleinste detail vir jou sorg op daardie pad.

Lees meer: https://bybelskool.com/matteus-10-jesus-motiveer-en-rus-die-twaalf-dissipels-toe-om-sy-bediening-voort-te-sit/

Romeine 14:1-12 – Of ons dan lewe of sterwe, ons behoort aan die Here

22 Maart

Romeine 14:1-12 – Of ons dan lewe of sterwe, ons behoort aan die Here

1Aanvaar die een wat swak in die geloof is, sonder om oor verskille te argumenteer. 2Die een glo dat ‘n mens alles mag eet, maar die ander een wat swak in die geloof is, eet net groente. 3Die een wat eet, moenie neersien op die een wat nie eet nie; en die een wat nie eet nie, moet die een wat wel eet, nie veroordeel nie – want God het hom aanvaar. 4Wie is jy om oor iemand anders se huisbediende te oordeel? Of hy staan of val, is iets wat net sy eienaar aangaan. Hy sal egter bly staan, want die Here is in staat om hom staande te hou. 5Die een beskou een dag belangriker as die ander; vir ‘n ander weer is alle dae eenders. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle van sy standpunt oortuig wees. 6Die een wat ‘n bepaalde dag uitsonder, sonder dit vir die Here uit. En die een wat eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God daarvoor; ook die een wat nie eet nie, doen dit tot eer van die Here, en hy dank God daarvoor. 7Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. 8As ons leef, leef ons immers vir die Here; en as ons sterf, sterf ons vir die Here. Of ons dan lewe of sterwe, ons behoort aan die Here. 9Dit is tog waarvoor Christus gesterf het en weer lewend geword het – om Heer te wees oor dooies en lewendes. 10Jy, waarom veroordeel jy jou broer? Of jy, waarom sien jy op jou broer neer? Ons gaan tog almal voor God se regterstoel verskyn. 11Want daar staan geskryf: “So seker as wat Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig en elke tong sal My as God bely.” 12Elkeen van ons sal dus persoonlik voor God verantwoording moet doen.

Die eerste deel van die Heidelbergse Kategismus se antwoord op die vraag na jou enigste troos in lewe en sterwe is: “Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (Rom 14:8) nie aan myself (1 Kor 6:19) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort (1 Kor 3:22; Tit 2:14). Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal (1 Pet 1:18, 19;1 Joh 1:7; 2:2, 12) en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos (Hebr 2:14;1 Joh 3:8; Joh 8:34-36).” Die heel eerste vers waarop die skrywers Zacharius Ursinus en Casper Olivianus hulle antwoord begrond, is Paulus se belofte hier in Romeine 14:8: “As ons leef, leef ons immers vir die Here; en as ons sterf, sterf ons vir die Here. Of ons dan lewe of sterwe, ons behoort aan die Here.” Want, dit is wanneer ons hierdie belofte regtig omarm dat ons die regte ingesteldheid teenoor ander met wie ons oor allerlei verskil, kan inneem.

Paulus beskryf in hierdie hoofstuk die konflik in die gemeente van Rome tussen die “sterkes” en “swakkes” in die geloof. Let op hoe Paulus hom hier hoofsaaklik rig tot die sterkes in geloof, en uitspel dat hulle diégene wat in geloof swak is, moet aanvaar, sonder om met hulle te stry oor onbelangrike opvattings waarin hulle van die sterkes verskil. Hoekom? Want, hulle almal behoort aan die Here. Die swakkes in die geloof waaroor Paulus hier skryf, is mense wat onbelangrike sake – dieet en dae – verhef tot bepalend vir die hele geloofsgemeenskap. Dit beteken natuurlik nie dat die sterkes die swakkes se opvattings – oor wat ons mag eet of nie; watter dae ons moet vier, of nie – voor die voet moet aanvaar nie. Maar, dit beteken wel dat die sterkes die swakkes as sodanig moet aanvaar. Die sterkes in die geloof, waaronder Paulus natuurlik self tel (vgl Rom 15:1) – wat alles eet of alle dae as gelykwaardig beskou – moet daarom nie op die swakkes neersien nie, en die swakkes moet die sterkes in die geloof nie veroordeel nie. Aanvaarding is immers beter as die wen van argumente. In 1 Korintiërs 8 en verder het Paulus natuurlik oor ’n soortgelyke probleem geskryf. In Korinte het dit gegaan oor die vraag of ‘n mens vleis kan eet wat aan afgode geoffer is. Die sterkes het gesê, ja. Afgode was vir hulle van geen betekenis nie. Die swakkes het gesê, nee. Afgode was vir hulle ‘n groot versoeking. Paulus het daarom die sterkes geleer om liewer geen vleis te eet as dit swakkes (veral heidense gelowiges) sou laat struikel nie. Hier in sy skrywe aan die gelowiges in Rome gaan dit egter oor die Joodse swakkes, soos gesien kan word uit die vermelding van hulle dieet en hoe mense oor die dae van die week gedink het.

Paulus leer ons almal dus om drie goed te doen. 1) Wat ons ook al doen, moet ons tot eer van die Here doen. 2) Wat ander in terme van onbelangrike sake doen – soos om te hou aan ‘n spesifieke dieet of om sekere dae te hou of te vier – moet ons seker maak dat hulle toegelaat word om dit te doen, sonder om op swakkes neer te sien. Die swakkes moet ook nie die sterkes veroordeel nie. 3) Hoekom? Want, ons almal is aan God, en aan Hom alleen, rekenskap verskuldig. Daarom moet elkeen van ons ons eie doen en late ondersoek, want ons sal almal voor die regterstoel van God verskyn om verantwoording te doen.

Lees meer: https://bybelskool.com/romeine-14-aanvaarding-eerder-as-argumente/

Psalm 32 – Vergifnis verander jou lewe

21 Maart

Psalm 32 – Vergifnis verander jou lewe

1Van Dawid. ‘n Maskiel. Gelukkig is die een wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is. 2Gelukkig is die mens vir wie die Here sondeskuld nie toereken nie, en in wie se gees geen bedrog is nie. 3Toe ek stilgebly het, het my gebeente broos geword onder my gekreun die hele dag. 4Ja, dag en nag was u hand swaar op my; my lewenskrag het weggekwyn soos in die hitte van die somer. Sela 5My sonde het ek teenoor U erken; my sondeskuld het ek nie bedek nie. Ek het gedink, ek wil my oortredings teenoor die Here bely, en U het my sondeskuld vergewe. Sela 6Dit is waarom elke getroue volgeling tot U moet bid terwyl die geleentheid daar is. Die geluid van ‘n groot watervloed sal hom nie bereik nie. 7U bied vir my beskutting; U vrywaar my van nood; met jubelkrete van bevryding omring U my. Sela 8Ek wil jou insig gee, Ek wil jou die pad leer wat jy moet loop. Ek wil jou raad gee, my oog oor jou hou. 9Moet julle nie soos ‘n perd, soos ‘n muil sonder verstand, gedra nie: Met toom en stang moet sy krag beteuel word, anders bly hy nie by jou nie. 10‘n Goddelose het baie smarte, maar wie op die Here vertrou – troue liefde omring hom. 11Verbly julle in die Here, en juig, regverdiges; ja, jubel dit uit, almal met opregte harte.

Sondebelydenis en die impak van vergifnis op ’n mens se lewe oorheers die Psalm. Dawid skets op diepsinnige manier dat sondebelydenis en vergifnis ’n mens regtig gelukkig maak. Vergifnis maak die boek van jou lewe skoon van alles wat skadelik en skandelik is. Dit maak dat jy regtig kan lewe! Dit sluit die vergifnis van oortredings in – dinge waarmee jy ander aanstoot gegee of ‘n onreg mee aangedoen het (vgl Gen 50:17 in die Josef-verhaal) – sowel as van sondes – dinge waarmee jy God se wil en wet oortree het (Eks 32:30-34). Sondebelydenis wis jou sondeskuld uit. God reken jou die skuld nie meer toe nie. Dit maak ‘n mens regtig gelukkig (vgl Paulus hieroor in Romeine 4:7-8 waar hy uit Psalm 32 aanhaal). Ten minste terwyl die geleentheid daar is!

Dit is ook waarom die wegsteek of ontkenning van oortredings, sondes en sondeskuld so destruktief is. Dit voel later of selfs jou gebeente aan die wegkwyn is van die spanning wat dit in jou laat opbou. Trouens, dit laat jou oud voor jou tyd voel, want die woord “broos word” kan ook “oud word” beteken! Sondebelydenis daarenteen maak jou vry en bring jou binneste tot bedaring. Selfs al sou jy steeds moet boet vir iets wat jy verkeerd gedoen het. Want, vergifnis gee jou die vermoë om jou kop weer op te tel, vry van die sondeskuld. Vergifnis gee jou daarom die vrymoedigheid om God weer as skuilplek op te soek en te ervaar, al moet jy steeds die gevolge hanteer. Want, daar is min dinge wat jou so in selfverwyt kan laat krepeer as die tyd vir sondebelydenis en regstel verby is – bv wanneer iemand doodgaan voordat dinge tussen julle reggestel is!

Vergifnis is egter net die poort tot ’n veranderde lewe. God wil ons bedien met insig van wat die regte dinge is om te doen, soos Hy in sy Woord vir ons omvattend en genoegsaam uitspel. Dawid skryf daarom oor God wat juis ná vergifnis vir hom wil leer oor die pad wat hy moet volg, sodat God sy oog oor hom kan hou en hy nie weer afdwaal van God se pad nie. God wil nie hê dat dit nodig raak om hom te beheer soos ’n mens ’n perd of muil met ’n stang in die bek moet beheer nie. Hy wil hê dat hulle in ‘n dieper wordende verhouding met Hom moet lewe. Dié wat ja sê vir só ’n lewe, ervaar dat God hulle al hoe meer met sy liefde omvou (vers 10)! En dit is die aanleiding tot ’n lewe van lof aan God in die byeenkoms van die regverdiges.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-26-32-god-skenk-n-lewe-van-integriteit-en-vertroue/

Lukas 13:1-9 – God se beskerming wil jou tot die vrug van bekering beweeg

20 Maart

Lukas 13:1-9 – God se beskerming wil jou tot bekering beweeg

1Juis in daardie tyd was daar mense teenwoordig wat Hom vertel het van die Galileërs wie se bloed Pilatus met dié van hulle offerdiere gemeng het. 2Hy het hulle geantwoord en gesê: “Dink julle daardie Galileërs was groter sondaars as al die ander Galileërs omdat hulle hierdie dinge gely het? 3Beslis nie, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom! 4Of daardie agttien wat dood is toe die toring van Siloam op hulle geval het, dink julle dat hulle skuldiger was as al die inwoners van Jerusalem? 5Beslis nie, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.” 6Hy het toe die volgende gelykenis vertel: “Iemand het ‘n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was. Hy het vrugte daaraan gaan soek en niks gevind nie. 7Toe het hy vir die tuinier gesê, ‘Kyk, dis al drie jaar wat ek vrugte aan hierdie vyeboom kom soek en niks kry nie. Kap dit uit. Waarom moet dit die grond langer uitput?’ 8Maar hy antwoord en sê vir hom, ‘Meneer, laat dit nog hierdie jaar bly staan, totdat ek rondom gespit en mis gegee het. 9En as dit dan volgende jaar vrugte dra, goed. Maar as dit nie gebeur nie, kan u dit uitkap.’ ”

Lukas vertel vir ons hier Jesus se reaksie op die ontstellende verhaal van die politieke geweld van Pilatus wat Galilese pelgrims doodgemaak het terwyl hulle die offerdiere vir die Pase geslag het. Sommige van die mense in die skare het Jesus daarvan vertel om sy reaksie te hoor. Jesus erken wel die gewelddadigheid daarvan, maar koppel dan ‘n ewige waarheid aan die geweld van hierdie eeu. Hy sê enersyds dat die feit daarvan nie op enige skuld aan die gestorwenes se kant dui nie, maar andersyds ’n boodskap is dat só iets ook met jou kan gebeur. Dat só iets moontlik is in hierdie gewelddadige wêreld, moet jou oortuig om tot bekering te kom voor só iets ook met jou gebeur. Hy brei sy antwoord uit met ’n geval van ’n onvoorsiene ramp van die toring in Siloam wat onverwags in mekaar gestort het en agtien mense gedood het – in die omgangstaal bekend as “an act of God”. Dieselfde geld sulke mense. Hulle is nie meer skuldig as die ander mense van Jerusalem nie. Só iets kan met enigiemand gebeur, ook met hulle. So, bekeer jou voor só iets met jou gebeur. Let op hoe Jesus hier die onvoorspelbaarheid van die dood gebruik om mense tot bekering te roep. Heel anders as die valse profete van vandag wat net werk met die liefde van God sonder om ooit enigiemand tot bekering te roep nie. Die dood bring nie net ‘n einde aan jou lewe nie, maar ook aan die tyd wat jou gegun word om jou saak met God reg te maak.

Jesus sit die gesprek voort oor die noodsaak van bekering. Hy gebruik ‘n gelykenis wat net in Lukas voorkom, die gelykenis van die onvrugbare vyeboom. Die gelykenis toon egter duidelike ooreenkomste met die ware verhaal van Jesus wat ‘n onvrugbare vyeboom vervloek, ‘n beeld van die onbekeerlike Jode (Matt 21:18-19; Mrk 11:12-14). Jesus is dus besig om met die gelykenis na die Jode te verwys (vgl Jes 5:1-7 waar Israel met ‘n wingerd vergelyk word). Die vyeboom was in ‘n man se wingerd geplant en hy het gekom om vrug te soek, maar niks gekry nie. Die man het gekla by die tuinier dat hy al drie jaar lank kom en vrug soek aan die vyeboom, maar verniet. Trouens, vyebome het eers na drie jaar begin vrug dra, só die man verwys waarskynlik net na die drie jaar wat hy al gekom het om vrug te soek. Die boom was waarskynlik al ses jaar geplant. Die punt is die boom het genoeg tyd gehad, maar sonder enige vrug. Die man het daarom besluit om die boom nou uit te kap, want hy put eenvoudig die grond uit. Die tuinier het egter geskerm vir die vyeboom en aangebied om ekstra moeite te doen in die volgende jaar, om die grond om die boom om te spit, en mis as bemesting in te werk. As dit dan vrug afwerp, is dit goed so. Anders kan die man sy boom uitkap oor ‘n jaar.

Jesus onderstreep twee dinge met hierdie gelykenis. 1) Dat God die vrugte van bekering soek by sy mense. 2) Dat God geduldig is en genoeg kanse en insette gee dat mense tot inkeer kom, voordat sy oordeel in werking tree. Dit is in die loop van die eerste eeu nC geïllustreer met die ongeveer veertig jaar wat die Jode van Jerusalem ná Jesus se dood en opstanding gegun is om tot inkeer te kom, totdat die oordeel oor hulle met die verwoesting van Jerusalem in 70 nC gevel is. Dieselfde geld alle mense, ook vir ons. God soek die vrug van bekering in ons lewe. Vertroue en gehoorsaamheid. Hy gee ons genoeg tyd. En Hy maak genoeg insette in ons lewens. Moet niks in jou pad laat staan om Hom te vertrou en Hom te gehoorsaam nie. In alles.

Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-121-1335-god-sorg-vir-sy-kinders-in-gevaar/

Onlangse kommentaar