Skip to main content

Tag: Beloftes

Psalm 91:1-16 – Die Here is my skuilplek, my bergskuiling, my God op wie ek vertrou

4 Maart

Psalm 91:1-16 – Die Here is my skuilplek, my bergskuiling, my God op wie ek vertrou

1Hy wat in die beskutting van die Allerhoogste woon, sal oornag in die skaduwee van die Almagtige. 2Ek sê vir die Here: “My skuilplek, my bergskuiling, my God op wie ek vertrou!” 3Ja, Hy is die Een wat jou red uit die net van die voëlvanger, van die dodelike pessiekte. 4Met sy vlerke sal Hy jou bedek, onder sy vleuels sal jy skuiling vind. ‘n Skild en ‘n skans is sy trou. 5Jy sal nie bang wees vir die verskrikking van die nag, vir ‘n pyl wat oordag vlieg nie, 6vir ‘n pessiekte wat in die donker rondloop, vir die epidemie wat helder oordag verwoes nie. 7Daar kan duisend langs jou val, en tienduisend aan jou regterkant, naby jou sal dit nie kom nie. 8Jy sal maar net toekyk – die vergelding van goddeloses sal jy sien. 9Ja, U, Here, is my skuilplek. Die Allerhoogste het jy jou woning gemaak: 10Onheil sal jou nie oorval nie en ‘n plaag sal nie naby jou tent kom nie, 11want Hy sal sy engele oor jou opdrag gee om jou te beskerm op al jou paaie. 12Op die hande sal hulle jou dra, sodat jou voet nie teen ‘n klip stamp nie. 13Op leeus en horingslange sal jy trap, jong leeus en slange sal jy vertrap. 14“Omdat hy My liefhet, sal Ek hom bevry; Ek sal hom beskerm omdat hy my Naam ken. 15Hy sal My aanroep, en Ek sal hom antwoord. Ek sal by hom wees in nood; Ek sal hom red en aan hom eer gee. 16Met ‘n lang lewe sal Ek hom versadig; Ek sal hom my verlossing laat ervaar.”

Psalm 91 was van besondere betekenis vir Corrie ten Boom en haar familie. In hulle huis in Haarlem, Nederland, wat intussen in ’n museum verander is, lê haar pa, Casper, se Bybel oop by Psalm 91. Met hulle inhegtenisneming deur die Nazi’s tydens die Tweede Wêreldoorlog, omdat hulle Jode in hulle huis weggesteek het, het hy vers 1 en 2 uit dié Psalm vir sy familie aangehaal, en sonder vrees die beproewing van die aanhouding aanvaar. Dit lui: “1Hy wat in die beskutting van die Allerhoogste woon, sal oornag in die skaduwee van die Almagtige. 2Ek sê vir die Here: ‘My skuilplek, my bergskuiling, my God op wie ek vertrou!’” Sy weerstand teen die Nazi’s het tot op daardie stadium reeds vir ongeveer 800 Jode ’n skuiling en bevryding gebied, maar hy is egter tien dae later in aanhouding dood, ’n ander soort “bevryding”, soos Corrie dit later in terme van dié Psalm beskryf, omdat hy in God se wêreld inbeweeg het. Een van die tekste in Psalm 91 wat vir Corrie self van besondere betekenis was, was die belofte in vers 16: “Met ’n lang lewe sal Ek hom versadig; Ek sal hom my verlossing laat ervaar.” Dié vers het vir haar betekenis gekry toe sy in solitêre aanhouding opgesluit was op haar 52ste verjaarsdag in die Nazi konsentrasiekamp in Ravensbruck. Sy het daarin die belofte van die Here gehoor dat dié gevangenis nie die einde vir haar was nie, en het ná die oorlog ’n invloed regoor die wêreld gehad met optredes in meer as 60 lande waar sy veral oor vergifnis en versoening gepraat het. Sy het die rype ouderdom van 91 jaar bereik – net so oud soos die Psalm se getal. ’n Geseënde lewe!

Wat my tref, is dat die boodskap van Psalm 91 nie as’t ware ’n argument vir God se beskerming is nie. Dit is nie asof die Psalmis iemand probeer oortuig dat God vir beskerming vertrou kan word nie. God se beskerming word eenvoudig as ’n realiteit geskets waarmee gelowiges tot vertroue in God aangemoedig word. Niemand hoef daaroor te twyfel nie. God kan vertrou word. Dié vertroue kan ook vasgehou word, selfs al het ons verskillende ervarings van God se beskerming. Dit is waarmee die verskillende ervarings van Corrie en Casper ten Boom in hulle vertroue op die belofte van hierdie Psalm my help. Corrie het ‘n lang lewe gehad in haar vasgryp aan die boodskap van die Psalm. Casper het ‘n korter lewe gehad, maar steeds ook in sy eie vasgryp aan die boodskap van die Psalm. Twee teenoorgestelde ervarings – een boodskap: die Here is vir hulle ‘n skuilplek. En ek gebruik doelbewus die teenswoordige tyd… Hulle gesamentlike ervaring leer my dat die ervaring dat God ’n skuilplek is, nie in die eerste plek lê in die fisiese beskerming of beskutting in hierdie lewe nie, maar ook en miskien selfs veral in die ewige dimensie daarvan. Só het Casper dit ervaar. Hy het gelewe, al het hy fisies gesterwe. Só het Corrie dit ook ervaar. Sy het wel aanvanklik die fisiese dood in die strafkamp vrygespring en so God se beskerming ervaar. Maar, sy het met haar uiteindelike dood egter steeds God se beskerming geniet, toe sy soos haar pa die ewigheid betree het.

Dit is ook wat Jesus vir ons oor dié teks geleer het met sy respons in die woestyn. Psalm 91 is nie ’n magiese belofte van fisiese beskutting, beskerming en bevryding in alle omstandighede nie. Toe die duiwel met die versoeking in die woestyn voorgestel het dat Jesus van die tempel afspring, omdat die Here in Psalm 91:11 belowe dat die engele Hom op hulle hande sal dra en sal sorg dat Hy nie sy voet teen ’n klip sal stamp nie, het Jesus dit getroef met ’n aanhaling uit Deut. 6:16: “Jy mag die Here jou God nie versoek nie.” (Luk 4:12). Tog bly God se bewaring ‘n werklikheid! Ook fisies! Dit is wat Jesus ervaar het. Aan die een kant het Hy aan die kruis gesterwe, maar God het Hom nie in die steek gelaat nie. Aan die ander kant het Hy ook weer uit die dood uit opgestaan, want God het Hom nie in die steek gelaat nie. Daarin lê die evangelie van Psalm 91 opgesluit, ook vir ons. Ek kan dus weet: God sal my ook nie in die steek laat nie. Of ek nou lewe en of ek nou sterwe: “Ja, U, Here, is my skuilplek!”

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-91-ja-u-here-is-my-skuilplek/

Deuteronomium 6:4-16 – Luister, Israel, die Here is ons God, die Here alleen

3 Maart

Deuteronomium 6:4-16 – Luister, Israel, die Here is ons God, die Here alleen

4“Luister, Israel, die Here is ons God, die Here alleen. 5Jy moet die Here jou God met hart en siel liefhê en met al jou krag. 6En hierdie woorde wat ek vandag vir jou voorskryf, moet jy op die hart dra. 7Herhaal dit vir jou kinders en praat met hulle daaroor wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan. 8Bind dit as ‘n teken om jou hand en laat dit ‘n versiering op jou voorkop wees. 9Skryf dit op die deurkosyne van jou huis en op jou stadspoorte. 10“Wanneer die Here jou God jou inbring in die land wat Hy aan jou voorvaders, aan Abraham, Isak en Jakob, met ‘n eed beloof het om vir jou te gee – groot en mooi stede wat jy nie gebou het nie, 11huise vol met alles wat goed is, wat jy nie gevul het nie, uitgekapte opgaarputte wat jy nie uitgekap het nie, wingerde en olyfboorde wat jy nie geplant het nie, en jy dan eet en versadig word, 12moet jy oppas dat jy nie die Here vergeet wat jou uit Egipteland, uit ‘n plek van slawerny, uitgelei het nie. 13Vir die Here jou God moet jy ontsag hê: Hom moet jy dien, en slegs in sy Naam moet jy sweer. 14“Julle mag nie agter ander gode aanloop nie, gode van die nasies rondom julle; 15want die Here jou God wat in julle midde is, is ‘n besitlike God. Anders sal die toorn van die Here jou God teen jou ontbrand, en dan gaan Hy jou van die aardbodem af uitdelg. 16Julle mag nie die Here julle God uitdaag soos julle by Massa gedoen het nie.

Moses formuleer hier die grootste gebod van die Ou Verbond in die OT: “Jy moet die Here jou God met hart en siel liefhê en met al jou krag.” Hy sal later ook die liefde vir die naaste hierby voeg (Deut 9-10; vgl ook Lev 19:18), maar begin met die sentrale allesomvattende liefde vir God. Hoekom? Want dit is God se openbaring van Homself wat alles begin: “Luister, Israel, die Here is ons God, die Here alleen.” Die eerste woord: “Luister”, kom van die Hebreeuse woord Sjema. Dit is dan ook hoe hierdie belydenis bekend geraak het, die Sjema, die belangrikste verwoording van hulle monoteïstiese geloof, naamlik dat die Here (Jahwe) God is, Hy alleen. Daar is langs Hom of naas Hom geen ander god nie. Hierdie liefde en al die gebooie wat daarop gebaseer is, is die dinge wat jy jou kinders moet leer. Sonder ophou. Solank as wat jy leef. Daarom moet die woorde van hierdie gebooie in elkeen se hart insak. Dit moet vir die kinders ingeskerp word. Daar moet gedurig oor die betekenis daarvan gesels word. As jy reis of rustig by die huis sit. As jy gaan slaap en as jy wakker word. Dit moet ‘n teken wees op jou hand – jou dade bepaal – en ‘n versiering op jou voorkop – jou gedagtes bepaal. Dit moet geskrywe wees op jou huis se deurkosyne (dit is waarvandaan die gebruik van die mesusa kom, die houertjie aan die deurkosyn waarin die Tien Gebooie geplaas is) sowel as op jou stadspoorte. Die woorde van God se gebooie moet jou persoonlike en publieke ruimtes bepaal.

Hierdie liefde vir God moet nie net in die verwagting van die vervulling van God se beloftes gebeur nie, maar juis ook ná God se beloftes in vervulling gegaan het. Die gevaar was immers groot dat die Israeliete in die rus wat die nuwe tuiste vir hulle sal bied, sal eet en versadig word… en dan die Here vergeet wat hulle uit die slawerny van Egipte verlos het. Daarom moet hulle altyd fokus daarop om die Here te onthou, sodat hulle Hom alleen kan dien en in ontsag vir Hom kan lewe.

Jesus het ‘n besondere band met Deuteronomium 6 gehad. Drie keer het Hy sy toevlug daartoe geneem, twee keer in versoeking, en een keer toe Hy na die grootste gebod in die wet gevra is. Die inhoud daarvan het Hom dus nie net in versoeking staande gehou nie. Hy het dit ook gebruik toe Hy die hart van die Godsverhouding moes uitspel. Hierdie drie verse is daarom van sleutelbelang in die NT. Jesus haal uit Deuteronomium 6:13 aan om die tweede versoeking van die Satan om Jesus ‘n kortpad tot die koninkryk te laat kies deur die Satan te aanbid, te troef: “Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” (Luk 4:8). Jesus haal uit Deuteronomium 6:16 aan om die derde versoeking van die Satan om Jesus die beloftes van God te laat misbruik om van ‘n toring af te spring, te troef: “Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.” (Luk 4:12). Jesus haal uit Deuteronomium 6:5 aan om die liefde tot God te begrond: “Die eerste van al die gebooie is: Hoor, Israel, die Here, onse God, is ’n enige Here; en jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag. Dit is die eerste gebod.” (Mark 12:29-30).

Lees meer: https://bybelskool.com/deuteronomium-6-die-liefde-vir-die-here-bepaal-jou-hele-lewe/

Deuteronomium 8:1-10 – Die mens leef van elke uitspraak uit die mond van die Here

2 Maart

Deuteronomium 8:1-10 – Die mens leef van elke uitspraak uit die mond van die Here

1“Elke gebod wat ek vandag vir jou voorskryf, moet julle nougeset nakom, sodat julle kan leef en meer word en in die land ingaan wat die Here met ‘n eed aan julle voorvaders beloof het, en dit in besit neem. 2Dink aan die hele pad waarlangs die Here jou God jou hierdie veertig jaar in die woestyn gelei het om jou nederig te maak, om jou te toets, om uit te vind wat in jou hart leef: Sou jy sy gebooie nakom of nie? 3Hy het jou nederig gemaak, jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy nie geken het nie en jou voorouers ook nie geken het nie, sodat Hy jou kon laat verstaan dat die mens nie van brood alleen sal leef nie, maar dat die mens leef van elke uitspraak uit die mond van die Here. 4Vir hierdie veertig jaar het die klere aan jou lyf nie verslyt nie en het jou voete nie geswel nie. 5“Wees dan in jou hart oortuig daarvan dat die Here jou God jou opvoed soos ‘n man sy seun opvoed. 6Kom daarom die gebooie van die Here jou God na deur sy paaie te volg en ontsag vir Hom te hê, 7want die Here jou God gaan jou in ‘n goeie land bring: ‘n land met waterryke dale, fonteine en ondergrondse water wat in die valleie en op die berge uitvloei; 8‘n land met koring en gars, met wingerde, vyebome en granaatboorde, ‘n land met olieryke olywe en heuning; 9‘n land waar jy nie in armoede brood sal eet nie, ja, waar jy geen gebrek sal hê nie; ‘n land waar die klippe ystererts is en waar jy kopererts in die berge myn. 10Jy sal eet en versadig word en die Here jou God prys oor die goeie land wat Hy aan jou gegee het.

Ons lees die volgende drie dae tekste uit die OT wat noodsaaklik is om die verhaal van Jesus se versoeking in die woestyn wat ons daarna in Lukas 4 gaan lees, beter te kan begryp (Deut 8:1-10; 6:4-13; Ps 91:1-16). Moses begin in vandag se teks, Deuteronomium 8, deur die volk te herinner om aan elke gebod wat die Here hulle gee, gehoorsaam te wees en daarvolgens te lewe. Elke woord van die Here is met ‘n doel gegee en die moeite werd om met nougesette noukeurigheid na te kom.  Dit sal vir hulle die lewe beteken, en God se belofte van vrugbaarheid in vervulling laat gaan in die land wat Hy aan hulle en hulle voorvaders belowe het. Dit is egter nie net die gebooie wat vir hulle gegee is as woorde van God nie wat belangrik is nie. Elke ervaring wat hulle in die woestyn gehad het, was ‘n woord van God aan hulle, ‘n voorbeeld van sy begeleiding waaraan hulle hulle moes steur.

Die doel van die woestyntyd was tweërlei.  Aan die een kant moes die volk hulle nederige afhanklikheid van God agterkom. Daarom het die Here hulle op die proef gestel, nie net sodat Hy kan weet wat in hulle hart aangaan nie, maar sodat hulle dit self ook kan agterkom. Beide die swaarkry sonder die kos, én die manna wat op wonderbaarlike wyse aan hulle voorsien is, het dus daardie doel gedien.  Dit moes hulle die groot lewensles leer dat: “dat die mens nie van brood alleen sal leef nie, maar dat die mens leef van elke uitspraak uit die mond van die Here.” God se woorde was meer basies vir hulle voortbestaan as kos en water. Aan die ander kant moes die volk die oorvloedige en baie keer wondervoorsiening van die Here ook agterkom. Daarom het Hy vir hulle manna gegee, iets wat hulle voorvaders nie geken het nie, en het die Here hulle klere in die veertig jaar nie laat verslyt nie, selfs hulle voete nie laat swel nie. Met dit alles het die Here hulle harte aan Hom gebind deur die dissipline van die woestyn. Presies wat Jesus self moes leer toe die duiwel Jesus versoek het om nie te wag op God se voorsiening nie, maar sy krag te misbruik deur brood uit die klippe vir Homself te maak (Luk 4:4). As Jesus na die duiwel geluister het, sou God se doel met die woestyn in Jesus se lewe gedwarsboom wees.

Dit is daarom dat die Israeliete – en elke kind van God van watter tyd ook al – die gebooie van die Here moet gehoorsaam sodat hulle sy wil kan doen. God belowe dat Hy sy kinders die oorvloed van die beloofde land – ‘n goeie land! – sal gee, maar dan moet hulle Hom dien, sodat hulle dit as ‘n geskenk uit sy hand kan hanteer. Daar sal dus ‘n oorvloed water en vrugbaarheid wees. As hulle Hom dien, sal daar selfs nie armoede wees nie. Hulle sal selfs vir hulle naaste kan sorg.  Hulle sal selfs genoeg yster en koper hê ter wille van hulle militêre paraatheid. Soos die swaar tye hulle afhanklikheid moes leer, moes die goeie tye hulle dankbaarheid leer: “Telkens wanneer jy genoeg geëet het, moet jy die Here jou God dank vir hierdie goeie land wat Hy aan jou gegee het.” (vers 10 in die 1983-vertaling).

Lees meer: https://bybelskool.com/deuteronomium-8-die-here-leer-die-volk-afhanklikheid-en-dankbaarheid/

Lukas 18:9-14 – Elkeen wat homself verneder, sal verhoog word

1 Maart

Lukas 18:9-14 – Elkeen wat homself verneder, sal verhoog word

9Met die oog op sommige mense wat oortuig was van hulle eie regverdigheid en op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: 10“Twee mense het opgegaan na die tempelterrein om te bid. Die een was ‘n Fariseër en die ander ‘n tollenaar. 11Die Fariseër het gaan staan en só oor homself gebid, ‘God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is, wat roof, onreg doen en egbreuk pleeg nie, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. 12Ek vas twee keer per week, en ek gee ‘n tiende van alles wat ek verdien.’ 13Die tollenaar het egter op ‘n afstand bly staan, en wou selfs nie eers na die hemel opkyk nie, maar het op sy bors geslaan en gesê, ‘O God, wees my, die sondaar, genadig!’ 14Ek sê vir julle, hierdie man, eerder as die ander een, het na sy huis gegaan as iemand wie se saak met God reggestel is. Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, maar elkeen wat homself verneder, sal verhoog word.”

Die bekende verhaal van die tollenaar en die Fariseër het raakpunte met Deuteronomium 26 wat ons gister gelees het. Ná Jesus sy dissipels aangemoedig het met die gelykenis van die weduwee en die regter om te volhard in gebed vertel Hy daarby ‘n volgende gelykenis om hulle tot nederigheid te maan in hulle verhouding met God. Veral om nie op hulleself te vertrou dat hulle regverdig is volgens die wet en ander dan te veroordeel nie. Dit is immers net God wat ons kan regverdig maak.

Let op dat die Fariseër “oor homself” gebid het (kan jy nou meer!) en God gedank het dat hy nie “soos die ander mense” is nie, veral nie soos die tollenaar nie. Die Fariseër het nie geroof nie. Hy het nie onreg gedoen nie. Hy het geen owerspel gepleeg nie. En hy skryf sommer op die koop toe die lewe en gebed van die tollenaar af. Daarby prys die Fariseër homself in sy gebed dat hy twee keer ‘n week vas en ‘n tiende gee van alles wat hy verdien – dws meer as wat die wet vra. Die wet het net van een vas ‘n jaar gepraat (Lev 16:29-31)! En die tiende was net op sekere goed van toepassing (Deut 14:22-23). Hy veroordeel daarom die tollenaar op grond van sy eie godsdienstige reëls.

Die tollenaar daarenteen het egter nie in kollig gaan staan nie, miskien selfs in die voorhof van die tempel waar die heidene toegelaat is, en het selfs nie op die gebruiklike manier na die hemel gekyk in sy gebed nie. Hy het hom verneder as sondaar voor God en om genade gesmeek terwyl hy op sy bors slaan. Jesus verklaar dan die gelykenis deur te sê dat die tollenaar eerder as regverdige teruggegaan het, nie die Fariseër nie. Want, elkeen wat homself voor God verhoog, sal verneder word. Met hierdie belofte daaraan gekoppel: elkeen wat homself voor God verneder, sal verhoog word. Daar is immers net een manier om voor God geregverdig te word. Dit is om jou sonde voor Hom te bely en so jouself voor Hom te verneder, sonder om jouself met ander te vergelyk. Dit is net God se genade wat lei tot ‘n lewe wat vir Hom aanneemlik is.

Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-181-1944-god-is-meer-as-gewillig-om-gebede-te-beantwoord/

Deuteronomium 26:1-11 – God sal jou uitgaan en jou terugkeer beskerm

28 Februarie

Ons beweeg hierdie week in die Lydenstyd in. Dit duur tot met Goeie Vrydag, Stil Saterdag en Paassondag die naweek van 15-17 April. Ons fokus steeds op beloftes, maar plaas dit ook in die konteks van lyding, soos ons dit in die lewe, sterwe en opstanding van die Here Jesus gesien het. Sy lyding het op paradoksale wyse die weg van ons verlossing geword, ‘n belofte waaraan ons kan vasgryp vir ons eie genesing. Soos Jesaja van die Dienskneg van die Here, dit is Jesus, sê: “Hy is egter deurboor oor ons oortredings, verbrysel oor ons sondeskuld. Die straf wat ons vrede bewerk, was op hom, en deur sy wonde is daar vir ons genesing.” (Jes 53:5)

Deuteronomium 26:1-11 – God sal jou uitgaan en jou terugkeer beskerm

1“Wanneer jy in die land aangekom het wat die Here jou God vir jou as erfdeel gaan gee om in besit te neem, en jy daar gevestig is, 2moet jy van die eerste opbrengs van al die vrugte wat jy oes op die grond van die land wat die Here jou God aan jou gee, neem en in ‘n mandjie sit. Gaan dan na die plek wat die Here jou God sal kies om sy Naam daar te vestig. 3Wanneer jy by die priester aankom wat in dié dae daar sal wees, moet jy vir hom sê, ‘Ek maak vandag aan die Here u God bekend dat ek aangekom het in die land wat die Here met ‘n eed aan ons voorvaders beloof het om aan ons te gee.’ 4Die priester moet die mandjie uit jou hand neem en dit voor die altaar van die Here jou God neersit. 5Dan moet jy voor die Here jou God bely en sê, ‘My vader was ‘n rondswerwende Arameër. Hy het na Egipte afgegaan en met min mense as ‘n vreemdeling tydelik daar gaan woon. Daar het hy ‘n groot nasie geword, magtig en talryk. 6Maar die Egiptenare het ons sleg behandel, ons onderdruk en ons aan harde slawewerk onderwerp. 7Toe het ons na die Here, die God van ons voorouers, om hulp geroep. Die Here het ons gehoor en ons ellende, ons swaarkry en ons verdrukking raakgesien; 8en die Here het ons met ‘n sterk hand en uitgestrekte arm uit Egipte uitgelei, ja, met ‘n vreesaanjaende magsvertoon, met tekens van mag en wondertekens. 9Hy het ons na hierdie plek gebring en aan ons hierdie land gegee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning. 10Hier het ek nou die eerste vrugte gebring van die grond wat U, Here, vir my gegee het.’ Sit dit dan voor die Here jou God neer en buig in aanbidding voor die Here jou God. 11Jy moet vrolik wees oor al die goeie dinge wat die Here jou God aan jou en jou huis gegee het – jy en die Leviete en die vreemdelinge wat by jou is.

Moses voltooi in hierdie hoofstuk sy perspektiewe op ‘n gesonde geloofsgemeenskap (hfst 19-26) wat deur respek vir die lewe en gehoorsaamheid aan die grense wat God stel, gekenmerk word. Hy gee aandag aan die geloofsbelydenis wat hulle by die insameling van hulle oeste moet gebruik om hulle te herinner aan God se verlossing uit Egipte en hulle vestiging in die beloofde land. Hy beklemtoon hierna ook die tiendes wat elke derde jaar direk vir die Leviete, vreemdelinge, vaderloses en weduwees bedoel was. God seën Israel immers om tot ‘n seën vir ander te wees, ‘n seën waarvoor hulle dan ook mag bid. En Hy roep die geloofsgemeenskap op om aan God alleen gehoorsaam te wees met hulle hele hart en siel, soos Hy inderdaad Homself aan hulle verbind het.  Aan hierdie wedersydse verklaring van liefde en trou sal Moses dan net hierna die seën en strawwe van die verbond verbind (Deut 27-28)  waarmee hy sy tweede preek in Deuteronomium (hfst 4-28) sal afsluit.

Telkens wanneer Israel dus die Pinksterfees in die land gevier het – net na die insameling van hulle oeste (vgl Deut 16) – het hulle hulle geloof in die God wat sy beloftes vervul, bely. Het hulle teruggedink aan die belofte van God met die Uittog uit Egipte dat Hy hulle deur die woestyn na die Beloofde land sal lei en die land vir hulle sal gee. En het hulle die vervulling van sy beloftes gevier. Hulle het in ‘n persoonlike verklaring die Here geloof dat Hy sy belofte nagekom het. Dat Hy gesorg het dat hulle tuiskom in die land met die Intog. En hulle het hulle persoonlik verbind aan die God met ‘n belydenis oor Jakob, hulle gesamentlike vader, die “Arameër” waarvan Moses hier praat. En hulle het Hom geloof vir al die wonders en tekens waarmee God die volk in Egipte se gebede beantwoord het. Die gawe van die eerste opbrengs van hulle oeste was dus beide die teken van hulle dankbaarheid in die hede en hulle verbintenis aan die verlede.

Dit is dus van elke Israeliet verwag om dié belydenis te maak asof hulle self die vervulling van die beloftes van die Uittog en Intog deurgemaak het. Asof hulle self daar was. Hoekom? Want hierdie belydenis het hulle verbind aan die gesamentlike geskiedenis van die volk van God, en die verwagting op die vervulling van God se beloftes lewend gehou vir elke nuwe uitdaging wat hulle self sou ervaar. Die God wat wonders en tekens eenmaal in Egipte met die Uittog gedoen het, wat hulle ‘n plek gegee het in die land met die Intog, is immers dieselfde God wat wonders en tekens vir hulle sou doen in die vervulling van sy beloftes van verlossing en tuiskoms. Die Uittog- en Intogverhale was dus ‘n konkrete illustrasie van die feit dat hierdie God sy beloftes vervul en dat Hy altyd aangeroep kan word vir verlossing en tuiskoms, vir ‘n “uittog” en “intog”. Soos Psalm 121 dit verwoord het vir die alledaagse lewe: “7Die Here sal jou beskerm teen elke onheil; Hy sal jou lewe beskerm. 8Die Here sal jou uitgaan en jou terugkeer beskerm van nou af en vir altyd.” (Ps 121:7-8). Geen wonder dat dié Psalm vir elke Jood voorgeskryf is om elke aand te bid net voor hulle gaan slaap het nie. Want, dit is wie God vir altyd is. Die Een wat sy beloftes hou.

Lees meer: https://bybelskool.com/deuteronomium-26-geloofsbelydenis-gebed-en-gehoorsaamheid/

Onlangse kommentaar