Psalm 2 – Gelukkig is dié wat op God vertrou
Die RCL skryf vir hierdie week weer Psalm 30 voor. Ons het dit egter al voorheen behandel. Jy kan dit hier lees. Ons hanteer daarom vandag Psalm 2, een van die Messiaanse Psalms.
Psalm 2 – Gelukkig is dié wat op God vertrou
1Waarom is die volke rusteloos en maak die nasies nuttelose planne? 2Die konings van die aarde neem stelling in en die heersers span saam teen die Here en sy Gesalfde: 3“Kom ons breek hulle boeie stukkend, kom ons gooi hulle bande van ons af!” 4Hy wat in die hemel sit, lag; my Heer dryf die spot met hulle. 5Dan spreek Hy hulle in sy toorn aan, met sy woede verskrik Hy hulle: 6“Ek self het my Koning gesalf op Sion, my heilige berg.” 7Ek wil die vaste besluit bekend maak: Die Here het vir my gesê: “Jy is my Seun, vandag het Ek Jou verwek. 8Vra dit van My en Ek sal volke gee as jou erfdeel, die uithoeke van die aarde as jou eiendom. 9Jy sal hulle verpletter met ‘n ystersepter, soos erdewerk sal Jy hulle stukkend slaan.” 10Daarom, konings, wees verstandig; wees gewaarsku, regters van die aarde. 11Dien die Here met ontsag en juig Hom toe met bewing! 12Soen die Seun, sodat Hy nie toornig word en julle op pad omkom nie, want sy toorn vlam maklik op. Gelukkig is almal wat by Hom skuil.
Psalm 1 en 2 is regtig die fondament waarop die hele Psalmboek gebou is. Waar Psalm 1 ons help om te verstaan dat vreugde en voorspoed by die Here en in sy gemeenskap te vinde is, help Psalm 2 ons om te verstaan dat hierdie God almagtig is. Hy is aktief op die wêreldtoneel van volke, nasies, konings en leiers. Psalm 1 is dus die fondament vir jou persoonlike lewe met God. Psalm 2 is weer die fondament vir jou publieke lewe met God. Die twee Psalms gee jou die moed om God te vertrou om in die wispelturigheid van die (internasionale) politieke wêreld van ons gemeenskappe rigting te bring, en by Hom skuiling te soek, beide in jou persoonlike lewe as in die publieke deel daarvan. Hy sal sy beloftes in vervulling laat gaan vir dié wat Hom vertrou.
Interessant genoeg begin Psalm 1 met ’n saligspreking (Ps 1:1): Gelukkig is die mens wat in die woord van die Here sy vreugde vind … en eindig Psalm 2 met ’n soortgelyke saligspreking (Ps 2:12): Gelukkig is dié wat by Hom skuiling vind (of letterlik: wat op Hom vertrou). Dit het sommige verklaarders laat dink dat die twee Psalms eintlik oorspronklik een Psalm was (Petrus noem Psalm 2 eintlik Psalm 1 volgens sekere tekstradisies – Hand 4:25-26). Hoe dit ook al sy – die twee Psalms maak dus as ’n geheel die punt: Gelukkig is dié wat hulle vreugde in God vind, en op Hom vertrou.
Die Psalm (Petrus verbind dit aan Dawid – Hand 4:25-26) is uit vier dele opgebou:
- Die Psalmis beskryf sy verbasing oor die onrus en wispelturigheid van die publieke en politieke lewe en ontbloot die dryfveer daaragter as ’n rebellie teen die Here en sy gesalfde, in hierdie konteks, die koning van Israel (Ps 2:1-3). Waar daar ’n rokie is, brand altyd ’n vuurtjie.
- Die Psalmis weet egter dat God nie uitgelewer is aan die nukke en grille van sy teëstanders nie, Hy woon immers in die hemel (NIV: “The One enthroned in heaven laughs”). Maar, vanuit die hemel, bewys Hy sy mag deur sy koning op die berg van God, Sion, te bevestig (Ps 2:4-6). Dié opstand is dus doodgebore.
- Die koning en gesalfde – vanuit die NT kan ‘n mens dit ook op die Messias, dws Jesus van toepassing maak – kom dan aan die woord om God se belofte aan hom bekend te maak, dat hy/Hy God se seun is, en die hele aarde onder sy heerskappy sal wees (Ps 2:7-9 – vgl 2 Sam 7:14 waar Dawid God se Seun genoem word, en Ps 89:27 waar dit geëggo word, maar dan ook verskeie NT verwysings: Mrk 1:14-15; 15:39; Luk 1:35; 3:38; 4:3; 9:20; Matt 16:16; Joh 1:49; 11:27; Hand 13:33; Hebr 1:5, 6; 5:5; Openb 12:5; 19:15). God tree beslissend op.
- Die Psalmis waarsku daarmee die konings en regeerders van die aarde om die Here met ontsag te dien en so sy toorn te vermy. En sluit af met die uitspraak: “Gelukkig is almal wat by Hom skuil,” wat veral vir die dienaars van die Here ’n bemoediging is. God kan vertrou word. Terloops, vers 12 se eerste frase: “soen die Seun” verwys na die gebruik om óf jou onderdanigheid (as jy iemand se voete gesoen het) óf jou vriendskap (as jy iemand se wange gesoen het) te betoon soos ‘n mens meermale in die Bybel teëkom (vgl 2 Sam 14:14; 15:5 – hoewel Absalom dit daar met slegte bedoelings gedoen het, soos ook Judas dit met Jesus gedoen het – Luk 2:48).
Ons het dus nodig om Psalm 1 te bid rondom ons eie verbintenis aan God. Maar ons het ook nodig om Psalm 2 met hernude oorgawe te bid ter wille van ‘n wêreld se verbintenis aan God, en om ons self te herinner daaraan dat ons God mag vertrou, al smee die nasies planne en al is daar onrus onder die volke. Sy beloftes gaan in vervulling vir dié wat Hom daarvoor vertrou.
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-2-geseend-is-die-wat-op-god-vertrou/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar