2 Konings 2:1-2, 6-14 – Die Here is in beheer
2 Konings 2:1-2, 6-14 – Die Here is in beheer
1Dit is wat gebeur het toe die Here vir Elia in ‘n stormwind in die hemel opgeneem het. Elia en Elisa was van Gilgal af op pad, 2toe Elia vir Elisa sê: “Bly asseblief hier, want die Here stuur my na Bet-El.” Elisa het egter gesê: “So waar as die Here leef, en u leef, ek sal u nie verlaat nie!” Hulle het toe afgegaan na Bet-El… 6Elia het weer vir hom gesê: “Bly asseblief hier, want die Here stuur my na die Jordaan toe.” Maar hy het geantwoord: “So waar as die Here leef, en u leef, ek sal u nie verlaat nie!” Hulle twee het toe verder gegaan. 7Vyftig man van die profetegroep het ook gegaan en teenoor hulle op ‘n afstand bly staan. Hulle twee het langs die Jordaan gestaan. 8Elia het sy mantel gevat, dit opgerol en die water daarmee geslaan. Die water het na weerskante verdeel, en hulle twee het op droë grond oorgegaan. 9Hulle was net deur, toe vra Elia vir Elisa: “Vra wat ek vir jou kan doen voordat ek van jou af weggeneem word.” Elisa het geantwoord: “Laat daar asseblief ‘n dubbele deel van u gees na my kom.” 10Daarop sê Elia: “Jy vra iets wat moeilik is. As jy my sien terwyl ek van jou af weggeneem word, mag dit dan vir jou so wees; maar indien nie, sal dit nie gebeur nie.” 11Terwyl hulle nog so loop en praat, is daar skielik ‘n strydwa van vuur en perde van vuur! Dit het skeiding gebring tussen hulle twee, en Elia het in die stormwind opgegaan na die hemel. 12Elisa het dit sien gebeur en het bly uitroep: “My vader, my vader, strydwa van Israel en sy perde!” Toe hy hom nie meer kon sien nie, het hy sy klere vasgegryp en in twee geskeur. 13Hy het Elia se mantel wat van hom afgeval het, opgetel, omgedraai en by die kant van die Jordaan gaan staan. 14Toe neem hy Elia se mantel wat van hom afgeval het, slaan die water en sê: “Waar is die Here, die God van Elia?” Ook hy het die water geslaan, en die water het na weerskante verdeel, en Elisa het oorgegaan.
Daar is min profete wat die verbeelding meer aangegryp het as Elia. Hy was ‘n profeet soos Moses. Nie so sagmoedig soos Moses nie, maar met dieselfde gesag. Die Here het wonderlike dinge deur Elia gedoen (1 Kon 17). Die hoogtepunt van sy bediening het gekom op die berg Karmel toe die Here Elia gebruik het om die volk uit te daag om te kies wie hulle wil dien, die Here of Baäl. God het met vuur op die altaar en die verbreking van die droogte net daarna geantwoord en Elia se woorde en bediening onomwonde bevestig (1 Kon 18). Toe Elia net daarna ‘n laagtepunt beleef het, het die Here hom versterk op die berg Horeb met ‘n besondere verskyning in die sagte gesuis van die stilte ná die sterk wind, die aardbewing en die vuur. En ‘n paar opdragte vir hom gegee. Een daarvan was dat die einde vir Elia aangebreek het. Sy profetiese mantel moes aangegee word na sy opvolger, Elisa (1 Kon 19). Dit is ook dan die eerste ding wat Elia doen in die afhandeling van sy bediening (1 Kon 19:19-21). Soos Moses sy gesag oorgedra het aan Josua, só dra Elia sy gesag oor aan Elisa.
En met Elia se hemelvaart – een van net drie mense met wie dit in lewende lywe gebeur het: Henog, Elia, en Jesus – gaan die profetiese mantel oor op Elisa. In die negende eeu: 850-800 vC. (Twintig jaar later sou Jona op die toneel verskyn, en dan in die res van die 8ste eeu nog vier profete: Amos, Jesaja, Miga en Hosea). Wat ook beteken dat die oorgang op Elisa ook net vir ‘n tyd was en hy uiteindelik ook weer net een persoon was in die lang suksessie van profete wat die Here op hierdie wêreld ingespan het. En dit is wonderlik om te sien hoe die Here eenvoudig voortgaan om deur Elisa te werk, net soos Hy vroeër deur Elia gewerk het. Wanneer Elisa met Elia se hemelvaart in 2 Konings 2 vra dat hy ‘n dubbele deel van Elias se gees kry, verwys hy moontlik na die dubbele erfporsie wat eersgeborenes kon kry (Deut 21:17). Daarmee vra hy eintlik net dat hy Elia se opvolger sal wees en nie om twee keer meer effektief as Elia te wees nie. Want, hulle albei het besef, dit is die Here wat in beheer is, nie die profeet nie. Dit is waarom Elia vir Elisa sê, as jy my sien met die weggaan, sal jy die erfgenaam wees. Want, dit is net die Here wat Elisa se versoek kan waar maak.
Die verhaal sê dus vir ons op ‘n onomwonde manier dat dit God is wat in beheer is en wonderlike dinge deur ons bediening doen. Die mantel van Elia wat nou oorgaan op Elisa is net ‘n simbool van Elisa se roeping as profeet. En wys na die Here se gesag wat deur sy werk aan die orde kom. Elisa se verhaal, en natuurlik ook Elia s’n daarvoor, gee vir ons dus ’n visie op ‘n God wat ’n mens met alles kan vertrou. Hy is nie net besorgd oor die groot dinge wat almal se lewens raak nie. Hy is ook besorgd oor die kleiner dinge wat in die alledaagse lewe verkeerd loop, bv die bylkop wat Elisa vir iemand help vind (2 Kon 6:1-7). Maar, dan is God ook in die groot dinge betrokke. Elisa ontvang die vermoë van God om die onsigbare nie net raak te kan sien nie, maar dit ook vir ander sigbaar te maak. Soos die keer wat Elisa vir Gehasi help om God raak te sien in die konflik met die Arameërs. Elisa het gebid: “Here, maak tog sy oë oop, dat hy kan sien!” En die Here het geantwoord en Gehasi se oë oopgemaak vir die berg rondom Elisa wat vol perde was, en strydwaens van vuur! En dit was vir Elisa moontlik, want hy het naby hierdie God geleef, sodat mense later gedink het dat Elisa alomteenwoordig is, en selfs weet wat in die Aramese koning se slaapkamer gebeur!
Lees meer: https://bybelskool.com/2-konings-2-3-die-here-is-in-beheer/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar