Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nie
Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nie
1‘n Pelgrimslied. Ek kyk op na die berge: Waar sal my hulp vandaan kom? 2My hulp is van die Here, wat hemel en aarde gemaak het. 3Hy sal nie toelaat dat jou voet struikel nie; jou Beskermer sal nie insluimer nie. 4Kyk, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie. 5Die Here is jou Beskermer; die Here is jou skaduwee aan jou regterhand. 6Bedags sal die son jou nie skaad nie, en snags ook nie die maan nie. 7Die Here sal jou beskerm teen elke onheil; Hy sal jou lewe beskerm. 8Die Here sal jou uitgaan en jou terugkeer beskerm van nou af en vir altyd.
Die Psalm verwoord die bewussyn van pelgrims dat hulle nie op hulle eie die gevaarlike tog na Jerusalem kan aanpak, sonder dat die Here as hulle Beskermer optree nie. Trouens, sy beskerming is beskikbaar in elke faset van die lewe. Die Psalmis kyk dus op na die berge en vra amper op ‘n retoriese wyse vanwaar sy hulp sal kom. En antwoord onmiddellik dat dit van die Here, die Skepper (Maker) van die hemel en die aarde af sal kom. Dié Psalm bely dus ‘n God wat op omvattende wyse vir sy mense sorg. Hy is paraat in elke omstandigheid wat hulle kan tref. En Hy doen dit: “nou en vir altyd”:
Jy kan dus vandag ingaan met dié versekering van God as Beskermer. Daar is nie ‘n beter belofte as dít nie. Jy kan op Hom staatmaak en van Hom afhanklik lewe. Hy is in staat om vir jou te sorg.
In die NT word dié belydenis uitgebrei dat hierdie beskerming van God nie net met aardse beskerming te make het nie, maar veral met die beskerming vir God se koninkryk. Ons oog is dus nie meer soseer op die aardse Jerusalem gerig nie, maar op die hemelse Jerusalem. Ons kan dié Psalm dus ontvang as ‘n belofte dat die Here ons sal beskerm om in sy hemelse koninkryk aan te kom. Soos Paulus dit ook bely: “Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in sy hemelse koninkryk bring. Aan Hom kom die eer toe tot in alle ewigheid! Amen.” (2 Tim. 4:18).
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-121-god-jou-beskermer-slaap-nie/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Marius smit
Hoekom beskerm die Here jou juis aan jou regterkant?
Chris van Wyk
Die Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.