Skip to main content

Spreuke 9 – Bly weg van onkundiges, en leef! Betree die weg van insig!

29 Julie

Spreuke 9 – Bly weg van onkundiges, en leef! Betree die weg van insig!

1Wysheid het haar huis gebou, sy het haar sewe pilare uitgekap. 2Sy het haar slaggoed geslag, haar wyn gemeng, en ook haar tafel voorberei. 3Sy het haar diensmeisies gestuur; sy roep uit vanaf die hoogste plekke in die stad: 4“Wie onkundig is, moet hierheen afdraai!” Vir dié sonder verstand, het sy gesê: 5“Kom, eet van my brood, en drink van die wyn wat ek gemeng het! 6Bly weg van onkundiges, en leef! Betree die weg van insig! 7“Wie ‘n spotter vermaan, haal vir homself skande op die hals, en wie ‘n goddelose teregwys, kry ‘n klad op sy naam. 8Moenie ‘n spotter teregwys nie, anders haat hy jou; wys ‘n wyse tereg, en hy sal jou liefhê. 9Gee aan ‘n wyse, en hy word nog wyser; deel kennis mee aan ‘n regverdige, en sy geleerdheid neem toe. 10Die begin van wysheid is ontsag vir die Here, en kennis van die Heilige is insig. 11“Ja, deur my, Wysheid, word jou lewensdae meer, word daar vir jou lewensjare bygevoeg. 12As jy wys is, is jy wys tot jou voordeel, maar as jy spot, dra jy alleen die gevolge.” 13Vrou Dwaasheid is luidrugtig, onbesonne, en weet niks. 14Sy sit by die ingang na haar huis, op ‘n troon op die hoogste plek in die stad, 15om te roep na hulle wat op die pad verbygaan, wat reguit loop op hulle paaie: 16“Wie onkundig is, moet hierheen afdraai!” Vir dié sonder verstand, het sy gesê: 17“Gesteelde water is soet, en brood in die geheim geëet, is smaaklik.” 18Maar hy weet nie dat die skimme daar is nie; in die dieptes van die doderyk is haar genooides.

Ons kom in hoofstuk 9 aan die einde van die lang inleiding van Spreuke, die slotsom van die 10 lewenslesse van die pa aan sy seun. Hierna gaan in hoofstuk 10-31 die lewenswyshede wat pas by die twee paaie wat ‘n mens kan volg in die lewe, in kort spreuke weergegee word. Die slotsom van hierdie eerste deel van Spreuke is dat ‘n mens kan luister na óf vrou Wysheid (Spr 9:1-6) óf na vrou Dwaasheid (Spr 9:13-18). Dié kontrasterende keuse word afgewissel met ‘n middelste gedeelte oor die ligsinnige mens (Spr 9:7-12) wat die gevolge van die verkeerde keuse vir vrou Dwaasheid uitspel. Die belofte is dat as jy kies om in wysheid te groei jy ‘n vol lewe sal kan lei. Let ook op dat beide vrou Wysheid as vrou Dwaasheid fokus op dié wat nog onervare is en kennis kortkom. Dit beteken dat die rol van opvoeders is om kinders te inspireer dat hulle die regte lewenshouding aankweek om uit die verskillende stemme wat met hulle in die lewe praat – vrou Wysheid en vrou Dwaasheid – dié stemme te kies waarvan die inhoud wys is. Só sal hulle opvoeding die kinders red vir die lewe.

Vrou Wysheid word as ‘n verstandige vrou voorgestel wat vir haar ‘n huis gebou het met sewe klippilare – ‘n simbool van standvastigheid en duursaamheid. Die groot getal van sewe pilare laat ‘n mens eintlik dink aan ‘n tempel eerder as ‘n huis, wat die gesag en goddelike invloed van haar wysheid beklemtoon. Haar wyshede word in dié gelykenis voorgestel as ‘n feesmaal waarheen onkundiges uitgenooi word om in ‘n feestelike atmosfeer te kom leer. Só sal hulle die pad van insig vind om regtig te kan lewe. Let op hoe leerbaarheid as een van die kernwaardes van hierdie tipe lewe voorgestel word: “Bly weg van onkundiges, en leef! Betree die weg van insig!” (9:6).

Dit is opvallend dat Spreuke ons leer dat ligsinnigheid onvermydelik lei tot goddeloosheid, omdat ‘n mens nie wysheid kan ignoreer sonder om dan ook die Bron van wysheid, God self, daarmee saam te ignoreer nie. Ligsinniges is dus nie vatbaar vir wysheid nie, en moet eers weer na die begin toe terug gevat word, na die ontsag vir God (Spr 9:10 – vgl Spr 1:1-7), voor die lewenshouding van leerbaarheid weer sal inskop en die voete op die pad van insig geplaas kan word.

Let op hoe vrou Dwaasheid vir vrou Wysheid naboots in die banket wat vir die onervare onkundiges gehou word, maar op ‘n wyse wat herinner aan die verleidelike gedrag van die slegte vrou van vroeër. Let op hoe die verleiding van haar aanbod lê in die gesteelde karakter daarvan – jy hoef jou nie in te span om dit te verkry nie – sowel as in die verborge aard daarvan – dit is iets wat jy stilletjies doen, waar niemand kan sien of beperkings kan plaas nie. Die einde van dié pad is egter die dood, omdat daar geen verantwoordelikheid of verantwoordbaarheid ingebou is in die verkryging van hierdie kennis nie. Dit onderstreep op ‘n waarskuwende manier die noodsaak daarvan om versigtig te wees met die uitdeel van kennis bv in ‘n leerervaring, sonder om ‘n worsteling daarmee, en ‘n toetsing daarvan, in te bou. ‘n Mens moet self werk aan dít wat jy leer, en jy moet op een of ander manier iets daarvan weergee. Dán het dit deel van jou menswees en lewenswyse geword. Anders is dit plagiaat en oppervlakkig by wyse van spreke.

Die tafel is nou gedek om na die ongeveer 562 spreuke te begin luister, daaroor diep na te dink, en dit deel van jou lewe te maak.

Lees meer: https://bybelskool.com/spreuke-91-18-kies-die-pad-van-insig-as-lewenshouding/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar