Jesaja 1:1-20 – Kom tog, laat ons die saak uitpraat; Al is julle sondes rooi soos karmosyn, dit sal wit word soos sneeu; al is dit rooi soos skarlaken, soos wol sal dit word
Jesaja 1:1-20 – Kom tog, laat ons die saak uitpraat; Al is julle sondes rooi soos karmosyn, dit sal wit word soos sneeu; al is dit rooi soos skarlaken, soos wol sal dit word
1Die visioen van Jesaja, seun van Amos, wat hy gesien het aangaande Juda en Jerusalem in die dae van Ussia, Jotam, Agas en Hiskia, konings van Juda.
2Luister, hemel, en gee aandag, aarde, want die Here praat: “Kinders het Ek grootgemaak en opgevoed, maar hulle het teen My in verset gekom. 3‘n Bees ken sy eienaar en ‘n donkie die krip van sy besitter. Israel het egter nie kennis nie, my volk toon geen insig nie.” 4Wee ‘n sondige nasie, ‘n volk swaar belaai met sondeskuld, ‘n geslag kwaaddoeners, kinders wat hulle wangedra! Hulle het die Here verlaat, die Heilige van Israel verag, Hom die rug toegekeer. 5Waarom wil julle nog geslaan word, en hou julle vol met julle onversetlikheid? Elke kop is siek, elke hart is swak. 6Van die voetsool tot die kop is daar nie ‘n gesonde plek nie, net hale en kneusplekke en oop wonde. Dit is nie gedreineer nie, of verbind of versorg met olie nie. 7Julle land is ‘n woesteny; julle stede is met vuur verbrand. Julle landerye – voor julle oë verteer vreemdes dit; ja, dit is ‘n woesteny, asof vreemdes dit verwoes het. 8Die dogter van Sion het oorgebly soos ‘n takskerm in ‘n wingerd, soos ‘n oornagskerm in ‘n lappie komkommers, soos ‘n beleërde stad. 9As die Here, Heerser oor alle magte, nie vir ons ‘n klein oorblyfsel agtergelaat het nie – soos Sodom sou ons geword het, aan Gomorra sou ons gelyk gewees het.
10Luister na die woord van die Here, gesagvoerders van Sodom! Gee aandag aan die wet van ons God, mense van Gomorra! 11“Wat baat julle magdom slagoffers My?” vra die Here. “Ek het genoeg gehad van die brandoffers van ramme en die vet van gevoerde diere. Die bloed van bulle, lammers en bokramme staan My nie aan nie. 12Wanneer julle kom om voor My te verskyn – wie eis dit van julle om my voorhowe te vertrap? 13Hou op om waardelose graanoffers aan te dra! Reukwerk – afstootlik is dit vir My. Nuwemaansfeeste en Sabbatte, die saamroep van byeenkomste – Ek kan nie onreg én gewyde rusdae verdra nie. 14Julle nuwemane en vaste feestye haat Ek met my hele wese; dit is vir My ‘n las, Ek is moeg daarvoor om dit te dra. 15As julle julle hande uitstrek, sluit Ek my oë vir julle. Selfs as julle baie bid, luister Ek nie. Julle hande is vol bloed.
16Was julle! Reinig julle! Verwyder julle bose dade voor my oë! Hou op om kwaad te doen! 17Leer om goed te doen! Bevorder die reg! Lê die onderdrukker aan bande! Handhaaf die reg van die vaderloses! Verdedig die weduwees se regsake! 18“Kom tog, laat ons die saak uitpraat!” sê die Here. “Al is julle sondes rooi soos karmosyn, dit sal wit word soos sneeu; al is dit rooi soos skarlaken, soos wol sal dit word. 19As julle gewillig is en luister – die goeie van die land sal julle geniet. 20Maar as julle weier en opstandig is – deur die swaard sal julle verteer word.” Ja, die mond van die Here het gespreek.
Die profeet Jesaja het oor ’n lang tydperk opgetree, regdeur die regerings van vier konings: Ussia (ook Asarja genoem – 2 Kon 15:1), Jotam, Agas en Hiskia in Juda. Hy word geroep as profeet in ongeveer 740 vC, die sterfjaar van Ussia, en tree op tot ten minste 697 vC, die sterfjaar van Hiskia. In die eerste deel van die boek – hoofstuk 1-39 – fokus Jesaja op die probleem van sonde en die behoefte aan redding. Jesaja wys die mense van Juda onomwonde op hulle verkeerde dade, en roep hulle tot bekering om die komende oordeel van God te vermy.
Jesaja plaas sy boodskap in hoofstuk 1 in die formaat van ‘n regsaak wat die Here met die volk het. Die Here roep eerstens die hemel en die aarde aan as getuies van die saak wat Hy met sy volk het – vers 2-9. Hy spreek die volk aan oor die feit dat hulle Hom nie ken nie – al het Hy Homself en sy wil aan hulle geopenbaar – en daarom nie weet wie hulle is en aan wie hulle behoort nie. Dit sit agter hulle rebellie teen Hom, wat daarom deur Hom gestraf is deur die bykans totale verwoesting van hulle land. As die Here nie genadig was nie, sou die Here hulle soos Sodom en Gomorra heeltemal uitgewis het. (Die verwoesting waarvan hier gepraat word, verwys heel moontlik na die veldtog van Sanherib in die tyd van Hiskia waarvan Jesaja later in hoofstuk 36 [vgl 2 Kon 18] vertel. Die Here het uiteindelik self opgetree, ná Hiskia op roerende wyse vir die volk ingetree het, en ‘n oorblyfsel van Juda uit Sanherib se hand gered.)
Die Here spreek in die tweede plek die leiers aan en vereenselwig hulle met die leiers van Sodom en Gomorra in die sin dat hulle op soortgelyke wyse die wet van die Here verontagsaam het en ongebreidelde sondes teen God se wet toegelaat het – vers 10-15. Offers en feeste kan net werk as hulle die Here dien en die reg in hulle gemeenskap handhaaf. Die Here kan nie onreg en skynheilige godsdiens verdra nie.
Al oplossing, sê die Here in die derde plek, is dat die leiers en die volk tot inkeer kom, hulle verkeerde dade afsweer, en die regte dinge begin doen. Dan kan die saak wat die Here teen die volk het, bygelê word, en sal die Here hulle nie net vergewe nie, maar hulle sondes weg was, sodat hulle rein voor sy aangesig kan wees. “Al is julle sondes rooi soos karmosyn, dit sal wit word soos sneeu; al is dit rooi soos skarlaken, soos wol sal dit word.” Trouens, hulle land sal genees word en hulle sal die goeie van die land kan geniet. Anders sal ‘n verterende verwoesting hulle voorland wees.
Lees meer: https://bybelskool.com/jesaja-1-julle-ken-my-nie/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar