Psalm 127 – Werk en familie is gawes uit die hand van die Here
Psalm 127 – Werk en familie is gawes uit die hand van die Here
1‘n Pelgrimslied. Van Salomo. As die Here die huis nie bou nie, swoeg die bouers tevergeefs daaraan. As die Here oor die stad nie wag hou nie, bly die wagte tevergeefs wakker. 2Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, eers laat tot rus kom, kos eet wat moeisaam verkry is. Netsowel gee Hy dit aan sy geliefdes in die slaap. 3Kyk, seuns is ‘n erfdeel wat van die Here kom; die vrug van die moederskoot is ‘n beloning. 4Soos pyle in die hand van ‘n krygsheld, so is die seuns van jou jeug. 5Gelukkig is die man wat sy pylkoker met hulle gevul het. Hulle sal nie beskaamd staan wanneer hulle met vyande in die stadspoort woorde wissel nie.
Hierdie is die tweede Psalm wat met Salomo verbind word. Waar sy eerste Psalm, Psalm 72, gefokus het op die gebed dat God die koning in staat sal stel om na buite – veral met die oog op die volk en die nasies – volgens God se wil te regeer, fokus hierdie tweede Psalm, Psalm 127, op die gebed dat God alles sal voorsien wat nodig is om na binne – veral met die oog op die tempel, stad en sy eie huis – volgens sy wil te leef. Daarom is dit ook van toepassing op die pelgrims, nie net in terme van hulle verwagting dat die koning of goewerneur volgens God se wil sal leef nie, maar ook dat hulle self volledig op God sal vertrou om vir hulle in staat te stel om in eie kring Hom in alles te dien. Dit is daarom ook ‘n Psalm wat ons ter harte kan neem vir ons eie konteks.
Die Psalm vier twee gawes van die Here, dinge wat nie losstaan van ons eie inspanning en werk nie, maar ten spyte daarvan steeds genadegawes bly. Die eerste gawe is God se voorsiening in ‘n mens se werksomgewing. Vir Salomo het dit beteken dat hy die huis van die Here, die tempel, gebou het, sowel as dat sy mense oor die stad wag gehou het, en hy sy werk as koning met ywer verrig het. Die Psalmis bely egter dat ‘n mens se geswoeg tevergeefs is, as die Here die huis nie bou nie. Tevergeefs bly ‘n mens wakker om wag te hou, as die Here nie oor die stad die wag hou nie. En tevergeefs staan jy vroeg op en gun jouself nie eers tyd om ‘n wyle te sit nie terwyl jy met inspanning jou brood probeer verdien, as die Here nie daarin teenwoordig is nie. Trouens, soos Salomo dit een keer ervaar het, die Here gee dit vir jou in jou slaap. Die Psalmis verwys hier waarskynlik na Salomo se roepingservaring waar hy ‘n luisterende hart van die Here ontvang het terwyl hy geslaap het (1 Kon 3). Sy naam Salomo het vrede beteken, maar insiggewend genoeg, skryf een van die Vroeë Profete dat die Here hom liefgehad het en hom deur die profeet Natan Jedidja laat noem het, wat beteken: “die Here het hom lief”. (2 Sam 12:25). Die ooreenkoms met vers 2 is opvallend.
Die tweede gawe is God se voorsiening in ‘n mens se familie omgewing. Alle kinders is gawes van die Here, maar seuns is spesifiek in die konteks wat hier aangeraak word, ‘n bonus. Hulle is ‘n erfdeel wat die Here gee deur die vrug van die moederskoot wat soos pyle in die hand van ‘n krygsman is, met die oog op die moontlikheid van fisiese aanvalle. Selfs wanneer ‘n mens egter in die poorte – waarskynlik dui dit op regspraak – met vyande woorde wissel, sal jy nie beskaamd staan nie, en jouself met ‘n klomp getuies wat aan jou kant is, kan verdedig. Dié Psalm moedig ons dus aan om voluit te lewe – in werks- en familie-verband – maar jou vertroue op God te plaas wat vir albei oorvloedig kan voorsien.
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-127-as-die-here-die-huis-nie-bou-nie-swoeg-die-bouers-tevergeefs-daaraan/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar