Lukas 12:13-21 – Rykdom in God duur vir ewig
Lukas 12:13-21 – Rykdom in God duur vir ewig
13Iemand uit die skare het vir Hom gesê: “Meester, sê vir my broer om die erfenis met my te deel.” 14Maar Hy antwoord hom: “Mens, wie het My as regter of bemiddelaar oor julle aangestel?” 15Toe sê Hy vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe word nie bepaal deur die oorvloed van sy besittings nie.” 16Daarna het Hy vir hulle die volgende gelykenis vertel: “’n Sekere ryk man se plaas het ‘n goeie oes opgelewer. 17Hy het homself toe afgevra, ‘Wat moet ek doen? Want ek het nie plek waar ek my oes kan opgaar nie.’ 18Toe sê hy, ‘Dit is wat ek sal doen. Ek sal my skure afbreek en groter skure bou. Daarin sal ek al my graan en my goedere opgaar. 19Dan sal ek vir myself sê, Mens, jy het baie goed opgegaar vir baie jare. Ontspan, eet, drink en wees vrolik.’ 20Maar God het vir hom gesê, ‘Jou dwaas! Vannag nog sal jou lewe opgeëis word. En wat jy bymekaargemaak het, aan wie sal dit dan behoort?’ 21So gaan dit met iemand wat vir homself skatte bymekaarmaak, en nie in God ryk is nie.”
Iemand uit die skare wil by Jesus ‘n beslissing hê oor die toepassing van die Joodse erfreg. Hy vra dat die Here sy broer aansê om die erfenis met hom te deel. Moontlik was daar ‘n ongerymdheid van die kant van sy pa of broer. Óf daar was ‘n ongelukkigheid deurdat hy jaloers was op die broer se deel van die erfporsie. Dit kon ook wees dat die broer die eersgeborene was en daarom ‘n dubbele deel kon kry. Dit het baie keer tot ongelukkigheid gelei (Deut 21:17). Jesus weier egter om as regter of arbiter in erfreg sake op te tree. Dit was nie sy missie na die wêreld toe nie. Hy gaan nie betrokke raak by sake wat met gierigheid te make het nie.
Jesus waarsku daarom die skare teen gierigheid, want jou lewe bestaan nie uit die oorvloed van jou besittings nie. Vir gierigheid moet jy baie versigtig wees. Jy moet daarvoor oppas en jou daarvan weerhou. Die Griekse woord phulassō beteken eintlik dat jy jou teen gierigheid moet beskerm, dat jy jou moet “isoleer” daarvan! Want, gierigheid kan jou lewe verwoes, soos die gelykenis sal aandui.
Jesus vertel dan die gelykenis van die ryk man wie se land ‘n goeie oes gelewer het. Hy het egter ‘n probleem gehad. Hy het nie genoeg plek om die oeste te kan stoor nie. Sy plan was om sy skure af te breek en groteres te bou sodat hy al sy graan en besittings daar kan stoor. En dit is presies waar die probleem dan kom. Sy motivering was nie om groter milddadigheid aan ander te betoon nie. Dit was om sy eie belange te dien. Hy wou sy oorvloed in die oorblywende jare geniet net vir homself. Let op hoeveel keer die woorde “ek” en “my” in die gelykenis voorkom! God het egter die laaste sê oor sy besittings, want Hy het ook die laaste sê oor sy lewe. God beskou die gierigaard as ‘n dwaas – God kan iemand ‘n “dwaas” noem! – want daardie selfde nag sal sy siel van hom geëis word en hy sal geen voordeel meer hê van sy rykdom nie. Jesus trek dan sy gevolgtrekking oor gierigheid. Sorg dat jy ryk is in God, dat jy vir God goed opgaar, nie vir jouself nie, want jou rykdom sal jou nie uiteindelik enigsins iets baat nie. Daardie rykdom duur vir ewig.
Die punt van hierdie gelykenis is helder en duidelik. ‘n Mens moet gefokus wees op God en sy koninkryk. Alles wat jy het moet ingespan word ter wille van God en sy saak. Selfs die onderlinge ongelukkigheid oor die voordeel wat ander bó jou het, moet laat vaar word, sodat dit nie later blyk blote gierigheid aan jou kant te wees nie. Jy kan nie God en Mammon dien nie. Maar, ‘n mens kan dit net doen, as jy die volgende deel van Jesus se lering in ag neem. Dit is dat Hy vir ons sorg soos die lelies van die veld (Luk 12:22-34).
Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-121-1335-god-sorg-vir-sy-kinders-in-gevaar/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar