Spreuke 15:8-10, 29 – Die gebed van opregtes geniet God se goedkeuring
Ons kom in Spreuke 15-16 by ‘n teologiese dieptepunt in die boek Spreuke. Nie net word die naam van die Here hier meer kere gebruik nie (20 keer uit die 111 keer wat Jahwe, God se persoonsnaam, in Spreuke gebruik word), maar die temas het ook spesifiek met God se teenwoordigheid en betrokkenheid in ons lewens te make. Daar is in hierdie gedeelte 2 goue drade wat die onderskeie tekste op ‘n manier aan mekaar verbind: 1) Woorde maak saak, en 2) God maak saak. Dit is dan ook twee van die dinge waarop ‘n mens in jou lewe moet fokus: wat en hoe jy dinge sê, en met Wie jy rekening hou.
Ek kies vier verse wat ‘n wonderlike belofte onderstreep, maar jy is welkom om die hele hoofstuk te lees om nog ander daarin op te spoor.
Spreuke 15:8-10, 29 – Die gebed van opregtes geniet God se goedkeuring
8Die offer van goddeloses is afstootlik vir die Here, maar die gebed van opregtes geniet sy goedkeuring. 9Afstootlik vir die Here is die pad van ‘n goddelose, maar wie geregtigheid nastreef, vir hom is Hy lief. 10‘n Ernstige vermaning is gepas vir hom wat die pad verlaat; wie teregwysing haat, sal sterf… 29Die Here is ver van goddeloses, maar die gebed van regverdiges hoor Hy.
Opregtheid is die geheim van ‘n lewe voor God (vers 8). Selfs die offers van die goddelose daarenteen is afskuwelik vir God. Dit is vir Hom ’n gruwel (abomination). Die gebed van die opregte, die “regverdige”, geniet egter sy goedkeuring (vgl Jak 5:16-18 waar Elia as voorbeeld hiervan genoem word). Hy hoor hulle gebede.
Die lewenswyse van die goddelose is eweneens afskuwelik vir God. God het egter die een lief wat reg en geregtigheid najaag (vers 9). Daarom is ‘n streng straf gepas vir dié wat die regte pad verlaat (vers 10). In die hoop dat hulle sal terugkeer na die Here. Dié wat egter teregwysing haat, sal sterwe. Die Here laat hulle oor aan hulle eie keuse.
Vers 29 sluit weer aan by die boodskap van vers 8 en onderstreep die belofte dat God die gebede van die regverdiges (opregtes) hoor, maar ver is van die goddelose. Soos Jesaja ons ook waarsku: “maar julle ongeregtighede het ’n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.” (Jes 59:2) Maar, Jeremia ons verseker: “Roep My aan, en Ek sal jou antwoord; Ek wil aan jou groot en onbegryplike dinge bekend maak wat jy nie geweet het nie.” (Jer 33:3)
Lees meer: https://bybelskool.com/spreuke-151-33-woorde-maak-saak-god-maak-saak/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar