Lukas 15:1-10 – God is bly oor elke sondaar wat hom of haar tot Hom bekeer
Lukas 15:1-10 – God is bly oor elke sondaar wat hom of haar tot Hom bekeer
1Al die tollenaars en die sondaars het dikwels nader gekom om na Hom te luister. 2Die Fariseërs en die skrifkenners het onder mekaar gemor: “Hierdie man ontvang sondaars en eet saam met hulle.” 3Toe het Hy vir hulle hierdie gelykenis vertel: 4“Wie van julle wat honderd skape het en hy verloor een van hulle, laat nie die nege-en-negentig in die woestyn agter, en gaan agter die verlore een aan totdat hy hom kry nie? 5En as hy hom gekry het, tel hy hom met blydskap op sy skouers, 6en gaan huis toe en roep sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle, ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat verlore was, weer gekry.’ 7Ek sê vir julle, so sal daar in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer het, eerder as oor die nege-en-negentig regverdiges wat nie nodig het om tot bekering te kom nie.” 8“Of watter vrou wat tien dragmes het, en een dragme verloor, steek nie ‘n lamp op, vee die huis uit en soek deeglik totdat sy dit kry nie? 9En as sy dit gekry het, roep sy haar vriendinne en bure bymekaar en sê, ‘Wees saam met my bly, omdat ek die dragme wat ek verloor het, weer gekry het.’ 10So, sê Ek vir julle, is daar blydskap onder God se engele oor een sondaar wat hom bekeer.”
Jesus vertel hier in Lukas 15 vir ons drie gelykenisse: die verlore skaap (Luk 15:1-7 – ook in Matt 18:10-14), muntstuk (Luk 5:8-10), en seun (Luk 15:11-32 – ons het dit reeds vroeër al gelees – jy kan dit hier lees: https://bybelskool.com/lukas-1511-32-god-se-vaderhart-is-vol-barmhartigheid/). Dit is van die helderste sketse van God se hart vir verlorenes in die Bybel. God is bly oor elke sondaar wat hom of haar tot Hom bekeer. Let op dat Jesus dié gelykenisse vir die Fariseërs en skrifkenners vertel in reaksie op hulle beswaar dat Jesus eet saam met die tollenaars en sondaars wat na Hom kom luister het.
Jesus maak die eerste gelykenis van die verlore skaap persoonlik deur vir die Fariseërs in te trek met die aanvang van die gelykenis: “Wie van julle …” Hy maak dus aanspraak op die feit dat selfs die Fariseërs en skrifkenners nie eers een verlore skaap uit hulle trop aan sy lot sal oorlaat nie. As een van hulle so gelukkig is om 100 skape te hê, en een raak verloor, sal hy die 99 in die veld agterlaat en agter die een aangaan wat verlore is totdat hy opgespoor is. As hy die verlore skaap gekry het, sal hy dit op sy skouers sit in blydskap en sy vriende en bure bymekaar maak om fees te vier oor die verlore skaap wat gevind is. Die punt van die gelykenis, sê Jesus, is dat daar op ‘n soortgelyke wyse blydskap in die hemel is oor een sondaar wat tot bekering kom, eerder as oor 99 regverdiges wat nie bekering nodig het nie. Nie asof sondaars belangriker is as regverdiges nie. God is lief vir en bly oor regverdiges. Maar, bekering is ‘n saak van groot blydskap in die hemel, omdat dit lewe uit die dood beteken, soos die gelykenis van die verlore seun gaan illustreer. Sien ook die inisiatief van God raak in die soek na verlorenes. Dat ons tot bekering gekom het, is te danke aan sy liefdevolle aanraking van ons harte om Hom te glo en gehoorsaam.
Waar die gelykenis van die verlore skaap die skaap se nood beklemtoon het, beklemtoon Jesus in die tweede gelykenis van die verlore muntstuk (dragmes) die vrou se nood. Dit is haar verlies wat haar laat soek na die verlore silwer muntstuk. Dit was gelyk aan ‘n denarius, ‘n normale dagloon in daardie tyd. Die feit dat sy net tien dragmes gehad het, beteken dat sy arm was en regtig nie ‘n tiende van haar spaargeld kon verloor nie. Sy steek ‘n lamp op, vee die huis uit en soek deeglik tot sy die verlore muntstuk kry. Die vrou soek dus vir die verlore muntstuk ter wille van haarself en vier fees saam met haar vriendinne en bure nadat sy dit gevind het. Jesus beklemtoon daarmee die ander kant van wie God is en hoe Hy werk in hierdie wêreld. Hy soek nie net verlorenes ter wille van hulleself nie (verlore skaap), maar ook ter wille van Homself (verlore dragme). Daarom is daar blydskap onder die engele oor self net een sondaar wat tot bekering kom. Dit is ‘n kant van God wat ‘n mens verras. Hy soek verlorenes omdat dit vir Homself saak maak. Dit lig ook die gordyn op die engele wat saam met Hom bly is as ‘n sondaar tot bekering kom. Iets wat ons moet motiveer om self saam met God te soek na dié mense wat op sy hart is.
Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-141-1532-god-het-n-hart-vir-verlorenes/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Amanda
I would like to study to become a pastor where do I start? Thank you
Chris van Wyk
I will respond in email. Basically our process begins with the foundation level modules (1-4) that can be done in person or online. Then we have undergraduate formal training (Dip; AAATh degree) as well as graduate training (Grad Dip, MA, MDiv) up to doctoral level (DMin and PhD).