Skip to main content

Numeri 18 – Israel word ‘n gemeenskap van gee en neem

Die Here volg die bevestiging van Aäron se verkiesing as hoëpriester op met ‘n beklemtoning van die verantwoordelikhede wat saam met die voorreg van priesterskap gaan.  Dit sluit in om seker te maak dat die volk nie teen die priesterskap oortree nie, want die Here wou nie die hele volk uitwis nie – Num. 18:1-7!  Die Here volg dié beklemtoning van verantwoordelikhede op met sy geskenk aan hulle.  Die priesters kry deel aan die ongeveer tien tipe offers wat gebring is, en die Leviete die tiendes van die volk.  Dit was in ruil vir die feit dat hulle nie enige grond sou kry met die aanvanklike indeling van die beloofde land nie – Num. 18:8-32.

Continue reading

Numeri 19 – God voorsien reinigingswater sodat hulle met Hom in gemeenskap kan lewe

Die Here gee in hierdie hoofstuk vir Moses en Aäron opdrag om die riglyne rondom die sondoffer (Levitikus 4:1-5:13 – Die sondeoffer as reiniging en vergifnis van konkrete sondes) uit te brei.  Dit moes die problematiek van ‘n al hoe groter voorkoms van onreinheid die hoof bied, omdat daar so ‘n groot klomp mense weens hulle verset teen God en sy leiers dood is.  Enige kontak met die dood het jou immers onrein gemaak, sodat jy nie die Here by die Tabernakel kon dien nie.  Selfs die tente van die families waarin iemand dood is, het onrein geword, sowel as almal wat in aanraking met lyke gekom het.

Polariteit van lewe of dood

Jy kan jou geheue verfris om net weer te lees wat ek oor heiligheid en reinheid geskrywe het in my bydrae daaroor by Levitikus: “Wees heilig, want Ek is heilig”.  Dit help om oor rein en onrein te dink as ‘n polariteit van lewe of dood.  Dit wat lewe gegee en bevorder het, was rein.  Dit wat die lewe bedreig en die dood gebring het, was onrein.  Daarom het die aanraking van ‘n lyk of ‘n dooie dier jou onrein gemaak.  Soortgelyk een of ander velsiekte of gebrek.  Wanneer daar egter genesing ingetree het óf jy deur ‘n proses van reiniging gegaan het, is jy weer rein verklaar.

Continue reading

Numeri 20 – God se soewereine transformasie troef ongehoorsaamheid en onbarmhartigheid

Dit is merkwaardig dat Numeri van hoofstuk 19 tot 20 ‘n hele 38 jaar oorslaan, die hele tyd van die eerste generasie se omswerwinge in die woestyn tot hulle weer by Kades uitkom sodat die tweede generasie die land kan binnetrek.  Hoofstuk 20 begin ook nie met ‘n positiewe hoopvolle verhaal nie.  Trouens aldrie opgetekende verhale in die hoofstuk vertel van verydeling en mislukking.

Dit begin met Moses en Aäron se struikeling net voor die Intog om nie die Here te vertrou en sy heiligheid te erken  nie.  Hulle sou daarom nooit die beloofde land sien nie – Num. 20:1-13.  Dit vervolg met die weiering van hulle broersvolk Edom, nageslag van Esau, om hulle op enige manier by te staan om deur hulle grondgebied te trek na Kanaän toe.  Die kwaaivriendskap sou net in intensiteit hierna toeneem – Num. 20:14-20.  Dit sluit af met die dood van Aäron op Horberg.  Sy seun sou die beloofde land binnegaan as hoëpriester. Aäron nie – Num. 20:22-29.

Continue reading

Numeri 21 – God bring verlossing vir dié wat op Hom vertrou

Die pas begin versnel met die trek langs die Dooie See op aan die oostekant van die Jordaan.  Die eerste oorwinning wat die tweede generasie van Israel behaal, is teen die Kanaäniete van koning Arad wie se stede hulle met die banvloek tref – Numeri 21:1-3.  Dit word opgevolg deur nog ‘n tranedal van verset oor kos en water wat die skrywer met ‘n perfekte idioom weergee: “die siel van die Israeliete het kort geraak.”  Die Here se oordeel van giftige slange word opgevolg met die verlossing van die koperslang vir dié wat op Hom vertrou, iets wat in die NT deur Johannes, Paulus en Judas in hulle boodskappe ingetrek word – Numeri 21:4-9.  Uiteindelik kry die Israeliete wel water waarvan hulle die herinnering met ‘n besondere lied verewig – Numeri 21:10-20.  Die eerste grondgebied wat hulle nie net inneem nie, maar bewoon is dié van die Amoriete van koning Sihon en die Refaïete van koning Og wat ook met ‘n lied verewig is – Numeri 21:21-35.

Continue reading

Numeri 22 – Die Here gebruik die bose Bileam om Israel te seën

Die Israeliete het in die vlakte van Moab aangekom en sou hier vertoef tot en met die Intog deur die Jordaan soos dit in die boek Josua beskryf word.  Hierdie vlakte is dan ook reg oos van Jerigo wat die eerste stad in Kanaän anderkant die Jordaan sou word wat hulle inneem.  Die vlakte van Moab is ook die plek waar Moses sy laaste toesprake sou hou wat vir ons in Deuteronomium opgeteken is.

In hoofstuk 22-24 tref ons die enigmatiese waarsêer en profeet Bileam aan (vgl. Jos. 13:22; 2 Pet. 2:15).  Koning Balak van Moab (afstammelinge van Lot en sy een dogter), om wie se grondgebied hulle so pas in vrede getrek het, huur hom in samewerking met die Midianiete (afstammelinge van Abraham by Ketura wat later in die tyd van Gideon weereens teen Israel geveg het – Rigt. 6) om die volk Israel te vervloek.  In plaas daarvan om hulle te help met kos en water, wil Balak hulle kwaad aandoen (vgl. die herinneringe hieroor by Neh. 13:2; Mig. 5:2).

Bileam kan egter nie anders nie as om die volk vier keer te seën in opdrag van die Here (Num. 23:1-24:19) wat hy afrond met ‘n paar ander uitsprake oor die Amalekiete (afstammelinge van Esau, verwant aan die Edomiete), Keniete (die deel van die Midianiete met wie Israel goeie verhoudinge gehandhaaf het) en Kittiërs (Grieke – Num. 24:20-25).  Maar alles is duidelik nie pluis met Bileam nie, soos ‘n mens reeds in die begin vermoed met die verwarrende maniere waarop die verskillende gesprekke met die Here verloop.

Uiteindelik word dit vir ons verklaar met die mededeling dat hy agter die skerms bose raad vir die Moabiete en Midianiete gegee het om die Israeliete tot afgodsdiens te verlei deur onsedelikheid (Num. 31:16; vgl. Num. 25).  Daarmee slaag hy so byna.  Daarom word hy in die voortspruitende oorlog wat God teen die Midianiete verklaar, doodgemaak deur die Israeliete (Num. 31:8) en word sy nalatenskap in ‘n baie negatiewe lig gesien in die res van die Bybel.

Sy naam word in die res van die Bybel verbind met gierigheid, afgodsdiens en onsedelikheid.  Judas en Petrus verbind: “die weg van Bileam” aan die onreg wat hy die Israeliete aangedoen het ter wille van geld (Jud. 11; 2 Pet. 2:15-16).  Jesus spel weer die: “leer van Bileam” uit as die verleiding tot afgodsdiens en onsedelikheid in sy brief aan die gemeente van Pergamum (Openb. 2:14).

Bileam is ook uit buite-Bybelse bronne bekend wat sy historisiteit bevestig (Deir Allah naby die Jordaan).

Continue reading

Onlangse kommentaar