Die tema van beskerming word voortgesit in terme van die grense van die land sowel as die opdrag om die inwoners van die land te verdryf sodat hulle nie die volk verlei om op dieselfde wyse te sondig as die Kanaäniete en die gramskap van die Here oor hulle te bring nie. Dit is deel van die Aäronitiese seën vir die volk dat die Here hulle wil beskerm in die land – Numeri 34:1-12. Dit is ook waarom die grense van die land nie net in terme van die buitelyne bepaal word nie, maar ook in terme van elke stam en elke familie, sodat elkeen ‘n plek kan hê wat hulle hulle eie kan noem. So sal die genade en die vrede van God op ‘n praktiese konkrete manier ervaar kan word, soos dit ook in die Aäronitiese seën uitgespel word – Numeri 34:12-29. Daarby kom 42 stede en weiveld vir die Leviete – Numeri 35:1-8 – saam met 6 stede wat as asielstede kan dien vir almal wat onopsetlik iemand anders se dood veroorsaak, sodat ‘n regverdige beslissing gevel kan word. Anders sou die land onrein word. Die beskerming het ook die vreemdelinge sowel as uitlanders gegeld – Numeri 35:9-34.
Dit is heel gepas dat die boek Numeri afsluit met die verdere verfyning van die erfreg van vroue. Dit illustreer die strewe na billikheid in elke faset van die gemeenskapslewe van Israel. Hierdie keer is dit die familiehoofde van Manasse wat vir Moses en die ander leiers uitwys dat die reëling dat vroue kon erf potensieel sou beteken dat erfgrond vanuit ‘n spesifieke stam vervreem kon word wanneer die hersteljaar aanbreek.
Op bevel van die Here het Moses toe gereël dat die erfreg van vroue net gehandhaaf kon word as hulle binne hulle eie stam sou trou. Die beginsel waarop dit gebaseer was, is die feit dat geen grond van die Israeliete van die een stam na ’n ander mag oorgaan nie. Elke Israeliet moes vashou aan sy deel van die stam se grond.
Nie net het die dogters van Selofgad toe gedoen soos wat die Here vir Moses beveel het nie. Die hele Israel het hulle daaraan gehou. Erfgrond is nooit vervreem nie en oortredings van dié reël is swaar gestraf. Selfs konings het dit ontgeld waar die reëls oor erfgrond oortree is, soos ons uit die kosbare verhaal van Nabot se wingerd in koning Agab se tyd leer (1 Kon. 21).
Boodskap
Ons het aan die einde van ons reis met die boek van Numeri gekom. Wat uitstaan, is die wyse waarop die Aäronitiese seën nie net geestelik in die Tabernakel ‘n rol gespeel het nie, maar ‘n beginsel geword het waarop die hele gemeenskapslewe van Israel gebaseer is. Elke reël wat met die verloop van hulle reis saam met die Here deur die woestyn neergelê is, het ten doel gehad om die volk te beskerm, om God se genade oorvloedig oor hulle te laat wees, en hulle vrede in hulle verhouding met Hom, mekaar en die wêreld te laat beleef.
Dat die tweede generasie na veertig jaar gereed is om die beloofde land in te trek, is genade. Dat die eerste skermutselings met die Kanaäniete, Amoriete, Moabiete en Midianiete tot klinkende oorwinnings vir Israel gelei het, is genade. Dat die verderflike invloed van die bang Balak en die bose Bileam nie die laaste sê oor hierdie generasie gehad het nie, is genade.
Die volk was nou gereed om na Moses in sy wydlopende drie toesprake te luister soos die boek van Deuteronomium dit vir ons gaan vertel. Dit is eintlik die “vyfde Evangelie” soos wyle prof. Dirk Odendaal lief was om te sê. Ek kan amper nie wag dat ons saam daarna gaan luister nie. Sela. Soli Deo Gloria.
Hannelie van der WaltonHoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Reis deur die Psalms het my meer insig in die Psalms gegee en waaroor dit eintlik gaan. Meer bewustheid om die Here te loof vir Wie Hy is en opnuut elke dag te besef how getrou en betroubaar Hy is. As kind van Hom weet ek dit maar hierdie reis het my net meer en meer daarvan bewus gemaak en het dit…
San GottschalkonSluit by 49 Dae van Gebed vir Leiers aanMôre! Sal die gebedsaksie vir ons kennisgewings stuur as pns klaar geregistreer het? Hoe kom ons by die website uit as ons elke oggend dit wil oopmaak?
Onlangse kommentaar