Skip to main content

Numeri 8 – Die Leviete word afgesonder en gereinig vir hulle dienswerk

In hierdie hoofstuk word die laaste detail ten opsigte van die Tabernakel en die Leviete gegee voordat hulle die eerste Paasfees in die woestyn sou vier en die reis na die beloofde land sou aanpak.  Dit sluit die voorskrifte in vir die versorging van die menora (kandelaar) met die sewe lampies in die heiligdom (Num. 8:1-4), die afsondering en reiniging van die Leviete vir hulle dienswerk (Num. 8:5-22) en die reëlings vir die termyne waarin hulle die dienswerk kon verrig (Num. 8:23-26).

Continue reading

Numeri 9 – Wanneer God beweeg, beweeg die geloofsgemeenskap

Soos die eerste Paasfees die Uittog uit Egipte ingelui het (Eks. 12), só lui die tweede Paasfees die voortsit van die reis deur die woestyn na die beloofde land in – Numeri 9:1-14.  Soos die wolk- en vuurkolom voorheen die kompas was op die trek uit Egipte deur die Rietsee (Eks. 13), só word dit nou ook die geval op die trek van Sinai af na die beloofde land – Numeri 9:15-23.

Wanneer die wolk optrek, was dit die teken dat die volk moes trek.  Wanneer die wolk afkom, was dit die teken dat die volk moes kamp opslaan.  Soos God dus sou beweeg, só moes die geloofsgemeenskap Hom getrou volg.

Continue reading

Numeri 10 – Die tyd vir die reis na Kanaän het aangebreek

Die tyd vir die reis na Kanaän het aangebreek.  Veertien maande ná die Uittog uit Egipte beveel die Here Moses om twee silwertrompette te maak om nie net met die volk te kommunikeer nie, maar ook die Here te herinner om op hulle ag te slaan – Numeri 10:1-10.  Op die twintigste van die tweede maand van die tweede jaar na die Uittog het die wolk opgetrek van die Tabernakel en het die volk in die voorgeskrewe volgorde begin trek op bevel van die Here, hoewel dit blyk dat Moses met sy uitnodiging aan Gobab nie sy volle vertroue op God stel nie, met destruktiewe gevolge waarop die volgende hoofstukke sal uitbrei – Numeri 10:11-34.  Telkens het Moses die “Lied van die Ark” aangehef as gebed van vertroue in reaksie op God se begeleiding in die “heilige oorlog” sowel as sy teenwoordigheid in “aanbidding”  – Numeri 10:35-36.

Continue reading

Numeri 11 – Die Here troef die gulsige verset van die volk met sy Gees en ‘n oordaad vleis

Die volk is nog maar net ‘n bietjie meer as drie dae ver op hulle reis na die beloofde land, waarskynlik nog by die eerste kampplek wat Gobab moontlik vir hulle aangewys het.  Hulle gehoorsaamheid met die bou van die Tabernakel en aan die militêre, sosiale, en godsdienstige strukture waarin die Here hulle geplaas het, verdamp soos mis voor die son.

In vyf episodes word die gulsige verset van die volk en die Here se reaksie daarop vertel:

  1. Die volk begin kla oor hulle swaarkry en verwyt die Here waarop die Here met ‘n verterende vuur antwoord wat sommige uitwis. Die plek kry die naam Tabera (“brand”) wat ‘n simbool word vir God se reaksie op ondankbare verwytende verset – Num. 11:1-3.
  2. God se streng optrede help egter net vir ‘n tyd. Net daarna kry die mense van gemengde afkoms (gepeupel) wat hulle met die Israeliete geassosieer het (vgl. ook Eks. 12:38) ‘n “onversadigbare lus vir vleis” wat die volk verlei om ook terug te verlang na die vleis, vis, komkommers, waatlemoene, prei, uie en knoffel van Egipte – Num. 11:4-9.
  3. Dit loop uit op ‘n indringende gesprek tussen Moses en die Here waarin die realiteit van die uitdaging van hierdie reis deeglik bespreek word en die Here twee baie spesifieke reaksies aankondig: ‘n deel van sy Gees word vir die leiers gegee om Moses te help, en vleis vir die volk se lus – Num. 11:10-23.
  4. Die Here se belofte van sy Gees vir die leiers gaan dan in vervulling – Num. 11:24-30,
  5. en ‘n massiewe swerm kwartels wat vleis voorsien vir die volk, maar terselfdertyd die verwytende gulsige lede van die volk troef met dodelike oordaad. Die plek kry die naam Kibrot-Taäwa (“grafte van gulsigheid”) wat ‘n simbool word vir God se reaksie op gulsigheid wat maar net gierigheid in ‘n ander gedaante is – Num. 11:31-35.

Continue reading

Numeri 12 – God bevestig Moses as sy betroubaarste dienaar

Mirjam en Aäron se opstand teen Moses word in hoofstuk 12 in vier bewegings vertel: verset teen Moses oor sy Kussitiese vrou (Num. 12:1-3), teregwysing deur die Here waarin Moses as God se betroubaarste dienaar bevestig word (Num.12:4-10a), voorbidding deur Moses dat Mirjam genees word (Num. 12:10b-14), en die uiteindelike reiniging voor die volk verder trek (Num. 12:15-16).  Hierna sou Aäron se gesag ook uitgedaag word soos ons in Numeri 17 gaan lees.

Continue reading

Onlangse kommentaar