Skip to main content

Numeri 13 – Ons was soos sprinkane in ons eie oë

Met die aankoms van die Israeliete by Kades in die Paranwoestyn is die opdrag van die Here dat Moses twaalf leiers uit die twaalf stamme as verkenners moet aanwys.  Moses se opdrag aan hulle was om deeglik te kyk na die land en sy mense om die volk opgewonde te maak oor wat die Here vir hulle gaan gee en ook inligting te kry vir hulle veldtog – Numeri 13:1-20.  Die verkenning sluit die hele land in van die Sinwoestyn in die suide tot by Lebo-Hamat in die noorde met spesiale vermelding van Hebron waar God aan Abraham die belofte van die land gemaak het – Numeri 13:21-25.  Met hulle terugkoms was hulle positief oor die moontlikhede van die land, maar negatief oor die gevaar wat die mense vir die Israeliete ingehou het.  Kaleb se verweer dat hulle die land sál kan inneem, word getroef deur die slegte gerug wat die meerderheid van die verkenners onder die volk versprei: “Ons was soos sprinkane in ons eie oë, en so was ons ook in hulle oë.” – Numeri 13:26-33.

Continue reading

Numeri 14 – Hoe lank sal hierdie volk my almag bly onderskat?

Hierdie hoofstuk lees soos ‘n boeiende kortverhaal.  Dit beskryf in sewe episodes die eb en vloei van die verhouding van die volk met God:

  1. Dit begin by die frustrasie van God met die feit dat die volk vir hoe lank al sy almag bly onderskat. Hulle huil uit vrees vir die Intog eerder as om op God te vertrou – Numeri 14:1-12.
  2. Moses reageer op God se toorn deur Hom aan sy groot liefde vir hulle te herinner en te vra dat Hy hulle sonde sal vergewe – Numeri 14:13-19.
  3. Die Here demonstreer sy vergifnis, maar is ook duidelik daaroor dat nie een van dié wat Hom geminag het die land sal sien nie – Numeri 14:20-25.
  4. God sal met hulle maak soos Hy hulle hoor sê het. Hulle sal die binnekant van dié land nooit sien nie op grond van hulle eie ongeloof – Numeri 14:26-30.
  5. Wat die Here wel sal doen, is om aan hulle kinders die land te gee. Dié land wat hulle pa’s en ma’s verwerp het, sal hulle lief kry – Numeri 14:31-35.
  6. Die verkenners in verset word nie vergewe nie, en sterf deur ‘n plaag van die Here, omdat hulle ‘n slegte gerug oor die land versprei het en direk tot die vrees van die volk aanleiding gegee het – Numeri 14:36-38.
  7. Die volk is egter self vermetel genoeg om op hulle eie vermoëns staat te maak en die land tóg in te val toe hulle agterkom dat hulle verkeerd opgetree het, maar téén die Here se wil. Daarom faal hulle in hulle onderneming.  Die Here was nie daarin teenwoordig nie – Numeri 14:39-45

Continue reading

Numeri 15 – Verdere riglyne vir die hantering van sondes

Hierdie hoofstuk handel oor riglyne wat met die hantering van vier tipe sondes te make het.  Vorige riglyne word verder aangepas en nuwes gegee.  Dit handel oor:

  1. Riglyne vir bykomende offerandes vir hulle algemene sondigheid – Numeri 15:1-21;
  2. Riglyne vir onopsetlike sondes sowel as moedswillige of opsetlike sondes – Numeri 15:22-31;
  3. Riglyne vir die skending van die Sabbat – Numeri 15:32-36;
  4. Riglyne vir klossies aan hulle klere wat herinner aan God se gebooie sodat hulle nie die sondige begeertes van hulle hart en oë navolg nie – Numeri 15:37-41.

Dit is heel gepas ná die vorige hoofstuk waarin die verset van die volk gemaak het dat hulle op ‘n tragiese manier die vervulling van God se landsbelofte gemis het.  Die land is nie totaal vir die volk verlore nie – hulle kinders sal die land inneem – al moet hulle die straf vir hulle ongehoorsaamheid dra.  Die feit dat hier ook ‘n duidelike reël vir moedswillige en opsetlike sondes neergelê word, antisipeer die verdere verset van Korag, Datan en Abiram van hoofstuk 16.

Continue reading

Numeri 16 – Verset lei tot veroordeling wat net getroef word deur voorbidding en versoening

Net wanneer ‘n mens dink daar kan nie nóg iets verkeerd gaan in die woestyn nie, dan word jy verras met ‘n volgende fase in die verset van die volk teen die pad wat die Here met hulle loop.  Eers was dit die onversadigbare lus vir vleis van die volk (hfst. 11).  Toe het Mirjam en Aäron teen Moses in opstand gekom (Num. 12).  Dit is opgevolg met die volk se weiering om die land van belofte binne te trek uit vrees vir die “reuse” (Num. 13-14).

Hier in hoofstuk 16 word die ontevrede verset voortgesit met ‘n verdere opstand teen Moses deur Korag, ‘n Leviet, en Datan en Abiram, nageslag van Ruben, die oudste seun van Jakob.  Hulle het in opstand gekom teen die posisie wat die Here hulle onder die volk gegee het.   Korag wou ‘n priester wees, nie net ‘n Leviet nie.  Datan en Abiram wou waarskynlik hê dat hulle die voorregte van die eersgebore stam kon geniet deur ‘n meer prominente leierskaprol te speel.

Ten diepste het hulle God se verkiesing van Moses en Aäron as leiers begeer.  Hulle jaloesie het egter tragiese gevolge, want die verset deur die groepie leiers (Num. 16:1-18) word nie net beantwoord deur die Here se veroordeling en straf nie (Num. 16:19-40), maar boonop nagevolg deur die volk in hulle verdere verset teen Moses en Aäron wat deur die Here met ‘n plaag beantwoord word.  Dié straf word uiteindelik net die hoof gebied deur die voorbidding en versoening wat die twee leiers inderhaas vir hulle bewerk (Num. 16:41-50).

Continue reading

Numeri 17 – Aäron se kierie met ryp amandels boesem ontsag in

In opvolg van die verset teen Aäron in die vorige hoofstuk tree die Here proaktief op en bevestig met ‘n wonderwerk dat Aäron inderdaad deur Hom gekies is as hoëpriester. Hy laat elke stam ‘n kierie bring, een vir die leier van elkeen van die twaalf stamme met hulle name daarop geskrywe.

Op Levi se kierie is Aäron se naam geskryf wat waarskynlik beteken dat daar net een kierie vir Efraim en Manasse was, die twee dele van die Josefstam.  Deur Aäron se kierie daar in die “tent met die getuienis”, in die allerheiligste deel waar die ark (van die getuienis) gestaan het, lewend te maak deur dit te laat bot, en selfs bloeisels en ryp amandels te laat dra, maak die Here ’n einde aan die Israeliete se aanhoudende verset teen hulle.

Aäron se kierie is voortaan gebêre by die ark, voor die getuienis, as teken vir die opstandiges. Daardeur het die Here ‘n einde gemaak aan hulle verset teen Hom, anders sou daar uiteindelik geen volk oorgebly het weens hulle voortdurende verset nie.

Uiteindelik het die Israeliete die gewenste reaksie van ontsag vir die Here, sowel as vir sy ampsdraers.  Hulle roep nie net uit dat dit klaar is met hulle en dat hulle almal tot niet sal gaan nie, maar vra vir die eerste keer hoe hulle dan nou verder moet maak.  Hulle ontsag vir die Tabernakel het hulle laat vrees dat hulle almal sal sterwe.  Daarom vra hulle: “Is dit dan heeltemal klaar met ons?”

Boodskap

Hierdie kort hoofstuk onderstreep twee belangrike beginsels.  In die eerste plek moet God se keuses in alles gerespekteer en vertrou word.  Die hele lewe word coram Deo geleef. Hy bepaal wat in die tent van ontmoeting gebeur.   Hy bepaal selfs wat in hulle eie tente gebeur.  Sy wil dra absolute gewig.

In die tweede plek is dit ook duidelik dat waar dit gebeur, waar God gerespekteer en vertrou word, sal mense floreer soos dooie kieries wat bot en bloei en selfs ryp amandels dra.  Dit geld nie net Aäron en sy nageslag van priesters nie.  Dit geld elke mens wat die pad met God wil loop.

Onlangse kommentaar