Psalm 56:9-14
Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.
Ons Vader
“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)
Teks en konteks
Let op hoe Dawid in ‘n gebed van vertroue – vers 9-12 – sy vertroue in God herhaal, waarskynlik veroorsaak deur een of ander teken of woord wat hy ontvang het (“Dat God aan my kant is, weet ek beslis.”), Hy teken ook vir ons ‘n kant van God wat regtig tot ‘n mens se hart spreek: “U het my trane opgevang. U het dit opgeskryf in u boek.” Watter diep gerusstelling as ‘n mens aan wydverspreide aanvegtinge blootgestel is. In sy gebed van toewyding – vers 13-14 – verbind Dawid hom om sy geloftes en dankoffers te betaal, en dank God dat dié hom enduit beskerm en bewaar.
Bid die Psalm
“U het my ellende raakgesien. U het my trane opgevang. U het dit opgeskryf in u boek. Die dag dat ek na U roep om hulp, val my vyande terug. Dat God aan my kant is, weet ek beslis. In God, wie se woord ek prys, in die Here, wie se woord ek prys, in God stel ek my vertroue. Daarom sal ek nie bang wees nie! Wat kan ’n gewone mens aan my doen? My geloftes aan U sal ek nakom, o God, aan U sal ek dankoffers bring. Want U het my van die dood gered. U het my voete van struikeling bewaar sodat ek saam met God kan loop en kan lewe in sy lig.” NLV
Boodskap en betekenis
Die Psalm is ‘n uitstekende vyf-delige raamwerk vir ‘n mens se eie gebede. Die gebed om genade is gebaseer op vertroue, net soos die gebed om uitkoms gebaseer is op vertroue. Die bewussyn van God se deernis met ons trane, is inspirerend. En só ‘n gebed moet altyd uitmond in (nuwe) toewyding. “Trust in God, when activated and confirmed by a word from God, is more powerful than the evil actions of human beings.” (Tate, Word Biblical Commentary : Psalms 51-100).
Lofprysing
“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)
Onlangse kommentaar