Psalm 68:1-11
Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.
Ons Vader
“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)
Teks en konteks
Psalm 68 is ‘n Psalm van Dawid. Die beskrywing daarvan as ‘n “lied” saam met die aanhaling in vers 2 uit die lied wat Moses die volk aangeleer het wanneer hulle oorlog gevoer het (vgl. Num. 10:35-36: “As God verskyn, spat sy vyande uitmekaar, en dié wat Hom haat, vlug vir Hom.”), dui waarskynlik daarop dat die Psalm gebruik is met die terugkeer van die ark ná ‘n veldtog teen Israel se vyande waarin God hulle die oorwinning gegee het. Een van die maniere om die Psalm in te deel, is om drie van die berge wat in die teks genoem word as uitgangspunt te neem: Sinai (vers 9), Basan (vers 16) en Sion (vers 17). Sion word wel nie by name genoem word nie, maar dit is uit vers 18, 25, 30, en 36 duidelik dat die tempelberg in Jerusalem, Sion, bedoel word. Daar is natuurlik ook ’n vierde berg in die teks, Salmon, maar die berg het nie ’n wesenlike organiserende betekenis nie en is slegs ’n historiese verwysing na gebeure in die Rigterstyd. Dit beteken dat die Psalm daarvolgens in drie dele verdeel kan word. Ons lees dit daarom ook oor drie dae. In die eerste deel word God se begeleiding van sy volk vanuit Egipte na Kanaän met die berg Sinai as transformasie-punt verheerlik (vers 2-11).
Bid die Psalm
“Vir die koorleier: Van Dawid. ’n Lied. God sal opstaan en sy vyande verstrooi. Laat dié wat Hom haat, voor Hom vlug. Soos wind rook wegblaas, so blaas U hulle weg. Soos was in vuur smelt, só vergaan goddeloses voor God. Maar die vromes sal verheug wees, hulle sal bly wees voor God, hulle sal jubel van vreugde. Sing tot God, lofsing sy Naam! Huldig Hom wat ry op die wolke. Sy Naam is Here – jubel voor Hom! ’n Vader vir wese, ’n beskermer van weduwees; dít is God in sy heilige woning. God gee aan die eensame ’n tuiste; dié wat gevange is, lei Hy na vryheid, maar opstandelinge woon in ’n verlate woestyn. O God, toe U u volk uitgelei het, toe U deur die woestyn getrek het, Sela het die aarde gebewe en die hemele het laat reën voor U, die God van Sinai, voor God, die God van Israel. O God, U het oorvloedige reëns gestuur om u uitgedorde erfdeel te verkwik. Daar het u volk hulle gaan vestig. In u goedheid het U, o God, ook vir die armes voorsien.” NLV
Boodskap en betekenis
Dawid loof die Here vir sy goedheid wat Hy gedemonstreer het in die wonder van die Uittog uit Egipte, die beskerming deur die woestyn en die Intog in die land wat Hy beloof het. Die groot dade van God in die verlede is die basis waarop vertroue in die hede en die toekoms gebou word. Dit is hierdie tipe Godsverskynings wat ’n impak het op goddeloses sowel as regverdiges. Aan die eenkant vernietig dit die goddeloses, omdat dit hulle besware teen God en teenstand teen God ontbloot, maar aan die ander kant verbly dit regverdiges, omdat God se verskynings hulle geloof en vertroue bevestig. Let op hoe Dawid God loof vir die deernis wat Hy het met die swakkes in die gemeenskap. Hy roep die geloofsgemeenskap op om ’n lied tot eer van God te sing en te jubel oor sy omgee vir weeskinders en weduwees, vir eensames en gevangenes (waarskynlik gevangenes wat in ballingskap weggevoer is) – vers 5-7. In die jubeling oor wie God is, lê natuurlik ook al ’n bewussyn opgesluit van hoe ons wat sy kinders is, ook moet wees en moet optree teenoor sulke mense. Die beskrywing van God “wat op die wolke ry” herinner ons aan die tyd in die woestyn waar die wolkkolom by dag en die vuurkolom by nag God se teenwoordigheid by die volk gesimboliseer het. Let ook op hoe die opstandelinge se lot daarenteen beskryf word as ’n verblyf in ’n “kaal woestyn”, d.w.s. ’n plek waar God nie is nie. Die tyd in die woestyn na die Uittog uit Egipte word in gloeiende terme in herinnering geroep – vers 8-9 (vgl. Rigters 5:4–5 waar Debora in dieselfde terme daaroor sing). Die Intog in die Beloofde land Kanaän word met die metafoor geteken van God wat oorvloedige reëns laat uitsak en die verdorde land weer lewe gee, sodat Sy eie volk daar kon gaan woon (vers 10-11). God se goedheid het vir dié hulpelose volk ’n bestaansruimte verskaf.
Lofprysing
“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)
Onlangse kommentaar