Skip to main content

Jakobus 1:1-18 – Volhard in beproewing

JakobusLEES

Raak stil voor die Here met ’n kort gebed.  Lees die teksgedeelte deeglik deur.  Let op vir temas in die gedeelte.  Vra jouself af: Wat sê dit van God?  Wat sê dit van mense?  Wat sê dit van die wêreld?  Soek vir een sleutelgedagte wat jou besonderlik tref.  Skryf dit in jou joernaal neer.  Lees dan wat ek hieronder geskryf het.

My bydrae

1:1 – Jakobus, ’n dienskneg van God en die Here Jesus Christus

Jakobus noem homself “’n dienskneg van God en die Here Jesus Christus”.  Daarmee kies hy om sy geloofsbande met Jesus te beklemtoon, nie sy familiebande nie.  Hy rig sy brief “aan die twaalf stamme in die Diaspora”.  Dié woord Diaspora is, soos reeds genoem, gebruik om die “verstrooiing” van die Jode buite hulle land aan te dui.  Dié titel word nou op Christen Jode in verstrooiing van toepassing gemaak.

1:2-4 – Beskou beproewings as ’n groot vreugde

Hy is baie besorg daaroor dat hierdie gelowiges van die waarheid in Jesus sal afdwaal (vgl. Jak. 5:19-20), veral wanneer hulle aan allerhande beproewings blootgestel word.  Daarom moedig hy hulle aan om uit ’n ander perspektief daarna te kyk: “Beskou (beproewings) as ’n groot vreugde …

Hoekom?

  • In die eerste plek: “Omdat julle weet dat as julle geloof getoets word, dit volharding bewerkstellig.” Beproewings bewerk beproefdheid.
  • In die tweede plek: “Julle volharding moet tot volledige ontwikkeling kom.” Geestelike volwassenheid ontwikkel in die hantering van die uitdagings van die lewe, nie deur dit te vermy nie. Sonder geestelike volwassenheid sal hulle altyd te kort skiet en gebrek ervaar.

1:5-8 – God gee wysheid sonder voorbehoud en sonder verwyt

Hy weet egter dat hulle wysheid nodig het om die uitdagings te hanteer, en daarom bemoedig hy hulle met die feit dat God meer as bereid is om hulle daarmee te help.  Soos beproefdheid en volwassenheid eintlik geskenke uit God se hand is, só is wysheid dit ook.  Daarom spoor hy hulle aan om wysheid van God te vra: “wat aan almal gee sonder voorbehoud en sonder verwyt.”  Gebed is die geheim van ’n wyse lewe – soos hy nog twee keer sal beklemtoon (Jak. 4:1-10; 5:13-18).

God vra nie vrae nie, by wyse van spreke, soos ons so baie keer geneig is om te doen!  Hy wil ons op die regte pad kry.  Daarom spandeer Hy nie tyd aan verwyte nie, en gee wysheid sonder voorbehoud.  Hy is vrygewig (sonder voorbehoud) en genadig (sonder verwyt).  Wat Hy wel soek, is geloof en vertroue, sowel as die bereidheid om sy wysheid te aanvaar en na te volg.  Anders sal ’n mens soos ’n golf van die see deur wind rondgeruk en voortgesleep word.  En Jakobus waarsku, só ’n weifelende mens, een wat twyfel in God en sy wysheid, sal onbestendig wees in alles wat hy doen.

Ná hierdie beklemtoning van wysheid, bring hy twee praktiese sake na vore waarvoor dié wysheid nodig is: die konflik tussen ryk en arm (9-11), die verleiding van beproewings sowel as versoekings versus God se gawes  (12-18).

1:9-11 – Die konflik tussen ryk en arm

Let op dat die arme as ’n broer geteken word, en die ryke nie.  Dit kan dus beteken dat hier ’n kontras tussen arm gelowiges en ryk ongelowiges getrek word.  Jakobus se boodskap is dat die arm gelowiges verby hulle armoede sal kyk en hulle hoë aansien in God se oë sal raaksien. Die omgekeerde is waar vir die rykes wat sonder God se sorg tot niet sal gaan.  Dit sou natuurlik ook waar wees van ryk gelowiges dat hulle nie in hulle rykdom moet roem nie, maar in hulle aansien voor God.  Hulle rykdom is onbeduidend in God se oë.

Jakobus sal nog verder op hierdie tema uitbrei (Jak. 2:2-4 oor bevoordeling, 5-12 oor uitbuiting, 15-16 oor suinigheid; 4:13-17 oor afhanklikheid; 5:1-6 oor uitbuiting en oordadige weelde).

1:12-18 – Die verleiding van beproewings en versoekings versus God se gawes

In hierdie gedeelte is God se voorsiening in die gedrang.  Dit is ook die tema wat die gedeelte saamsnoer.

  • Aan die een kant bring volharding in beproewings ’n groot seën. Sulke gelowiges ontvang die kroon van die lewe as hulle die toets deurstaan.  Dit het hy reeds in vers 2-4 beklemtoon.
  • Aan die ander kant kan versoekings gelowiges verlei om God daarvoor te verkwalik, terwyl versoeking eintlik net vanuit jou eie begeertes na vore kom. As ’n mens boonop daarop reageer, bring dit die sonde voort en kan dit jou dood kos.  Die skuld daarvoor kan nie voor die deur van God gelê word nie.

Daarom beklemtoon Jakobus dat God se gawes daarteenoor ’n hemelse karakter het en ons ’n uitkoms gee.  Hy help ons om nie af te wyk van sy wil nie.  Daarom moet ons nie mislei word nie en leef as sy skepsels wat deur sy voorsiening gevoed word, net soos Hy dit aanvanklik by die skepping gedoen het.

Die geheim van volharding in beproewings en versoekings lê in die wag op die geskenke en gawes van God.  Dit is goed en dit is volmaak.  Dit bevat geen donker kante nie en verduister nie jou lewe nie.

Boodskap

Dit is belangrik om Jakobus se beskrywing van God se karakter in dié gedeelte ter harte te neem.  Dit dra die res van die boodskap van hierdie brief.  Drie goed van God staan uit.  God is vrygewig.  God is genadig. God voorsien net die beste.  Daarop kan ons staatmaak.  Daarvoor kan ons bid.  Daarvoor kan ons wag.  Daarmee sal ons die lewe in oorvloed kan geniet!

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou prakties deur hierdie gedeelte wil sê.  Vra jouself af: Wat vra dit van jou?  Wat belowe dit vir jou?  Wat moet jy dink of doen daarmee?

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer.  Sê dit vir die Here in gebed en skryf dit neer in jou joernaal.  Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jakobus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda