Jakobus 1:1-18 – Volhard in beproewing
Raak stil voor die Here met ’n kort gebed. Lees die teksgedeelte deeglik deur. Let op vir temas in die gedeelte. Vra jouself af: Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Soek vir een sleutelgedagte wat jou besonderlik tref. Skryf dit in jou joernaal neer. Lees dan wat ek hieronder geskryf het.
My bydrae
1:1 – Jakobus, ’n dienskneg van God en die Here Jesus Christus
Jakobus noem homself “’n dienskneg van God en die Here Jesus Christus”. Daarmee kies hy om sy geloofsbande met Jesus te beklemtoon, nie sy familiebande nie. Hy rig sy brief “aan die twaalf stamme in die Diaspora”. Dié woord Diaspora is, soos reeds genoem, gebruik om die “verstrooiing” van die Jode buite hulle land aan te dui. Dié titel word nou op Christen Jode in verstrooiing van toepassing gemaak.
1:2-4 – Beskou beproewings as ’n groot vreugde
Hy is baie besorg daaroor dat hierdie gelowiges van die waarheid in Jesus sal afdwaal (vgl. Jak. 5:19-20), veral wanneer hulle aan allerhande beproewings blootgestel word. Daarom moedig hy hulle aan om uit ’n ander perspektief daarna te kyk: “Beskou (beproewings) as ’n groot vreugde …”
Hoekom?
- In die eerste plek: “Omdat julle weet dat as julle geloof getoets word, dit volharding bewerkstellig.” Beproewings bewerk beproefdheid.
- In die tweede plek: “Julle volharding moet tot volledige ontwikkeling kom.” Geestelike volwassenheid ontwikkel in die hantering van die uitdagings van die lewe, nie deur dit te vermy nie. Sonder geestelike volwassenheid sal hulle altyd te kort skiet en gebrek ervaar.
1:5-8 – God gee wysheid sonder voorbehoud en sonder verwyt
Hy weet egter dat hulle wysheid nodig het om die uitdagings te hanteer, en daarom bemoedig hy hulle met die feit dat God meer as bereid is om hulle daarmee te help. Soos beproefdheid en volwassenheid eintlik geskenke uit God se hand is, só is wysheid dit ook. Daarom spoor hy hulle aan om wysheid van God te vra: “wat aan almal gee sonder voorbehoud en sonder verwyt.” Gebed is die geheim van ’n wyse lewe – soos hy nog twee keer sal beklemtoon (Jak. 4:1-10; 5:13-18).
God vra nie vrae nie, by wyse van spreke, soos ons so baie keer geneig is om te doen! Hy wil ons op die regte pad kry. Daarom spandeer Hy nie tyd aan verwyte nie, en gee wysheid sonder voorbehoud. Hy is vrygewig (sonder voorbehoud) en genadig (sonder verwyt). Wat Hy wel soek, is geloof en vertroue, sowel as die bereidheid om sy wysheid te aanvaar en na te volg. Anders sal ’n mens soos ’n golf van die see deur wind rondgeruk en voortgesleep word. En Jakobus waarsku, só ’n weifelende mens, een wat twyfel in God en sy wysheid, sal onbestendig wees in alles wat hy doen.
Ná hierdie beklemtoning van wysheid, bring hy twee praktiese sake na vore waarvoor dié wysheid nodig is: die konflik tussen ryk en arm (9-11), die verleiding van beproewings sowel as versoekings versus God se gawes (12-18).
1:9-11 – Die konflik tussen ryk en arm
Let op dat die arme as ’n broer geteken word, en die ryke nie. Dit kan dus beteken dat hier ’n kontras tussen arm gelowiges en ryk ongelowiges getrek word. Jakobus se boodskap is dat die arm gelowiges verby hulle armoede sal kyk en hulle hoë aansien in God se oë sal raaksien. Die omgekeerde is waar vir die rykes wat sonder God se sorg tot niet sal gaan. Dit sou natuurlik ook waar wees van ryk gelowiges dat hulle nie in hulle rykdom moet roem nie, maar in hulle aansien voor God. Hulle rykdom is onbeduidend in God se oë.
Jakobus sal nog verder op hierdie tema uitbrei (Jak. 2:2-4 oor bevoordeling, 5-12 oor uitbuiting, 15-16 oor suinigheid; 4:13-17 oor afhanklikheid; 5:1-6 oor uitbuiting en oordadige weelde).
1:12-18 – Die verleiding van beproewings en versoekings versus God se gawes
In hierdie gedeelte is God se voorsiening in die gedrang. Dit is ook die tema wat die gedeelte saamsnoer.
- Aan die een kant bring volharding in beproewings ’n groot seën. Sulke gelowiges ontvang die kroon van die lewe as hulle die toets deurstaan. Dit het hy reeds in vers 2-4 beklemtoon.
- Aan die ander kant kan versoekings gelowiges verlei om God daarvoor te verkwalik, terwyl versoeking eintlik net vanuit jou eie begeertes na vore kom. As ’n mens boonop daarop reageer, bring dit die sonde voort en kan dit jou dood kos. Die skuld daarvoor kan nie voor die deur van God gelê word nie.
Daarom beklemtoon Jakobus dat God se gawes daarteenoor ’n hemelse karakter het en ons ’n uitkoms gee. Hy help ons om nie af te wyk van sy wil nie. Daarom moet ons nie mislei word nie en leef as sy skepsels wat deur sy voorsiening gevoed word, net soos Hy dit aanvanklik by die skepping gedoen het.
Die geheim van volharding in beproewings en versoekings lê in die wag op die geskenke en gawes van God. Dit is goed en dit is volmaak. Dit bevat geen donker kante nie en verduister nie jou lewe nie.
Boodskap
Dit is belangrik om Jakobus se beskrywing van God se karakter in dié gedeelte ter harte te neem. Dit dra die res van die boodskap van hierdie brief. Drie goed van God staan uit. God is vrygewig. God is genadig. God voorsien net die beste. Daarop kan ons staatmaak. Daarvoor kan ons bid. Daarvoor kan ons wag. Daarmee sal ons die lewe in oorvloed kan geniet!
LUISTER
Dink na oor wat God vir jou prakties deur hierdie gedeelte wil sê. Vra jouself af: Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee?
LEEF
Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed en skryf dit neer in jou joernaal. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan.
Gert
Dankie, ons het vanaand ‘n gemeentebou byeenkoms wat ook handel oor die stuk, ryk/arm,
ek voel nou beter voorberei vir die aand nadat ek jou stuk gelees het
groete
Sterkte met die gesondheid.
Christopher
Goeiedag Pastoor
Ek het ‘n vraag oor die kroon van die lewe. Paulus het geskrywe dat almal die wedloop hardloop, maar dat net een die prys kan kry. Hoe sal ek weet of ek waardig is om hierdie
prys te kry, en of ek die beproewing volgens God se standaarde weerstaan het? Ek was al in baie opsigte beproef en het soms gedurende sulke tye baie foute gemaak. Ek wil tog graag die kroon van die lewe he.
Dankie, Groete.
Chris van Wyk
Hi Christopher, almal van ons maak foute, maar die belangrike is dat ons vergifnis vra, die foute regstel, leer daaruit en groei in ons geestelike lewe en getuienis.
Oor Paulus: hy moedig die mense van Korinte aan om deel te neem aan die Groot Opdrag om die evangelie aan alle mense te bring. Hy gebruik die voorbeeld van ‘n wedloop waar dit nie so belangrik is dat jy begin nie, maar hoe jy klaarmaak: “Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal.” (1 Kor 9:24).
Daarmee bedoel Paulus nie dat net een Christen ‘n prys gaan ontvang nie, want dan sou dit beteken dat net dié persoon ooit ‘n beloning van God sou ontvang. Hy bedoel bloot dat jy alles moet insit om die evangelie te verkondig, soos ‘n atleet alles insit om te wen.
Dat dit so is, word bevestig deur ander plekke waar Paulus praat oor die prys wat elkeen van ons as kinders van die Here gaan ontvang: “Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.” (Fil 3:14)
Maar ons moet alles in die stryd werp, want sê Paulus: “Laat niemand julle van jul prys beroof nie …” (Kol 2:18). Hy praat daar van mense wat gelowiges van die pad wil aflei deur te fokus op allerlei ander dinge in plaas van op die evangelie self.
Jakobus eggo dit in sy brief en maak dit van toepassing op ons versoekings: “Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet.” (Jak 1:12)
Johannes doen dieselfde in sy Openbaring en maak dit van toepassing op lyding: “Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee.” (Openb 2:10)
Sterkte!