Skip to main content

Tag: Wie is God?

Watter voorsiening maak God vir oortredings van al Tien Gebooie? – 1 Johannes 1:6-10

As ons sê dat ons deel het aan Hom, maar in geestelike duisternis leef, lieg ons. Ons optrede weerspieël nie die waarheid nie. As ons optrede egter van die lig getuig, leef ons soos Hy wat in die lig is en het ons volledig deel aan mekaar, en die bloed van Jesus, sy Seun, maak ons skoon van elke sonde. As ons beweer dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself en leef ons nie volgens die waarheid nie. As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van alles wat verkeerd is. As ons beweer dat ons tot nou toe nie gesondig het nie, maak ons Hom tot ’n leuenaar. Dit beteken ook dat sy woord nie in ons lewe plek gekry het nie. (NLV)

1. Jesus wys hoe radikaal die eis tot gehoorsaamheid eintlik is. Ons optrede moet die waarheid weerspieël. Ons moet in die lig lewe. Anders beteken dit dat sy woord nie ‘n plek in ons lewe gekry het nie. Dit is waarvoor die bloed van Jesus ons nie net verlos nie, maar ook skoon maak van alles wat verkeerd is. Watter boodskap het dit vir jou?

2. Verootmoedig jou voor die Here en bely jou sonde. Vra die Here om jou heeltemal skoon te maak.

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die belangrikheid van ‘n oop verhouding met God sodat Hy jou volledig kan skoonmaak.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van 1 Johannes 1 en my bydrae daaroor: 1 Johannes 1 – Die vleesgeworde Seun van God reinig ons van elke sonde.

Wat beveel God in die tiende gebod? – 1 Timoteus 6:6-10

Ware godsdiens saam met tevredenheid is ’n groot rykdom. Ons het immers niks saamgebring toe ons in die wêreld gekom het nie, en ons kan ook nie enigiets saamneem wanneer ons sterf nie. As ons dus genoeg kos en klere het, laat ons tevrede wees. Maar mense wat begeer om ryk te wees, val in versoeking en trap in die strik van baie dwase en skadelike begeertes wat hulle in die verderf en ondergang stort. Want die liefde vir geld is die wortel van alle soorte kwaad. (NLV)

1. Paulus se lering hier kan verbind word met die tiende gebod. Wat tref jou van Paulus se lering?

2. Paulus lê klem op ons eintlike rykdom. ‘n Godsdiens wat ons tevrede laat met God se voorsiening. Waarom is die liefde vir rykdom, van watter aard ook al, só ‘n gevaar?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die Here se sorg vir jou. Rykdom in God is die enigste belegging wat sal hou.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van 1 Timoteus 6 sowel as my bydrae daaroor: 1 Timoteus 6:1-21 – Rykdom in God is die enigste belegging wat sal hou.

Wat beveel God in die negende gebod? – Efesiërs 4:25-31

Julle moet die leuen aflê en die waarheid teenoor mekaar praat. Ons is tog lede van dieselfde liggaam. Moenie sondig as jy kwaad word nie. Moenie tot die aand toe kwaad bly, en die duiwel so ’n houvas gee nie. Die dief moet ophou steel en eerder hard werk. Hy moet sy eie hande vir eerlike werk gebruik sodat hy iets kan hê om met mense in nood te deel. Moenie enige vuil taal gebruik nie. Gebruik eerder die regte, opbouende woorde wat nodig is om dié wat luister, te bevoordeel. Ja, moenie God se Heilige Gees hartseer maak nie. In julle eenheidsband met die Heilige Gees lê julle waarborg dat julle God se verlossingsdag sal belewe. Raak saam met alle ander slegte dinge ontslae van alle bitterheid, woede, wraak, geskel en gevloek. (NLV)

1. Paulus brei hier uit oor die dieper interpretasie van waarskynlik die hele tweede tafel van die wet. Die toepassing van die sesde, agste, negende, en tiende gebod is redelik duidelik. Wat tref jou van Paulus se lering?

2. Paulus motiveer ons hier op twee maniere om in ooreenstemming met die wet op te tree. Die feit dat ons lede van dieselfde liggaam is. En die feit dat die Heilige Gees in ons woon. Hoe help dit jou om gehoorsaam te lewe?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan ons gedeelde waardes as liggaam van Christus en aan die feit dat die Heilige Gees in jou woon. Dit is Hy wat jou help om gehoorsaam te wees.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Efesiërs 4 en my bydrae daaroor: Efesiërs 4:17-5:20 – Die Heilige Gees vervul ons om heilig en in liefde te leef.

Wat beveel God in die agste gebod? – Matteus 7:7-12

Hou aan met vra en God sal vir julle gee. Hou aan met soek en julle sal kry. Hou aan klop en God sal die deur vir julle oopmaak. Elkeen wat so volhardend vra, ontvang; en wie aanhou soek, kry; en vir elkeen wat aanhou klop, sal God oopmaak. Julle as ouers sal tog nie vir julle kinders as hulle brood vra, klippe gee nie. Of as hulle vis vra, vir hulle slange gee nie. As sondige mense soos julle dan goed weet om goeie dinge aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader goeie dinge gee aan hulle wat dit van Hom vra! Doen vir ander alles wat julle graag wil hê hulle vir julle sal doen. Dit is die kern van die wet en die profete. (NLV)

1. Wat tref jou van Jesus se lering hier wat verbind kan word met die agste gebod?

2. Dink na oor die impak wat dit op ons getuienis in die wêreld sal hê as ons God vir alles vertrou en aan ander doen wat ons wil hê hulle ook vir ons sal doen.

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan hierdie Goue Reël wat die hart is van die boodskap van God in die Bybel.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Matteus 7 en my bydrae daaroor: Matteus 7 – Jesus fokus op die vrug van geregtigheid.

Vraag 13: Wat beveel God in die agste, negende en tiende gebod?

1. Wat beveel God in die agste, negende en tiende gebod (Eks 20:15-17)? Wat sien jy raak? Watter boodskap het dit vir jou?

2. Lees my antwoord en oordink dit.

Ek moet niks sonder verlof vat nie. Ek moet nie lieg en bedrieg nie. Ek moet tevrede wees met wat ek het. Ek mag nie gierig of gewelddadig wees nie. Ek mag nie skelm of korrup wees, of valse verklarings aflê nie. Ek moet die waarheid opreg en in liefde praat, sonder afguns teenoor ander, en sonder om God te verkwalik vir sy voorsiening.

3. Die agste, negende en tiende gebod van die wet fokus op die liefde vir jou naaste waar jy hulle belange op die hart dra. Verbeel jou ‘n wêreld waar niemand iets steel nie, waar almal altyd die waarheid praat, en almal tevrede is met wat hulle het. Hoe sal dit anders wees as nou? Hoe sal dit ‘n werklikheid word?

4. Lees die verhaal van Saggeus in Lukas 19:1-10. Wat tref jou?

5. Lees my opsomming van die boodskap daarvan en oordink dit.

Jesus het Jerigo binnegegaan en deur die stad gestap. Hy het die tollenaar Saggeus in ’n vyeboom sien sit. Saggeus was baie ryk, want hy het mense bedrieg en van hulle gesteel. Jesus wou egter by hom tuisgaan. Saggeus het haastig afgeklim en Jesus opgewonde ontvang. Daarom het hy besluit om sy hele lewe te verander en vir Jesus gesê: “Here, ek gaan die helfte van my besittings aan die armes gee, en as ek iets van iemand met ’n slenter bekom het, gee ek dit vierdubbel terug.” Hy sou nou tevrede wees met wat hy het.

6. Die verhaal van Saggeus wys hoe ‘n mens reageer as Jesus jou verander. Oorweeg jou eie lewe in die lig van sy verhaal. Waar jy gesondig het, vra die Here om vergifnis en vernuwing. Waar die Here jou nuut gemaak het, loof Hom daarvoor. Volhard daarin.

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…