1 Johannes 2:28-3:24 – Kinders van God doen wat reg is en het mekaar lief
Johannes gaan vêrder met sy verduideliking van wat die Christelike lewe behels as dit in God Drie-enig begrond is.
- Kinders van God doen wat reg is – 2:28-3:10.
- Kinders van God het mekaar lief en lê hulle lewens vir mekaar af – 3:11-24.
Kinders van God doen wat reg is – 2:28-3:10
Johannes motiveer sy oproep om aan te hou om te doen wat reg is met vyf perspektiewe:
- Hy waarsku hulle dat hulle vrymoedigheid by die Here Jesus se wederkoms skade sal ly as hulle beskaamd voor Hom staan oor hulle gebrekkige Christelike lewe.
- Hy wys hulle op Jesus se regverdige karakter wat hulle moet aanspoor om te doen wat reg is. Dit sal aan hulle hul kindskap bevestig.
- Hy bemoedig hulle met die feit dat hulle kindskap ’n bewys van God die Vader se groot liefde is. En dit is inderdaad so, dat hulle God se kinders is, hoewel die presiese nuwe gestalte by die wederkoms nog ondeursigtig is.
- Dit is dié hoop wat ons aanspoor om onsself rein te hou en die sonde te vermy. Jesus het immers gekom om ons van ons sonde te verlos en ons deel van Homself te maak. Ons kan dus nie aanhou met sondig en steeds deel van Hom bly nie.
- Die onderskeid tussen dié wat van God is en dié wat van die duiwel is, word in ons lewe van regdoen sigbaar. Die Here Jesus het gekom om die werke van die duiwel te vernietig. Wie dus in Hom bly, het deel aan die verlossing van die sonde, want God se saad, sy natuur, bly in hom of haar.
Kinders van God lê hulle lewens af vir medegelowiges – 3:11-24
Regdoen sluit altyd die manier waarop ons met medegelowiges omgaan in. Dit het nie net te make met die herstel en versterking van ons verhouding met God nie, maar altyd ook met hoe ons met ander omgaan.
Trouens, sê Johannes, dit was eintlik van die begin af so. En hy illustreer dit met die verhaal van Kain en Abel. Hulle verhaal moet gelowiges bedag maak daarop dat die wêreld hulle sal haat, omdat hulle die medegelowiges liefhet. Hulle moet ook daaruit leer dat iemand wat – soos Kain – sy broer of suster haat, nie die ewige lewe as iets blywends kan besit nie. Let op dat die teks nie hier oor fisiese doodmaak van ander praat nie, maar haat as net so sleg beskou.
Weereens is Jesus die voorbeeld van naasteliefde. Hy het sy lewe afgelê vir sy mense. Ons moet Hom daarin navolg. Dié liefde word dan prakties uitgelê dat as jy genoeg aardse besittings het, mag jy nie jou hart toesluit vir ’n medegelowiges wat gebrek ly nie. Liefde moet met dade en nie net woorde nie bewys word. Dit sal ons ’n goeie gewete voor God gee, wat ook sal inhou dat ons met vrymoedigheid sal kan bid en die ervaring van die inwoning van die Heilige Gees sal geniet.
View all posts in this series
- Inleiding op die briewe van Johannes - November 17, 2013
- 1 Johannes 1 – Die vleesgeworde Seun van God reinig ons van elke sonde - November 18, 2013
- 1 Johannes 2:1-27 – Leef met en in God se liefde in hierdie wêreld - November 19, 2013
- 1 Johannes 2:28-3:24 – Kinders van God doen wat reg is en het mekaar lief - November 20, 2013
- 1 Johannes 4 – Wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hulle - November 21, 2013
- 1 Johannes 5 – Geloof is die getuienis van God se werk in ons lewe - November 22, 2013
- Geloofsekerheid - June 25, 2017
Andre du Plessis
Baie dankie het gekry …………. Groete Andre