Skip to main content

Tag: Wie is God?

Waarom hou God almal aan die wet as niemand dit volmaak kan onderhou nie? – Eksodus 34:6-7

Ek is die Here. Ek is ’n God wat barmhartig en genadig is. Ek het geduld met mense. Ek is lojaal. Ek bly getrou. Ek bly vol liefde oor al die geslagte. Ek vergeef alles wat hulle verkeerd gedoen het. Ek laat sonde egter nie sommer verbygaan nie. (NLV)

1. Wat tref jou in die teks van God se houding en optrede teenoor mense? 

2. Dink na oor die impak wat dit op jou lewe sal hê as jy rekening hou beide met die feit dat God vergewe, maar ook geen sonde ongestraf laat verbygaan nie.

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan God se genade en strengheid.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Eksodus 34 en my bydrae daaroor: Eksodus 34 – Ek is barmhartig en genadig, maar Ek laat niks ongestraf nie.

Vraag 14: Waarom hou God almal aan die wet as niemand dit volmaak kan onderhou nie?

1. Dink jy God is regverdig om almal aan die wet te hou as niemand dit volmaak kan onderhou nie? Hoekom dink jy so? Hoe laat dit jou voel?

2. Lees my antwoord op die vraag en oordink dit.

Sodat almal hulle sonde kan leer ken en hulle behoefte aan ’n volkome verlossing, want God laat sonde nooit sommer verbygaan nie. Omdat almal God se wet van nature en deurlopend in gedagte, woord en daad verbreek, ontbreek dit almal aan die heerlikheid van God. Niemand is in staat om die wet na te kom sonder ’n Verlosser nie.

3.Sou jy van sonde bewus gewees het sonder die wet? En ander mense? Watter effek sou dit op jou lewe gehad het? En op die samelewing?

4. Lees die verhaal van die Israeliete in Numeri 14:1-25. Wat tref jou?

5. Lees my opsomming van die boodskap daarvan en oordink dit.

Die Here het die Israeliete by die beloofde land gebring. Maar hulle begin toe kla, want hulle was bang vir die reuse in die land. Hulle wou teruggaan Egipte toe. Net Kaleb en Josua was bereid om die Here te vertrou. Die Here wou die Israeliete uitwis, maar Moses het namens hulle om vergifnis gevra. Die Here het hulle vergeef, maar gesweer dat hulle in die woestyn sou sterf. God laat sonde nooit sommer verbygaan nie. God sou hulle kinders genadig wees. Die kinders sou 40 jaar later die land inneem. Ook Kaleb en Josua, omdat hulle na die Here geluister het.

6. Ons is geneig om aan sonde te dink vanuit menslike oorwegings. Die verhaal van die Israeliete wys dat sonde in wese ‘n gebrek aan vertroue op en gehoorsaamheid aan God en sy wil vir die lewe is, soos die wet dit onder andere uitspel. Hoe kan jy eerder Kaleb en Josua se voorbeeld volg as die res van die Israeliete s’n?

Bydraes vir Wie is God? hervat 14 Januarie

Hierdie kwartaal beantwoord ek die volgende nege vrae. In hakies is die karakters of gebeure waarop ek in die prediking en kleingroepmateriaal gaan fokus:

  • 14. Waarom hou God almal aan die wet as niemand dit volmaak kan onderhou nie? (Kaleb en Josua – Numeri 14)
  • 15. Wat is sonde? (Kain en Abel – Genesis 4)
  • 16. Wat is afgodery? (Gideon – Rigters 6)
  • 17. Sal God sonde en afgodery ongestraf laat bly? (Noag – Genesis 6)
  • 18. Is daar enige manier waarop jy God se straf kan ontvlug en in sy guns kan kom? (Giftige slange – Numeri 21)
  • 19. Watter soort Verlosser het jy nodig? (Berg van verheerliking – Matteus 17)
  • 20. Waarom moet hierdie Verlosser waarlik mens en waarlik God wees? (Dienaar van God – Jesaja 53)
  • 21. Wat is jou enigste troos in lewe en dood? (Stefanus – Handelinge 6-7)

Die formaat is steeds soos volg:

  • Maandag: Die vraag en antwoord met ‘n verhaal ter illustrasie.
  • Dinsdag tot Vrydag: ‘n Kort Bybelstudie oor die tekste wat die antwoord ondersteun.
  • Saterdag: Getuienisse uit die geloofsbelydenisse van die verlede.
  • Sondag: ‘n Preek of verdere bydrae oor die antwoord op die vraag.

God sluit bekeerde sondaars in sy koninkryk in – die verhaal van Saggeus

In Lukas 19 is Jesus teen die einde van sy reis van Galilea na Jerusalem, waar Hy sou sterf.  Saggeus, die kort, skatryk mannetjie, hooftollenaar en hoofskurk van Jerigo, word die laaste dissipel wat Jesus op sy reis na Jerusalem werf.

Ietsie oor die tollenaars.  Die Romeine het tollenaars gebruik om belasting in te samel.  Anders as vandag moes die belasting vir ’n spesifieke gebied en vir ’n spesifieke tydperk vooraf aan die Romeinse owerheid oorbetaal word.  In ruil vir hierdie belegging in Rome se staatskoffers kon die tollenaars dan gelde of goedere uit die gebied invorder.  In hierdie proses het hulle dan hul finansiële uitleg gedek en ook wins gemaak.

Tollenaars was ook die loan sharks van die tyd.  Sodra jy finansieel in die moeilikheid beland het, kon jy by die tollenaar gaan geld leen, teen geweldige hoë rente.

Deur die toedoen van Saggeus se beroep het mense verarm, was daar nie kos op die tafel nie, en was ’n behoorlike, menswaardige, ekonomies volhoubare lewe vir baie mense nie moontlik nie. Terselfdertyd het Saggeus die soustrein gery, en waarskynlik nie die einde van sy skatte geken nie.

Kom ons lees sy verhaal in Lukas 19:1-10

Continue reading

Wat beveel God in die agste, negende en tiende gebod? – Die belydenisskrifte

1. Lees die aanhalings uit die Heidelbergse Kategismus 110-113 hieronder. Wat leer jy van wat God van ons verwag in die agste, negende en tiende gebod? Wat beteken dit vir jou? Wat vra dit van jou?

Heidelbergse Kategismus 110-113

110 Vraag: Wat verbied God in die agste gebod?

Antwoord: God verbied nie slegs die diefstal (a) en roof (b) wat die owerheid straf nie, maar Hy beskou ook as diefstal al die skelmstreke en liste waardeur ons probeer om ons naaste se besittings in die hande te kry (c). Dit kan gebeur met geweld of ‘n skyn van reg, soos deur die vervalsing van gewigte, lengtemaat, inhoudsmaat, goedere, (d), geld, deur woeker (e) of enige middel wat God verbied. Hy verbied ook alle gierigheid (f) en alle misbruik en verkwisting van sy gawes (g).

(a) 1 Kor 6:10. (b) 1 Kor 5:10; Jes 33:1. (c) Luk 3:14; 1 Tess 4:6. (d) Spr 11:1; 16:11; Eseg 45:9, 10; Deut 25:13. (e) Ps 15:5; Luk 6:35. (f) 1 Kor 6:10. (g) Spr 23:20, 21; 21:20.

111 Vraag: Maar wat gebied God jou in hierdie gebod?

Antwoord: Ek moet die belange van my naaste, waar ek kan en mag, bevorder en hom so behandel soos ek wil hê dat hy my moet behandel (a). Daarby moet ek ook my werk getrou doen, sodat ek die behoeftiges in hulle nood kan help (b).

(a) Matt 7:12. (b) Ef 4:28.

112 Vraag: Wat eis die negende gebod?

Antwoord: Ek mag teen niemand valse getuienis aflê (a), niemand se woorde verdraai (b), nie ‘n kwaadsteker of lasteraar wees nie (c), niemand onverhoord en ligtelik help veroordeel nie (d). Alle vorme van lieg en bedrieg moet ek as die duiwel (e) se eie werke vermy as ek nie die sware toorn van God oor my wil bring (f) nie. In regsake en in alle ander handelinge moet ek die waarheid liefhê, en opreg wees in wat ek sê en bely (g). My naaste se eer en goeie naam moet ek na my vermoë verdedig en bevorder (h).

(a) Spr 19:5, 9; 21:28. (b) Ps 15:3; 50:19, 20. (c) Rom 1:30. (d) Matt 7:1; Luk 6:37. (e) Joh 8:44. (f) Spr 12:22; 13:5. (g) 1 Kor 13:6; Ef 4:25. (h) 1 Pet 4:8.

113 Vraag: Wat eis die tiende gebod van ons?

Antwoord: Selfs die geringste begeerte of gedagte teen enige gebod van God mag nooit in ons hart opkom nie. Ons moet altyd en heelhartig vyande van alle sonde wees en ‘n begeerte tot alle geregtigheid hê (a).

(a) Rom 7:7.

2. Loof die Here in gebed vir die spesifieke wysheid en insig wat die geloofsbelydenisse jou gee oor wat God van jou met die agste, negende en tiende gebod verwag.

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…