Skip to main content

Tag: Wie is God?

Waarom moet hierdie Verlosser waarlik mens en waarlik God wees? – Hebreërs 1:1-3

Vroeër het God dikwels en op baie maniere deur die profete met ons voorvaders gepraat. Maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur sy Seun. God het Hom bestem om die erfgenaam van alles te wees; trouens, Hy het deur Jesus Christus ook die wêreld en alles wat daarin is, gemaak. Die Seun weerkaats God se heerlikheid, en Hy is die presiese ewebeeld van wie God werklik is. Deur sy magtige bevel hou Hy die ganse heelal in stand. Nadat Hy gesterf het om ons van sondes te reinig, het Hy die posisie van eer en mag aan die regterhand van God ingeneem – dié God so vol majesteit wat in die hemel woon. (NLV)

1. Jesus word hier onomwonde in sy Goddelike gestalte as Seun van God beskryf.  Vyf kenmerke van Hom word uitgelig: Erfgenaam van alles, Skepper van alles, Beeld van God, Instandhouer van alles, Reiniger van sondes, Ereposisie aan God se regterhand. Oordink die betekenis daarvan vir jou.

2. Die boodskap van God se Seun word gekontrasteer met die talle en verskillende “broksgewyse” maniere waarop God in die verlede met sy mense gepraat het. God het nou finaal met ons gepraat deur die Seun. Dit is waarom die Bybel as die Woord van God so belangrik is. Oorweeg die gesag wat die Bybel in jou lewe dra in die lig hiervan.

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner dat jy in Christus ook ‘n erfgenaam van alles is. Hy het ons van ons sonde gereinig om vir ewig met Hom te wees.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Hebreërs 1 sowel as my bydrae daaroor: Hebreërs 1 – God praat met ons deur sy Seun.

Waarom moet hierdie Verlosser waarlik mens en waarlik God wees? – 2 Korintiërs 13:3-4

In werklikheid is Christus nie swak nie, maar betoon Hy Hom kragtig teen oor julle, want al is Hy gekruisig in menslike swakheid, leef Hy uit die krag van God. Want ons is swak saam met Hom, maar ons sal ook saam met Hom uit die krag van God lewe. (NLV)

1. Paulus het in die vorige hoofstuk gesê dat as hy swak is, is hy sterk. Hier stel hy dit verder in perspektief. Hy leef soos Christus uit die krag van God en by sy volgende besoek sal hulle dié krag te siene kry.  Hoe help dit jou om anders oor jou eie swakhede te dink?

2. Paulus moedig hulle in die res van die hoofstuk aan om hulle lewens in orde te kry, en nie as “praktiese atëiste” te leef nie. Hy bid dat hulle dit sal regkry om die goeie te doen en geestelik volwasse sal leef. Hulle moet hulle wapen met die gedagte dat Christus in die geloof in hulle leef. Hoe kan jy dit self meer en meer regkry?  

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die Here Jesus Christus wat jou in die krag van God self laat lewe. Só ‘n gereelde selfondersoek bly ‘n belangrike geestelike gewoonte op enige stadium van geestelike groei.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van 2 Korintiërs 13 sowel as my bydrae daaroor: 2 Korintiërs 13 – Groei in geestelike volwassenheid.

Waarom moet hierdie Verlosser waarlik mens en waarlik God wees? – Romeine 5:15-17

Die oortreding van hierdie een mens, Adam, het die dood van baie veroorsaak, maar die ander mens, Jesus Christus, het soveel meer gedoen: die genade van God, ja, sy genadegeskenk wat Hy deur Jesus Christus aan baie mense gee, oortref alles! En die resultaat van God se genadegeskenk verskil radikaal van die resultaat van die een mens, Adam, se sonde. Want hierdie een mens se sonde het gelei tot veroordeling, maar ons ontvang die genadegeskenk van God se vryspraak, al staan ons skuldig aan ’n menigte oortredings. Die oortreding van hierdie een mens, Adam, het veroorsaak dat die dood oor ons regeer, maar deur die een mens, Jesus Christus, word vir ons nog veel meer gegee: Almal wat God se oorvloedige genadegeskenk van vryspraak ontvang, sal koninklik oor die sonde en die dood triomfeer. (NLV)

1. Paulus gebruik Adam om die universele reikwydte van die sonde sowel as die vryspraak te illustreer. Soos alle mense deur Adam se sonde onder die heerskappy gebring is van die ewige dood, só word alle gelowiges deur Christus se vryspraak onder die heerskappy gebring van die ewige lewe. Hoe laat dit jou anders dink oor jouself?

2. Elkeen wat God se vryspraak as oorvloedige genadegeskenk ontvang het, sal koninklik oor die sonde en die dood triomfeer. Hoe raak dit jou praktiese lewe?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner daaraan dat die genade van God in Jesus Christus alles oortref. Dit laat ons koninklik oor die sonde en die dood triomfeer.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Romeine 5 en my bydrae daaroor: Romeine 5 – Vryspraak lei tot vrede en vrye toegang.

Waarom moet hierdie Verlosser waarlik mens en waarlik God wees? – Romeine 1:1-4

Ek is ’n dienskneg van Christus Jesus. Hy het my geroep om sy apostel te wees. Ek is afgesonder om God se Goeie Nuus te verkondig. Hierdie Goeie Nuus het Hy reeds lank gelede deur sy profete in die Skrif beloof. Dit gaan oor sy Seun, Jesus Christus. Wat sy menslikheid betref, is Hy uit die nageslag van Dawid gebore. Wat sy heilige Goddelikheid betref – sy opstanding uit die dood het kragdadig bevestig dat Hy die Seun van God is. Wat meer is, Hy is ook ons Here! (NLV)

1. Let op dat Paulus hier van “God” se Goeie Nuus praat. Dit is waarom Jesus beide God as mens moes wees, om as Middelaar die mensdom met God te versoen. Anders sou Hy nie sy hand op God en op ons kon lê en die twee by mekaar kon uitbring nie. Hoe verryk dit jou begrip van die boodskap van die evangelie?

2. Die opstanding uit die dood is soos die ander kern leerstukke van ons geloof ononderhandelbaar. As jy die opstanding uit die dood ontken – of spitsvondig sê dat Jesus net simbolies opgestaan het – kan jy nie meer in Hom as die Seun van God glo nie. Dit is immers juis die opstanding wat Jesus kragdadig bevestig as die Seun van God. Hoe dink jy self oor die opstanding?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die Goeie Nuus dat hierdie opgestane God-mens ook jou Here is.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Romeine 1 lees en my bydrae daaroor: Romeine 1 – God spreek mense vry enkel en alleen omdat hulle glo.

Vraag 20: Waarom moet hierdie Verlosser waarlik mens en waarlik God wees?

1.  Waarom dink jy is dit belangrik dat die Verlosser van die sonde waarlik mens en waarlik God moet wees?

2. Lees my antwoord op die vraag en oordink dit.

Sodat Hy as sondelose mens die straf vir die sonde kan dra en as ewige God die dood kan oorwin. As Middelaar tussen mense en God kan Hy op grond van sy sondelose gehoorsaamheid aan die wet deur die krag van sy Godheid vir mense wysheid, geregtigheid, heiligmaking en volkome verlossing gee en ook deernis met hulle swakhede hê.

3. Lees die profesie oor die Dienskneg van die Here in Jesaja 53:7-12. Wat tref jou?

4. Lees nou die verbintenis van die profesieë oor die Dienskneg van die Here aan Jesus Christus in die NT in Matteus 8:14-17, Handelinge 8:26-35 en 1 Petrus 2:19-25. Wat tref jou?

5. Lees my opsomming van die boodskap hiervan. Oordink dit.

Jesaja beskryf in die Ou Testament die Dienaar van God. Die Dienaar is geslaan en mishandel. Hy is skuldig bevind en dood gemaak. Hierdie Dienaar was egter nie ’n gewone mens nie. Hy word vir die sondes van die volk doodgemaak. Hy word in húlle plek gestraf, al het Hy niks verkeerds gedoen nie. Ná sy bitter lyding laat God Hom weer die lig sien. Deur Hom vergewe God al die volk se sondes en spreek hulle vry. Ons eer Jesus in die Nuwe Testament as hierdie Dienaar van God, die Verlosser. As sondelose mens dra Hy die straf vir die sonde en as ewige God oorwin Hy die dood.

6. Die geloofsbelydenis van Athanatius 29-30 sowel as die Heidelbergse Kategismus 15-18 sê dat ons ewige saligheid afhang van ons geloof in en vertroue op Jesus as waarlik mens en waarlik God. Hoe dink jy daaroor?

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…