Skip to main content

Tag: Wie is God?

Wat is jou enigste troos in lewe en dood? – 1 Korintiërs 3:21-23 en 1 Korintiërs 6:18-20

Alles is immers julle s’n: Paulus en Apollos en Petrus, die wêreld, die lewe en die dood, die hede en die toekoms. Alles behoort aan julle! Maar julle behoort weer aan Christus, en Christus aan God. (NLV)

Vlug weg van seksuele losbandigheid. Geen ander sonde beïnvloed ’n mens se liggaam so direk soos hierdie een nie. Want as jy seksuele losbandigheid bedryf, sondig jy teen jou eie liggaam. Of verstaan julle nie dat julle liggame ’n tempel van die Heilige Gees is wat in julle woon en deur God aan julle gegee is nie? Julle behoort nie aan julleself nie, want julle is teen ’n duur prys gekoop. (NLV)

1. Paulus besweer verskille in hoofstuk 3 deur God as die Eienaar van letterlik alles te bely. Daar is niks en niemand wat nie aan Hom behoort nie. Hoe laat dit jou anders dink oor jou medegelowiges, die wêreld, lewe en dood, die hede en die toekoms?

2. Paulus besweer seksuele losbandigheid in hoofstuk 6 met dieselfde argument. Jou liggaam behoort nie aan jouself nie, maar is ‘n tempel van die Heilige Gees. Hoe kan hierdie wete jou help om gehoorsaam te lewe ook in jou seksuele lewe?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner daaraan dat jy, liggaam, gees en siel, in lewe en in sterwe, aan God behoort. Laat die gedagte dat jy ‘n tempel van die Heilige Gees is jou inspireer om altyd in sy teenwoordigheid te lewe.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van 1 Korintiërs 3 en 6 en my bydraes daaroor: 1 Korintiërs 3-4 – Soos ’n goeie boer, bouer en bestuurder en 1 Korintiërs 6 – Vermy onreg en onsedelikheid.

Wat is jou enigste troos in lewe en dood? – Romeine 14:7-9

Ons het nie finale seggenskap oor onsself nie – of ons lewe of sterwe. As ons leef, leef ons mos vir die Here, en as ons sterf, sterf ons vir Hom. Of ons dan lewe of sterwe, ons is volkome sy eiendom. Dít is tog waarvoor Christus gesterf het en weer lewendig geword het – om Heer te wees oor dooies en lewendes. (NLV)

1. Die troos van hierdie verse is werklik omvattend. Ons kan nie bepaal of ons lewe of sterwe nie. Ons het nie seggenskap daaroor nie. Ons hoop lê in Hom vir Wie ons leef. Hoe laat dit jou voel?

2. Christus neem deur sy sterwe en opstanding ons vrees vir die dood weg. Of ons dan lewe of sterwe, ons is volkome sy eiendom. Hoe beïnvloed dit jou denke oor jouself en wat met jou in hierdie lewe kan gebeur?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die troos dat jy volkome Sy eiendom is.

4. Jy kan later vanaand die verse weer in die konteks van Romeine 14 lees en my bydrae daaroor, veral hoe dit jou teenoor ander laat optree: Romeine 14 – Aanvaarding eerder as argumente.

Vraag 21: Wat is jou enigste troos in lewe en dood?

1.  Wat is jou enigste troos in lewe en dood? Dink eerlik en diep na oor hierdie vraag. Dit is die belangrikste vraag en antwoord in hierdie reeks.

2. Lees my antwoord op die vraag en oordink dit.

Dat ek met liggaam en siel nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort. Jesus het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal. Daarom verseker Hy my deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om vir Hom te lewe.

3. Lees die verhaal van die steniging van Stefanus in Handelinge 6:8-7:60 – die grafika beeld dit uit. Wat tref jou?

4. Lees my opsomming van die boodskap hiervan. Oordink dit.

Stefanus was vol van God se genade en krag. Op ’n dag het mense Stefanus aangekla oor Jesus. Sy gesig het geskitter soos ’n engel s’n toe hy van Jesus vertel. Die Joodse leiers was woedend vir hom. Stefanus het egter vir Jesus in die regeerposisie reg langs God in die hemel sien staan. Toe het die Jode hom uit die stad gesleep en met klippe doodgegooi. Terwyl hulle besig was om Stefanus te stenig, het hy gebid: “Here Jesus, ontvang my gees.” Hy het gebid: “Here, moenie hierdie sonde teen hulle hou nie!” Hy het geweet dat Hy aan sy getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort.

5. Volharding in vervolging is net moontlik as jy ‘n troos vir lewe EN dood het. Daarom dat die Heidelbergse Kategismus 1 oor hierdie troos uitbrei en sê: “Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ‘n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.” Hoe troos dié belydenis jou?

Die krag van die kruis

Ons maak moeilik vrede met lyding

Ons maak baie moeilik vrede met lyding. Veral ons eie lyding of die lyding van mense na aan ons.

Tog is daar iets fassinerend in die lyding van ‘n besondere mens of ‘n leier.

Hoekom?

Want ons weet uit die geskiedenis dat daar ongelooflike krag sit in die lyding van iemand wat nie vir die opoffering van die lyding terugdeins nie, en selfs bereid is om sy of haar lewe vir ‘n saak op te offer, ten spyte van die koste daarvan.

Lydensverhale inspireer

Sulke verhale van vasberadenheid onder lyding het baie keer die potensiaal om mense tot groter hoogtes te inspireer as wat verhale van voorspoed en suksesse het.

Dink maar net aan die talle en talle verhale uit die Hervorming.

Mense wat hulle met groot persoonlike opoffering aan God se roeping in die Skrif gewy het.

Johannes Hus

Johannes Hus, die Boheemse Hervormer is net meer as 600 jaar gelede, op 6 Julie 1415, finaal gevonnis tot die dood. Sy kettery was dat hy die Skrif se gesag bó dié van die kerk geag het en geleer het dat ’n mens nie iets ander as Christus nodig het vir sondevergifnis nie. Hy het sterk teen die aflaatstelsel (indulgences) en die verering van heilige objekte (relics) in opstand gekom.

Continue reading

Waarom moet hierdie Verlosser waarlik mens en waarlik God wees? – Die belydenisskrifte

1. Lees die aanhalings uit die Geloofsbelydenis van Athanasius 29-30 en die Heidelbergse Kategismus 15-18. Wat leer jy van die redes waarom hierdie Verlosser waarlik mens en waarlik God moet wees? Wat beteken dit vir jou? Wat vra dit van jou?

Geloofsbelydenis van Athanasius 29-30

29. Maar vir die ewige saligheid is dit nodig dat hy ook getrou aan die menswording van ons Here Jesus Christus moet glo.

30. So is die regte geloof dan: Ons glo en bely dat ons Here Jesus Christus, die Seun van God, tegelyk God én mens is.

Heidelbergse Kategismus 15-18

15 Vraag: Hoe ‘n middelaar en verlosser moet ons dan soek?

Antwoord: So een wat ‘n ware (a) en regverdige (b) mens is, maar nogtans ook sterker as alle skepsels is, dit wil sê wat terselfdertyd ware God is (c).

(a) 1 Kor 15:21: (b) Heb 7:26. (c) Jes 7:14; 9:5; Jer 23:6; Luk 11:22.

16 Vraag: Waarom moet hy ‘n ware en regverdige mens wees?

Antwoord: Omdat die geregtigheid van God eis dat die menslike natuur wat gesondig het, vir die sonde moet betaal (a). Maar die mens wat self sondaar is, kan nie vir ander betaal nie (b).

(a) Eseg 18:4, 20; Rom 5:18; 1 Kor 15:21; Heb 2:14-16. (b) Heb2:26, 27; Ps 49:8; 1 Pet 3:18:

17 Vraag: Waarom moet hy terselfdertyd ware God wees?

Antwoord: Om deur die krag van sy Godheid (a) die las van die toorn van God (b) aan sy mensheid te kon dra (c) en vir ons die geregtigheid en die lewe te kan verwerf en teruggee (d).

(a) Jes 9:5; 63:3; (b) Deut 4:24; Nah 1:6; Ps 130:3. (c) Jes 53:4, 11; (d) Jes 53:5, 11.

18 Vraag: Wie is hierdie Middelaar wat terselfdertyd ware God (a) en ware (b) regverdige mens is (c)?

Antwoord: Ons Here Jesus Christus (d), wat God vir ons tot wysheid, geregtigheid, heiligmaking en volkome verlossing gegee het (e).

(a) 1 Joh 5:20; Rom 9:5; 8:3; Gal 4:4; Jes 9:6; Jer 23:6; Mal 3:1: (b) Luk 1:42; 2:6, 7; Rom 1:3; 9:5; Fil 2:7; Heb 2:14, 16, 17; 4:15. (c) Jes 53:9, 11; Jer 23:5; Luk 1:35; Joh 8:46; Heb 4:15; 7:26; 1 Pet 1:19; 2:22, 3:18. (d) l Tim 2:5; Matt 1:23; 1 Tim 3:16; Luk 2:11; Heb 2:9. (e) 1 Kor 1:30.

2. Loof die Here in gebed vir die spesifieke wysheid en insig wat die geloofsbelydenisse jou gee van die redes waarom hierdie Verlosser waarlik mens en waarlik God moet wees.

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…