Skip to main content

Hebreërs 1 – God praat met ons deur sy Seun

HebreërsDie skrywer begin direk met die hart van sy bemoedigende boodskap aan die gemeente, die feit dat God met hulle deur sy Seun praat.  Daar is niemand belangriker as Hy nie.  Daar is geen boodskap belangriker as Syne nie.

Hy verdeel die begronding van dié deel van sy boodskap in vier afdelings:

  • 1:1-4 – God praat deur sy Seun
  • 1:5-14 – Die Seun is belangriker as die engele
  • 2:1-18 – Jesus is die Leidsman van ons verlossing
  • 3:1-11 – Jesus is die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis

Ons lees vandag die eerste twee dele en môre die laaste twee dele.

1:1-4 – God praat deur sy Seun

Die boodskap van God se Seun word gekontrasteer met die talle en verskillende wyses – ’n mens kan dit ook as “broksgewyse” vertaal – waarop God in die verlede met sy mense, die voorvaders van die gelowiges, gepraat het.  Profete staan hier eintlik vir enigiemand wat ’n openbaring aan gelowiges gebring het.  In hierdie laaste dae, sê die skrywer – die dae wat met Jesus se eerste koms aangebreek het – het God finaal met ons gepraat deur die Seun.

Let op dat die Seun eers in hoofstuk 2 met sy naam Jesus bekend gestel sal word.  Hier word sy Godheid onomwonde as Seun van God beskryf.  Vier kenmerke van Hom word uitgelig:

  • SKEPPER SEUN: God het sy Seun aangestel as “erfgenaam van alle dinge”, want Hy het in die eerste plek deur Hom die wêreld geskep, ’n verwysing na 2:8 (vgl. my hantering van Psalm 2: Geseënd is dié wat op God vertrou).  Die Seun van God se pre-eksistensie word dus onomwonde bely.
  • GOD SE EWEBEELD: “Hy is die uitstraling van God se heerlikheid  en die ewebeeld van sy wese.”  Die Seun is die sigbare gestalte van God, die een wat ons mag sien. Maar dit is nie net ’n afbeelding van God, soos ’n skildery of ’n beeldhouwerk nie.  ’n Mens sien God self in die Seun.  Hy is die ewebeeld van wie God in sy wese is.
  • ONDERHOUER VAN ALLES: “Hy hou alles in stand deur sy magtige woord.” Die Seun het nie net ’n krip-na-kruis bediening gehad nie.  Hy was intiem betrokke by die Skepping en is steeds by die onderhouding van alles betrokke.  Iets om in gedagte te hou as ’n mens bid!
  • HOOGSTE STATUS VAN ALMAL: Natuurlik is die kruis-evangelie van baie groot belang, die reiniging van sondes, maar dit het uitgemond in die verhoging na die hoogste status moontlik, die sittingsreg aan die regterhand van God, die Majesteit in die hoogtes, waarmee ’n verwysing na 110:1 gemaak word, soos in die res van die hoofstuk weer uitgespel sal word.

Daarom is die Seun hoog bo die engele verhef,  en is Hy nie net die erfgenaam van alles nie, maar het Hy ‘n Naam geërf wat uitnemender as enigiemand s’n is, die engele ingesluit.

1:5-14 – Die Seun is belangriker as die engele

Die skrywer vergelyk die Seun vervolgens met die engele, waarskynlik om ’n groeiende beheptheid met die aanbidding van engele hok te slaan, en wys hoe onvergelyklik die Seun in wese met die engele is. Hy gebruik sewe aanhalings uit die OT om sy punt te staaf:

  • GOD HET DIE SEUN VERWEK: Dit is iets wat nooit van die engele gesê kan word nie:  “Jy is my Seun;  vandag het Ek jou verwek.”  Hulle is geskep. Die Seun is verwek.  Die skrywer haal hier uit 2:7 aan (en sal dit weer doen in hfst. 5:5), soos Paulus dit ook in Hand 13:33 in sy toespraak in Antiogië in Pisidië op sy eerste sendingreis doen.  Dit was ’n belangrike argument om die voorrang van die Seun te bevestig.  Hy is kwalitatief anders as skepsels van die Skepping.
  • GOD IS DIE SEUN SE VADER: Die argument word sterker gemaak met ’n aanhaling uit die belofte aan Dawid in 2 Sam. 7:14 wat hier op die Seun van God van toepassing gemaak word: “Ek sal vir Hom ‘n Vader wees  en Hy sal vir My ‘n Seun wees.” my hantering van 2 Samuel 7: God sluit ‘n langtermyn verhouding met Dawid en sy nageslag.
  • DIE ENGELE MOET DIE EERSGEBORENE AANBID: Wat God doen, is altyd iets wat reaksie uitlok, in dié geval aanbidding. Let op die feit dat die skrywer sê dat God die Eersgeborene weer in die wêreld inlei.  Dit het te make met sy toekomsperspektief op die Seun se wederkoms wanneer al die engele van God Hom moet aanbid. Dit is ’n aanhaling uit die Griekse vertaling van 32:43 waarvan die reël in ons Hebreeuse grondteks ontbreek.  Vgl. ook Ps. 97:7 waar van die afgode gepraat word wat die Here moet aanbid.  Lees meer daaroor in my hantering van Psalm 97: Verbly julle, liefhebbers van die Here.
  • GOD SPAN ENGELE IN: Die engele se rol is in die natuur:  “Hy maak sy engele stormwinde  en sy dienaars vuurvlamme,” en soos hy netnou sal verduidelik, ten bate van die gelowiges. Met hierdie aanhaling uit 104:5 wys hy net nog dieper die kwalitatiewe onderskeid tussen die Seun en die engele.  Vgl. my hantering van Psalm 104 – Hoe groot is U, hoe groot is U!.
  • DIE SEUN HEERS AS GOD: Die skrywer gaan nog dieper in op die voorrang van die Seun met ’n langer aanhaling uit 45:7-8 wat op die Seun van toepassing gemaak word in die konteks van ’n huweliksviering van die koning wat deur geregtigheid en vreugde vergesel word. Vgl. my hantering van Psalm 45: Huwelikslied vir die koning en koningin.
  • DIE SEUN IS MEDESKEPPER: In die langste aanhaling van almal word 102:26-28 ingespan om die Seun as medeskepper van God te vereer: “U bly dieselfde en u jare sal nie tot ‘n einde kom nie.” Vgl. my hantering van Psalm 102: Hy sal ons gebed nie minag nie.
  • DIE SEUN SIT AAN GOD SE REGTERHAND: Hy sluit sy beskrywing van die voorrang van die Seun en sy boodskap af met ’n aanhaling uit 110:1 (soos in vers 3) as heenwysing na die Seun vir wie God die ere posisie aan sy regterhand gegee het: “totdat Ek jou vyande ‘n voetbank vir jou voete gemaak het.

Die skrywer som sy standpunt op deur in vers 14 al die engele te beskryf as “dienende geeste wat uitgestuur word ter wille daarvan om hulle wat die verlossing sal beërf, by te staan.” Die engele is nie net minder belangrik as die Seun nie.  Hulle is dienende geeste wie se hooftaak die bystand aan die verlostes is (sowel as in die natuur).

Boodskap

God praat op baie maniere – in die skepping, deur sy Gees, deur gebed, deur insigte, deur geloofsonderskeiding in die geloofsgemeenskap, deur gawes, deur roeping, deur omstandighede.  Maar die belangrikste manier waarop Hy praat, is deur Sy Seun, die Een wat ook die Woord van God genoem word.  Dit is Hy wat ons verlos.  Dit is Hy wat ons lei.  Na Hom moet ons dus bo alles luister.

Dit beteken ook dat die Seun die maatstaf is waarteen ons alle spreke van God moet beoordeel.  Dit is immers die Seun se stem waarna die Heilige Gees ons wil laat luister (3:7-8, 15; 4:7).  Die Seun is dus nie net die een vir wie ons direk leiding en onderskeiding moet vra, soos die res van dié belangrike brief-boodskap wel gaan uitspel nie.  Alles wat ons in die evangelies en in die res van die Bybel van Hom lees, help ons onderskei om die stem van die Seun te herken.  Dit is wat dit beteken om volwasse te word in ons aanvoeling: “deur gewoonte geoefen, om te kan onderskei tussen goed en kwaad.” (hfst. 5:14).


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Hebreërs


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda