Skip to main content

Hebreërs 1 – God praat met ons deur sy Seun

HebreërsDie skrywer begin direk met die hart van sy bemoedigende boodskap aan die gemeente, die feit dat God met hulle deur sy Seun praat.  Daar is niemand belangriker as Hy nie.  Daar is geen boodskap belangriker as Syne nie.

Hy verdeel die begronding van dié deel van sy boodskap in vier afdelings:

  • 1:1-4 – God praat deur sy Seun
  • 1:5-14 – Die Seun is belangriker as die engele
  • 2:1-18 – Jesus is die Leidsman van ons verlossing
  • 3:1-11 – Jesus is die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis

Ons lees vandag die eerste twee dele en môre die laaste twee dele.

1:1-4 – God praat deur sy Seun

Die boodskap van God se Seun word gekontrasteer met die talle en verskillende wyses – ’n mens kan dit ook as “broksgewyse” vertaal – waarop God in die verlede met sy mense, die voorvaders van die gelowiges, gepraat het.  Profete staan hier eintlik vir enigiemand wat ’n openbaring aan gelowiges gebring het.  In hierdie laaste dae, sê die skrywer – die dae wat met Jesus se eerste koms aangebreek het – het God finaal met ons gepraat deur die Seun.

Let op dat die Seun eers in hoofstuk 2 met sy naam Jesus bekend gestel sal word.  Hier word sy Godheid onomwonde as Seun van God beskryf.  Vier kenmerke van Hom word uitgelig:

  • SKEPPER SEUN: God het sy Seun aangestel as “erfgenaam van alle dinge”, want Hy het in die eerste plek deur Hom die wêreld geskep, ’n verwysing na 2:8 (vgl. my hantering van Psalm 2: Geseënd is dié wat op God vertrou).  Die Seun van God se pre-eksistensie word dus onomwonde bely.
  • GOD SE EWEBEELD: “Hy is die uitstraling van God se heerlikheid  en die ewebeeld van sy wese.”  Die Seun is die sigbare gestalte van God, die een wat ons mag sien. Maar dit is nie net ’n afbeelding van God, soos ’n skildery of ’n beeldhouwerk nie.  ’n Mens sien God self in die Seun.  Hy is die ewebeeld van wie God in sy wese is.
  • ONDERHOUER VAN ALLES: “Hy hou alles in stand deur sy magtige woord.” Die Seun het nie net ’n krip-na-kruis bediening gehad nie.  Hy was intiem betrokke by die Skepping en is steeds by die onderhouding van alles betrokke.  Iets om in gedagte te hou as ’n mens bid!
  • HOOGSTE STATUS VAN ALMAL: Natuurlik is die kruis-evangelie van baie groot belang, die reiniging van sondes, maar dit het uitgemond in die verhoging na die hoogste status moontlik, die sittingsreg aan die regterhand van God, die Majesteit in die hoogtes, waarmee ’n verwysing na 110:1 gemaak word, soos in die res van die hoofstuk weer uitgespel sal word.

Daarom is die Seun hoog bo die engele verhef,  en is Hy nie net die erfgenaam van alles nie, maar het Hy ‘n Naam geërf wat uitnemender as enigiemand s’n is, die engele ingesluit.

1:5-14 – Die Seun is belangriker as die engele

Die skrywer vergelyk die Seun vervolgens met die engele, waarskynlik om ’n groeiende beheptheid met die aanbidding van engele hok te slaan, en wys hoe onvergelyklik die Seun in wese met die engele is. Hy gebruik sewe aanhalings uit die OT om sy punt te staaf:

  • GOD HET DIE SEUN VERWEK: Dit is iets wat nooit van die engele gesê kan word nie:  “Jy is my Seun;  vandag het Ek jou verwek.”  Hulle is geskep. Die Seun is verwek.  Die skrywer haal hier uit 2:7 aan (en sal dit weer doen in hfst. 5:5), soos Paulus dit ook in Hand 13:33 in sy toespraak in Antiogië in Pisidië op sy eerste sendingreis doen.  Dit was ’n belangrike argument om die voorrang van die Seun te bevestig.  Hy is kwalitatief anders as skepsels van die Skepping.
  • GOD IS DIE SEUN SE VADER: Die argument word sterker gemaak met ’n aanhaling uit die belofte aan Dawid in 2 Sam. 7:14 wat hier op die Seun van God van toepassing gemaak word: “Ek sal vir Hom ‘n Vader wees  en Hy sal vir My ‘n Seun wees.” my hantering van 2 Samuel 7: God sluit ‘n langtermyn verhouding met Dawid en sy nageslag.
  • DIE ENGELE MOET DIE EERSGEBORENE AANBID: Wat God doen, is altyd iets wat reaksie uitlok, in dié geval aanbidding. Let op die feit dat die skrywer sê dat God die Eersgeborene weer in die wêreld inlei.  Dit het te make met sy toekomsperspektief op die Seun se wederkoms wanneer al die engele van God Hom moet aanbid. Dit is ’n aanhaling uit die Griekse vertaling van 32:43 waarvan die reël in ons Hebreeuse grondteks ontbreek.  Vgl. ook Ps. 97:7 waar van die afgode gepraat word wat die Here moet aanbid.  Lees meer daaroor in my hantering van Psalm 97: Verbly julle, liefhebbers van die Here.
  • GOD SPAN ENGELE IN: Die engele se rol is in die natuur:  “Hy maak sy engele stormwinde  en sy dienaars vuurvlamme,” en soos hy netnou sal verduidelik, ten bate van die gelowiges. Met hierdie aanhaling uit 104:5 wys hy net nog dieper die kwalitatiewe onderskeid tussen die Seun en die engele.  Vgl. my hantering van Psalm 104 – Hoe groot is U, hoe groot is U!.
  • DIE SEUN HEERS AS GOD: Die skrywer gaan nog dieper in op die voorrang van die Seun met ’n langer aanhaling uit 45:7-8 wat op die Seun van toepassing gemaak word in die konteks van ’n huweliksviering van die koning wat deur geregtigheid en vreugde vergesel word. Vgl. my hantering van Psalm 45: Huwelikslied vir die koning en koningin.
  • DIE SEUN IS MEDESKEPPER: In die langste aanhaling van almal word 102:26-28 ingespan om die Seun as medeskepper van God te vereer: “U bly dieselfde en u jare sal nie tot ‘n einde kom nie.” Vgl. my hantering van Psalm 102: Hy sal ons gebed nie minag nie.
  • DIE SEUN SIT AAN GOD SE REGTERHAND: Hy sluit sy beskrywing van die voorrang van die Seun en sy boodskap af met ’n aanhaling uit 110:1 (soos in vers 3) as heenwysing na die Seun vir wie God die ere posisie aan sy regterhand gegee het: “totdat Ek jou vyande ‘n voetbank vir jou voete gemaak het.

Die skrywer som sy standpunt op deur in vers 14 al die engele te beskryf as “dienende geeste wat uitgestuur word ter wille daarvan om hulle wat die verlossing sal beërf, by te staan.” Die engele is nie net minder belangrik as die Seun nie.  Hulle is dienende geeste wie se hooftaak die bystand aan die verlostes is (sowel as in die natuur).

Boodskap

God praat op baie maniere – in die skepping, deur sy Gees, deur gebed, deur insigte, deur geloofsonderskeiding in die geloofsgemeenskap, deur gawes, deur roeping, deur omstandighede.  Maar die belangrikste manier waarop Hy praat, is deur Sy Seun, die Een wat ook die Woord van God genoem word.  Dit is Hy wat ons verlos.  Dit is Hy wat ons lei.  Na Hom moet ons dus bo alles luister.

Dit beteken ook dat die Seun die maatstaf is waarteen ons alle spreke van God moet beoordeel.  Dit is immers die Seun se stem waarna die Heilige Gees ons wil laat luister (3:7-8, 15; 4:7).  Die Seun is dus nie net die een vir wie ons direk leiding en onderskeiding moet vra, soos die res van dié belangrike brief-boodskap wel gaan uitspel nie.  Alles wat ons in die evangelies en in die res van die Bybel van Hom lees, help ons onderskei om die stem van die Seun te herken.  Dit is wat dit beteken om volwasse te word in ons aanvoeling: “deur gewoonte geoefen, om te kan onderskei tussen goed en kwaad.” (hfst. 5:14).


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Hebreërs


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Inleiding op JakobusJesus en Jakobus is halfbroers deur Maria. Hulle het dieselfde ma, maar nie dieselfde pa nie. Josef was Jakobus se pa. God was Jesus se Vader.
  • Betsy Bester on Inleiding op JakobusHoekom word daar verwys Na Jakobus as Jesus Se halfbroer in die 83 vertaling
  • Chris van Wyk on Hosea 4:1-5:7Juda is op hierdie punt gewaarsku (ongeveer 740 vC), en hulle het veral onder koning Hiskia 'n paar dekades later die Here weer gedien. Maar, uiteindelik het hulleself onder die oordeel gekom weens die wydverspreide sondes van die konings, priesters, en gewone mense, en is in ballingskap weggevoer i…
  • Renier on Hosea 4:1-5:7Goeie more. Verstaan ek reg? Die Juda-lyn was gewaarsku, nie ook veroordeel nie? En wat beteken dit vir ons wat daarna verwek was?
  • Chris van Wyk on Lukas 23Ek stuur.
  • Elma Bosch on Lukas 23Baie dankie, ek doen die bybelstudies saam met u en lees ook die bybel kronologies saam, ek waardeer dit werklik.. Ek stel baie belang in die elektroniese lêer van die 4 Evangelies langs mekaar. Kan u dit asb vir my email na elmab0708@gmail.com
  • Trudie Vorster on Nuusbrief Mei 2025Prys die Here🙏🙏🙏
  • Chris van Wyk on Matteus 27Ek waardeer die terugvoer. Ek stuur vir jou die lêers per e-pos.
  • briefly31ea27a91f on Matteus 27Baie dankie, ek doen die bybelstudies saam met u en lees ook die bybel kronologies saam, ek waardeer dit werklik.. Ek stel baie belang in die elektroniese lêer van die 4 Evangelies langs mekaar. Is dit moontlik om dit ook vir my te stuur. E-pos : heydenrychwilma1961@gmail.com Ek is van die NG Gemeen…
  • Chris van Wyk on Matteus 27Hi Neels, ons lees nie in die NT dat Petrus eksplisiet sy sonde voor die Here bely en om vergifnis vra nie. Ons sien wel dat dit indirek gebeur met sy hartseer in die voorhof ná hy die Here Jesus verloën het (Luk. 22:62). Ons sien dit ook in sy keuse om na Jesus te gaan op die strand en in die gespr…
  • Neels Fourie on Matteus 27Goeie more prof, kan jy vir my die skrif stuur waar Petrus vergifnis gevra het asb
  • Chris van Wyk on Lees Handelinge en die NT briewe kronologies saam met my deur van 7 Junie afEk sien self uit na die reis!
  • Dianne on Lees Handelinge en die NT briewe kronologies saam met my deur van 7 Junie afBaie dankie vir die geleentheid om saam met julle deur die woord te reis.Amen
  • andrebrophy812 on Johannes 17Good day sir. Thank you for the meaningful insight. May the Good Lord bless and keep your own spirit always in connection with the Holy spirit
  • Chris van Wyk on SubscribeWelkom. Ek stuur na jou Inbox.