Jesus se heerlikheid beweeg sy dissipels tot geloof in Hom

Jesus is by ’n bruilof in die dorpie van Natanael, Kana. Sy ma is daar sowel as sy dissipels, ook waarskynlik sy broers (vers 12). Dit is op die derde dag na die gesprek met Natanael. Miskien was dit ’n familie-troue wat moontlik verklaar hoekom Maria verantwoordelik gevoel het om die gebrek aan wyn aan Jesus uit te wys – hulle gevolg was immers ’n groot groep ekstra gaste! Dit kan ook verband hou met Natanael omdat dit sy tuisdorp was.
Maria se interaksie met haar seun Jesus en die kelners sê vir my dat sy ook iets verstaan het van Jesus se deernis met mense, selfs wanneer so iets doodgewoon gebeur as wyn wat by ’n partytjie opraak. En dat sy ook geweet het dat Sy deernis tot optrede sal lei. Hoe dit ook al sy, sy bring die behoeftes van die gasheer en –vrou na Hom toe, in die verwagting dat Hy iets sal kan doen.
Dat Jesus antwoord dat Sy tyd nog nie gekom het nie, val aanvanklik vreemd op. Maar as ’n mens in gedagte hou dat Hy deurgaans kommunikeer dat Hy net doen wat sy Vader Hom wys (4:34-38; 5:19,30), kan dit wees dat Hy hier vir Maria sê dat Hy net sal doen wat Sy Vader Hom wys, en dit ook net op God se tyd, nie menslike tyd nie.
Onlangse kommentaar